Maties-taalbeleid: ‘Ek kan nie persoonlik aandadig wees nie’

Die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, Leon Schreiber.

Deur Leon Schreiber

Dit is met ʼn swaar hart dat ek met onmiddellike ingang bedank het as lid van die Universiteit Stellenbosch (US) se Institusionele Forum.

Dit is nie ʼn besluit wat ek ligtelik geneem het nie, want ek is lief vir Stellenbosch en Maties, en trots op die uitsonderlike leerervaring wat ek oor my vyf studentejare daar beleef het. Ek het wêreldklasonderrig op Maties ontvang, wat my in staat gestel het om later in Duitsland ʼn doktorsgraad te verwerf voordat ek by Princeton Universiteit ʼn navorsingspos gekry het.

Alhoewel ek die uitspraak van die Grondwethof oor die verengelsing van die US ten diepste respekteer en aanvaar, kan ek eenvoudig nie persoonlik aandadig wees aan die uitfasering van moedertaalonderrig in Suid-Afrika nie. Stellenbosch was die laaste universiteit in die suide van die land waar studente in Afrikaans onderrig kon ontvang. As gevolg van die hofuitspraak kan geen student uit die Wes-Kaap of Noord-Kaap meer volwaardig in Afrikaans studeer nie – ten spyte daarvan dat Afrikaans by verre die grootste taal in hierdie twee provinsies is.

Afrikaans is ʼn ontwikkelde akademiese taal en ons beskik oor al die nodige praktiese hulpbronne om dit op tersiêre vlak op ʼn inklusiewe wyse te laat voortleef. Ongelukkig is die heel belangrikste hulpbron egter geheel en al afwesig: die politieke wil om inheemse tale uit te bou sodat hul sprekers kultureel en ekonomies kan floreer. Inteendeel, ons Grondwethof het nou amptelik bevestig dat Engels in die openbare sfeer en in praktyk ʼn eersteklastaal is, terwyl ons tien inheemse tale (en daardeur ook hul sprekers) tweedeklas is. Die veelbesproke gelykheid van ons elf landstale bestaan net nog op papier.

My geslag was dus die laaste een wat in ʼn inheemse taal aan ʼn openbare universiteit kon studeer. (In ʼn mate is die Potchefstroom-kampus van die NWU tans nog die enigste uitsondering, maar dis sekerlik net ʼn kwessie van tyd voordat moedertaalonderrig ook hier die knie sal moet buig). Ek het tot in my honneursjaar by Maties al my werk in Afrikaans gedoen, en ek glo dit is juis hierdie fondasie wat my in staat gestel het om ten volle Engels en uiteindelik selfs Duits in my studies te bemeester.

Dit is eenvoudig onmoontlik vir my om nou om te draai en deel te wees van ‘n immorele proses wat duisende ander studente van presies dieselfde geleentheid wat ek gehad het, gaan ontneem.

Tensy daar ʼn ongekende politieke ontwaking plaasvind wat druk uitoefen vir die uitbouing van al ons inheemse tale, is hierdie dus die einde van die pad vir inheemse tale aan ons openbare universiteite.

Maar waar hul een deur finaal toegeklap het, het die hof in sy uitspraak darem ’n ander deur op ’n skrefie oopgemaak.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het in die uitspraak geskryf: “It is most fitting to appeal particularly to our corporate citizens’ spirit of generosity, to help preserve Afrikaans, and develop other indigenous languages, as essential tools for knowledge impartation and comprehension. And that they can do by deploying resources to the establishment of private institutions of learning envisaged by section 29(3) of the Constitution, which would obviously not be driven by any sinister agenda to discriminate against others on any unconstitutional basis.”

Die belangrikheid van hierdie deel van die uitspraak is ʼn dag later deur oudregter Edwin Cameron, wat die meerderheidsuitspraak geskryf het en ironies onlangs as kanselier van die Universiteit Stellenbosch aangestel is, tydens ʼn radio-onderhoud uitgewys. In nog ʼn ironiese nadraai in ʼn land waar owerheidsaanbidding hoogty vier, het Cameron bevestig dat die lot van inheemse tale nou ten volle aan die privaat sektor oorgelaat word.

Almal wat, soos ek, lief is vir Afrikaans en die ryke diversiteit van al die tale in ons land, staan dus voor ʼn keuse: ons kan óf aandadig wees aan die onherroeplike verengelsing van ons samelewing óf ons kan verantwoordelikheid aanvaar en ons steun gee aan nuwe, privaat onderwysinstellings – soos wat Mogoeng ons inderdaad aanmoedig om te doen.

Dit is onregverdig en diep teleurstellend dat die staat en hof een taalidentiteit amptelik bo alle ander verhef het. Maar ek sal nie in sak en as gaan sit of daaraan aandadig wees nie. Ek kies om alle pogings om inheemse tale op te hef, insluitend private skole en universiteite asook in die alledaagse lewe, te ondersteun.

Ek hoop jy sal dieselfde besluit neem.

