Krisisberaad: Raamwerk vir ’n toekomsplan van hoop

Flip-Buys-krisisberaad

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, tydens die Beweging se krisisberaad op 5 Mei 2015 by die Voortrekkermonument. Foto: Reint Dykema

Hierdie toespraak is gelewer deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, tydens die Beweging se Krisisberaad wat op 5 Mei 2015 in Pretoria gehou is.

 Waarom ʼn krisisberaad?

Die Solidariteit Beweging het die Krisisberaad saamgeroep om te besin oor die groeiende krisis in die land en om oplossings daarvoor te ontwikkel. Ons doel is nie om net te praat oor die probleme nie, maar om iets daaraan te doen, want ons is hier om te bly. Daarom is hierdie beraad eerder ’n doenskrum as ’n dinkskrum. Vandag is die begin van ’n groter proses om omvattende oplossings te ontwikkel en in werking te stel. Natuurlik besef ons goed dat die land en ons gemeenskap se probleme nie oornag opgelos kan word nie. Ons gaan nietemin nie sit en wag vir langtermynplanne nie, maar ons gaan vandag reeds ’n pakket met korttermyn-aksieplanne ter tafel bring om solank die bal aan die rol te sit. Wees egter verseker dat u vorentoe nog ruim geleentheid sal kry om verdere insette te lewer.

Ons beweging het die afgelope paar jaar van krag tot krag gegaan en gegroei, en dit is nou ’n hedendaagse Helpmekaar-beweging van selfhelp-doenorganisasies wat ’n omvattende reeks dienste aan ons gemeenskap lewer. Dit is met groot dankbaarheid dat ek vandag kan aankondig dat ons ledeorganisasies (die vakbond Solidariteit, AfriForum, die Solidariteit Helpende Hand en ons kultuurvennoot die FAK) die afgelope maand gesamentlik ’n ledetal van 300 000 bereik het! As ons lede se gesinne by hierdie syfer ingesluit word, beteken dit waarskynlik dat ons nou nagenoeg ’n miljoen mense verteenwoordig. Daarmee probeer ons nie voorgee dat ons nou namens alle Afrikaners kan praat en besluit nie, maar ons aksieplanne is ten bate van Afrikaners se reg om blywend vry, veilig en voorspoedig in Afrika te kan voortbestaan, ook tot voordeel van die land en sy mense.

Die dubbele krisis van staatsverval en tweedeklasburgerskap: die gevaar van staatsverval

Wat bedoel ons daarmee dat Suid-Afrika in ’n krisis verkeer? Daar is toenemende tekens dat die agteruitgang in die land besig is om al vinniger te versnel. Die groot gevaar is dat dit lateraan ingevolge die “wet op versnelde agteruitgang” tot staatsverval kan lei. Dit gebeur wanneer iets wat op ’n glybaan na onder is, al hoe vinniger begin afgly totdat dit naderhand in ’n onkeerbare spiraal na die bodem toe spoed. Die “sneller” hiervoor is gewoonlik ’n onverwagse gebeurtenis wat soos ’n vallende domino ’n ketting van gebeure ontketen. Dink maar net hoe die aanvalle op vreemdelinge soos ’n vinnige veldbrand versprei het.

Wanneer ’n Derdewêreldland inplof, is dit soos iemand op ’n fiets wat op ’n plaaspad val. Dit is seer en stowwerig, maar jy kan dadelik weer opklim en verder aanry. As ’n moderne land egter verval, is dit soos ’n vliegtuig wat neerstort. Dit gebeur nie baie nie; dit neem lank voordat dit gebeur omdat ’n vliegtuig ver kan sweef, maar as die vliegtuig val, is dit ’n ramp waarvan nie gou weer opgestaan kan word nie.

Suid-Afrika het gelukkig nog nie “geval” nie, en daar is nog baie positiewe dinge in die land ook, wat ’n mens hoop gee dat die land nie sommer totaal sal verval nie. Maar die rooi ligte flikker, want groot dele van die staat het al verswak of geval en dit kan die res begin omstamp soos die domino waarna ek verwys het. Dink maar aan die 80% van die openbare skole wat al verval het; die talle dorpe wat nie meer behoorlike munisipale dienste kan lewer nie; soveel staatshospitale wat faal om ’n gesondheidsdiens te lewer en waar mense doodgaan weens ’n gebrek aan mediese diens; ’n polisiediens wat nie meer die land se mense kan veilig hou nie; en die talle staatsdepartemente wat in werklikheid eerder werkskeppingsprojekte is wat nie werk nie. Die feit dat sommige mense nog nie hierdie verval raaksien nie omdat hulle op Eerstewêreld-eilande leef wat nie van die staat afhanklik is nie, verander niks aan die feit van ’n falende staat nie. Buitendien het beurtkrag die verval tot in ons huise gebring; is die vandalisering van ons monumente wyd beleef as ’n simboliese aanval op ons gemeenskap; en het die geweld teen vreemdelinge mense laat wonder waartoe mense, wat normaalweg vreedsaam is, binne ’n oogwink in staat is. Gelukkig bestaan ’n land nie net uit die staatsektor nie, maar het die land ook lewendige en sterk privaat en burgerlike sektore.

Ek wil die sewe ergste staatskrisisse kortliks opsom voordat ons na oplossings begin kyk:

  1.  Die ideologiese krisis: Die krisis hou daarmee verband dat die regering ná 21 jaar nog nie ’n werkbare regerende ideologie kon ontwikkel nie, maar steeds vasklou aan uitgediende opposisie- /struggle-resepte uit die Koue Oorlog-era. Dit word al duideliker dat die regerende party tydens die destydse grondwetlike onderhandelinge toegewings gemaak het om die mag te kry, en nou die mag gebruik om hul oorspronklike doelwitte deur te stoomroller. Dít is ’n giftige mengsel van rassenasionalisme onder die dekmantel van “transformasie” en outoritêre politieke en onbekostigbare ekonomiese sosialisme. Die ANC het dit herhaaldelik duidelik gestel dat die doel van hul transformasiebeleid is om beheer van alle “magsentrums” oor te neem, met “African”-heerskappy (hegemonie) as doelwit.
  2.  Die politieke krisis: Ons stelsel, wat deur een party oorheers word, lei tot al minder vryheid vir die ekonomie; die opposisie; die media; die regbank; grondwetlike instellings soos die openbare beskermer; staatsinstellings; die burgerlike samelewing; en die beperking van die vryheid van taal- en kultuurgroepe. As dit nie gekeer word nie is die uiteinde hiervan ’n vryheidslose, ondemokratiese “demokrasie.”
  3. Die regeringskrisis: Dit word al duideliker dat die regering nie ’n moderne land kan regeer nie. Dit is die hoofoorsaak van die versnellende verswakking van die staat en dít deur self-toegediende wonde soos byvoorbeeld die regering se rassebeleid. Daarom ontstaan daar ’n groeiende gaping tussen wat die regering wil doen en wat die staat kan doen.
  4. Die grondwetlike krisis: Die grondwetlike gesag raak al meer ondergeskik aan politieke mag. Vanweë “Zumafikasie” word Suid-Afrika al meer deur persoonlike en politieke netwerke, in plaas van deur grondwetlike instellings, regeer.
  5. Die ekonomiese krisis: Die politiek het verwagtings geskep waaraan die ekonomie nie kan voldoen nie en wat die onvolhoubare toestand dat 3 miljoen belastingbetalers ’n bevolking van 55 miljoen mense moet versorg, tot gevolg het.
  6. Die bedelingskrisis: Die krisis het tot gevolg dat die ingeboude struktuurfoute onder meer daartoe lei dat meerderheidsregering oorgaan in meerderheidsoorheersing.
  7. Die kulturele krisis: Die krisis vergestalt hom daarin dat die demokratiese ruimtes van grondwetlik erkende kultuurgemeenskappe algaande kwyn vanweë die krimpende politieke ruimtes, en dié kultuurgemeenskappe se instellings oorgeneem en elke aspek van hul lewens deur die meerderheid beheer/oorheers word en dít deur die beleid van “verteenwoordigendheid.”

Hiermee tesaam kan nog talle ander krisisse genoem word, soos die maatskaplike krisis weens gesinsverbrokkeling; die misdaadkrisis; die groeiende krisis van die land se infrastruktuur soos elektrisiteits- en waterverskaffing; die omgewingskrisis; die waardekrisis; die krisis in die arbeidsmark wat blyk uit hemelhoë werkloosheid en armoede; die tekens van agteruitgang in ons regstelsel met gevalle van straflose korrupsie van politieke leiers; en die demografiese krisis wat homself uitspeel.

