Meer buitelandse investering noodsaaklik vir SA

Deur prof Jay van Wyk 

Argieffoto (Foto: Pexels/Pixabay)

Suid-Afrika word beskou as ʼn onderpresteerder om buitelandse investering na die land te lok. ʼn Studie deur die Verenigde Nasies se raad vir handel en ontwikkeling bevind dat Suid-Afrika, in vergelyking met 26 ander opkomende markte, swakker vaar om buitelandse investering te bekom.

Voorspellings vir die toekoms is ook kommerwekkend in dat die gaping tussen Suid-Afrika en haar portuurgroep blykbaar groter gaan word rakende die invloei van investering. In 2019 het buitelandse investering ten bate van $4 624 miljoen ’n tuiste in Suid-Afrika gevind. In dieselfde jaar bekom Suid-Korea, met omtrent n bevolking soortgelyk aan Suid-Afrika, dubbel dit in buitelandse beleggings.

Met die negatiewe invloed van Covid-19 op internasionale sake het investering in 2020 in alle lande afgeneem. Suid-Afrika volg die norm hier met ’n 32,5% daling in investering tot $3119 miljoen.

Buitelandse investering vind plaas wanneer ’n firma in een land aansienlike beleggings in fasiliteite in ’n ander land maak met die doel om produkte te vervaardig of te bemark. Investering neem gewoonlik twee vorme aan: beleggings in nuwe fasiliteite; en toetrede tot ʼn nuwe mark by wyse van samesmelting met, of die aankoop van, of ʼn gesamentlike onderneming met ʼn plaaslike maatskappy.

Die vraag kan gestel word of Suid-Afrika se onderprestasie ʼn probleem skep vir die land se ekonomiese welvaart en groeikoers? Die antwoord is ʼn besliste ja, en ook vir ʼn aantal goeie redes. Histories gesproke het die ekonomiese opbloei in Suid-Afrika begin die ontdekking van goud, diamante en ander minerale en buitelandse investering in die mynboubedryf. Die sukses van die mynboubedryf het ʼn oorspoel-effek gehad wat aanleiding gegee het tot die opkoms van ander bedrywe in Suid-Afrika, veral dienste, vervaardiging en kleinhandel. Die resultaat is die huidige gediversifiseerde Suid-Afrikaanse ekonomie. Inderdaad, die opkoms van groot lande met ʼn sterk BBP, soos die VSA en China, is ʼn direkte gevolg van omvattende buitelandse investering.

In sy huidige staat van ekonomiese ontwikkeling as ʼn opkomende mark, benodig Suid-Afrika aansienlike buitelandse investering om welvaart vir sy bevolking te skep. Die praktyk het bewys dat sodanige investering ʼn kritieke bydrae kan lewer. Die investering van buitelandse maatskappye in fabrieke, supermarkte, myne, winkels, banke en laboratoriums het duisende werksgeleenthede in Suid-Afrika geskep. Ná meer as ʼn kwarteeu aan bewind het die ANC-regering skouspelagtig misluk om werksgeleenthede in Suid-Afrika te skep. Tans is drie tot vier uit elke tien Suid-Afrikaners werkloos. Die boodskap is duidelik: regerings is powere werkskeppers terwyl buitelandse beleggers nuwe werkgeleenthede skep wat voorheen nie plaaslik moontlik was nie. Sulke investering skep ook nuwe geleenthede aan plaaslike verskaffers vir die lewering van, onder meer, dienste en produkkomponente.

Verdere hervorming in die bestaande spesiale ekonomiese sones en industriële ontwikkelingsones sal ook ʼn aansporing vir nuwe buitelandse investering wees. Suid-Afrika het ander lande, soos China, Mauritius en Costa Rica, nageboots waar sodanige sones baie suksesvol was vir die invloei van investerings. Hierdie sones is gevrywaar van sommige beperkende regulasies op investering wat geld in die res van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Verdere uitsluiting van hierdie sones van die vakbonde se kollektiewe ooreenkomste sal help om arbeidsintensiewe vervaardigers te betrek. Die vakbonde se voorskrifte vir omvattende vergoedingspakkette vir alle werkers, selfs nielede, het arbeidskoste niekompeterend gemaak. As die mark, in plaas van vakbonde, arbeidsaanvraag bepaal, sal dit heelwat nuwe werkgeleenthede skep vir werkers met beperkte vaardighede.

Vir opkomende markte soos Suid-Afrika bring buitelandse investering ook ʼn belangrike kapitaaltoevoeging vir die ontwikkeling van innovasie. Hierdie firmas het diep sakke en omvattende begrotings – wat nie beskikbaar is in Suid-Afrika nie – vir waagkapitalisme, entrepreneurskap en verkryging van nuwe ondernemings. Groot en ryk internasionale maatskappye het ook beter toegang, as Suid-Afrikaanse maatskappye, tot lenings in kapitaalmarkte vir sake-uitbreidingsprojekte.

In die algemeen skep buitelandse investering ʼn oorspoeleffek in dat plaaslike firmas baat vind in nuwe vaardighede soos tegnologie, bestuurstegnieke, en waardeskeppende praktyke soos voorsieningskettings, navorsing en ontwikkeling, en verhoogde produktiwiteit.

