Moenie menseregte as vanselfsprekend aanvaar nie

Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, in trane by die Life Esidimeni-arbitrasieverhoor (31 Januarie 2018). Foto: ANA

Dit is vanjaar die sewentigste herdenking sedert die Universele Verklaring van Menseregte van krag geword het. Tog skryf Salil Shetty, sekretaris-generaal van Amnestie Internasionaal in die jongste jaarverslag dat niemand vanselfsprekend kan aanvaar dat sy menseregte beskerm sal wees nie. Amnestie Internasionaal beskou groepregte, of te wel minderheidsregte, as menseregte, net soos individuele regte ook as menseregte beskou word. Dit blyk onder meer daaruit dat die gruwelike lot van die Rohingya van Mianmar skerp onder die samestellers deurloop.

Altesaam 159 lande en semi-onafhanklike gebiede word in die verslag onder die loep geneem. Suid-Afrika kom nie baie lig daarvan af nie, en word veral verkwalik omdat die Soedannese president, Omar al Basjir, nie tydens ’n besoek aan Suid-Afrika in hegtenis geneem is nie.

Geweld deur die polisie loop ook skerp deur. ’n Toename in sterftes aan die hand van die polisie beteken dat daar die afgelope jaar 394 mense deur die polisie doodgemaak is. Hiervan was 302 mense in polisie-aanhouding.

Die Onafhanklike Ondersoekeenheid het ook gemeld dat daar 173 gevalle was waar die polisie mense gemartel het. Altesaam 112 mense is deur lede van die polisie verkrag.

Die ramp wat as die Life Esidimeni-skandaal bekend staan, word ook in die verslag skerp veroordeel.

Die regte van verskeie groepe word ook onder die loep geneem, soos die regte van homoseksuele mense, vroue, prostitute, vlugtelinge en migrante. Daar word egter nie melding gemaak van voorvalle soos die wegwerk van Afrikaans en die regte van Afrikaanssprekendes nie.

Dit lyk onafwendbaar dat ’n kwessie soos toegang tot water ook vir Suid-Afrika ’n inskrywing sal regverdig, soos nou die geval met ander lande is.

Misdaad, en veral geweldsmisdaad, skep eenvoudig ’n klimaat wat nie bevorderlik is vir menseregte nie. In die VSA manifesteer dit in onder meer skietvoorvalle by skole wat as “die uitsyfering van moraliteit” beskryf word. In Suid-Afrika lei dit tot ’n breë front van mense met lewensknakke wat nie in God glo nie.

Suid-Afrika het beslis geen wens dat mense onguur begin optree en die Afrikaanssprekende, of enigeen anders, van sy minderheidsregte te stroop nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Jerry ·

Dit is opsigtelik dat menseregte vir die voorheen bevoorregtes aan die taan is in die breer SA gemeenskap. Ons beweeg na n punt toe waar menseregte net van toepassing gaan wees op die voorheen benadeeldes. Die gety is stadig maar seker om teen ons te draai in meer as die een opsig.

Eish ·

Eish!
Ons loop al 23 jaar deur onder die verwatering van minderheidsregte.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.