Gelukkig is daar ook nog sterk dryfkragte wat staatsverval teenwerk, soos die meervoudige magsentrums in die land; die sterk moderne sektor met sy groeiende middelklas; die veelvlakkige verskeidenheid in die land wat algehele magsentralisasie bemoeilik; die groot groep goed opgeleide mense; die gedeelde Christelike waardes; die onafhanklike howe en die regstelsel; die luide opposisiepolitiek; tegnologie wat mense bemagtig; die kulturele kapitaal in talle gemeenskappe; en die wakende oog van die buiteland.

Die dubbele krisis van staatsverval en tweedeklasburgerskap: Die gevaar van tweedeklasburgerskap

Daar word dikwels gesê dat dit ekonomies nog goed gaan met wit mense in die algemeen en met Afrikaners in die besonder, en dit word as bewys voorgehou van ons voortgesette bevoorregting in die nuwe bedeling. Gewoonlik word die welvaart van ’n handvol Afrikaanse wêreldklas sakelui dan gebruik as bewys van hoe goed dit met Afrikaners gaan, asof dit die algemene standaard is. Dit herinner aan die ou NP-regering se poging om die vorige bestel te regverdig deur daarop te wys dat die lewenstandaard van swart mense in Suid-Afrika veel hoër was as in die res van Afrika. Die betreklik goeie ekonomiese prestasie van Afrikaners in weerwil daarvan dat die ANC téén hulle regeer, kan tog nou nie as ’n regverdiging van ’n toenemend onregverdige stelsel aangevoer word nie!

Verskeie grondwetlike ruimtes bestaan vir taal- en kultuurgemeenskappe se regte soos taal; moedertaalonderwys; enkelmediumskole en -universiteite; kulturele instellings; en selfs die erkenning van dié gemeenskappe se reg om na geografiese en ander vorme van “selfbeskikking” te streef. Almal se reg op vryheid, menswaardigheid en gelykheid word ook in die Handves van Menseregte gewaarborg. Daar is selfs grondwetlike instellings soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat); die Menseregtekommissie; en die Kommissie vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, geloof-, en taalgroepe om oor dié regte te waak. Boonop kan gemeenskappe hulle nog op die howe ook beroep as hulle steeds ontevrede is. Dit is nou wigte en teenwigte so ver as wat die oog kan sien. Dit het alles in 1994 baie goed geklink. Intussen het daar egter ’n groeiende kloof ontstaan tussen die grondwetlike teorie en die politieke praktyk. My enigste verklaring daarvoor is dat die krisisse in die land alles tekens is dat die 1994-ooreenkoms besig is om uit te rafel. Navorsers verbonde aan die Cornell Universiteit voer aan dat die gemiddelde lewensduur van grondwette in die wêreld net 17 jaar lank is, moontlik omdat die “politieke leeftyd” van die opstellers daarvan hoogstens twee dekades is. Kyk maar na ons parlement waar nog net twaalf van die 1994-parlementslede nog in die parlement dien en net agt van hulle is ANC-lede. Maar kom ons kyk hoe die bedeling reeds in die praktyk verander het:

  •  Veeltaligheid het ná ’n oorgangstyd oral eentaligheid geword;
  • Gelykheid en “regstelling” het “verteenwoordigendheid” geword;
  • Afrikaanse skole word deurlopend deur staatsweë vir “transformasie” geteiken;
  • Die grondwetlike voorsiening vir Afrikaanse universiteite word polities toegestop;
  • Die betrokke grondwetlike instellings wat hieroor moes waak, is tandeloos, disfunksioneel of is deur die regering gekoöpteer;
  • Rassetransformasie volgens bevolkingsyfers het die meeste instellings onder ANC- en swart politieke beheer laat beland;
  • Die goedkeuring van hierdie grondwetlike regte berus ook by die meerderheid, wat dit betekenisloos maak omdat die ANC dit skynbaar as voortgesette bevoorregting beskou; en
  • Die meerderheid se individuele regte weeg nou, kortom, swaarder as die minderheid s’n.

