Massaskieterye in die VSA: wat is die oplossing?

Tientalle wetstoepassers is na die Walmart ontplooi waar ‘n aanvaller minstens 20 mense doodgeskiet het. (Foto: Mark Lambie/The El Paso Times via AP)

Deur Jaco Kirsten

Die beelde op televisie is altyd dieselfde: Mense wat vlug uit ’n gebou of skool onder begeleiding van swaar gewapende polisielede. Huilende ooggetuies en ’n openbare beampte of politikus wat die daad met ’n strak gesig veroordeel. Nog ’n maand, nog ’n massaskietery in die VSA.

Wat is fout met Amerika? Wat is die oorsaak agter al die massaskieterye en, nóg belangriker, wat kan daaraan gedoen word?

Een van die eerste verklarings is die hoë vlakke van wapeneienaarskap in die VSA. Maar hoekom gebeur massaskieterye nie in ander lande wat óók hoë vlakke van wapeneienaarskap het nie? Lande soos Finland en Switserland. Of selfs Suid-Afrika, waar die wit gemeenskap ’n relatief hoë vlak van wettige wapens besit. Hoekom het nog niemand, met die uitsondering van Barend Strydom, die sogenaamde Wit Wolf, nog ooit in Suid-Afrika ’n orgie van openbare massamoord gepleeg nie? Dis tog nie asof moord iets ongewoons in Suid-Afrika is nie?

Om Amerika se verhoudings tot sy vuurwapens te verstaan – asook waarom enige wetgewing wat vuurwapeneienaarskap aan bande wil lê, nie sommer ingestel kan word nie – moet jy die land se geskiedenis verstaan.

Nes die Boererepublieke het die Amerikaners ook teen die Britse Ryk baklei. Die eerste skote van die Amerikaanse Rewolusionêre Oorlog is egter meer as ’n eeu voor die Anglo-Boereoorlog op 19 April 1775 in die stad Lexington gevuur. Hierdie skote is beskryf as dat hulle “weerklank gevind het reg oor die wêreld”. Kortom het die inwoners van Brittanje se kolonie in Amerika keelvol geraak vir Britse heerskappy en belastings en besluit om die wapen op te neem.

Die Amerikaners het op 4 Julie 1776 onafhanklikheid verklaar, hoewel die bloedige stryd eers formeel in 1783 tot ’n einde gekom het. In die daaropvolgende paar jaar was daar verskeie uiteenlopende idees oor die grondwet. Die konstitusionele konvensie het verklaar dat die Amerikaanse regering ’n voltydse, of federale, weermag tot stand moes bring. Want onthou, die vryheidsvegters tydens die oorlog was, nes die Boeremagte, ook deeltydse soldate – hulle is militias genoem – van wisselende gehalte.

Daar was egter beduidende teenstand uit die geledere van diegene wat nie gehou het van die idee van ’n sterk sentrale staat nie. Hulle was bang dat die regering die militias sou ontwapen of sou versuim om in die toekoms die nodige wapens aan hulle te verskaf.

Kort nadat die grondwet aanvaar is, het James Madison – wat later die vierde president van die VSA sou word – die Second Amendment tot die grondwet (daar was deur die jare ’n totaal van 27 wysigings) voorgestel as ’n vorm van kompromie. Hierdie amendement, of wysiging, het verklaar: “Op ’n goed gereguleerde milisie, wat nodig is vir die sekuriteit van ’n vrye staat, asook die regte van mense om wapens te besit en dra, sal nie inbreuk gemaak word nie.”

En daar het jy dit: Amerikaners het ’n grondwetlike reg op vuurwapenbesit. Dit was egter nooit ’n probleem nie. Tot 1 Augustus 1966 toe Charles Whitman eers sy ma en vrou doodgeskiet het voordat hy met ses vuurwapens die hoë kloktoring van die Universiteit van Texas in Austin bestyg het en op die mense begin losbrand het. Hy het uiteindelik 16 mense doodgeskiet en 31 gewond. Hy is later deur die polisie doodgeskiet.

