Loop lig vir leiers wat blindelings voortstorm

WWII-geskiedenis-collage

Dis interessant om te sien hoe die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog met dié van die Eerste in 1914 verskil. Foto: Commons.wikimedia.org

Dit was gister, 1 September 2019, presies 80 jaar gelede dat die Duitse slagskip Schleswig-Holstein ’n Poolse militêre basis op die skiereiland Westerplatte in die baai van Danzig begin bombardeer het. Dit was die eerste skote in wat die mees verwoestende konflik van alle tye sou word.

Dis interessant om te sien hoe die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog met dié van die Eerste in 1914 verskil. ’n Taamlike konsensus onder historici oor die Eerste Wêreldoorlog se ontstaan is te vinde in dié uitspraak van die Britse premier David Lloyd George (1933), dat Europa “slithered over the brink into the boiling cauldron of war”.

Met ander woorde, dit was geen enkele land se skuld nie; álmal – Brittanje, Rusland, Frankryk, Oostenryk-Hongarye, Duitsland – het bygedra.

In 1939 was dit anders. Reeds op 23 Maart 1939 het die Duitse diktator, Adolf Hitler, sy planne om Pole binne te val in ’n toespraak voor 15 generaals en admiraals bekendgemaak. Wat van hom die alleenskuldige maak.

In die aantekeninge van sy hoofadjudant, Rudolf Schmundt, is ’n interessante uitspraak van Hitler te lees, een wat sy hele wêreldbeskouing en optrede in die oorlog illustreer:

“Die grondbeginsel dat die oplossing van probleme te vinde is in die aanpassing aan die omstandighede, moet nie geld nie. Dit moet veel eerder wees dat die omstandighede hulle aan die eise aanpas.”

Aanvanklik het Hitler nogal hierin geslaag, eenvoudig omdat sy styl en benadering totaal wesensvreemd aan dié van die ander Europese leiers, met name premiers Neville Chamberlain van Brittanje en Édouard Daladier van Frankryk, was.

In sy biografie oor Winston Churchill het die briljante Duitse filosoof Sebastian Haffner geskryf dat die Westerse leiers, almal arrogant en lede van ’n elite, gemeen het Hitler bedryf sy buitelandse beleid op dieselfde grondslag as hulle, naamlik sy land se nasionale belange. Dit was egter nie hoe Hitler dit gesien het nie; vir hom het dit gegaan om die oorheersing van die “Ariese ras” oor die res van die mensdom – en dít het alle tradisionele Europese grense oorstyg.

Sy stoomrollertaktiek van die laat jare dertig het die Europese leiers bowendien heeltemal oorbluf, sodat hulle geen effektiewe antwoord kon ontwikkel nie. Geen wonder nie dat Hitler verbaas was dat sy aanval op Pole ’n Britse en Franse oorlogsverklaring ontlok het.

Die Duitse Wehrmacht het, veral onder die leiding van generaals soos Heinz Guderian, Erich von Manstein en Erwin Rommel, aanvanklik ’n operasionele benadering gevolg wat bowenal op snelheid, ’n indirekte benadering en gemeganiseerde speerpunte berus het. Tot diep in 1941 het dit verbluffende taktiese en operasionele sukses behaal.

Maar in sy matelose arrogansie het Hitler twee fundamentele foute begaan wat uiteindelik op sy ondergang sou uitloop.

Die eerste was om die Sowjetunie in Junie 1941 binne te val sonder om sy rug – Brittanje en die Atlantiese Oseaan – te beveilig. Daardeur het hy hom willens en wetens in ’n Zweifrontenkrieg (’n oorlog op twee fronte) begeef.

Bowendien het hy nie rekening gehou met die onmeetlike Russiese afstande en die deurslaggewende invloed van “Generaal Winter” nie. En dus het sy soldate in hul dun someruniforms teen Desember, met die koepels van die Kremlin se katedrale in sig, in die onmenslike winterkoue vasgeval.

Presies toe begaan Hitler sy tweede fundamentele fout. Nadat sy bondgenoot Japan skielik die Amerikaanse vlootbasis Pearl Harbor in Hawaii aangeval het, het hy oorlog teen Amerika verklaar.

In sy boek Why the Allies Won wys die Britse historikus Richard Overy hoe Amerika, die sterkste nywerheidsland ooit in die geskiedenis, sy ongelooflike industriële krag op die produksie van oorlogsmateriaal omgeskakel het.

Duitsland se eie indrukwekkende vermoëns het pas teen 1943 behoorlik op dreef gekom. Maar sy en Japan se produksie kon nooit kers vashou teen dié van Amerika en die Sowjetunie (en in ’n mindere mate dié van Brittanje) nie.

Dus, al het die Duitsers met revolusionêre nuwe wapens vorendag gekom, kon die Geallieerdes by wyse van spreke 15-20 (minderwaardige) Sherman-tenks bou vir elke Duitse Tiger-tenk. Daarteen kon die Duitsers eenvoudig nie standhou nie.

