Krisis in Turkye is slegte nuus vir almal

turkye-staatsgreep1

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

Sedert die begin van 2018 het die Turkse geldeenheid, die lira, reeds 40% van sy waarde verloor. ʼn tweede groot Turkse maatskappy moes onlangs aankondig dat hulle nie meer by magte is om hul skuldverpligtinge na te kom nie en dat hulle ’n herstrukturering van skuld ondersoek. Nog ’n groot maatskappy het onlangs dieselfde pad gestap.

Die Turkse ekonomie is in groot moeilikheid. Die land se regering en privaat sektor het oor die afgelope dekade baie skuld gemaak terwyl die sentrale bank rentekoerse laag gehou het. Donald Trump se besluit om sanksies en invoertariewe teen Turkye in te stel, het die damwal wat reeds vir maande krake toon, laat breek. ’n Uiters swak lira kan aanleiding gee tot ’n skuldkrisis wat binne die volgende paar weke die sewentiende grootste ekonomie in die wêreld op sy knieë kan dwing.

Turkye word ook deur wesenlike politieke uitdagings in die gesig gestaar. Die ekonomiese en politieke probleme staan in verband met mekaar. Die Turkse president Recep Tayyip Erdoğan het reeds ’n paar jaar gelede besluit om ten alle koste groter mag in sy land te bekom. Die eerste stap was om verlede jaar tydens ’n referendum die land se grondwet te verander. Hy het in ’n eensydige veldtog, gedryf deur staatsfondse en die manipulasie van staatsbesteding en monetêre beleid, daarin geslaag om 51% van die stemme te kry. Die tweede stap was om vanjaar se presidentsverkiesing te wen. Ook daarin was hy geslaagd nadat die meeste onafhanklike media-instellings, burgerlike bewegings en opposisieleiers suksesvol uitgeskakel is.

Turkye se politieke probleme het ook ’n buitelandse kleur. Vir dekades was die land ’n bondgenoot van die Weste, onder meer as lid van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie. Verskeie Westerse lande het oor die jare ’n sterk militêre teenwoordigheid in die suide van Turkye opgebou waar ’n lugmagbasis gedeel word. Sowat 5 000 Amerikaanse soldate is by die lugmagbasis gestasioneer. Oor die afgelope paar jaar het ons egter gesien hoe Erdoğan keer op keer teen die Weste uitgevaar het en lelike geskilpunte met lande soos Duitsland, Nederland en Amerika ontstaan het.

Die huidige geskil met Amerika gaan oor die onwettige aanhouding van ’n Amerikaanse pastoor in Turkye. Die man word deur Erdoğan daarvan beskuldig dat hy persone wat in 2016 ’n staatsgreep in Turkye probeer uitvoer het, bygestaan het. Geen behoorlike verhoor het egter nog plaasgevind nie. Ná mislukte onderhandelinge tussen Amerika en Turkye oor die vrylating van die prediker, het Trump hard met sanksies en invoertariewe reageer. Trump se optrede het met meer as die aangehoude prediker se saak te make – hy wou ’n duidelike boodskap aan Erdoğan stuur dat Amerika se geduld besig is om op te raak met Turkye.

Intussen hou Erdoğan aan met dreig teen die Weste en plaas al sy hoop op sy vriendskap met China, Rusland en ander sukkelende opkomende lande soos Suid-Afrika. Die huidige Turkse krisis skep wesenlike ekonomiese uitdagings vir ontwikkelende lande soos Suid-Afrika, skep nuwe vrae oor die migrantekrisis in Europa en kan tot meer onstabiliteit in die Midde-Ooste aanleiding gee. ’n Onderhandelde skikking tussen Erdoğan en Westerse leiers, veral Trump, is nou nodig.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gerhard ·

Ek wonder net hoe jy iets kan onderhandel met die ou wat van waarde kan wees. As jy iets tussen die ore het, weet jy tog hy lieg vir jou net om te kry wat hy wil he. Soortgelyk aan die onderhandelinge tussen die ANC en die ou NP, weet jy tog hy gaan hom nie hou by die onderhandelde skikking nie.

Moeg ·

Ons raak moeg vir globalisering, want elke diktator se nonsens maak ons arm. Tyd vir globalisering om opsy te staan vir plaaslike ekonomie eerste.

Kosie Kramer ·

Turkye (die ou Ottomaanse Ryk) se vingers was deeglik in die paai met die uitbreek van beide wêreldoorloë. As buffer tussen Rusland en die Weste/Midde-Ooste, speel Turkye `n strategies belangrike rol.

nico k ·

Die eerste ding wat duidelik raak is dat ‘n diktatorskap altyd sleg is vir ‘n ekonomie. Daar is talle lesers van Maroela wat steeds glo demokrasie is nie ‘n goeie ding nie. Ongelukkig is daar geen goeie alternatief nie. En dan wil ek Moeg antwoord wat moeg is vir globalisering. Daarvan kan jy nie wegkom nie. Dit is so dat elke internasionale krisis ons dan ook raak. Maar ‘n land wat hom probeer toesluit van die res van die wêreld gaan ook agteruit gaan.

Liberaal ·

Niemand kan wegkom van globalisering nie, julle middelklassakemanne moet julle besighede oopgooi vir ons superryk leiers om julle uit te druk. Rol net om julle, ons superryk linkse wereldleiers gaan julle oorvat.

Wessel ·

Obama = Globaliseering
Trump = Plaaslik eerste
Kyk net hoe het werkskepping en die hele ekonomie begin bloei onder plasslik eerste.

Deon Meyer ·

Suid Afrika is ‘n 1 party staat en geen demokrasie nie.Watter sê het die minderheidspartye tov van beleidvorming as voorbeeld-NUL

daan ·

Die probleem is as die Turkese ekonomie totaal val sal meer mense van Turkye na Europa gaan om werk te soek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.