Misbruik van terminologie vir politieke doeleindes

Deur Fanie Cronje

ANC-se-vlag-deur-ANA

(Argieffoto: ANA)

Terminologie, wat deur die ANC en andere misbruik word vir politieke doeleindes, word wyd en syd gebruik. Die vraag is hoe presies ʼn mens in debat omgaan met hierdie “gekaapte” of misbruikte woorde wanneer hul in betekenis so vaag is?

Rassisme

Sou ʼn mens werklik die aangeleentheid wou aanspreek sou die eerste en belangrikste afskop moes wees om die begrip te omskryf dat almal presies weet wat dit beteken en hoe dit dus ʼn oortreding sou wees. ʼn Mens sou vermoed dat dit dalk, gegewe die geskiedenis, die grootste prioriteit vir die hoofstuk 9-instelling van die menseregtekommissie (MRK) sou wees, maar dit het toe nooit gebeur nie.

Rassisme soos die persepsie tans bestaan, is soos ʼn mens in Engels sê: “in the eye of the beholder”. Dit het gebruiklik geword dat die betekenis deur die persepsie van die sogenaamde “oorwinnaars” geskep word. Ek het in ʼn onderhoud met Leon Wessels, wat aanvanklik een van die adjunkkommissarisse van die MRK was, dit so gestel en hy het bevestig dat dit retrospektief dalk ʼn fout van die MRK was om nie sodanige omskrywing te gee nie.

Die persepsie is derhalwe in effek dat “rassisme” slegs deur “wit op swart” gepleeg kan word. Hou ook in gedagte dat die MRK tans ook as ʼn kadergevulde instelling gesien kan word en slegs blitsvinnig reageer sou bogenoemde persepsie, veral in media onthullende sake, na vore tree.

Dit pas waarskynlik die regerende party om dié persepsie steeds te laat voortduur en daar sal geen opdragte gegee word aan die sirkus van die MRK om ʼn onpartydige goed nagevorsde omskrywing daar te stel nie – een waaraan alle mense onderhewig is.

Transformasie

Geen omskrywing van wat eintlik hiermee bedoel word, is duidelik nie, maar alles word daarteen geweeg. Dit word, veral deur die regerende party, as ʼn stok gebruik – veral om ʼn bestel te vestig wat ideologies met hulle uiteindelike doel ooreenstem. Dit word ook in alle sfere gebruik om ʼn sekere samelewing te skep. ʼn Mens kan dit waarskynlik sien as die belangrikste wapen om “social engineering” te bewerkstellig.

In die verband natuurlik word dit as maatstaf gebruik om die bogenoemde te bewerkstellig. Weereens sou dit tot nadeel van die regerende party wees sou dit gedefinieer en omskryf word. Die wollerige aard daarvan is juis voordelig vir die regerende party en hulle meelopers.

Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB)

Die beleid kan net sowel bekend staan as Kader Ekonomiese Bemagtiging (KED). Die bevoordeeldes is, soos algemeen bekend, ʼn baie beperkte deel van die “mark” waarin die regering stemme werf. Ten spyte daarvan dat net ʼn klein hoeveelheid bevoordeel word, maak die vreesfaktor enersyds en die hoopfaktor andersyds dit moeilik vir hul steunbasis om dit onverwyld te veroordeel.

Die regering doen ook net genoeg om steeds die steunbasis enersyds te laat twyfel en andersyds te laat hoop. Gepaard hiermee gaan natuurlik die geweldige finansiële voordeel wat die kaders uit die bevoordeling trek. Natuurlik sien die breër steunbasis dit raak wat die hoop versterk dat hulle ook een of ander tyd aan die beurt sou kom.

Maar daar is nog ʼn faktor hierby ter sprake naamlik die skep en uitleef van die sogenaamde “Wit Monopolie Kapitaal”. ʼn Begrip natuurlik in die Zuma-era van staatskaping geskep deur die Britse firma Bell Pottinger, in opdrag van die Gupta-groepering. Dit is ʼn handige “misbruik” van terminologie om ʼn vyand te skep – die “wit” sakelui en die bevoorregte “wit” gemeenskap in die geheel.

Sou die plasing van “kaders” op die rade van korporatiewe besighede sowel as in uitvoerende hoofde van diesulkes in veral die bankwese en ander finansiële sektore, steeds die sogenaamde “wit monopolie”-narratief regverdig?

Die regerende party gebruik dit natuurlik ook tot hul voordeel. Almal weet daar moet ʼn mate van transformasie wees, dit is net die hoe en wat, wat verskil. Dus aangesien dit voordelig is vir die regerende party om juis nie die begrip te omskryf nie, is die deurlopende verweer teen SEB (KEB?) – “is jy dan gekant teen transformasie?” ʼn Feitlik onmoontlike posisie om op te reageer.

En juis dít is die waarde van die nie-omskrywing en gepaardgaande misbruik van terminologie.

  • Fanie Cronje is ‘n inhoudskepper vir AfriforumTV en het reeds twee reekse getiteld “Groeiende Federalisme” en “Landbou Allegaartjie” vervaardig en aangebied. Hy bied ook programme op Ramkatradio aan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Gaan ons nog dertig jaar lank hierdie gesprekke voer in die hoop dat… of sal ons vroeër toegee dat 1994 se groot besgee ‘n ligte erge mistakie was wat nooit weer omgekeer kan word nie want die landsbase kan nie en sal nie en wil nie en weet nie hoe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.