Al die nie-bindende gerusstellings en versekerings in plaas van strukturele voorsiening vir ons regte, het dit duidelik gemaak dat ons bestel se individuele sentralisme te simplisties is om die kompleksiteite van ’n heterogene samelewing te reguleer. Minderheidsoorheersing is bloot deur meerderheidsoorheersing vervang, soos die bekende politieke wetenskaplike, Donald Horrowitz, gewaarsku het. Dit is hoekom demokrasie in ’n multi-etniese land nie as vryheid beleef word nie, maar as oorheersing deur die meerderheid – soos wat die staatskundige Timothy Sisk gesê het.

 1. Raamwerk vir ’n toekomsplan van hoop: ’n Strategie vir volksveelheid

Dit is nou genoeg oor die krisis. Kom ons kyk na oplossings en die Solidariteit Beweging se raamwerk vir ’n toekomsplan van hoop. Ek het vroeër gesê dat ons ’n merkwaardige prestasie behaal het deur die 300 000-ledetal te bereik.

Die vraag is wat ons moet doen met hierdie oorweldigende steun wat daagliks aan die toeneem is? ’n Belangrike rede vir ons historiese groei was die suksesvolle verdediging van ons lede se gevestigde regte en belange. Tweedens probeer ons om, so goed as wat ons kan, die impak van die verswakkende staat en landsomstandighede op ons lede te versag. Derdens word dienste aan lede gelewer wat die staat of maatskappye nie kan of wil lewer nie. Vierdens steun mense ons projekte om hulle te beskerm teen ’n bedeling wat hulle struktureel benadeel. Vyfdens ondersteun lede ons aksies om die bestaande orde se verval te vertraag en aktief teen te werk.

Dit is alles baie nodig, maar dit bring tog sekere vrae na vore. Dit is nie volhoubaar om net in die pad van verdere agteruitgang te staan nie; ons moet ook bou aan ’n pad van vooruitgang! Ons uitdaging is ongelukkig nie net ’n swak regering nie, maar ’n verswakkende bedeling.

Dit help ook nie om net as brandweermanne vure in bestaande geboue te blus nie; ons moet soos bouers ook nuwe geboue oprig. Om reddingsboeie vir drenkelinge te gooi is noodsaaklik, maar daar moet ook nuwe skepe gebou word. Om te waarsku dat die land kan misluk is tydig, maar ’n vars alternatiewe visie wat die verbeelding aangryp, skep werklik hoop en energie en ’n toekoms vir ons kinders. Taktiese oorwinnings en suksesse verseker ons nog nie van ’n volhoubare en menswaardige vry, veilige en voorspoedige voortbestaan nie.

Die Afrikaner het volgens N.P. van Wyk Louw sy toekoms nog altyd met daadkragtige waagstukke geskep, waarvan nie een se uitkoms aanvanklik seker was nie. Louw het drie historiese waagstukke genoem:

  • Die Groot Trek (en die stigting van die Boererepublieke);
  • Die aandurf van die Britse Ryk as die destydse supermoondheid in 1899;
  • Die aanvaarding van Afrikaans as amptelike taal in 1925.

Hierna is ’n vierde en onsuksesvolle waagstuk aangepak, naamlik die poging om ons rasseprobleem deur afsonderlike ontwikkeling op te los.

Die vraag is of die tyd nie nou aangebreek het vir ’n volgende en vyfde waagstuk nie.

Die voorwaarde vir die sukses van enige plan is dat soveel moontlik Afrikaners (dalk 80%) dit uiteindelik steun, wat beteken dat ons gemeenskap se belangrikste uiteenlopende sienings deel van hierdie plan moet wees. Planne vir “volkseenheid” werk nie omdat dit veronderstel dat almal by een plan moet inval. Dit is wensdenkery dat almal met alles saamstem; dit gebeur nêrens ter wêreld nie, behalwe miskien in Noord-Korea waar dít wat nie verpligtend is nie, verbode is. Daarom is hierdie raamwerkvoorstel gegrond op “volksveelheid” met die uitgangspunt dat mense nie oor alles saamstem of hoef saam te stem nie – dit is doodnormaal. Die plan maak daarom voorsiening vir die drie belangrikste historiese denkstrome in ons geskiedenis. Laat ek verduidelik.

