Minister se stilte sluit uit

Deur Conrad Steenkamp

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys en opleiding. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, se bekendmaking van ʼn regsopinie dat Afrikaans en die Khoi- en Santale inderdaad inheems is, is ʼn oorwinning vir dié tale. Dit kan onder meer help om Afrikaans minder kwesbaar vir die dekolonialiseringsnarratief te maak, hoewel dit heeltemal te vroeg is om die vreugdevure aan te steek.

Die minister het nog nie laat blyk dat hy die regsopinie aanvaar nie en dit moet in ieder geval nog in die beleidsraamwerk vir taal verreken word. Die voorgestelde oplossing, dat die beleid eerder op die “voorheen benadeelde” tale as “inheemse tale” moet fokus, sou Afrikaans steeds uitsluit van ondersteuning en niks doen om sy aftakeling as akademiese taal te stuit nie. In dié opsig is Afrikaans op sy laaste bene en die Afrikaanse Taalraad wil steeds met die minister hieroor vergader.

Dit blyk ook die idee van Afrikaans as “uitheems” het reeds neerslag in ander domeine gevind. Die Afrikaanse Taalraad se aansoek om deel te neem aan Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) se Internasionale Dekade van Inheemse Tale is afgekeur en ons profiel uitgewis sonder dat enige rede daarvoor verskaf is. ʼn Brief hieroor aan Unesco se streekskantoor in Zimbabwe is tot op hede nie beantwoord nie. Dieselfde geld vir ʼn versoek tot gesprek aan die Suid-Afrikaanse Unesco-kantoor in Pretoria, ʼn party wat sekerlik in Unesco se besluit oor die uitsluiting van die Taalraad geken is.

Dié weiering van gesprek strek egter verder as Unesco. Die president se kantoor het die hoflikheid gehad om onmiddellik op die Taalraad se petisie oor die kwessie van die inheemsheid van die taal te reageer, selfs al was dit om ons weer na “die minister” as die korrekte adressant te verwys. “Die minister” se kantoor volhard met dawerende stilte – nie net teenoor die Taalraad nie, maar ook teenoor ander beswaarde organisasies soos die DAK-netwerk. Ook die Taalraad se pogings om met die raad vir hoër onderwys – dit is hulle wat die gewraakte definisie van inheemse tale aan die departement en die minister aanbeveel het – in gesprek te tree, word met stilte begroet.

Wat word bereik deur stemme van voetsoolvlak af – bruin, wit en swart – te ignoreer? Watter soort regering hanteer kommunikasie met burgers en kiesers op die manier? Die voortgesette afdwing van die Bantoe- of Sintoetale as die enigste inheemse tale van die land maak steeds ʼn grap van insluiting en “maatskaplike kohesie”. Wigte word tussen bevolkingsgroepe ingedryf eerder as dat wedersydse begrip en samehorigheid bevorder word. Daarby ís dit baie moontlik om meer insluitend en gereg met taal om te gaan.

Pleks daarvan dat nie-regeringsorganisasies aandag kan gee aan die oorbrugging van die groot klowe in ons samelewing, moet hulle skamele begrotings mors op pogings om met ʼn regering te praat wat horend doof is. ʼn Situasie soos dié lei noodwendig een of ander tyd tot groeiende wrewel en ʼn opwelling van emosie. Een of ander tyd, word besluit praat help nie.

Die minister het die regsopinie reeds in Oktober verlede jaar ontvang. Tot op hede is geen verskoning gevra vir die growwe belediging wat die definiëring as uitheems – veral vir die Khoi- en Santale as die oertale van die land, maar ook vir Afrikaans – inhou nie. Dieselfde geld vir die voortgesette aftakeling van Afrikaans as akademiese taal, ʼn taal wat duisende uit die kaak van uiterse strukturele diskriminasie kan red.

Die regering se hardkoppige en hardvogtige benadering tot taal vervreem nodeloos ʼn groot segment van die bevolking en sal mettertyd as voorbeeld van nóg ʼn mislukte beleid geld. Ongereelde en halfhartige pogings tot verdeel en heers sal dit nie verhinder nie.

  • Conrad Steenkamp is die hoof van die Afrikaanse Taalraad.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Witbaard

Hoe kan Afrikaans uitheems wees? Die taal het dan juis hier in SA begin ontwikkel. En terloops, ek dink nie die minister is die skerpste “blade” in die pakkie nie.

ABDP

Dankie dat hulle steeds volhard in die taalstryd. Ek werk daagliks met regering departemente en kommunikasie (in enige taal) is uiters swak. Inteendeel selfs ‘n engelse telefoniese gesprek is kommerwekkend. Wat nog te sê van ons moeder Afrikaans.

Manie

Wanneer enige vreemde persoon my bel en in enige ander taal as Afrikaans met my praat, sê ek eenvoudig in Afrikaans dat ek geen ander taal magtig is nie en bly dan stil en sit my selfoon neer, laat hulle maar rustig met hulself praat en hulle geld verkwis.

Treurwilger

Sou interessant wees om al die, met reg, bekommerde beswaardes se menings destyds, toe Dan Roodt sy Pro-Afrikaanse Aksie Groep (PRAAG) gestig het, weer te lees.

Pro-aktiewe optrede twintig jaar gelede kon vele skade verhoed en soveel meer vermag.

annie

Dit wil voorkom of die president deur sy ministers aangestel word en nie andersom nie. Wat seker die rede is dat soveel ministers en senior staatslui net doen wat hulle wil en Cyril maak of hy nie saamstem nie. Blade en Mantashe is so arrogant as wat kan kom. Gelukkig kry ons binnekort ‘n landsvlag wat a la toring van Babel tot teen die wolke gaan reik. Die eerste groot stormwind en ons miljoene waai in hul maai… Ag wat, dan doen is dit net weer oor…