Landbou-onsekerhede bedreig kos op tafel

Terwyl ek my stukkie vis gaar maak staan ek wonder of daar nog enigiets anders is wat ons eet wat nie afkomstig is van ʼn kommersiële boer wat dit geproduseer het nie.  Besef ons dit elke dag? En die meer ernstige vraag is of die regering dit werklik besef.  Wanneer ʼn vorige minister van landbou vir ons in ʼn vergadering se dat sy nie die boere se kos nodig het nie,  want sy kan dit invoer, besef mens hoe ver is hul wêreld verwyder van realisme.

Dit is seker een van die mees edelste beroepe om die voorreg te kan hê om kos te produseer. Elke boer  besef dit en weet dat dit ʼn 24-uur taak is wat 7 dae ʼn week uitgevoer moet word. Gekoppel  aan bepaalde seisoenale en ook biologiese prosesse is ʼn boer vasgevang in werklikhede wat fyn bestuur moet word om produksie te kan bewerkstellig. Die boerderyproses is egter nie net van die klimatologiese omstandighede afhanklik nie, maar nog van verskeie ander aspekte ook.

Die voedselprodusent van vandag se grootste uitdaging om te oorbrug het direk en indirek die regering geword. Hoe hartseer is dat waar in ander lande die regering alles in sy vermoë sal doen om die boer in produksie te hou, in Suid-Afrika die teendeel ervaar word. Die prys wat betaal gaan word vir hul beleid is onmeetbaar groot en dit sou in die beste belang wees indien alle verbruikers ook hul stem laat hoor om die regering tot realisme te bring. ʼn Paar aspekte waar hulle ernstig oor sal moet besin is onder andere die volgende:

  • Die leuen oor grondbesit – van toeka tot nou – het die regering nou al so baie vertel dat hulle en baie mense dit glo.  Heeltyd word vertel dat die blankes 85% van die land besit en dat daar 30% oorgedra moet word aan generies swart voor 2014. Stellings word gemaak dat die blankes die grond gesteel het van swart mense.  Die waarheid is eerstens dat geen boer sy grond gesteel het nie en tweedens dat die regering nie wil kennis neem van die studie wat reeds in 2001 vir die Ontwikkelingsbank gedoen is nie.  Hierdie studie is by herhaling aan die onderskeie ministers van landbou sowel as die direkteur-generaals gegee.  Dit is gedoen deur ʼn onafhanklike groep wat oor jare heen reeds verskeie geloofwaardige studies gedoen het, onder andere vir die regering.  In 2001 is bevind dat, indien daar na die hele Suid-Afrika (122 miljoen ha) gekyk word, blankes  44% besit het, die staat 25%, swart 20%, kleurling 9% en indiër 1%. Daarna het die restitusieproses ʼn aanvang geneem en is daar ten minste nog 7% oorgedra.  Dit beteken dat blankes tans ongeveer 37% besit terwyl die res, naamlik 63%, in generies swart se hande is.  Die regering behoort eerder alles in sy vermoë te doen om die kommersiële boere in produksie te hou en hul te waardeer vir wat hul vir die land beteken.  Die vraag wat hul eerder moet vra is: wat word gedoen met die 63% grond vanuit ʼn produksieoogpunt?  Die onnadenkende uitsprake wat deurlopend deur sommige politici gemaak word sonder dat dit gerepudieer word breek die vertroue net te veel af sodat persone nie meer met positiwiteit in landbou wil investeer nie.
  • Die gevolge  van “affirmative action” se prys word nou eers betaal, maar hef aan lê nog voor.  Dit is nie net ʼn landbouprobleem nie, maar die hele ekonomie word geraak.  Dienslewering is besig om in duie te stort en indien gemeenskappe nie ingryp nie sal hulle die prys betaal. Deur kundigheid te vervang met kleur teen hierdie tempo het ʼn verlies aan kundigheid veroorsaak en so word die prys in landbou duur betaal ten opsigte van onder andere navorsing en voorligtingsdienste.
  • Die regering het homself die “bewaarder” van water gemaak en dit in praktyk genasionaliseer.  Puik wetgewing bestaan om toe te sien dat hierdie skaars hulpbron bewaar sal word.  Ongelukkig word dit eenvoudig net nie na behore toegepas nie en sit ons vandag met besoedelingsvlakke wat onaanvaarbaar is.  Landbou gaan uiteindelik die prys betaal wanneer die effek van die besoedelde water in voedselprodukte op onaanvaarbare wyse neerslag vind.
  • Die staat het die verantwoordelikheid om na die veiligheid van inwoners van die land om te sien.  Die politieke wil om die onaanvaarbare hoë vlakke van misdaad aan te spreek bestaan net eenvoudig nie.  Die hele land gaan gebuk onder hierdie probleem, maar landbou is vandag seker die ergste onder druk. Buiten die onsekerheid wat  plaasaanvalle veroorsaak word oeste en insette geplunder op ʼn deurlopende basis.

Die onderste lyn van die landboubalansstaat, vir elke produsent, verg dat dit winsgewend moet wees, want indien dit nie die geval is nie sal die produksieproses noodwendig nie kan voortgaan nie. Fyn finansiële beplanning en bestuur vanaf die insetkoste tot by die bemarking van die produkte word geverg.  Heelwat produkte se pryse word bepaal deur die wêreldmarkte en so moet ons boere dan meeding teen gesubsidieerde produkte.  Die insetkoste van graanboere om ʼn oes in die grond te kry is al meer as wat sy grond werd is en indien daar iets skeefloop, soos byvoorbeeld ʼn misoes, is die skuldlas feitlik onbestuurbaar agterna. Daardie risiko moet hy alleen dra.

