Konsentreer of emigreer

flip-buys-2017-11-01

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Baie Afrikaners voel tans of die dubbele probleem van staatsverval en aanvalle op Afrikaners se grondwetlike vryheid, -regte en -gelykheid hulle oorweldig. Ons ken almal die uitdagings: geweldsmisdaad, teiken van Afrikaanse instellings soos skole en universiteite, staatsverval, grondbesettings, plaasmoorde, rassistiese beledigings, en nou die dreigement om eiendom te konfiskeer. “Gerusstellings” dat dit boonop “wettig” gedoen sal word deur die Grondwet te verander maak dit nog erger: die wettiging van steel is die hoogste (laagste?) vorm van diefstal. Dis net natuurlik dat Afrikaners vanweë al hierdie redes nie wonder wat die kern van ons probleem is nie, maar veral wat die oplossing is.

Afrikaners se bestaansuitdaging is nie ons min getalle nie, maar ons yl verspreiding. Ons is meer Afrikaners as die onderskeie bevolkings van Namibië, Lesotho, Macedonië, Slowenië, Letland, Botswana, Gambië, Gaboen, Estland, Swaziland, Mauritius, Ciprus en Luxemburg, asook ’n menigte ander. Maar ons woon nie gekonsentreerd soos al hierdie volke nie, en is gevolglik ’n kwesbare minderheid tussen ’n groter meerderheid. Ons het nie ’n natuurlike “Skotland” waar ons as ’n groot meerderheid woon en werk nie.

Dieselfde probleme

Hierdie landswye verspreiding en krimpende persentasie van die totale bevolking, veroorsaak dat ons oral in die minderheid is en landswyd dieselfde probleme ervaar. In meer as 200 munisipaliteite is Afrikaners polities magteloos, blootgestel aan geweldsmisdaad, toenemende dorpsverval, druk op Afrikaanse skole, en rasseteikens in die werksplek wat die bevolking moet weerspieël.

Hierdie landswye yl verspreiding en minderheidstatus beteken ook dat daar op te min plekke genoeg Afrikaners is vir kostedoeltreffende dienste soos goeie gesondheidsorg, ʼn lewendige kultuurlewe, vol kerke en hoër opleiding. Hierdie uitdagings tesame met die verswakkende infrastruktuur in die meeste dorpe, lei tot ekonomiese probleme en selfs verarming van die platteland. ’n Voorbeeld hiervan is dat net 27% van wit Afrikaanssprekendes universiteite bywoon, teenoor die 40% van verstedelikte wit Engelssprekendes omdat hulle naby universiteite bly.

Groot Trek

Bevolkingstatistieke wys dat Afrikaners as gevolg van al hierdie uitdagings weer ’n “Groot Trek” na groter streeksdorpe en stede aangepak het. Dit werk negatief op die kleiner “senderdorpe” in maar positief op die groter “ontvangerdorpe”. Hierdie verskuiwende bevolking lei daartoe dat baie kleiner dorpe nog vinniger verswak, maar terselfdertyd lei dit na ’n groter saamtrek van Afrikaners op baie ander plekke. Die groter getalle wat op groter dorpe en in stede saamtrek, maak dit daar makliker om dienste soos Afrikaanse skole, sterker buurtwagte, beter munisipale dienste en meer werksgeleenthede te lewer.

Dit is nodig dat hierdie natuurlike bevolkingsverskuiwing van Afrikaners deur gemeenskapsorganisasies ondersteun word met ’n konsentrasiestrategie. So ’n strategie kan streeksdorpe as “Ankerdorpe” uitwys, waar daar meer gefokusde dienste aangebied kan word. Dit behels dienste soos veiligheid met sterk buurtwagte, ondersteuning aan die Afrikaanse skole, maatskaplike bystand soos bejaardeversorging en gemeenskaps- mediese klinieke vir mense wat nie mediese fondse het nie, hulp met munisipale dienste soos water, paaie en elektrisiteit, werksverskaffing en opleiding, en dienste aan sakelui om hulle ondernemings beter staatsbestand te maak.

Dit beteken nie dat die platteland en kleiner dorpe aan hul lot oorgelaat word nie, omdat sterk streeksdorpe dit juis moontlik sal maak om op kleiner dorpe te oorleef, aangesien nabygeleë dienste beskikbaar sal wees. Buitendien sal so konsentrasiestrategie bloot die formalisering wees van ’n proses wat reeds aan die gang is.