Daar was nog altyd drie groepe Afrikaners wat volgens hul steun ingedeel is in:

  • Die groep, die individualiste, wat individuele regte voorstaan soos vergestalt in ’n “Engelse” demokrasie;
  • Diegene wat ten gunste is van groepsregte of minderheidsregte soos wat dit in plurale demokrasieë aangetref word (Artikels 6, 30, 31, 185); en
  • Ondersteuners van gebiedsregte, selfbeskikking of federalisme soos wat die geval in Europa is (die bogenoemde Artikels, asook Artikel 235).

Hierdie indeling val natuurlik saam met die politieke modelle wat elke groep verkies. Vir die eerste groep is ’n gewone een mens, een stem-demokrasie voldoende; die tweede groep voel dat groepsregte ook nodig is; terwyl die derde groep na geografiese oplossings, soos verskillende vorme van selfbeskikking, streef. Die eerste groep wil bloot goeie en regverdige regeerders hê; die tweede groep wil self besluite kan neem oor belangrike sake soos onderwys; en die derde groep beskou vorme van federale of gebiedsoutonomie as die enigste blywende staatkundige opsie.

Daar heers natuurlik hewige verskille tussen Afrikaners oor die haalbaarheid van elkeen van hierdie drie sienings, en daar bestaan inderdaad groot praktiese struikelblokke vir elkeen. ’n Strategiese plan, wat nie net vir ’n faksie onder die Afrikaners nie maar vir ons hele gemeenskap voorsiening maak, moet dus al drie hierdie groepe se menings in berekening neem – hoe moeilik dit nou ook al mag wees. Die voorwaarde is natuurlik dat die betrokke voorstelle nie lugkastele is of op ’n hunkering na die verlede gebaseer is nie. Sulke voorstelle sal meer weerstand as steun ontlok. Daarom moet alle voorstelle aan die maatstawwe van grondwetlikheid; demokrasie; moderne staatspraktyk; en die werklikhede van ons land voldoen.

Daarom is die voorgestelde vyfde waagstuk gevolglik eerder op volksveelheid as op volkseenheid gebou. Ons is té min en té versprei dat een groep sy eie oplossing op die ander kan afdwing of dit kan deurstoomroller. Die voorwaarde vir die sukses van ’n strategie vir volksveelheid is natuurlik demokratiese verdraagsaamheid. Dit beteken dat dít waaroor ons verskil ons nie hoef te verdeel nie. Beskou mekaar se aksies as waardetoevoeging eerder as volksverraad of ’n verwerping van die huidige bedeling!

Demokratiese verskille is nie noodwendig dieselfde as verdeeldheid of eie aan die Afrikaner nie; dit is ’n menslike eienskap. Ons navorsing wys dat 80% of meer Afrikaners saamstem oor sake soos Christenskap; Westerse waardes; taal en kultuur; die vrye mark; gemeenskap, gesin en geskiedenis; die oppergesag van die reg; selfstandigheid, federalisme; tradisies; en gesonde rassebetrekkinge. Dit is vir my die tien pilare waarop ons hierdie volksveelheid moet bou. Dit is breedweg ons idees in die stryd om idees.

Tyd vir die vyfde waagstuk: Afrikanerselfstandigheid en gemeenskapsfederalisme

Staatsafhanklikheid of onafhanklikheid is nie nou prakties haalbaar nie. Daarom behels ons voorstel ’n derde moontlikheid, oftewel ’n middeweg en dit is Afrikaner-selfstandigheid – wat ook nie ’n kortpad is nie. Daar is ’n noodsaak vir groter ooreenstemming oor die spesifieke staatkundige stelsel wat ons voorstaan. Daarom wil ek hierdie model beskryf as “gemeenskapsfederalisme.

Omdat die Solidariteit Beweging glo dat die staat se sentralisme demokratiese vryheid bedreig, is ons plan in wese federalisties. Dit beteken dat ons glo aan maksimale selfstandigheid vir gemeenskappe. Federalisme word wêreldwyd gesien as die beste teenvoeter vir regerings se drang om die samelewing met sentralistiese mag te oorheers. Ons strategie is om die bestaande grondwetlike ruimtes vir selfstandigheid te gebruik, en om deur sterk selfhelporganisasies groeiende selfstandigheid op elke noodsaaklike gebied te bevorder. Ons weet oplossings val nie uit die lug uit nie, maar moet van die grond af opgebou word. Dit beteken nie dat ons onsself téén die regering opstel nie, maar dat ons die sentralistiese verstaatliking van die samelewing teenwerk deur die ruimtes vir die selfstandigheid van gemeenskappe te beskerm.

