Lyding: oorwinning of vermyding?

Deur dr. Wikus Buys

Dr. Wikus Buys.

My hondjie bid nooit vir sy kos nie. Die mens is die enigste wese wat bewustelik wonder oor homself. Sy kos en sy doel op aarde. Ook sy lyding.

Ek het oor die naweek die artikel van Rynhard van Zijl gelees: #Jongstemme: Is voortplanting werklik die beste opsie?  Ek wil graag as Christen reageer op Rynhard se artikel. Vergun my as ek (vir myself ten minste) ’n paar gesprekreëls neerlê. Soos wat Van Wyk Louw met sy oop gesprek-idee dit wou bereik dat ’n gemeenskap ordentlik met mekaar kan gesels – al stem hulle nie met mekaar saam nie – so wil ek ook graag hier doen.

Ek neem Rynhard ernstig op en hoop dit kan dalk tot ’n goeie debat groei. Dit beteken nie dat ek dink die standpunt het enige lewensvatbare geloofwaardigheid nie, maar omdat die konsekwensies van die standpunt verreikende gevolge het.

Oortuig of getuig

Die bedoeling vir my is ten eerste om te getuig wat ek self dink en glo, om dit in verband te bring met wat Rynhard dalk dink en dalk nie glo nie. Tweedens wil ek hom graag oortuig en nie maar net logies probeer oorrompel nie. Om dit te doen, hou ek myself by twee gesprekreëls: om sy standpunt so goed as moontlik weer te gee sodat hy self kan instem dat dit ’n korrekte weergawe is en tweedens werklik oop te wees vir verdere gesprek oor die saak. As Christen glo ek in getuig en oortuig. Ek sê wat ek weet van die waarheid en weet dat die waarheid sy eie oortuigingskrag het.

Die mens as gees

Ek het nie bloot vir spitsvondige redes begin deur te sê my hondjie bid nie vir sy kos nie, en hy wonder nie oor die sin van sy bestaan en lyding nie. Daarin is Rynhard reg oor die mens se sin vir bewustheid. Die mens alleen doen dit. Die rede hoekom die mens egter oor die sin van lyding kan wonder, is omdat ons geskep is na die beeld en gelykenis van God. As Christene weet ons dat God die asem van die lewe in die mens se neus geblaas het (Genesis 2:7). Dit maak ons anders as die diere wat ook lewe het – dit staan letterlik in Hebreeus dat ons “lewende siele” is. Die mens is liggaam, siel en gees. As gees is ons verbind aan God wat die Heilige Gees is. Ons het dus ’n bewustheid van God as Gees. So is ons geskep. God leer ons dat Hy goed en reg is. As die mens nou ervaar dat daar lyding in sy aardse lewe is – Rynhard beskryf dit as ’n soort vergelykingskaal tussen pyn en plesier – ervaar ons dit ook as geestelike wesens. Ons tel op die radar op dat iets fout is, dat dit nie so hoort nie; iets sê vir ons dat lyding en ongeluk nie by ons pas nie. As Christene getuig ons dat die bewustheid gegee is in die feit dat ons onlosmaaklik aan God verbind is as skepsels wat na God se beeld geskep is. Mense is nie veronderstel om te ly nie, en tog kom daar ontsaglik baie lyding in die wêreld voor.

Pyn of plesier

Rynhard raak eintlik twee groot temas in die mensdom se geskiedenis aan, naamlik die kwessie waarom daar kwaad en slegte dinge bestaan en daaruit voortvloeiend die vraag: Wat is die sin van lyding?

Rynhard gee dan ’n instemmende kort opsomming van David Benatar se siening. Benatar staan die antinatalisme voor, wat kortom beteken die antikind-gedagte. Die redenering kom daarop neer dat dit beter is dat daar nie ’n kind gebore word nie, as dat daar ’n kans is dat die kind gaan ly of net ongelukkig is. Dus: geen kind = geen lyding. Niemand is armer daaraan toe as daar nie ’n kind is wat ly nie, want die kind kan logies nie weet dat hy nie sou bestaan nie. Benatar se siening kom uit die filosofiese lyn wat die nihilisme genoem word. Voorbereiders vir hierdie siening is, onder andere, Schopenhauer, Sartre en veral die onbekende Noorweegse filosoof Peter Zapffe.