Groeiende selfbestuur

Die formalisering van so ’n konsentrasiestrategie sal wel meebring dat daar meer en vinniger op die ontwikkeling van dienste gefokus kan word, om te verhoed dat alles orals verval. Dit is nodig dat daar mettertyd op elke Ankerdorp ’n gemeenskapsforum gestig moet word om hierdie dienste te belyn. Organisasies wat wesenlike getalle Afrikaners verteenwoordig soos onderwys-, maatskaplike-, veiligheid-, sake-, landbou-, erfenis-, taal- en kultuurorganisasies sal genooi word om met behoud van elkeen se onafhanklikheid aan die forums deel te neem en mekaar te ondersteun. Dit sal meebring dat Afrikaners in gebiede waar hulle saamtrek hoë vlakke van selfbestuur kan ontwikkel om sodoende van die swak staatsbestuur te ontkom. Terselfdertyd kan die forums in streeksdorpe en stede dan na die kleiner dorpe uitreik om met knelpunte te help. Namate hierdie proses van groeiende selfbestuur vorder, kan al hierdie dorps- en streeksforums selfs op provinsiale en nasionale vlak begin koördineer. Yl verspreiding is ons probleem; groter konsentrasie die oplossing. Dit is nou tyd vir ʼn daadwerklike konsentrasiestrategie. Die keuse is tussen konsentreer en emigreer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

39 Kommentare

Eish ·

Tussen die duiwel en die diepblou see. Die idioom kry nuwe betekenis oor ons lot tans.
Meeste van ons dink ek stem saam met hierdie scenario se bespreekte uitkomste en die redes daarvoor.
Synde so n konsentrasie noodwendig gaan meebring dat ernstig besin sal moet word oor aspekte wat hewig gaan impakteer op elkeen se toekoms, soos verhuising, werksgeleenthede, boere en besighede se lot, is ek van mening dat alvorens n defnitiewe plan voorgelê kan word waaraan elk sy omstandighede aan kan evalueer, gaan dit n pypdroom bly.
Waar gaan die konsentrasie in elke provinsie plaasvind?
Ek is bevrees dat met die afgelope kwarteeu se verarming, gaan meeste vasgevang bly in hul huidige omstandighede vanweë die finansiële impak van die konsentrasie.
Slegs die vermoëndes sal so n Groot Trek kan finansier met gunstige uitkoms. Die meerderheid van ons is ek bevrees, val nie in die groep nie. Ons kan nie ons boeties en sussies agterlaat nie, elke siel tel.
Die meeste van ons met werk, besighede of boerery, is juis vanweë die diversiteit van die bevolking en juis vanweë die meerderheid se verbruikerspatrone ensovoorts in ons huidige beroep.
Wat gaan gebeur indien daar 1000 loodgieters toesak op n konsentrasiesentrum?
Eish! Dan vra ek liefs onderhandel vir ons vir vlugtelingstatus dat ons maar die opgeblaasde trekkerbinneband te water kan laat.
Gee asb die gedagterigting mee as n plan ten einde gesonde debat te kan ontlok. Hierdeur word baie oplossings en alternatiewe benaderings vir die gewenste uitkoms gebore.

Johan ·

Die probleem hier…is nie dat ons so swak is nie – die probleem hier is dat ons onsself moet red en nie werklik lus is nie – dit droom eerder van mahala visas en uitspoel op Australiese Engelse strande.

Kyk….kom ons wees eerlik. Ons red onsself vrek maklik. Vryheid in ‘n eie landstreek binne 15 jaar. Ons het nog baie vermoë en ons opponent se grootste sterkpunt is ook sy grootste swakpunt.

Ons moet konsentreer (vir politieke vryheid eerder as minder slaggate), maar daarvoor is ekonomiese mag nodig. Nou ons mag nie myn nie….en ons mag beswaarlik boer….wat oorbly is industrie. Industrie berus op belegging. So wat nodig sou wees, is dat Afrikaners ‘n industriële kapitaalfonds op die been bring….en dat ‘n beduidende porsie van die volk maandeliks R100 eenhede in hierdie fonds koop. Sommer van jou slimfoon af. Soort van ‘n Afrikaner Kickstarter. Jou geld is nie weg nie – dis belê.

michiel durand ·

Konsentreer met vrugbaarheid, eerder as met werwing. Dit is net ons eie skuld dat ons n minderheidsgroep in hierdie land geword het. Ons kroee is vol, maar ons laerskole is leeg.

Johan ·

Vrugbaarheid….maar veral selfwerksaamheid.