Hierdie voorstel moet egter nog die toets van behoorlike navorsing, ondersoek, bespreking en raadpleging deurstaan, en is ’n oop voorstel wat verder ontwikkel kan word. Ons beoog om by ’n opvolgberaad op 10 Oktober vanjaar daaroor aan u te kom terugrapporteer.

Die enigste voorwaarde is dat die gekose model die verbeelding moet kan aangryp en dat dit die energie wat nodig is om dit in werking te kan stel by ons instellings moet kan opwek.

Kortom gaan dit oor ’n plan vir selfstandigheid. Dit behels ’n strategie van groeiende selfstandigheid deur gemeenskapsorganisasies soos ons moderne Helpmekaar-beweging wat die selfstandigheid vanaf grondvlak opbou. Die vlak van selfstandigheid van ’n spesifieke lewensterrein word bepaal deur die wil en vermoë, en prestasies van die instellings wat op daardie terrein werksaam is.

Die model werk soos ’n piramide: Help sover jy wil, maar moenie ander beveg wat hoër of verder wil nie, en moet ook nie diegene beveg wat nie verder as jy wil gaan nie. Natuurlik behels dit ook die neem van moeilike besluite wat nie langer uitgestel kan word nie.

Die piramide se eerste vlak is individuele regte; die tweede groepsregte; en die derde gebiedsregte. Kortliks kan die voorgestelde strategie soos volg uiteengesit word:

Gebruik die individuele regte waaroor ons beskik:

  • Stemreg en verkiesings;
  • Grondwetlike regte en vryhede;
  • Howe en die regsorde;
  • Die media en spraakvryheid;
  • Grondwetlike instellings soos die openbare beskermer;
  • Die markekonomie en eiendomsreg;
  • Die Handves van Menseregte;

Gebruik die beskikbare groepsregte:

  • Moenie teen ’n oop deur skop nie, al is dit op ’n skrefie oop;
  • Gebruik die bestaande grondwetlike voorsiening;
  • Onderwys: beheerliggame en universiteitsrade;
  • Gemeenskapsorganisasies, Sol-Tech, Akademia, Helpende Hand, AfriForum;
  • Wetgewing soos die Talewet en munisipale wette;
  • Inspraak in plaaslike regering;
  • Veiligheid byvoorbeeld gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte en sekuriteitsmaatskappye;
  • Privatisering, howe, media;
  • Vennootskappe met ander gemeenskappe;
  • Skakeling met die owerhede; en
  • Kulturele “selfregering” deur landswye gemeenskapsrade ingevolge artikel 185 van die Grondwet kan ondersoek word.

Groeiende selfstandigheid op gebiedsbasis

Hoewel die Grondwet wel in artikel 235 voorsiening maak vir “selfbeskikking”, het dit tot dusver nie ernstige aandag gekry nie. Dit is ’n omstrede begrip weens bepaalde politieke konnotasies daaraan verbonde, en dit sal baie omsigtig hanteer moet word. Dit ís egter in die Grondwet, en die lewensvatbaarheid daarvan regverdig ’n behoorlike ondersoek omdat ons graag alle moontlike grondwetlike ruimtes op meriete wil oorweeg. Daar sal dus nie sprake wees van modelle wat na apartheid hunker nie.

Ons kan weer ’n toekoms opbou waarin ons blywend vry, veilig en voorspoedig kan wees. Ons voorouers het dit reggekry in baie moeiliker omstandighede, en daar is mos niks fout met ons nie. Ons het net die kulturele selfvertroue daarvoor nodig en die “kan doen”-kultuur waarmee ons voorouers die voorste landsekonomie in Afrika se geskiedenis opgebou het. Ons vier met reg ons voorouers se prestasies. Maar laat ons aan die werk spring om weer vir ons nageslag ’n rede te gee om die toekoms wat ons vir hulle geskep het te vier!

Ten slotte

Van Wyk Louw het vier bestaanskrisisse vir ’n volk genoem:

  • Fisieke uitwissing;
  • Oorstroming deur getalle;
  • Vrywillige ontbinding; en
  • Wanneer blote voortbestaan belangriker word as voortbestaan in geregtigheid.