Deur die jare het massamoorde geleidelik in frekwensie begin toeneem. Hier is ’n lys van die grootstes:

  1. Oktober 2017. Las Vegas, Nevada. Die 64-jarige Stephen Paddock brand met verskeie vuurwapens los vanuit ’n hotelkamer op ’n musiekkonsert en skiet 58 mense dood en wond 422. Hy pleeg daarna selfmoord.
  2. Junie 2016. Pulse-nagklub in Orlando, Florida: Omar Mateen skiet 49 mense dood en wond 50 in ’n gay nagklub.
  3. April 2007. Virginia Technikon en Universiteit in Blacksburg, Virginia: Die Suid-Koreaans gebore Seung-Hui Cho skiet 32 mense dood en wond 17 met twee pistole.
  4. Desember 2012. Sandy Hook Primêre Skool, Newtown, Connecticut. Adam Lanza skiet 26 mense – meestal kinders – dood voordat hy selfmoord pleeg. Hy het ook sy ma vermoor.
  5. Oktober 1991. Luby’s Kafeteria, Killeen, Texas. George Hennard skiet 35 mense dood met ’n handwapen. Hy pleeg selfmoord.
  6. Augustus 2019. Walmart, El Paso, Texas. Patrick Crusius vermoor 22 mense en wond 26 in ’n Walmart-winkel. Hy het slagoffers van Latyns-Amerikaanse agtergronde uitgesoek en voor die voet geskiet.
  7. Julie 1984. McDonald’s. San Ysidro, Kalifornië. James Huberty vermoor 21 mense en wond 19 met ’n haelgeweer en pistool.
  8. Augustus 1966. Texas Universiteit, Austin, Texas. Charles Whitman vermoor 16 mense en wond 31.
  9. April 1999. Columbine Hoërskool, Littleton, Colorado. Eric Harris en Dylan Klebold, twee leerlinge, skiet 16 leerlinge dood en wond 24 voordat al twee selfmoord pleeg.
  10. Augustus 1986. Edmond Poskantoor, Edmond, Oklahoma. Patrick Sherrill skiet 14 kollegas voordat hy selfmoord pleeg.
  11. Desember 2015, Binnelandse Streekskantoor, San Bernardino, Kalifornië. Syed Farook en Tashfeen Malik skiet 14 mense dood.
  12. April 2009. Amerikaanse Burgervereniging, Binghamton, New York. Jiverly Wong, ’n Viëtnamese immigrant, vermoor 13 mense en wond vier voordat hy homself skiet.

Uit bogenoemde blyk dit dat die skieters uiteenlopende etniese agtergronde en motiverings het. Dis dus moeilik om ’n gemene deler te vind. Sommige het semi-outomatiese gewere gebruik, ander jaggewere, haelgewere en selfs pistole.

Die ironie is ook dat terwyl misdaad en moord in Amerika op sy laagste vlakke nóg is, dit lyk of massaskieterye aan die toeneem is. Iewers moet daar ’n verklaring daarvoor wees. Al die skieters was anti-sosiale mense. Verskeie kommentators hier in die VSA glo dat hierdie mense roem – of berugtheid, oftewel “infamy” in Engels – nastreef. Dat hulle ’n wrok teenoor die samelewing koester en hulle gewaande vyande so wil “terugkry”.

Kombineer dít met ’n land en kultuur waar roem amper ’n doel op sigself is, en jy kan begin verstaan waarom massaskieterye al hoe gewilder onder sielsiekes raak. Want as jy ’n massaskieter is, is jy vir ’n paar dae min of meer van “roem” gewaarborg. Oral saai nuuskanale skoolfoto’s van jou uit. Voer onderhoude met jou vriende en familie. Totdat die volgende massamoordenaar toeslaan.

Dit bring ons by die ooglopende: Wat kan ’n mens doen om dit te voorkom?