Gegewe die voordele wat buitelandse investering inhou, wat kan Suid-Afrika doen om meer beleggings te verseker? Die ontwrigting van die pandemie, ten spyt, is dit ook nou ʼn geleentheid vir besinning insluitend moontlikhede vir ʼn nuwe begin. ʼn Pragmatiese benadering tot investering bied interessante moontlikhede. Pragmatisme dui op die nastrewing van sukses wat ongebonde aan ideologiese voorkeure is. Suid-Afrika kan selektiewe buitelandse beleggings koester wat inpas by die ekonomiese doelwitte wat die ANC-regering. Dit dui op meer gerigte investering, by wyse van voorbeelde, in arbeidsintensiewe vervaardiging, en gesamentlike ondernemings in nuwe bedrywe wat ʼn mate van korttermynbeskerming jeens gevestigde kompetisie vereis.

Die idee van invoervervanging waarna pres. Cyril Ramaphosa onlangs verwys het, kan bereik word met buitelandse investering in plaas van staatsubsidies wat verkwistend is en wat eties bevraagteken kan word. Investering afkomstig van China is goed en wel, maar pragmatisme vereis ook volgehoue investering vanaf Suid-Afrika se tradisionele Westerse handelsvennote. Laasgenoemde is steeds die hoofbron van buitelandse investering in Suid-Afrika. Pragmatisme verg ook ʼn afskaling van die ANC-regering se ideologiese verknogtheid aan kommunisme en hul verwante negativisme jeens die vryemarkekonomie.

Soos alle opkomende markte vereis die investeringsomgewing in Suid-Afrika voortdurende verstellings ten einde ʼn kompeterende aanspraak op beleggings te handhaaf. In hooftrekke is gesonde ekonomiese groei en stabiele instellings die belangrikste trekpleisters vir die voorgenome buitelandse belegger. Die lae ekonomiese groeikoers in Suid-Afrika is ʼn remskoen vir investering maar die gehalte van instellings is, ten dele, ʼn aansporing vir investering.

Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers was slegs 0,8% in 2018 en 0,7% in 2019 onderskeidelik. In kontras het die Chinese ekonomie met 6,7% in 2018 en 6,1% in 2019 gegroei, en die Indiese ekonomie met 6,12/% in 2018 en 4,18/% in 2019. Deregulering en privatisering is beproefde beleidsopsies om ekonomiese groei aan te spoor. Die mislukkings van staatsondernemings soos Eskom en die SAL maak hierdie opsies ʼn kwessie van kritieke noodsaaklikheid.

Suid-Afrika handhaaf steeds ʼn aantal effektiewe instellings (finansies, regstelsel, kommunikasie, vervoer, eiendomsreg en kontrakte) wat noodsaaklike gerusstellings vir investeerders is. Die korrupsiehofsake teen oudpres. Jacob Zuma en ander ANC-leiers is inderdaad ʼn toets vir die geloofwaardigheid van die regstelsel. Ander instellings wek kommer vir investeerders, veral die onbuigbare arbeidsmark, die niekompeterende gedrag van die owerhede, die verpolitisering van ekonomiese besluitneming, en die volharding van korrupsie in regeringskringe.

Volgens die gesaghebbende Heritage-stigting se ekonomiese vryheid-indeks het die investeringsklimaat in Suid-Afrika agteruit gegaan en word nou as onderdrukkend beskou.

Wat buitelandse investering betref, beskaam die hoop nie, want die land bied steeds wonderlike geleenthede vir buitelandse investeerders. Die onus rus egter op die ANC-regering om daadwerklike en pragmatiese stappe te neem om meer buitelandse investering vir die toekoms te verseker.

  • Jay van Wyk is ʼn professor in internasionale sake administrasie aan die Pittsburg-staatsuniversiteit in Kansas in die VSA.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ontledings

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Speel-speel ek is baie-baie ryk met ‘n sin vir spaarsamigheid en winsgewendheid soos my Oupa van wie ek geèrf het my mooi geleer het en 2 stywe knieè wat nie tot op knie-staan-vlak buig nie, hoekom sou ek in SA belè as ek daagliks op jul tv-kannale twak aanhoor soos sy edele die adjunk-hoofregter nou al maande lank doen? Dit is waar dat geagte CR Pledge mooi pleit dat ons oè-moet-toeknyp en ons harte vir Hillbrow gee, maar ek wag vir daai mooi swart swaan…

Piet ·

Nee, ons doen nie. Ons kort “use-it-or-lose-it” belasting. Daar spoel triljoene van fonds na fonds in Sandton rond en dit skep geen waarde nie, maak net die balans state van ‘n handjie vol mense vetter. Hulle wil dit nie op hulle eie belê nie so dis tyd om hulle te prod.

Vrijburger ·

Is my ‘white capital’ wat nou in die buiteland bele is ook welkom?

Marianna ·

As ek ‘n belegger was uit die buiteland sou ek die land besoek het en deur die platteland gereis het, ek sou ook gaan kyk het hoe lyk die stede van S.A. Ek sou beslis nie in S.A belê het nie. Hoekom? Ek het gehoor van die korrupsie en as ek kyk na die infrastrukeer en BEEE dan sal ek maar annerpad kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.