Help niks jy vlug voor swart massapolitiek maar lok die wat jy agtergelaat het dan weer onmiddelik nader met jou arbeidskeuses nie.

Gerhard ·

Wil jy nou regtig voorstel ons moet die wereldkampioene in vrugbaarheid probeer oorwin met vrugbaarheid?

Jerry ·

Een enkele aspek staan uit soos n paal bo water as die probleemarea met jou konsentrasiestrategie en dit is veiligheid. Sonder jou eie polisieering wetstoepassing met n nasionale mandaat om op te tree teen wetteloosheid en geweldsmisdade, plakkery en vryheid van beweging, om maar net n paar te noem, is jy gesnoeker. Sekuriteit is nie genoegsaam, want dit het geen mandaat om op te tree sonder die teenwoordigheid van die polisie en die probleem le juis by die wetstoepassers se polities gedrewe antagonisme en vergeldingssindroom teenoor die Afrikaner en witmense soos reeds verskeie kere bewys is. Of jy konsentreer of nie konsentreer nie, die witman staar vervolging in die gesig wanneer hy dit durf waag om teen n swartman op te tree. Dit is ongelukkig die realiteite. Verdere realiteite is dat die witmense in Suid Afrika al vir die afgelope 24 jaar onder vergelding soos transformasie, verarming, plaasaanvalle en moord deurloop en geen van Afri-Forum en Solidariteit inisiatiewe kon dit verhoed, wat nog te se, stop nie. Julle het die buiteland vir hulp gevra en die inisiatief om boere te hervestig in Australie is deur die ANC en Australie geblok voordat dit kon realiseer, want julle het gedink deur dit uit te blaker sal dit druk op die ANC plaas, wel toe nou nie. Inteendeel is druk nou op die Afrikaner wat nie geweld en vervolging sal vryspring nie soos onomwonde deur Bishop verklaar. Hierdie is genoegsame rede vir enige regdenkende witmens om te emigreer voor CR se termyn verstryk.

Leon ·

Flip, in die afwesigheid van konkrete voorstelle van :slimmes” soos Jerry. Laat ons sommer prakties wees. Stel asseblief ‘n behoorlike navorsingsvraelys saam met insette van ons mense t.o.v. konsentrasie areas/dorpe/stede.

Jy en Afriforum is wragtig die enigste wat met voorstelle kom. As kla en stry ‘n sport was, was ons volkie die wereldkampioene.

Hendrik ·

Sewe jaar gelede het ons geemigreer van die weste na die oostekant van Pretoria waar daar ‘n ankerdorp is met 1400 mense en 400 huise. Dit is regtig die plek om te wees na die woel en die gewerfskaf in die stad. Die voordele is veiligheid tussen jou eie mense. Te goed om waar te wees? Besoek @KleinVriende op twitter.

Pietman ·

Probleem is: Watter dorpe kan nog as Ankerdorpe dien wat nie reeds oorweldigend bestaan uit nie-Afrikaners? Meeste dorpe se lokasies is groter as die dorp self!

Die Weskaap is maar die mees algemene bestemming vir moderne Voortrekkers, maar selfs daar is die getalle teen ons.

Orania is ook nie n opsie vir almal nie, veral weens die sukkelende ekonomie.

Ons kort daadwerkilke voorstelle en ek is bevrees om van niks af n Afrikaner gebied te stig is nie die antwoord nie

Casper Labuschagne ·

Dieselfde yl verspreiding kom voor by die Jode en dit stuit hulle hoegenaamd nie om ‘n daadwerklike impak op die ekonomie asook die gemeenskap te maak nie. Nog ‘n bevolkingsgroep met ‘n yl verspreiding is die Lebanese wat uiters suksesvol is reg deur Afrika met hul sakebedrywighede.

Ek stem saam dat Afrikaners in gebiede moet konsentreer, maar daarby moet ons ook ‘n respek vir ons eie en ‘n gemeenskaplike trots koester asook ‘n wil tot ‘n kulturele instandhouding ontwikkel sodat ons Afrikanerskap behou bly selfs waar ons nie gekonsentreer is nie.

In die dorp waar ek woon is daar verseker ‘n geografiese konsentrasie van Afrikaners, maar ‘n buitestaander wat hier stilhou sal dit hoegenaamd nie besef nie. Ons mits nog iets, bo en behalwe om saam te groepeer of selfs om Sondag na dieselfde kerk te gaan.

