Moenie met water mors nie!

Deur Zel-Marí Gelderblom

‘n Inwoner van Kleinmond gaan haal drinkwater by ‘n tydelike waterpunt. (Foto: Facebook)

Die waterkrisis in ons land is lank nie meer net bespiegelinge nie en beurtwater mag dalk ons voorland wees.

Kwessies van watertekorte, besoedeling van riviere, rou riool in strate, E. coli in die see en reservoirs wat leegloop is aan die orde van die dag. Rioolaanlegte word ook swak bestuur, wat tot die algehele verval van dié infrastruktuur lei. Om nie eens te praat van die korrupsie in die waterbedryf nie.

Oor die feesseisoen het inwoners van Rustenburg weereens gekla oor bruin water wat uit hul krane kom – water wat volgens Magalies Water blykbaar veilig is vir menslike gebruik. Maar die vraag bly: Sal jý bruin water drink? Buiten vir die onaantreklike kleur van die water is die watersuiweringsaanleg in Rustenburg al sedert 2017 onder konstruksie, wat – soos Netwerk24 berig – ʼn daaglikse watertekort van sowat 50 miljoen liter in dié gebied veroorsaak.

Inwoners van Kimberley was in 2023 vir weke lank sonder water. Dit het egter gelyk of die Noord-Kaapse departement van water en sanitasie nie veel gepla was oor die lewensgevaarlike blougroenalge wat ook nog in die Vaalrivier gevind is nie.

AfriForum was van mening dat die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit inwoners se grondwetlike reg van toegang tot water in 2023 geskend het, omdat dit nie aan die minimum standaarde van watervoorsieningsdienste voldoen nie.

Verlede jaar was daar selfs ʼn cholera-uitbreking in Gauteng en die Vrystaat, en 23 mense is in Hammanskraal weens cholera dood. Ná hierdie uitbreking het AfriForum ingespring en die watergehalte reg oor die land getoets om inwoners te waarsku oor die watergehalte in hul areas. Watermonsters is in dieselfde tyd deur AfriForum en Save Ngwathe in die Vaalrivier buite Parys geneem, wat ook positief vir cholera getoets het.

Parys was in 2023 boonop vir 34 dae sonder water, ten spyte daarvan dat dié dorp op die walle van die standhoudende Vaalrivier – ʼn primêre waterbron – lê. Die water moet bloot gesuiwer word en aan die gemeenskap voorsien word, maar dit is egter presies waar die probleem lê: Weens munisipale onbevoegdheid en onwilligheid is die watersuiweringswerke in ʼn haglike toestand en kan daar nie in die aanvraag voorsien word nie.

Hierdie probleme het nie onlangs eers kop uitgesteek nie. Reeds in 2018 het AfriForum watermonsters uit die Blesbokspruit in die Nigel-omgewing geneem wat getoon het dat die water fekale koliforme, E. coli, nitrate en fosfate bevat het waarvan die konsentrasie hoër as die gestelde standaarde was.

In Machadodorp was daar in verlede jaar ook ʼn watertekort nadat ʼn waterpomp vir herstelwerk gestuur is sonder terugvoer oor wanneer dié pomp weer herstel sou wees. AfriForum het ook 15 000 liter water aan die gemeenskap in Waterval Boven gelewer nadat inwoners vir sowat ʼn week nie water gehad het nie as gevolg van probleme met die waterinfrastruktuur.

In ʼn stadium is strande soos Warner en Winkelspruit gesluit, asook twee van die 11 swemstrande in die eThekwini-metro, weens hoë vlakke van E. coli. Die strand in Amanzimtoti word ook van tyd tot gesluit as gevolg van rou riool wat in die see gestort word.

Suid-Afrika staan op die rand van ʼn ernstige waterkrisis – veral ten opsigte van onbehandelde rioolafvalwater. Van 140 rioolafvalwaterbehandelingswerke wat in 2023 getoets is, het die uitvloei van slegs 19% hiervan aan die minimum standaarde voldoen. Dit beteken dat die water wat sulke werke in riviere stort in ʼn kommerwekkende 81% van gevalle onvoldoende behandel is.

Voordat ons egter mismoedig raak: Daar is hoop. Alle landsburgers het die reg op skoon en veilige water, en hoewel plaaslike regerings versuim om dié kosbare hulpbron verantwoordelik te bestuur, sal AfriForum aanhou om elke jaar die drinkwater te toets in dorpe waar die organisasie gevestigde takke het. Só verseker die organisasie dat inwoners toegang tot skoon en veilige water het. AfriForum stuur ook deurlopend aksies van stapel om te verseker dat mense se basiese regte gerespekteer en waterbronne beskerm word.

AfriForum het ook ʼn #SkoonWater-projek geloods en takke is landwyd gemobiliseer om die drink- en rioolwatergehalte in dorpe te toets waar aktiewe AfriForum-takke is. Die gehalte van Suid-Afrika se drinkwater (blou druppel) en rioolwater (groen druppel) word getoets en die resultate in ons blou-en-groendruppelverslag bekendgemaak. Dié verslag word jaarliks gepubliseer om betroubare inligting oor die gehalte van Suid-Afrika se drink- en rioolwater bekend te maak.

AfriForum is genoodsaak om die leemte te vul wat gelaat is nadat die departement van water en sanitasie bykans ʼn dekade lank geen amptelike blou-en-groendruppelverslae bekendgemaak het nie. Hoewel die departement in 2022 weer die amptelike blou-en-groendruppelprojek hervat het, vervul AfriForum steeds ʼn belangrike waghondfunksie waardeur druk op dié departement en munisipaliteite toegepas word om dié instellings tot verantwoording te roep.

Watervoorsiening is ongetwyfeld ʼn groot probleem in vele dele van die land. Dit bly egter ons plig om hierdie kwessies uit te lig en aan te meld, druk op die regering te plaas en – die heel belangrikste – by plaaslike organisasies soos AfriForum betrokke te raak, wat op voetsoolvlak ʼn verskil maak.

  • Zel-Marí Gelderblom is koördineerder van inhoud en mediaverhoudinge by AfriForum en het ʼn meestersgraad (cum laude) in genderpolitiek aan die Nelson Mandela Universiteit behaal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hendrik ·

Soos die land sukkel met water het Kleinfontein nog net goeie water gehad . Wat ‘n voorreg o in ‘n sefstandige selfbestuur gemeenskap te woon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.