Landbou se vermoë om in vandag se tyd voedsel  te produseer is seker een van die mees strategiese bates wat ʼn land oor kan beskik.  Om selfvoorsienend ten opsigte van eie voedsel te wees is weinig lande in die wêreld beskore – iets waarvoor Suid-Afrikaanse boere deur al die jare gesorg het.  Ongelukkig het dit as gevolg van hoofsaaklik regeringsbeleid  in Suid-Afrika so geraak dat ons nou op ʼn mespunt is of ons ʼn netto-uitvoerder van kos gaan bly en of ons ook afhanklik gaan wees van ander lande se boere om ons kosrakke te vul.

Die waarde van kommersiële boere lê nie net in die gesonde kos wat hul vir ons produseer nie, maar ook in die bydrae wat deur hul gemaak word om die platteland te laat funksioneer. Weinig van ons plattelandse dorpies sal oorleef indien kommersiële boere vervang sou word deur bestaansboere. Die bydrae deur die boere in die ekonomie, skool, kerk en sosiale lewe in ʼn plattelandse gemeenskap is die basis waarop hul toekoms gebou word.

Ons ekonomiese toekoms lê gewis opgesluit in ʼn gesonde kommersiële landbou.  Die ineenstorting daarvan se rimpeleffek kan moeilik gemeet word. In Zimbabwe het ons gesien wat die resultaat is in hul ekonomie toe kommersiële landbou in duie stort.

Wat staan ons dan nou te doen oor die toekoms van landbou? Vir elke verbruiker is dit noodsaaklik dat ons boere sal aanhou kos produseer en, kan ek sê, dit ten spyte van die regering.  Elkeen kan sy bydrae maak om landbou te laat lewe sodat ons almal kan leef deur onder andere u stem te laat hoor.  Indien die media toegegooi word met skrywes van verbruikers wat opstaan vir die kosprodusente van die land  se voortbestaan en dit word ʼn deurlopende stroom sal dit noodwendig die openbare mening beïnvloed.  U kan ook aansluit by georganiseerde landbou deur ʼn vriend van die Transvaalse Landbou-unie van Suid-Afrika te word. Sodoende sal u toegang  kry tot al die saakmakende inligting en op hoogte kan bly oor wat besig is om te gebeur met daardie mense wat elke dag u bord kos op die tafel plaas.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Kobie ·

Bennie, ek stem breedweg saam met jou ontleding van die probleem, maar nie oor die oplossing. Ek het nou die dag op TV gehoor jy praat daarvan om Onderwysers ook uit die land te neem, en dit terwyl organisasies soos AfriForum als doen om hulle terug te bring!

Ons probleme gaan nie in die buiteland opgelos word nie, ons moet dit hier oplos en hier oplossings skep.

Bennie van Zyl ·

Baie dankie vir jou inset Kobie.  Ons fokus is gewis om in Suid-Afrika ‘n oplossing te vind.  Die ongelukkige harde werklikheid is dat daar tans verskeie blanke onderwysers en ook in ander beroepe persone is wat net nie werk hier kry nie.  Hierdie geleentheid in Georgië is om op ‘n kontrakbasis vir bv een jaar te gaan skoolhou..  Daar is baie voordele wat hieruit voortspruit.  ‘n Persoon sonder ‘n inkomste word gehelp, maar dan ook kom daar iemand terug met internasionale ondervinding en kontakte wat alles vorentoe kan help vir die stryd hier in Suid-Afrika. Die  groter vraagstuk wat my bekommerd maak is hoe verskillend ons eie mense die stryd (oplossing)  in Suid-Afrika sien.  Vir sommiges glo hulle dit is voldoende om net na kulturele selfbeskikking te streef en te aanvaar dat dit voldoende is.  Ek persoonlik dink dit is ietwat naief gegewe die ANC en sy NDR. Met die dat ons gereeld direk op hoë vlak met hul skakel het ons gou besef dat daar nie vir die Afrikaner ‘n toekoms as identifiseerbare eie volk gegun word nie.  Deur steeds onderhewig aan sy wetgewing te bly sal die Afrikaner baie moeilik sy identiteit kan behou – dit is juis hulle oogmerk met die NDR om dit te vernietig.

Anoniem ·

Bennie,

Watter alternatief stel jy voor wat vir Afrikaners ‘n volhoubare toekoms sal inhou?

Watter bydrae lewer TLU-SA om hierdie alternatief te bevorder onder sy lede?

Anoniem ·

Bennie,

Dit is algemene gebruik in demokrasië vir belangegroepe om publieke bewusmakingsveldtogte in die media te voer wanneer hulle van die regering verskil en ‘n aangeleentheid van belang onder die kieserskorps se aandag wil bring.  Die media soos televisie, radio en koerante word hiervoor ingespan.

Ek het die laaste maande waartydens ek in Australië werksaam is sulke veldtogte waargeneem deur vakbonde, maatskappye en individue wat handel oor uiteenlopende aangeleenthede soos die afkap van natuurlike woude, koolstofbelasting en wetgewing om advertering van handelsmerke op sigaretpakkies te verbied.

Dalk kan TLU-SA die inhoud van die studie deur die Ontwikkelingsbank in plaaslike en internasionale media bekend maak.  As die regering hulle nie daaraan wil steur nie, kan die burgerlike samelewing plaaslik en internasionaal meer druk op die regering plaas.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.