Oom Kosie ·

Jode in RSA het van ongeveer 200 000 na 20 000 verminder. Kimberley se drastiese vermindering is n voorbeeld. Jode het RSA as n slegte belegging beskou in 1994 en getrek.

Casper Labuschagne ·

Dit is korrek dat Judaisme ‘n geloof is. Maar dit is ook ‘n etnisiteit, taalgroep en kultuur. En hulle het iets wat die res van ons mis, want as ‘n klein minderheid vermag hulle reuse suksesse en het ‘n magtige invloed. Inderdaad het die getal Jode drasties verminder, en miskien moet ons juis iets daaruit by die Jode leer, want as daar een volk is wat ‘n instink ontwikkel het vir waar en wanneer die volgende volksmoord gaan voorkom, dan is dit sekerlik die Jode.

Gerhard ·

Ek is bevrees ek verskil van jou. Dit mag so wees dat die Jode in Israel aan meeste van daardie vereisted voldoen, maar die meerderheid Jode wereldwyd vandag sal nie. In wese is die Jode in meeste lande buite Israel net so min of net so veel ‘n volk as die Moslems in daardie selfde land en ook vir die selfde redes en tog praat niemand van die Moslemvolk nie en ook nie van die Christenvolk nie. Dit is omdat dit ‘n geloof is. Meeste Jode wat nie in Israel woon nie assimileer meestal in hulle nuwe samelewings en al wat hulle werklik verskillend maak is hul geloof. Lees gerus my kommentaar verder onder. Mense maak teveel van hoe die sg. Joodse volk oorleef en presteer en wil dit dan verkeerdelik op Afrikaners van toepassing maak.

Rupert Ashford ·

Flip, gaan jy dapper genoeg wees om name van die konsentrasiedorpe te noem asb?😉

Chris ·

Hierdie is n konstruktiewe debat waarin diverse menings juis toegelaat moet word om werkbare opsies deeglik te louter As jy nie kan of wil emigreer nie rol jou moue op en word deel van n oplossing En vergeet nooit van die krag van gebed

[email protected] ·

Artikel: “. . . hulp . . . , en dienste aan sakelui om hulle ondernemings BETER STAATSBESTAND te maak.”
Lesers, stel uself voor klein “wit” ankereilande van welvaart en sukses met ondernemings wat beter staatsbestand is in ‘n see van ongebreidelde bevolkingsgroei, toenemende werkloosheid, armoede en sosiale onrus.
Hoe op aarde gaan die ankereilande se inwoners ontslae raak van die slawekettings van belasting aan ‘n ondoeltreffende en oneffektiewe nasionale regering en ‘n nasionale beleid dat besighede die samestelling van die nasionale bevolking moet reflekteer?
En welke ANC of EFF regering gaan hierdie “nuwe vorm van apartheid” toelaat?
Ons moet eerder nou daarop fokus om volhoubaar die buitelandse besluitnemers deeglik en eerlik met feite in te lig oor wat in Suid-Afrika aan die gang is. Dit is ons plig en reg. Op die einde sal die waarheid seëvier. Die ANC-leierskap verstaan wat buitelandse druk beteken. Hulle was voor 1994 daar en het T-hemde daarvoor gekry. Maar hulle ry nie nou meer die morele golf nie. En die mensdom sien nou toenemend hul ware kleure.

François Joubert ·

Selfbeskikking is die enigste oplossing vir die blanke om polities, ekonomies, kultureël en fisies in Afrika te oorleef. Die grondwet maak daarvoor voorsiening (tans nog). Die tyd is egter besig om vinnig uit te loop. Daarvoor sal blankes moet saamstaan, ongelukkig is saamstaan nie so eenvoudig nie. Nie eers Afrikaanssprekende blankes kan saamstaan nie.

John ·

Ongelukkig is die plan nie prakties uitvoerbaar nie. Befondsing is een van die groot probleme omdat daar nie sulke dorpe of kommunes gereed is vir besetting deur massas mense nie. Mense werk en kinders gaan skool. Wie, buiten afgetredenes en uitskieters kan soiets aanvang. Dis juis hoekom Orania se samestelling, lyk soos dit lyk. Wie gaan so ‘n projek borg… die VV? Die Aftikaners word reeds vir jare wereldwyd beswadder. Slegs wanneer mense niks meer oor het nie, sal laertrek plaasvind en dit sal ‘n tragiese gebeurtenis wees wat mens nie jou naaste toewens nie.