Stelselmatig het die Geallieerdes hul groter nywerheidsproduksie in ’n militêre oormag vertaal. Ondanks verbete teenstand is die Duitsers en Japanners teen 1945 genadeloos platgewals en fyn gemaal.

As Hitler ná sy skitterende oorwinning oor Frankryk in Junie 1940 ’n Europese internasionale konferensie belê het, sou hy die vrede kon gedikteer het. Brittanje sou uiteindelik moes vrede maak, en nóg Amerika nóg die Sowjetunie sou in die konflik betrokke geraak het.

Hitler sou effektief die baas van Europa gewees het. Maar sy wêreldbeskouing het voorgeskryf dat die lewe bestaan uit ’n permanente neo-Darwinistiese stryd om lewe en dood tussen die meerderwaardige Ariërs en die minderwaardige “ander”, en dat die Ariërs slegs sou kon oorleef as hulle die res (veral die Jode) verslaaf en selfs uitwis.

Vrede en stabiliteit was nie deel van sy vergesigte nie. Uiteindelik het hy te veel afgebyt en daarin gestik.

Dit bring ’n mens weer terug by die uitspraak wat Rudolf Schmundt in Mei 1939 uit Hitler se mond opgeteken het: “Moenie jou idees aan die werklikheid aanpas nie; pas die werklikheid aan jou idees aan.”

Hierin is ’n belangrike les vir moderne leiers opgesluit. Te veel leiers sien die internasionale politiek as ’n nulsom-spel – enigiets wat ék wen, gaan noodwendig ten koste van ’n ander, en andersom.

Die Pruisiese staatsman en vader van die moderne Duitsland, Otto von Bismarck, het dit anders gesien. “Politiek is die kuns van die moontlike,” het hy gesê.

En op ’n ander keer: “Die wêreldgeskiedenis met sy groot gebeurtenisse kom nie aangery soos ʼn trein in gelykmatige snelheid nie. Nee, dit gaan rukkenderwys voorwaarts, maar dan met onweerstaanbare geweld. ʼn Mens moet altyd daarop let of jy die Here God deur die wêreldgeskiedenis sien skry, dan opspring en jou aan die pante van sy mantel vasklamp, sodat jy voortgesleep word so ver as wat dit kan gaan.”

Met ander woorde, wéét wat jy nastreef. Maar wees pragmaties en moenie dinge probeer sonder dat jy deeglik nagedink het of dit haalbaar is nie.

Hitler het sy oë toegeknyp, blindweg ingedons, en sy hele land moes ’n verskriklike prys daarvoor betaal.

Hopelik leer moderne leiers iets daaruit.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Judge Dredd

So niemand was verantwoordelik vir 1st wereld oorlog, maar Duitsland moes volgens verdrag van versailles die ander se skade betaal – wat aanlyding tot die 2de wereld oorlog gegee het.

Disselboom

Besonder oorvereenvoudigde populêre beskouing van die 2de Wêreldoorlog. Daar is ‘n verskil tussen Hitler as enigste faktor/ mal diktator ens ens beskouing en ‘n beskouing van Hitler inderdaad groot faktor, maar daar was ander ook – die propaganda-masjien van die Anglo-Amerikaanse kant het uiteindelik die “geskiedenis” bepaal met ‘n eenogigheid. Let wel, Disselboom geen Hitler-aanhanger nie, maar neem ook kennis van wat Churchill met bombardemente bv Dresden laat doen het, en die ontsagwekkende sterftes van Duitsers, kinders ingesluit, na die oorlog a g v gealliëerdes se optredes, en dan dink mens na of dit net een kant was wat al… Lees meer »

Herman G

Hitler was nie vir wereld oorheersing nie, maar hy wou sy eie “Amerika’ skep in iOS Europa. So sou Hy genoeg minerale en ollie en landbou grond besit so far Duitsland self-onderhoudend Kan wees. Hy wou die plaaslikke bevolking (Slawiese volke soos die Pole en Russe) met Duitsers vervang.

‘n Uitstekende boek on te lees is Wages of Destruction can Adam Troost.

Wally

“Sow the wind and you will reap the whirlwind”. Remember the rape of Nanking? Remember the bombing of Rotterdam? The bombing of London? Once you unleash the dogs of war they will devour everything…even you as their master.

Moreover, the victors write the history…

Nico K

Daar moet ook darem genoem word dat die vernedering van Duitsland tydens die eerste wêreldoorlog ook bygedra het om Hitler gewild te maak het onder die Duitsers. Daar word in die artikel genoem dat die 1ste wêreldoorlog almal se skuld was. Maar net Duitsland moes betaal. Daarom het die Amerikaanse president geweier om die verdrag van Versailles te onderteken en ek verbeel my selfs Botha en Smuts het dit onder protes geteken. So die vredesverdrag van die 1ste wêreldoorlog het bygedrae tot die 2de wêreldoorlog.