Mobiliseer rondom kulturele vryheid

Eenvoudige meerderheidsdemokrasie, is in ʼn vorige rubriek aangevoer, kan in meerderheidstirannie ontaard. Dit gebeur tipies wanneer etniese minderhede in multikulturele samelewings permanent van politieke mag uitgesluit word. Al het hulle stemreg, beteken demokrasie vir hulle “the structured dominance of adversarial majority groups”, in die woorde van die Amerikaanse politieke wetenskaplike, Timothy Sisk.

Hierdie “demokratiese uitsluiting”, soos die Kanadese politieke filosoof Charles Taylor dit noem, kan veral skadelik wees vir minderhede se kulturele belange. Die Human Development Report 2004, saamgestel deur die VN se Ontwikkelingsprogram (UNDP), verwys na twee vorme van kulturele uitsluiting wat in talle heterogene samelewings voorkom. Lewenswyse-uitsluiting behels onder meer beperkinge op bepaalde groepe se beoefening van hul taal, kultuur en godsdiens. Deelname-uitsluiting beteken diskriminasie teen ʼn groep ten opsigte van politieke, ekonomiese en sosiale geleenthede.

Die benadeeldes is meesal etniese of kulturele minderhede. Volgens die gesaghebbende Capotorti-definisie wat die VN gebruik, is ʼn minderheid

a group numerically inferior to the rest of the population of a State, and in a non-dominant position, whose members… possess ethnic, religious or linguistic characteristics differing from those of the rest of the population and show, if only implicitly, a sense of solidarity, directed towards preserving their culture, customs, traditions, religions and language.

Afrikaners, wat volgens hierdie definisie as minderheid kwalifiseer, beleef sedert 1994 inderdaad kulturele uitsluiting as ʼn regstreekse gevolg van hul politieke onmag. Die Human Development Report 2004 tipeer so ʼn situasie as ʼn inperking van ʼn groep se kulturele vryheid. In die verslag word kulturele vryheid omskryf as die vryheid wat mense het om hul identiteite te kies en uit te leef sonder om as gevolg daarvan benadeel te word in ander keuses wat vir hulle belangrik is, soos onderwys, indiensneming en taalbenutting. Kulturele vryheid, sê die UNDP, is ʼn belangrike element van menslike vryheid en is onlosmaaklik aan universele menseregte gekoppel.

Politieke vryheid, wat alle Suid-Afrikaners geniet, is dus nie sinoniem met kulturele vryheid nie. (In dieselfde trant betoog Jacob Zuma en Julius Malema dat politieke vryheid (nog) nie ekonomiese vryheid vir swart Suid-Afrikaners gebring het nie.)

Dit beteken beslis nie dat Afrikaners geen kulturele vryheid het nie (of dat die swart meerderheid geen ekonomiese vryheid geniet nie). Die Grondwet ken sekere regte toe aan taal-, kultuur- en godsdiensgemeenskappe. Gemeet aan internasionale standaarde, is hierdie regte egter bra beperk en die toepassing daarvan erg gebrekkig. Daarom dat Afrikaners goeie rede het om op groter kulturele vryheid aan te dring. En hier verskaf die UNDP-verslag waardevolle riglyne. Trouens, die subtitel van die verslag lui: Cultural Liberty in Today’s Diverse World.

Die skrywers van die Human Development Report 2004 verklaar dat die bevordering van kulturele vryheid ʼn sleuteltaak van regerings is – “even where there are no explicit policies of persecution or discrimination”. Dus, selfs al sou geargumenteer word dat Afrikaners nie aan diskriminasie of vervolging onderwerp word nie, het die regering ʼn plig om kulturele vryheid te bevorder. Waar kultuurgroepe reeds benadeling beleef, is die behoefte aan maatreëls ter beskerming en bevordering van kulturele vryheid des te groter.

Die UNDP se verslag bepleit multikulturele beleide op verskeie terreine, waarvan politieke deelname ʼn sleutelarea is. Op dié gebied word “multikulturele demokrasie” in die vorm van doeltreffende magsdeling tussen kultureel diverse groepe aan die hand gedoen (byvoorbeeld federalisme of konsosiasie). ʼn Tweede kritieke area is taal, en hier stel die UNDP meertaligheid voor. (Die ander drie areas wat in die verslag aandag kry – godsdiens, sosio-ekonomiese kwessies en die regswese – is waarskynlik minder belangrik vir Afrikaners.)

Prakties gesproke is dit vir ons neusie verby met die soorte magsdeling wat die  Human Development Report voorstaan. Daar is egter ander “mindere” politieke formules wat oorweeg kan word om minderhede se kulturele vryheid te verseker. Die essensie hiervan is die afwenteling van politieke mag na sulke groepe sodat hulle regstreekse seggenskap kry oor sake wat hul kulturele identiteit wesenlik raak. Só gesien behels die strewe na groter kulturele vryheid die skep van nuwe politieke ruimtes.

Terselfdertyd behoort Afrikaners (en eweseer ander groepe met ʼn soortgelyke behoefte) bestaande politieke geleenthede vir die uitlewing van hul identiteit ten volle te benut en daarmee saam te waak teen die onregmatige inperking van hierdie ruimtes deur owerheidsoptrede (of die gebrek daaraan).

Kortom, die bevordering van kulturele vryheid in Suid-Afrika is in die eerste instansie gemoeid met die kreatiewe benutting van bestaande politieke geleenthede vir kulturele uitlewing en die vindingryke skepping van nuwes, eerder as die reaktiewe bekamping van bedreigings.

Soos die UNDP dit uitbeeld, is kulturele vryheid sowel ʼn kragtige politieke idee as ʼn werkbare politieke program. In Suid-Afrika het ons albei nodig en Afrikaners is die aangewese groep om die voortou te neem.

Die ideëdiskoers in die land word sedert 1994 oorheers deur die ANC se alles-omvattende konsep van “transformasie”. Uit Afrikanergeledere was daar nog geen teenvoeter wat ʼn ander beskouing van die samelewing voorhou nie. Die idee van kulturele vryheid kan hierdie ernstige leemte vul.

Daarmee saam het ons ʼn burgerlike organisasie nodig wat die idee én uitlewing van kulturele vryheid aktief kan bevorder. Ooreenkomstig die stelreël dat die prys van vryheid ewigdurende waaksaamheid van die burgers is, is daar in ons samelewing reeds verskeie organisasies wat hulle beywer vir demokrasie, menseregte en ekonomiese vryheid. Daar is ʼn ewe groot behoefte aan ʼn burgerlike “waghond” wat spesifiek oor kulturele vryheid sal waak.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deon Geldenhuys

Meer oor die skrywer: Deon Geldenhuys

Deon Geldenhuys is ‘n professor in Politiek aan die Universiteit van Johannesburg. Hy is betrokke by die stigting van die NP van Wyk Louw Sentrum vir Kulturele Vryheid.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae