Kulturele vryheid kan ’n antwoord op monumentkrisis bied

Louis Botha se standbeeld by die parlement in Kaapstad. Foto: Raymond.ellis via Wikimedia Commons

Louis Botha se standbeeld by die parlement in Kaapstad. Foto: Raymond.ellis via Wikimedia Commons

Die ontsteltenis en woede wat die afgelope twee weke oor die vandalisering van Westerse standbeelde en monumente losgebars het, is tekenend van diep verdelings in ons samelewing. Indien daar nie vinnig ’n aanvaarbare oplossing hiervoor gevind word nie, kan dit nog tot groot konflik lei wat in niemand se belang is nie.

Suid-Afrika is nie die eerste land wat onder sulke krisisse deurloop nie, en wenlande het gelukkig al oplossings vir soortegelyke probleme ontwikkel. Ons hoef nie die wiel van vooraf te ontwerp nie. Dit is wel so dat die ANC nie maklik na oorsese wenresepte sal wil kyk nie, omdat dit nie hulle politieke agenda pas nie. Daarom moet internasionale “beste praktyke” of ’n suksesmodel gekies word wat só ’n onaanvegbare bloudruk moet wees, dat selfs die ANC op die langtermyn nie daarteen sal kan stry nie.

Die Verenigde Nasies (VN) se invloedryke menslike ontwikkelingsverslag van 2004 spel só ’n droommodel vir multikulturele samelewings in besonderhede uit. Onder die veelseggende opskrif van “Kulturele vryheid in vandag se diverse wêreld”, stippel die dokument ’n gesaghebbende strategie uit wat Suid-Afrika kan volg om ’n pad uit hierdie doodloopstraat te vind.

Identiteit as vrye keuse

Die verslag beskryf kulturele vryheid as die vryheid wat mense het om hulle identiteit te kan kies en sonder benadeling uit te leef. Prof. Deon Geldenhuys, staatkundige van Johannesburg, sê dat kulturele regte wêreldwyd, saam met politieke, burgerlike, ekonomiese, en maatskaplike regte, ’n onlosmaaklike deel van die familie van menseregte geword het. Die goeie nuus is ook dat globalisering en demokratisering besliste voordele inhou vir moderne minderheidsgroepe. Die verslag sê hieroor dat in die moderne wêreld van toenemende demokratisering en globale netwerke, beleidsrigtings wat kulturele vryhede inperk minder en minder aanvaarbaar is.

Die verslag se uitgangspunt is dat die wêreld vandag die opkoms van identiteitspolitiek beleef, en beveel kulturele vryheid ten sterkste aan vir multikulturele lande, as ’n noodsaaklike vereiste vir vreedsame naasbestaan. Nasionale eenheid en lojaliteit kan hiervolgens naas kulturele verskeidenheid bestaan, omdat mense veelvoudige identiteite het wat aanvullend tot mekaar kan wees, soos etnisiteit, taal, ras, godsdiens en burgerskap.

Een land een nasie

Hierdie uitgangspunt bots lynreg met “nasiebou”, wat so gewild in die vorige eeu was omdat dit daarop gemik was om kultureel homogene state met ’n enkele identiteit te vorm. Twee magsinstrumente is tradisioneel hiervoor gebruik, naamlik inlywing (assimilasie) en integrasie. Assimilasie poog om kulture verskille tussen groepe uit te wis, terwyl integrasie beoog om kulturele verskille uit die openbare terrein te faseer. Die metodes wat volgens die verslag aangewend word om hierdie doelwitte te bereik klink bekend. Dit behels onder meer die sentralisering van politieke mag, die weiering van plaaslike outonomie vir minderheidsgroepe, die strewe na een amptelike landstaal, en ’n onderwysbedeling wat die taal, geskiedenis en simbole van een groep bo dié van ander groepe bevoordeel. Net ’n skamele 13% van kinders in primêre onderwys in Afrika suid van die Sahara word in hul moedertaal onderrig, wat waarskynlik ’n groot deel van die oorsaak van die vasteland se armoede verklaar. Hierdie nasieboustrategieë het tot groot konflik aanleiding gegee, omdat gemeenskappe nie bereid was om hulle bestaan op te hef en by die meerderheid ingelyf te word nie.