Die vorige bedeling het tot ’n einde gekom omdat Afrikaners self besluit het dat die groot eis van die tyd “geregtigheid” is. Daar is nou geregtigheid teenoor die meerderheid. Daarom is die eis van ons tyd nou om te sorg dat daar vir ons gemeenskap ook geregtigheid is, en die klem moet nou op “voortbestaan” lê.

Dames en here, ons is hier om te bly. Ons sal egter die voorwaardes moet skep om hier te kan bly. Ons omstandighede is uiters ingewikkeld, en ek wil nou al waarsku teen eenvoudige mooiklinkende “oplossings”. Die tyd vir vinnige en maklike antwoorde is lankal verby, en ons wil beslis nie voorgee dat ons al die oplossings het nie. Daarom is dit vandag net die begin van ’n langer proses om alle moontlike oplossings te ondersoek, en sien ek saam met u uit na die res van die dag se besprekings. Baie dankie dat u soveel omgee dat u vandag hier saam met ons is.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Herman ·

Flip Buys jy het beslis n staande ovasie van my kant gekry. Dis 20 jaar se verval opgesom en die totale probleem in sy totalitiet. Ek gaan die toespraak deel met wie ek ookal kan en hoop dit is die begin van n groter tjunamie van hoop wat die Afrikaner geemenskap kan opsweep om op te staan vir homself en die lewe vir ons self beter te maak. Die dae van kla en wag dat die regering iets vir ons moet doen is vir altyd verby. EK WEET ONS KAN, WANT ON HET DIT AL GEDOEN.

Deon ·

Akkuraat en stimulerend! Mooi so Flip. Volksgenote ondersteun die eendragtigheidsvoorstel of sterf.

Paul ·

Deon, mis jy dalk die punt oor “eendragtigheid”? Hier is ‘n aanhaling:

“Dit is wensdenkery dat almal met alles saamstem; dit gebeur nêrens ter wêreld nie, behalwe miskien in Noord-Korea waar dít wat nie verpligtend is nie, verbode is. Daarom is hierdie raamwerkvoorstel gegrond op “volksveelheid” met die uitgangspunt dat mense nie oor alles saamstem of hoef saam te stem nie – dit is doodnormaal.”

Ian ·

Ek het dit bygewoon, maar noudat ek die toespraak weer rustig kan lees, is ek diep onder die indruk van die feit dat dit n eenvoudige meesterstuk is! “n” en “eenvoudige” doelbewus in daardie volgorde. Wat ek veral van hou is die benadering van “ons nie teen die regering opstel nie”. Ja, hier moet ons die indirekte benadering gebruik. Jujitsu se beginsels. Gebruik sy mag tot jou voordeel. Sien uit na die volgende spannende episode!

Wybrandt de Swardt ·

Ek wil u bedank vir n uitstekende toespraak
Ek het wel n paar vrae .
Wat is die praktiese rigting wat ek as Afrikaner moet inslaan m.a.w ek as Wybrandt om te help in die projek en my kant te bring in die op bou van ons volk

Norman Markgraaff ·

An admiral proposition proposed by someone who has both foresight and a plan. I suggest this work be translated and published for the greater SA population and the world at large to read.
Well said Flip Buys.

Philip Kilian ·

Ek het lankal sterk admirasie vir Flip se raakvat benadering en toekoms visie. Daar is egter een puntjie wat my hinder: Flip noem “inspraak in regering” as een belangrike groepsreg. Volgende jaar is plaaslike verkiesing: waar is ons tuiste, of sal ons maar bloot DA stem om die ANC te troef? As DA sterker wen sal ons saak sekerlik verbeter maar hoekom is SOLIDARITEIT of AFRI-FORUM nie ‘n tuiste vir miljoene Afrikaners by die stembus nie?

Philip Kilian ·

Die klem is nou op “voortbestaan” en ek glo met ‘n sterk toekoms verwagting. Statistieke wys egter dat die blanke jeug (4-24 jaar) se getalle sedert 1990 met 15% gedaal het, terwyl die swart jeug met 11% gegroei het. Teen hierdie tempo sal die blanke bevolking in 2030 slegs 2% van SA se bevolking uitmaak, TENSY Afrikaners wakkerskrik en Flip se tydige “vyfde waagstuk” met alle mag ondersteun! Ons is hier om te bly, en kan ‘n groot mag wees!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.