Die grootste struikelblok in dié verband is politici en politieke partye. Aan die een kant is daar onverbiddelike ondersteuners van die Second Amendment aan die regse kant van die spektrum, en aan die ander kant is daar radikaal-linkses wat alle vuurwapeneienaarskap onwettig wil maak. Of, soos in die geval van New York en Kalifornië, waar wettige vuurwapeneienaarskap uiters moeilik is. Hier moet ’n mens ook byvoeg dat ’n baie groot persentasie van die grootste massaskieterye juis in Kalifornië plaasgevind het, strenger wetgewing ten spyt. Moorde is terloops ook die hoogste in Demokraties-beheerde stede soos St. Louis, New Orleans, Detroit, Cincinnati, Baltimore, Philadelphia en Chicago – stede met baie streng vuurwapenwette.

Kyk ook na state soos Kansas, Wyoming en Montana waar daar bitter min beperkings op vuurwapeneienaarskap is – maar hierdie fenomeen, nes ander misdaad, basies ongehoord is.

Die enigste persoon in Amerika wat tans iets daaraan kan doen is pres. Donald Trump. Hy moet egter ’n fyn politieke balanseertoertjie uitvoer. Hy het ná die Las Vegas-skietery al gesê hy wil strenger vuurwapenwetgewing sien. En onthou, hy was sy hele lewe lank ’n Demokraat, dus is hy nie die konserwatiewe persoon wat almal dink hy is nie. ’n Populis, ja. ’n Dikvellige heethoof? Ongetwyfeld. Maar ’n aartskonserwatiewe? Nie in ’n duisend jaar nie.

Sy speelveld is kompleks. Hy ook praat van sogenaamde “Red Flag Laws” – waar jou wapens van jou weggeneem kan word as vriende of familie rede het om te glo jy is ’n gevaar vir die samelewing – en daar is reeds stemme van ondersteuning vanuit sy eie party. Dan Crenshaw, die oud Navy SEAL, is een so ’n gematigde stem. Sommige meningspeilings wys ook dat ’n groot persentasie Republikeine “verstandige vuurwapenwetgewing” ondersteun. Maar onthou die meningspeilings wat in 2015 aangedui het dat hy net ’n 3% kans het om verkies te word? Hy sal bewus wees daarvan.

Want só ’n stap kan hom van sy konserwatiewe basis vervreem – en daarmee kan hy totsiens sê vir herverkiesing in 2020. Dit is immers geboekstaaf dat hy ’n “groot ondersteuner is van die Second Amendment”. Onthou wat gebeur het met George HW Bush wat in 1988 vir ’n Republikeinse gehoor gesê het: “Read my lips: No new taxes.” Hy het agterna wel nuwe belastings ingestel om die Demokrate te paai en het terstond die volgende verkiesing verloor.

Tog glo ek as daar een Amerikaanse president is wat die onvoorspelbare en onortodokse ding kan doen, en ’n vorm van verstandige vuurwapenbeheer kan instel, is dit Donald Trump. Dit het hy reeds bewys met sy inisiatiewe teenoor Noord-Korea, sy gebrek aan aptyt vir nóg ’n oorsese militêre ingryping en sy besluit om uiteindelik China se diefstal van Amerikaanse intellektuele eiendom en die kunsmatige devaluasie van hulle geldeenheid trompop te loop.

Trump is baie dinge, maar niemand kan sê dat hy nie die heersende sentimente tot sy voordeel gebruik nie. En as dit wapens uit die hande van waansinniges kan hou, wie kan daaroor kla?

  • Jaco Kirsten is ’n oudjoernalis en skrywer wat in die VSA woon.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Francois ·

Jaco, met verwysing na jou vraag in die laaste gedeelte van die 3 de paragraaf…dit kom meneer! Daar gaan eendag ‘n verkeerde man se vrou en kind(ers) vermoor / verkrag word dan gaan die bom bars!!!

Alta Bouwer ·

Plaasmoorde in die RSA: wat is die oplossing? Dalk moet ons ‘n Amerikaanse oudjoernalis wat in Suid-Afrika woon, vra.

Valerie ·

Uitstekend, Alta; absoluut fantasties. Ek verstaan presies wat jy sê. Well done; intelligent!

