Links en regs vandag – globalisme teenoor nasionalisme

Volgens die media (en sekere waarneembare tendense) is daar ’n wêreldwye swaai na regs te bespeur. Dit is egter nog steeds ʼn geveg van Dawid teen Goliat en van ʼn omkeer van die internasionale magsorde kan tans nog geen sprake wees nie. President Donald Trump en die opkoms van die sogenaamde populisme word natuurlik telkens as bewyse aangevoer dat die regses oorneem, maar die onderliggende magstrukture en die vormers van mening is nog duidelik gelaai na links. Die linkse elite en meningvormers veg ook verwoed terug om die monopolie oor die openbare sfeer te behou.

Politici kom en gaan en hul invloed word dikwels oorskat. Belangriker as ʼn politieke leier se beleid, is die onderliggende metapolitiek, wat sienings en gedrag bepaal. Eers as die metapolitiek verander, kan daar werklik van ʼn verskuiwing gepraat word. Die metapolitiek word veral bepaal deur die groot vraagstukke of meta-temas en of die linkses of regses dit beter verwoord en aanpak.

Tradisioneel linkse meta-temas is vrede, geregtigheid, gesonde omgewing, gelykheid, alles op globale skaal volgens hul eie aanspraak (of, negatief vertolk, inmenging, gelykmaking, voorskriftelikheid, afbreek van kulture, van die geskiedenis en van selfbeskikking).

Regse meta-temas, daarteenoor, is vryheid, prestasie, soewereiniteit, veiligheid, ekonomiese ontwikkeling, koestering van die heimat en geskiedenis (of, negatief vertolk, ongelykheid, diskriminasie, beperking, besoedeling van die omgewing en verdeling van mense volgens sekere kenmerke soos geslag, ras, geloof en etnisiteit).

Afgesien van die meta-temas, wat agter talle van vandag se groot strydpunte sit, was altans in die verlede een kenmerk van die linkses dat hulle vir die opheffing van die “gewone mense”, die werkers, die minder gesofistikeerdes en minder geletterdes was. Die klassestryd tussen arm en ryk was eintlik die linkse stigtingsmite by uitstek. Dit het sowel positiewe effekte gehad – soos die integrasie en opheffing van die arbeiders en verontregtes. Maar ook negatiewe effekte – soos revolusies en linkse skrikbewinde.

Vir die regses was ongelykheid oorspronklik Godgegewe en moes die armes liewers beheer word en nie inmeng in die uitoefening van mag deur ʼn elite nie wat – te danke aan hul status, geld en opvoeding – beter geweet het wat die mense nodig het. (Ons praat nou hier veral van die 18de en 19de eeu, toe die moderne politieke denke en die regs/links-verdeling ontstaan het). Die adellikes en die magselite was internasionaal ingestel en het die oorspronklik linkse idee van nasionalisme, wat almal van dieselfde volk gelyk wou hanteer, met agterdog bejeën. Selfs in die tweede helfte van die 20ste eeu was die algemene gevoel dat die rykes en magtiges regs is en die verdruktes en die mense op grondvlak links is.

Daar word dikwels beweer dat die wêreld regs skuif die afgelope tyd, weens verskeie suksesse van sogenaamde populistiese en nasionalistiese partye. Die feit is egter dat die wêreld die afgelope tyd so ver links geskuif het, en eens radikale idees intussen hoofstroom is, sodat die eens hoofstroom-konserwatiewe idees intussen as ekstremisties-regs gesien word.

Enkele dekades gelede het linkses, net soos regses, politiek vir die gesin bedryf en die sogenaamde seksuele minderhede was ʼn onbenullige systroom. Nou is hul eise deel van die hoofstroom, en om vir die tradisionele gesin en hul belange in te tree, word as konserwatief beskou. Of neem die wêreld van werk: dit was tradisioneel die linkses wat hulle beywer het vir die fabriek- en mynwerkers en vir billike vergoeding en werksveiligheid. Nou word hulle deur die linkse partye geïgnoreer en daar eintlik op hulle neergekyk weens hul gebrek aan belangstelling in “globale kwessies”, terwyl die regses al hoe meer intree vir die werkende mense, en toenemend hul steun geniet.

Trump se oorwinning sou nie moontlik gewees het sonder die steun van werkers en werkloses in die eertydse “Rust Belt states” in die Midde-Weste nie. Die regses het ook talle oorspronklik linkse idees lankal hul eie gemaak, soos die welsynstaat wat sorg vir die minder gegoedes en die meeste basiese dienste voorsien, of billike arbeidspraktyke, of die vryheid van geloof en spraak, of die gelykheid tussen man en vrou. Trouens, dit is deesdae eerder die sogenaamde regses wat dié waardes verdedig. ʼn Oormatige politieke korrektheid bedreig vryheid van spraak en van geloof; ʼn massa-immigrasie uit veral Moslem-lande bedreig die gelykheid van vroue en ondermyn die welsynstaat, in so ʼn mate dat linkses hulle eie suksesse tot niet maak.

Die een groot tema wat vandag linkses en regses skei, is globalisme teenoor nasionalisme en lokalisme. Eersgenoemde wil liefs ʼn wêreldregering hê, praat van “Europese of globale oplossings” pleks van nasionale beleid, vir hulle is grense ’n ergernis wat verwyder moet word. Linkses sit ook agter meeste globale verdrae oor migrasie, klimaat, handel ensovoorts. Regses staan vir nasionale soewereiniteit en die plaaslike oplossing van probleme en wil voorkeur gee aan staatsburgers.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
marco polo

Van wanneer af is regs=populisties? As jy na jou eie mense eerste omsien, is dit populisties? Of in SA se geval rassisties?

nico k

Links en regs is maar relatiewe begrippe. Waar sou jy die ANC plaas. Hulle staan immers vir voorkeur aan hul eie staatsburgers en nasionale soewereniteit. Die ANC is dus regs.

Santie

Puik artikel! Die pendulum het só ver links geswaai dat dit nie anders kon as begin terugswaai nie, met die VSA soos altyd vooraan. In die 1970s was die Republikeinse Party in die VSA nog die “old money” en die Demokrate die werkers en die “new rich”. Dankie weer eens, Maroela Media, vir kundige en ewewigtige nuus en menings. Sonder julle sou ons net die fopnuus geken het!

John

Woordspeling is deel van die speletjie vandaar populisme… en die pers raap elke nuwe term op soos ‘n nuwe soort koffie op die rak… binnekort ook cannabis-begeur. Globalisering word veral deur Sjina aangevuur omdat die land met sy reuse bevolking sonder werk en geld vir sy mense in chaos sal verval. Soek markte en uitlaatkleppe is hul wagwoord. Dis net ‘n kwessie van tyd of alle landsgrense gaan onwettig verklaar word… Ons plaaslike skole word reeds so hanteer. ‘n Magtige wereldryk wil tot stand gebring word. Die groot gruwelike beeld wat aanbid moet word volgens die Voorspellings is dan nie… Lees meer »

Eish

EN wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.… Lees meer »