Wie skep kinders?

Rynhard jy sê: óns skep kinders. Maar is sy stelling waar? My ouma sou gesê het: Hoeveel onse is in jou pond? Daarmee het die ou mense bedoel jy betrek iemand in jou redenasie wat nie betrek wil of moet word nie. Maar Rynhard, ek wil vra: Wie is jou “ons”? Mens kan natuurlik die “ons” verstaan soos jy dit bedoel: ons as al die mense. Maar ons as Chrisene praat ook op ’n ander manier van “ons”. Dit kom van ’n gebed af wat ons Here Jesus ons geleer het. Die gebed begin met die woorde: “Onse Vader wat in die hemel is ….” Vir ons Christene het hierdie gebed se begin baie betekenis want die Heilige Gees leer ons om op ’n bepaalde manier na onsself te verwys. As die Here Jesus sê “Onse Vader”, bedoel Hy twee dinge. Sy eie Vader in die hemel, dit is God die Vader as Skepper van alle dinge en mense. Verder bedoel Hy ook dat sy dissipels, sy volgelinge ook ingesluit is by sy Seunskap. “Onse Vader” beteken dus ook My en julle Vader. Trouens, op ’n kol sê Jesus dit presies so: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.” Joh. 20:17.

Rynhard, jy beweer dat ons skep. Weer eens, wie is jou ons? Christene getuig dat God die Vader skep deur sy Woord en Gees. Dat gelowiges deel het aan Jesus Christus se band met God die Vader. As ons dus wil sê “óns skep kinders” dan is dit vir ons as Christene nooit ooit los van God nie. Trouens, dit is vir ons ’n groot belofte dat God na ons kinders sal kyk en omsien, en dat Hy – ten spyte van al die lyding en seerkry in die wêreld – ons belowe dat die belofte van ware geluk ons en ons kinders toekom (Hand 2:39). Nog meer, die diepste sin van ons lewe is om God te eer.

Beroof God

Benatar se antikind-woorde tas God se Skepper-wees aan en maak asof kinders se skepping slegs ’n mens se besluit is. Dit is nie so nie. Mense is baie belangriker as wat die standpunt laat blyk. Volgens die standpunt word daar vir mense omgegee, en die manier hoe dit gewys word, is dat daar eerder nie kinders “geskep” sal wil word as hulle dalk mag ly nie. Tog is die standpunt in wese baie liefdeloos. Só eien jy jouself die reg toe om tussen God en sy skepping te probeer inkom. Die standpunt kom eintlik daarop neer dat God nie (nog) kinders mag hê nie. Tog weet ons as Christene dat daar nog baie kinders gebore gaan word wat Christus as die Seun aan Ons Vader gaan voorstel. “Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het.” Heb. 2:13.

God se skeppingswerk is nog nie voleindig nie. Al sy kinders moet gebore word. Om met God se eienaarskap te probeer inmeng, is aanmatigend van die mens. As Christene getuig ons dat God Hom nie laat beroof van sy skepping nie, beslis nie van sy kinders wat Hy al voor die skepping wou gehad het nie (Efes. 1:4). Hy laat Hom ook nie beroof van die eer wat Hom toekom nie, ook die “ongewenste” kinders waarna verwys word nie.

Lyding-vermyding

Die tweede argument oor lyding kom in wese neer op vermyding. Vermy lyding deur nie kinders te skep wat dalk kan ly nie. Teen Benatar se agtergrond word daar gesê dat die mens se lewe in die kosmiese werklikheid betekenisloos is. Afgesien dat dit maar ’n taamlike pessimistiese standpunt is, wat eintlik geen hoop kan verdra nie, is dit ook ’n mistasting van wie God is. God het sy kinders so lief dat Hy die kwaad en gevolglike lyding oorwin het. Dié standpunt is vermyding, ons Christene se getuienis is oorwinning. Ons glo in vermyding en verwydering vanuit oorwinning. Ons is gemaak om te wen.

Alles sinloos?