Gerhard ·

Nou hoe lyk Orania se samestelling as ek mag vra? Die meeste is werkersklas Afrikaners.

chris du plessis ·

Afrikaners is reeds gekonsentreer in en om Pretoria en die hoëveld. Daar is n groot toeloop van Afrikaners na Pretoria. Dit is waar Afrikaners selfbeskikking moet opeis. Dit is waar Afrikaners ook die sterkste historiese aanspraak het sou hulle eendag eensydige onafhankliheid wou verklaar – n belangrike faktor in internasionale reg.
Ons kan hier selfbeskikking opeis deur eenvoudig die grenslyn vir n grondgebied so te trek dat dit swart buurte uit sluit. dDaar is geen rede hoekom grenslyne nie deur dorpe of woonbuurte mag loop nie. Dit is algemeen in Europa. Beide OASE en die ASK het reeds n gebied afgebaken hier wat Afrikaners in n meerderheid plaas sou hulle selfbeskikking opeis.
afriforum wil natuurlik he Afrikaners moet Orania toe trek …… Na 30 jar behoort dit nou al duidelik te wees dat dit nie gaan werk nie. Menseemigreer eerder as om Orania toe te trek. Dis tyd vir n plan wat realisties vir Afrikaners.

Gerhard ·

Na 30 jaar is daar geen sprake van selfbeskikking in die paar woonbuurte van Pretoria waar Afrikaners die meerderheid is nie. Eerstens omdat dit ‘n drogredenasie is dat Afrikaners ‘n meerderheid daar is en tweedens omdat dit onmoontlik is vir bg. woonbuurte om onafhanklik te word van die res van Pretoria in enige opsig en derdens omdat die Afrikaners wat daar woon nie die kopskuif wat gemaak moet word na selfbeskikking kan maak nie, anders het hulle al lankal nie meer daar gewoon nie.

Ampie ·

Ek sal graag wil sien dat die Afrikaner gemeenskap help om Afrikaner oumense wat in onveilige plekke bly (soos plase en plotte en selfs ouetehuise in die middestede), om te verhuis. Myns insiens kan duisende oues in Orania gevestig word en die dorp ‘n lekker finansiele hupstoot gee. Verder kan Orania se skole so uitgebrei word dat ‘n ordentlike kosskool honderde kinders van die hele Suid-Vrystaat en Noord-Kaap akkommodeer. Dan sal Orania sterk groei wat ‘n goeie begin is. Mens kan net Mr Buys se idee van konsentrasie ondersteun.

Casper Labuschagne ·

Daar was ‘n dekade gelede ‘n inisiatief om Kroonstad as aftreedorp te bemark. Huise was lekker goedkoop hier, juis omdat werk relatief skaars is. Maar dit is ‘n sentrale dorp, met mooi woonbuurte, stewige huise en ‘n deeglike infrastruktuur. Daar was oorweeg om ‘n skakelbeampte aan te stel met die doel om persone wat na aan aftrede is, na die dorp te lok en sou slegs tien finansieël selfstandige afgetredenes jaarliks gelok kon word, sou dit ‘n stewige hupstoot aan die dorp besorg het. Maar die ANC bestuur van die plaaslike Moqhaka stadsraad het daardie plan gedwarsboom en verongeluk, omdat hulle wou verhoed dat dalk nog ‘n boerestaat geskep sou word. Vir dieselfde rede het Moqhaka ook die uitbreiding van die Renovaal aftreedorp langs die Vaalrivier afgekeur en ook die uitbreiding en verdere ontwikkeling van Vierfontein (tussen Viljoenskroon en Orkney) gedwarsboom.

Marius ·

Mnr. Buys, ek stem volkome saam met jou idee van konsentrasie. Is nogal iets waaroor ek self gewonder en oor gedink het. Ek dink wel ons sal ons denke oor mekaar as Afrikaanssprekende wit Suid Afrikaners moet verander. Ons moet eers bepaal wie dit almal insluit. Op hierdie stadium voel ek heel uitgesluit want ek is nie ‘n boer in die suiwerste vorm van die woord nie. En alhoewel ek lankal al geforseer is om van ‘n gedeelte van my bate, my besigheid, ontslae te raak vir BBBEE, en ek ook dood en verlies van verskeie aard in die gesig staar, blyk dit nie so belangrik te wees as wat met die boere gebeur nie. Ek is verder ook nie ‘n lid van die oorspronklike “Susters-kerke” nie en mag blykbaar nie ‘n siening en opinie huldig wat in teenstelling is met die “aanvaarde” norm van Christenskap nie. En, wanneer ons dan bepaal het wie ingesluit word en wie nie, dan moet ons iewers ‘n leier kry wat hierdie idee aan ons almal kan “verkoop” en ook verder kan aksie neem om die idee verder tot uitvoer te bring. Ek sien uit na die dag wanneer ons na mekaa kan kyk en mekaar kan aanvaar vir die verskillende opvattings wat ons het, terwyl ons nog steeds kan saamwerk om dinge vir ons almal saam beter te maak!

