Lang gras en slaggate: Wat het van verkiesingsbeloftes geword?

Eugene Brink. (Foto: AfriForum)

Dit is somer in Suid-Afrika en saam met die hitte is daar ook reën. Die noorde en ook sentrale dele van die land beleef trouens tans hewige reënbuie.

Dit is daarom begryplik dat sekere probleme hierdeur veroorsaak word. Dit skep byvoorbeeld slaggate of vererger die bestaandes, en dit laat die gras uiteraard teen ’n snel tempo groei. Hoewel hierdie probleme nie gekeer kan word nie, behoort dit ten minste beteuel te word.

Dit is eerstens die taak van ’n munisipaliteit om hierdie probleme op te los – dit is immers waarvoor hulle betaal word deur middel munisipale belasting en ander vorme van inkomste. Tog reën dit nie elke dag nie en op baie plekke staan die gras hemelhoog terwyl nuwe slaggate aanhou verskyn en bestaandes al hoe groter raak.

Net so opmerklik soos hierdie probleme is die afwesigheid van munisipale werkers wat besig is om hierdie probleme te pak. Vier maande gelede het ons aan ’n plaaslike verkiesing deelgeneem met die doel dat munisipale dienste en uitdagings voorkeur sal geniet. In die maande wat die verkiesing voorafgegaan het, is ons met allerlei (en baiekeer vae) beloftes gepaai oor wat gedoen kan en sal word. In sommige gevalle is daar nie eens beloftes gemaak nie en is ons net gevra om te stem.

Ons het dus gestem en betaal ons belasting, maar nogtans word daar op baie plekke gewag dat gras gesny word en teer in slaggate beland. Ek sonder nie een spesifieke politieke party in hierdie verband uit nie. Dit is meer ’n kollektiewe politieke mislukking. Ander mense mag dit dalk anders sien, maar vir my en baie mense is dit onaanvaarbaar – veral as hulle nou al maande (trouens, jare!) gehad het om hul diensleweringshuis in orde te kry. Ek kan geen merkbare verskil sien nie en, soos hierbo beskryf, het baie van die moeilikheid juis vererger. Hierdie probleme is nie net esteties van aard of ’n irritasie nie. Dit veroorsaak ongelukke, gepaardgaande beserings of selfs lewensverlies, en verder skep dit ook ’n teelaarde vir misdaad.

Wat wel besig is om te gebeur, is dat gemeenskappe besig is om self in te klim om sake te beredder. In Parys en Sasolburg in die Vrystaat is die AfriForum-takke vlytig besig om talle slaggate te vul. In Benoni verwyder hulle onwettige borde en sny die gras in die groenstroke. Die tak in Rustenburg het onlangs 40 vragte rommel en tuinvullis verwyder. In Nelspruit word groenstroke ook opgeknap en parkies skoongemaak. In Wolmaransstad is 130 sakkies teer gebruik om slaggate self te vul. Die lys kan nog baie lank raak as ek als hier moet opnoem, en dit het net in Januarie gebeur!

Terselfdertyd het die Ngwathe-munisipaliteit (met Parys as setel) nie die aanbevelings ten opsigte van water en sanitasie wat AfriForum ingevolge ’n 2021-ooreenkoms aan hulle gemaak het, enigsins in werking gestel nie. Trouens, hulle het nog nie eens begin om enige van die voorstelle te implementeer nie. In Johannesburg word daar steeds politieke speletjies gespeel en ontwrigting veroorsaak eerder as om op dienslewering te fokus. Twintig munisipaliteite het weens politiekery steeds nie hul raadkomitees verkies nie. Water- en kragprobleme kom oral voor en vererger – veral op die platteland.

Dit blyk duidelik dat vier maande nadat nog ’n plaaslike verkiesing gehou is, politieke beheer die grootste prioriteit vir politieke rolspelers is eerder as die mense wat vir hulle gestem het. Geen wonder mense wou nie gaan stem nie. Hoewel die weer ’n rol speel om sake te bemoeilik en daar beslis raadslede en amptenare is wat uitmuntende werk doen, is die algehele prentjie nie bemoedigend nie. Die vraag op my en baie ander mense se lippe is wat van die verkiesingsbeloftes geword het. Toe ons moes stem, is beloftes sonder voorwaardes gemaak. Nou kry ons verskonings en voorwaardes, of in baie gevalle kry ons nie eens dít nie. Hoeveel tyd het munisipale besture en raadslede nóg nodig om taamlik eenvoudige take, soos om gras te sny, te verrig? Ek los dit by elke leser om oor hierdie vrae na te dink.

Ek glo dat gemeenskappe verlief moet neem met die feit dat volgehoue druk en selfdoen die enigste maniere is om hul dorpe, stede en woongebiede se lot te verbeter. Die tyd vir ’n wag-en-sien-benadering is nou behoorlik verby.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kobus ·

Stem 100% saam. Centurion slaggate nou baie erg. Beloftes…. stem tog net vir ons. Toe stem ek, nie vir ANC nie maar die diens en onderhoud is op dieselfde vlak / standaard as die van die ANC

thejudge ·

Om belasting te weerhou gaan dit net vererger. Geen geld, geen dienste.

Witbaard ·

Toe die eerste “pay cheques” inkom, vaar die beloftes by die agterdeur uit.

thejudge ·

Kan mens regtig verwag alle dienslewering tekortkominge moet in net 3 maande opgelos word? Wees tog realisties. Hou ook in gedagte die ANC regering hou nog steeds die geldbeurs styf vas. Uitdeel om ‘n opposisie party se munisipaliteit te laat wèrk gaan nie gebeur nie.

Peony ·

Ek sekondeer jou redenasie…heigend mense verwag wonderwerke, maar vergeet hierdie munisipaliteite is totaal en al bankrot!

MAGRIETHA ·

Al die beloftes ja nee da was baie mooies om na uit te sien maar da gebeur min of weinig van dit en dis alle partye

Andrew ·

As jy nog verbaas is hoekom niks gebeur het, of gebeur ooit gebeur nie, doen bietjie self ondersoek in.

Ben ·

Al die partye is dieselfde. Hulle is net daar om n salaris te trek. Hulle gee nie n flenter om vir dienslewering nie. Die hele land het die Afrika kultuur aangeneem. Ramaphosa weet dit ook – dit is hoekom hy nou sê gemeenskappe moet self onderhoud doen. Maar betaal sal jy betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.