Kulturele uitsluiting

Die verslag beskryf die skending van kulturele vryheid as iets wat die waardes, instellings en lewenswyse van ’n kulturele groep nie erken of respekteer nie, en kritiseer dit as “kulturele uitsluiting”. Twee vorme van kulturele uitsluiting word onderskei, naamlik lewenswyse-uitsluiting en deelname-uitsluiting. Lewenswyse-uitsluiting is wanneer die lewenswyse wat ’n groep sou verkies nie erken en ingesluit word nie, en daar ’n aandrang is dat almal dieselfde lewenswyse moet volg. Voorbeelde hiervan is beperkinge op die beoefening van ’n groep se taal, kultuur of godsdiens, soos die benadeling van ’n groep se taal deur byvoorbeeld ’n ander taal in die staatsdiens en onderwys as amptelike taal in te voer. Die verwoesting van ’n kultuurgroep se standbeelde is nog ’n goeie voorbeeld.

Erkenning

Die tweede soort benadeling is deelname-uitsluiting waar gediskrimineer word met politieke, ekonomiese of maatskaplike geleenthede, soos uitsluiting met indiensneming, onderwys, en politiek. Die verslag beklemtoon dat om kulturele vryheid te verseker en uitsluiting te voorkom, méér behels as die voorsiening van burgerlike en politieke vryheid deur demokrasie. Wat vereis word is ’n multikulturele beleid, met as vertrekpunt dat state in grondwette, ander wetgewing, beleidsrigtings en instellings erkenning behoort te gee aan kulturele verskille en behoeftes.

Volgens die verslag is méér as demokrasie nodig om politieke deelname te verseker. Selfs wanneer lede van minderhede gelyke politieke regte in ’n demokrasie het, kan hulle deurlopend en stelselmatig uitgestem word en onderverteenwoordig wees, omdat hulle in verkiesings altyd aan die kortste end sal trek. Om hierdie gebreke in ’n eenvoudige meerderheidsdemokrasie te oorkom, is ’n multikulturele model van demokrasie nodig sodat minderhede polities íngesluit is en inspraak het oor besluite wat hulle kulturele vryhede raak. Die verslag stel verskeie multikulturele modelle voor om skendings van minderheidsregte te voorkom deur meerderheidsbesluitneming of deur die oorheersing van die regerende elite. Meerderheidsregering word gewoonlik meerderheidsoorheersing in ’n veelvolkige land, en daarom is magsverdeling nodig. Meganismes soos kulturele outonomie word wêreldwyd gebruik, onder meer in lande soos Nieu-Seeland, Indië, Kanada, Spanje, België, Kroasië, Roemenië en Hongarye.

Drietaalbeleid

Wat taalbeleid betref, meen die verslag dat taalerkenning simbolies is van respek vir spreker van die taal, hul kultuur en hul volle insluiting in die gemeenskap. ’n Drietaalbeleid word aanbeveel, waarvan een ’n wêreldtaal, een ’n gemeenskaplike plaaslike taal en een mense se moedertaal is.

Die regering is regstreeks aandadig aan die inperking van Afrikaans en Afrikaners se leefwêreld, en van die beloftes wat die regering oor die jare gemaak het rakende brandende knelpunte wat aan hulle uitgewys is het niks van gekom nie. Volgens Geldenhuys bied hierdie jongste  menslike ontwikkelingsverslag van die VN belowende aanknopingspunte waarop voortgebou kan word. Hy noem drie moontlikhede wat met die regering opgeneem kan word, naamlik ’n kulturele opvolgskikking, ’n kulturele kontrak tussen die regering en minderheidsgroepe, en ’n handves van kulturele regte en vryhede wat aanvullend tot die handves van menseregte in die Grondwet opgeneem kan word.

Natuurlik sal die ANC nie maklik oortuig kan word om die aanbevelings van die VN se verslag te implementeer nie. Maar die geskiedenis het al oor en oor bewys dat geen regering in die moderne tyd geloofwaardige beroepe om vryheid vir altyd kan ignoreer nie. Steunwerwing onder alle gemeenskappe in Suid-Afrika én in die buiteland sal nodig wees om hierdie droom te bewaarheid.