Boerboel ·

Ek dink nie enige Afrikaner organisasie fokus slegs op boere en plaasmoorde nie. Net n handjie vol Afrikaners is boere. Ek weet ook nie van enige Afrikaner organisasie wat slegs mense van die susterskerke verteenwoordig nie. BBBEE en AA is baie groot probleme.

apie ·

Goeie idee. Nou moet ons nog net leer om ons eie huiswerk, tuinwerk ens. te doen soos in Orania en Australie. Solank ons dit nie doen nie sal ons onveilig en vasgevang bly

Dawid ·

Ek stem saam die groot rede vir nie saam staan en hande vat is ons wil nie afstand doen van ons materieele besittings wat wel nodig sal wees. As n profesioneele persoon is seker werk benede ons.

Brian ·

Snert, Gerhard. Geloof kan nie met n DNS toets bepaal word nie. Joodse gene wel baie maklik. Google Aliyah.

Gerhard ·

Daar is baie Jode van enige ras onder die son net soos daar Moslems en Christene is van enige ras. Terselfder tyd is die meeste , ongeveer 75%, Ashkenazi Jode wat beteken hulle is amper half germaans. Dit is net so goed jy argumenteer Afrikaners is Hollanders omdat hulle meeste van hulle gene en geloof deel. Die enigste plek waar die Jode dalk ‘n Volk is is in Israel waar hulle eerste taal darem Hebreeus is.

Gerhard ·

Konsentreer, emigreer of krepeer. Besluit maar wat dit gaan wees.

Eric ·

‘n Goeie begin sal wees om groot gebiede te identifiseer waar Afrikaners binne etlike jare kan ontruim. Dit help veel ons bly in gebiede waar ons absoluut geen kans staan om ooit politieke mag te he nie. Om konsentrasie gebiede te identifiseer moet alle belanghebbenes bymekaar kom en uitredeneer watter gebiede strategies, histories, en kultureel die mees belangrikste is om te behou.

DHK ·

Die blankes is wêreldwyd onder beleg. Julle almal stry en baklei oor iets wat onstuitbaar is. Julle soek menslike oplossings waar daar geen oplossing voor is nie. Uit al hierdie kommentare hierbo stem geen twee met mekaar saam nie. Gaan lees julle Bybels, diegene wat nog Bybels het. Daarin sal julle sien dat die hele wêreld in sy laaste dae staan. Dis onafwendbaar en saamstaan of deurmekaarstaan, bly of gly, sender- of ontvangerdorpe, konsentreer of emigreer, debat of stilte gaan dit nie verander nie. Maak elkeen eerder sy of haar saak met die lewende God noú uit en lewe volgens Sy voorskrifte soos vervat in die Bybel. Dis die antwoord – slaan ag daarop of ignoreer dit. Hierdie hele wêreld spoed na sy einde en geen menslike plannetjies of idees gaan dit keer nie. Die tyd is min, maak nou jou keuse terwyl daar nog ‘n tydjie daarvoor is…

Braam van Tubbergh ·

Ek het hierdie punt of feit seker so 5 jaar gelede besef nadat ek ook besef het dat ek en my familie nie langtermyn sal oorleef as ek nie “nou” terwyl ek nog in n posisie om sonder “haastigheid” n besluit en n skuif te maak met my logika! Ek het toe begin soek na n dorp waar ek saam met ander eenderse denkenkende rakende familiewaardes en veiligheid en n beter toekoms vir my kinders en kleinkinders kan saam groepeer .My belangrikste punt van oorweging was om n dorp te vind waar daar geen informele plakkerskampe is nie .En so in my soeke het ek 3 dorpe gekry .Een gekies eindom daar gekoop en is besig om te bou .Ek is nie n baie ryk mens nie maar my familie se veiligheid is meer werd as twyfel en sentiment ! Klein trek groepies tydens Groot Trek is uitvermoor .Die slag van Bloedrevier het gebeur toe trekkers saamgetrek en gegroepeer het .Sterkte met jou besluit en trek !

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.