Benatar se standpunt kan in wese nie ’n antwoord gee vir die sin van lyding nie. Daar word beweer dit is sinloos – omdat die werklikheid in sy geheel eintlik geen sin het nie. As alles geen sin het nie, dan het “geluk” en “ongeluk” ook geen sin nie. Hoekom dan soveel moeite doen deur ongeluk te probeer vermy vir ander mense se part dat hulle nie gebore hoef te word nie? Jy is ongelukkig nie enduit logies nie, en om jou argument as rasioneel bewustelik te wil opdien, is vol gate. Ons glo daar is sin in ons lewe, deur te werk en te léwe, ook in die lyding wat dikwels daarmee saamkom.

Sin van lyding

Ons Christene erken die verskriklike omvang van lyding, en omdat ons self sondaars is, is ons ook self skuldig daaraan om ander mense en onsself te laat ly. Dit ontken ons nie. Ons getuig egter dat God ’n plan gemaak het om lyding te oorwin. Ons glo dat lyding sin het omdat dit ons ’n patroon aanleer. Hierdie patroon kan mens slegs snap en aanvaar as mens kan bid “Onse Vader.”

Die patroon is te sien in die lewe van Jesus Christus. Hy is God se Seun en het mens geword. Hy het baie gely – trouens ons glo dat Hy vir ons gely het, omdat Hy die lyding as skuld deurgaan het. Selfs die hele skepping sug. Die rede is juis dat die kinders van God bekend gemaak word.

“Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.” Rom. 8:19-21.

Jesus Christus het nie maar net sinloos bly ly nie. Hy het die lyding se verskrikking oorwin met sy opstanding. Daardeur het Hy sin gegee aan ons lyding. Die sin van lyding is dat dit oorwin word. Dit alles getuig ons as Christene, soos die apostel Paulus dit leer: “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie. Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.” Rom. 8:18-19.

Die standpunt en perspektief daarop het geen ware antwoord op lyding nie. Vermyding is nie oorwinning nie. Ongelukkig gaan jy nie by hierdie standpunt bly nie. Logika is ’n snaakse ding as bestaan sinloos is. As jy lyding wil vermy deur antikind te wees, en nie in die huidige tyd iets aan lyding kan doen nie, gaan jou standpunt – ten spyte van jou ontkenning – uiteindelik eindig in die ondersteuning van selfdoding. Eers kulturele selfdoding en dan fisieke selfdoding. Die nihilisme loop altyd op sulke moord uit. Eers van ongewenste kinders, dan van onverwagte kinders, dan van ongebore kinders …

Jy sê dat as mens iets kan doen dit nie beteken dat mens dit moet doen nie. Jy kan onwaarheid oor jou Skepper praat, maar mag jy dit as gees doen? Jou gees wil gelukkig wees. Hou op om God te speel op sy plek. Jy kan gelukkig wees en word as jy na ons getuienis luister en oortuig word om dalk ook “Ons Vader” as kind te sê. Kinders se lewens hang daarvan af.

  • Dr. Wikus Buys is die uitvoerende direkteur van Begrond, wat ten doel het om Christelike uitgangspunte in of vir die Afrikaanse gemeenskap te bevorder deur Bybels-begronde nadenke oor aktuele sake, veral in onderwys en opleiding.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Therese ·

Insiggewende artikel en beslis ‘n onderwerp waaroor, óók gelowiges, lank en wyd kan debatteer.
Antinatalisme, sowel as dr. Buys se Bybelsgefundeerde standpunt, het verreikende gevolge.
Is mediese ingryping deur Christene bv. “inmeng met God se eienaarskap”? Ens.
Rynhard sê darem duidelik in die laaste drie paragrawe van sy stuk dat dit bloot ‘n “nuttige perspektief” gee, en verder, dat die skep van ‘n nageslag ernstige oorweging werd is.
Stem hartlik daarmee saam.

johan ·

Benatar en Rynhard se filosofie maak geen sin nie en is dood voor dit begin. ‘n Ongeskepde (ongebore) mens is nie (bestaan nie) en enige debat oor sodanige nie-bestaan wese tov plesier of pyn is irrelevant of eerder heeltemal belaglik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.