Hendrik ·

Ek het dubbelle burgerskap en bly tans in die VSA. Die grootste probleem is die National Rifle Assosiation wat in die sak van die wapenvervaardigers is. Alhoewel hulle aanvanklik gestig is om verantwoordelike vuurwapeneienaarskap te bevorder, is hulle uitsluitlike missie deesdae om vir regte te baklei, sonder om verantwoordelikheid aan te spreek. Die politici is weer op hulle beurt afhanklik vanaf “ratings” van die NRA vir steun vanaf die lede van die NRA. Die skrywer is heelte mal reg as hy sê dat die debat hieroor gepolariseerd is. Dit gaan ‘n dapper sentralistiese politikus neem om sinvolle wetgewing in te stel . SA het goeie wetgewing wat pateties geadministreer word. Die VSA beskik oor die vermoë om sulke wetgewing in te stel en suksesvol toe te pas, mits die politiewe wil daar is. Ongelukkig leer Amerikaners nie graag by die buiteland iets nie. Intussen geniet ek my vryheid om soveel wapens as at ek begeer aan te skaf, met die nodige verantwoordelikheid.

Dirk Breytenbach ·

Jaco, jou aannames strook nie met die feite nie. Is dit nie belangriker om SA se situasie te bekyk en iets daaraan te probeer doen nie. Amerika se totale moordsyfer is verbysterend laag teen SA s’n hoekom opgewonde raak oor hulle. Elke land moet self sy probleme aanspreek so ook ons. As ons wapens in SA gaan verban sal die slagting van onskuldige mense toeneem totdat anargie die enigste oplossing is.

Kerrie ·

57 moorde per dag in SA.. 20805 moorde in 365 dae….sit dit in jou pyp en rook dit.

Tilly ·

Wat het die VSA se probleme met ons te doen?
Ons het genoeg moord, roof, verkragting, korrupsie, apartheid, ens in ons land. Ons moet so bietjie meer omgee oor wat in ons land en om ons aangaan as wat ons omgee oor ander lande. Hulle kan hulle eie probleme oplos. As jou familie daar is en as hulle geraak was, vra ek onverskoning, as nie, dan dink aan julle familie, vriende en geliefdes in RSA.

Plaas moorde: Wat is die oplossing?
Verkragting: Wat is die oplossing?
Afrikaners wat beledig en verkleineer word: Wat is die oplossing?
Korrupsie: Wat is die oplossing?
Ons land se ekonomie: Wat is die oplossing?

Ek kan heeldag hier sit en vra wat die oplossing is aan al ons land se probleme, maar dit gaan niks help as ons nie iets daaraan kan doen nie.
Meeste Afrikaners, kry die sogenaamde “previous disadvantage” tog so jammer en stem ANC, vir wat??????????
Kry die verkragters, moordenaars, ens jou vrou, dogter, seun jammer?

Mense moet hulle oe begin oopmaak en net vir n slag begin dink.

Tilly ·

VSA se probleme het niks met ons te doen nie.

Wat is die oplossing vir RSA se probleme???

Plaas moorde: Wat is die oplossing?
Verkragting: Wat is die oplossing?
Korrupsie: Wat is die oplossing?
Wit Afrikaners wat beledig word en verkleineer word: Wat is die oplossing?
Land se ekonomie: Wat is die oplossing?

Ons moet minder omgee oor wat in ander lande aangaan en meer probeer omgee oor ons eie land.
Die mense wat nog ANC stem en die sogenaamde “previous disadvantage” tog so jammer kry. Kry die verkragters jou vrou, dogter of self jou seun jammer?

En los tog net vir Donald Trump uit, ons President/regering is geen beter nie.

Dirk ·

Die skrywer woon in die VSA Tilly, daarom skryf hy oor die VSA se massaskietery. Afriforum is die oplossing vir die probleme wat jy noem Tilly. Afriforum het juis hulle bestaansreg te danke daaraan dat hulle hulself bemark het as die oplossing vir die Afrikaner se regte en probleme net soos jy dit daar lys. Indien dit blyk dat Afriforum die Afrikaner faal dan moet jy die harde vrae maar direk vir Afriforum vra!

Mel ·

Dis nie wapens wat die skuld moet kry nie maar wie die snellers trek. In Switzerland besit elke landsburger n aanvals geweer. Die staat vereis dit. En geen massaskietery vind daar plaas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.