  • Leon Schreiber is die DA se kiesafdelingshoof vir Stellenbosch en die party se skaduminister van staatsdiens en administrasie. Hy was vir sowat twee jaar lank lid van die US se Institusionele Forum.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

36 Kommentare

B ·

So jy het ‘n posisie waar jy dalk moontlik nog ‘n verskil kon maak, verlaat. Sou dit nie beter gewees het om aan te bly op die Forum?

Nou het die Forum ‘n nog vryer hand om te maak soos hulle wil, sonder ‘n ander stem met invloed?

Hulle plan het gewerk :(

Sven ·

Selfs Johann Rupert en Afrikaner profs kan geen verskil maak nie. Matie elite wat beswaard is moet in die openbaar hul Stellenbosch ere doktorsgrade en ander toekennings verbrand. Stop alle finansiële bydraes. Bedank as ere professors, adviseurs, gas dosente en geleetheidsprekers en ontrek uit forums waarby Stellenbosch akademici betrokke is. Gewone mense kan die taalfees boikot . Indien jy kan, moenie gebruik maak van Stellenbosch se dienste nie. Skuif Maties uit jou lewe.

Therese van Schalkwyk ·

Sven, goeie voorstelle, twyfel egter of ons veel daarvan gaan sien.
Net soos Afrikaanssprekende studente en dosente nooit in hul duisende daadwerklik, luidkeels en herhalend beswaar gemaak het teen die verbanning van Afrikaans nie.

Kerneels ·

Ek het al so op my eie seker gemaak dat my werkgewer glad nie meer gebruik maak van US se Buro vir Ekonomiese Ondersoek nie. Ek het ook al stilweg druk uitgeoefen om lidmaatskap van soortgelyke instansies by ander SA universiteite op te skort. Die rede? Koste besnoeiing. Niemand sal daarteen beswaar maak nie.

humor ·

Leon, hoewel ek nie stem vir die politieke party waaraan jy behoort nie, het ek groot waardering vir die mannemoed wat jy aan die dag le.. Vir jou standpunt en waardering vir jou eie moedertaal. sowel as jou bedanking. Die tyd vir pogings om n korrupte instansie van binne reg te maak is kragte en asem mors en lankal verby. Wat jy nou moet doen voeg jou met hart en siel by die wat soos jy dink en reeds gevorderd is op die pad.

Herman ·

Wil net aan Leon Schreiber sê dat hy by sy eie party moet begin regmaak. Die DA het ‘n paar jaar gelede saam met die ANC gestem dat die Hansard slegs in Engels moet verskyn. So het jou party Leon, ook ‘n aandeel gehad in die afskaffing van Afrikaans.

Charles ·

So Mnr Schreiber, indien ek jou nou reg verstaan, gaan die Kapenaars ook nou hul eie Akademia stig?

Ek hoor graag van jou in die verband en van ander Kaapse Maroela lesers.

Frik ·

Kleiner en gespesialiseerde instellings wat graad/diploma kursusse aanbied skiet op soos paddastoele . ‘n Paar is reeds Afrikaans, veral in teologie en onderwys. Ons sal dalk ook verdere kleiner Afrikaanse instellings sien wat spesialiseer in rigtings soos die regte, handel, kunste, argitektuur of ingenieurswese. ‘n Mediese skool kan ook die lig sien naby ‘n groot private hospitaal. Dosente kom uit die private sektor en kan kwaliteit onderrig verskaf. Persoonlik glo ek die dae van groot universiteite is getel. Dis te duur om te onderhou en al die fakulteite te befonds. Kerke se gevestigde teologiese skole kan ook wegbreek van bestaande universiteite. Die ou SA universiteite se dae is getel en hul waarde sal begin afneem.

Dirk Breytenbach ·

Die Kaap het reeds vir ‘n aantal jare al funsionerende Akademia kampusse…….

Jerry ·

Leon, n sekere burgerregtegroep, n vakbond en n politieke party aan jou regterkant vanwaar jy nou staan, baat die meeste daarby dat Afrikaans uitgefaseer word by universiteite en moet daarom geen fout maak om te dink dat aandadigheid om afrikaans uit te sluit, net by die owerhede hoort nie. Net soos wat politiek n vuilspel is, is die monopolie om n sakeryk te bou uit privaatinstellings vir afrikaans, net so vuil! Die hofuitspraak van Afriforum vs UV wat die forum met opset verloor het was die momentum wat die owerhede nodig gehad het om te begin om afrikaans uit te faseer. Al wat die owerhede tot nou toe daardeur bereik het om afrikaans uit te sluit was om afrikaans te isoleer by Solidariteit se akademia instellings wie lank gelede al voorberei het om die enigste heenkome vir afrikaans te wees. Die feit dat jy in die politiek staan en dit nie weet nie is werklik onrusbarend en is dit geen wonder dat die DA die heeltyd tweede viool speel en niks kan verhoed nie, maar slegs reageer wanneer dit reeds n mostert na die maal situasie is. Baie geluk DA, weereens skrik julle te laat wakker. Soos wat die DA voortgaan gaan julle beslis julle drome vir n ware diverse demokrasie en posisie as amptelike opposisie afstaan aan die eff, dis net n kwessie van tyd!

riaan ·

Whaaa haaa haaa

Gaan praat jou twak op ‘n ander plek!