Maar gelukkig het ons ʼn geheime wapen. Ons taal en sy sprekers het nog altyd sterker geword as dit onder druk geplaas is. Konsentrasiekampe bereik snaaks genoeg altyd die teenoorgestelde. Dít wat die kerkhof moes wees, word die kraamkamer. Soos die VN se Human Development Report van 2004 so mooi in Engels sê: “If the history of the 20th Century showed anything, it is that the attempt either to exterminate cultural groups or to wish them away, elicits a stubborn resilience.”

Daarom is ons strewe om ons taal en kultuur vrylik, veilig en voorspoedig uit te leef, in lyn met die voorste internasionale praktyke.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Herman Toerien ·

Vanoggend spring dit in my oog dat Danny Titus in sy artikel op Netwerk 24 na die “kommissie vir Taal-, Godsdiens- en Kultuurregte” verwys. Dié verkeerde term is ook deur oa destydse pres, Thabo Mbeki gebruik. In werklikheid handel dit oor ‘n kommissie wat volgens sy grondwetlike naam die regte van Taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe moet bevorder en beskem. Dws meer regte as net taalregte, kultuurregte, ens. En wat hierdie regte alles (kan) behels word nogal goed in die volkereg ondervang, maar ook in die grondwet in oa artikel 235 (selfbeskikking). Vir ‘n navorsingstuk waarmee ek besig is het ek die 1990 verslag van die presidentsraad se staatkundige komitee nadergetrek. Handel oor staatkundige stelsels wat oa konfllik voorkom. Vir die eerste keer spring dit vir my in die oog hoeveel aanbevelings oor sekere meganismes (oa vir minderheidsregte) is opgeneem, en hoeveel waarskuwings wat sal gebeur as dit nie ingesluit word nie. Hoewel die modelle deel van die Kabinet se opdragte aan die onderhandelaars vd regering en die NP was (ek weet, want ek moes die Vrystaatse administrateur se insette vir Kodesa opstel en het die opdragte gesien) was, is dit nie in die finale produk ingesluit nie, en dis nogal verstommend presies hoe gebeur wat die komitee gesê het gaan gebeur.
Ek weet dis water onder die brug, maar ek dink sulke dinge laat die weerstandshakies net verder uitslaan. Max du Preez se voorstel is egter dat die Afrikaner ‘n tree of wat in die voorgestelde gesprek met die kultuurterroriste moet terugstaan, en ‘n nuwe streep in die sand moet trek. Met so ‘n benadering sal die strepe natuurlik net meer en meer word tot die streeptrekkers te diep in die see is om nog strepe te kan trek.

Leendert van Oostrum ·

Hmmmm……

Het iemand al die geskiedenis van die Volkstaatraad te boek gestel?

Of moet ons dit liewer vergeet?

Frederick J Smith ·

Puik gedaan Flip Buys. Ek het lanklaas so n insiggewende, toepaslike en ” raakvat” artikel gelees soos hierdie. Bravo vir jou,Afriforum en Maroela. Geniet jul naweek verder..XXX

Johan ·

Dankie Flik, baie noodsaaklike en “gewaagte” artikel, teen die meester plan van die massas se regeerders…Herman: Ek stem saam, wens Max wil bietjie wakker word en besef hy speel teen die minderheids groepe, in die hande van die marksitiese ANC….mindeheids groepe kan dit nie bekostig om terug te val nie, wat ons verloor kry ons moeilik weer terug.

Joffre Papenfus ·

Oppervlakkig beskou is die voorstelle MOONTLIK werkbaar, maar dan aanvaar jy as vertrekpunt die status quo van ‘n sosialisties-humanistiese bestel.

Dan bly “kulturele vryheid” hoogstens ‘n skim, wat lukraak ongedaan gemaak kan word deur ‘n “demokratiese” massa-stem.

Volks-vryheid is die enigste antwoord; dat die waar, hoe en vele ander vrae debat vereis, is gewis – dit maak egter nie die ideal onhaalbaar of verkeerd nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.