Jy kan dit maar net nie vat dat die VF, Afriforum en Solidariteit die da aanhoudend op hulle neuse laat kyk nie, HOEKOM – want die da is slegs in die wit Afrikaanse stem geintreseerd en as hulle eers daardie stemme het beteken die blanke Afrikaner vir hulle NIKS! In elk geval nie tot die volgende verkiesing nie!

Dolf ·

Die meerderheid wittes wat vir die DA gestem het sal eerder wegbly van die stembus as om vir die VF+ stem.

Hans ·

Die woord “generosity”gebruik deur Hoofregter is verstommend-om so n woord te gebruik ten opsigte van taal.

Charles ·

Ek het ‘n idee: Breytenbach, die groot stryder teen “onreg”, kan ‘n boeddhistiese monnik op homself trek en homself in die openbaar verbrand as teken van verset teen die verkragting van, en taalmisdaad teen die mensdom teen, Afrikaans.

Hoe lyk dit Breyten, sien jy kans?

Stef ·

Die grootste probleem is dat al die Kleurling mense nou sonder n tersieëre instansie sit. Chaos

Pieterman ·

Alle respek, Leon Schreiber, vir jou moedige besluit. Vergeet maar van die kritiek. Ons almal kan foute maak – soos om gebruik te maak van ons reg om self ‘n party te kies – maar so ‘n “fout” kanselleer nie ‘n moedige daad nie. Sterkte!

B R ·

Studente moet protes begin AFRIKAANS BACK
Afrikaanse dosente julle kan ook nou strike
PUK maak toelating moeilik
AKADEMIE neem afrikaans op soveel moontlik.
Afrikaans mense HELP met GROOT fonds vir studente wat benadeel word’

patriot ·

Jerry, jy is so reg! Afriforum en Solidariteit speel die bal uitmuntend. Hulle beweer kamstig hulle probeer Afrikaans bewaar, maar in der waarheid skep hulle net hul eie monopolie op Afrikaans. afrikaans het nou `n luukse geword, nie meer `n reg of voorreg nie, maar `n luukse.

Frik ·

Solidariteit het die gaping in die mark gesien en dit gevat. Die res sit nou op die kantlyn

Wingman ·

Ja Frik, onder selfbestuur gaan party mense betaal. Die res gaan ook maar teer.

Barend ·

Jammer Leon is nie tuis by die VF+ nie. Daar sal hy ‘n baie groter en betekenisvoller bydrae kan lewer

George Bekker ·

By die ergste oor die hofuitspraak kom Schreiber nie uit nie. ‘n Regter (selfs ‘n landdros) wat belang by ‘n saak het, moet homself onmiddellik uit die saak onttrek. Nogtans het Cameron as die aangewese Kansellier van US rustig voortgegaan om as regter in die saak te dien, en selfs die uitspraak bewoord. As die hoogste hof in die land hom nie meer steur aan basiese regsbeginsels nie, en nie een van die ander regters beswaar maak nie, is die toekoms donker.

Hans Richardt ·

Hoekom sal ons toegee aan taalbeleid deur regering en howe? Selfbeskikking dmv SELFBESTUUR is pad vorentoe.
Die geld wat geskenk was aan Stellenbosch om Afrikaans te bevorder deur Jan Marais, word nou gebruik om Engels te bevorder.

Dolf ·

Selfbestuur gaan geld kos. Die wat selfbestuur wil word moet steeds belasting betaal. Mense gaan net armer word te midde van mooi beloftes.

Jerry ·

@Dirk Breytenbach. Om te reken dat die feite wat op rekord is mbt die Afriforum vs UV hofsaak en die uitspraak en die kenners se menings daaroor dat Afriforum alles in hulle vermoe gedoen het om nie die saak te wen nie (die wolwe wen net soms), n samesweringsteorie is, dan verstaan jy nie die definisie van n samesweringsteorie (n storie sonder feite) nie en is jy in jou dinges se dinges in en bly jy op jou eie Trump eiland. Enige afrikaner wat reken dat hy namens die afrikaner die regte dinge kan gaan staan en verkeerd doen, sal aan die man gebring word vir die gevolge vir die afrikaner, deur die afrikaner, daarvan kan jy Virseker wees!

Charles ·

Die DA is onderdeur, die koel is deur die kerk, maar dit is wat pasifisme, liberalisme en “nie standpunt inneem nie” aan jou doen. Totsiens DA.

Maak die Vryheidsfront weer GROOT!

Petrus ·

Moet tog nie vir Pieter Groenewald en sy maters onder te veel druk plaas nie. Die rustige lewe in die Kaap is darem net te lekker.

DMC de Koker ·

Bedank sommer uit jou party ook.
Die DA is deel van die probleem en help lustig mee teen Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.