Moet ons bang of bly wees oor kunsmatige intelligensie?

Deur Paul Maré

(Foto: Jakub Porzycki / NurPhoto / NurPhoto via AFP)

In die alledaagse lewe is daar nuwe terme wat oral gebruik word en vir baie mense totaal vreemd is.

ChatGPT is die woord wat deesdae die meeste opgewondenheid veroorsaak, of dit nou verwondering is oor wat ons hiermee kan bereik, of vrees oor wat die impak daarvan sal wees en of ons in die persoonlike en besigheidswêreld bereid gaan wees om dit te verduur.

Nog ʼn gewilde, maar meer bekende term, is Artificial Intelligence (afgekort “AI”), in Afrikaans vertaal as Kunsmatige Intelligensie (afgekort KI). Die afkorting KI moet egter nie met die biologiese term verwar word nie.

Kunsmatige Intelligensie benodig nie ʼn in-diepte verduideliking nie. Dit kom daarop neer dat masjiene gebruik word om inligting waar te neem, te sintetiseer en dan afleidings te maak gebaseer op die waargeneemde en gesintetiseerde inligting (Adams et al. 2023). Voorbeelde van die gebruik van KI, wat vir die meeste mense bekend sal wees, is: Google Maps, soekenjins soos Bing en Google, Alexa en Siri op moderne fone en selfs Tesla se selfbestuurmotors, kan hieronder gereken word.

ChatGPT, wat vir Generative Pre-trained Transformer staan, is ʼn geoutomatiseerde program wat met ʼn gebruiker kan gesels, op navraag opstelle en gedigte kan skep en selfs rekenaarprogramme kan skryf. Die program was só gewild dat daar, selfs net vyf dae na die bekendstelling daarvan in November 2022, reeds ʼn miljoen gebruikers van die program was.

Die toekoms waaroor daar al lank gedroom en gevrees word, is blykbaar hier. Soos in die geval van die meeste vorms van verandering, is daar gewoonlik spanning en ongelukkigheid wat hiermee gepaard gaan. Belanghebbendes redeneer reeds dat ChatGPT ʼn gevaar is wat mense van hul werk kan beroof, dat plagiaat deur die program gepleeg word omdat die algoritme vanaf bestaande werk nuwe inhoud genereer en in die proses verder ook kopiereg in gevaar stel.

Die situasie word vererger omdat hierdie tipe program nie alleen die gebruik van persoonlik individuele geskrewe uitsette beïnvloed nie, maar dat daar ook programme is wat kuns vanaf bestaande databasisse van kunswerke kan genereer, soos die rekenaarprogram, NovelAI. Met die gebruik van woorde en terme en die klik van ʼn knoppie, het die gebruiker ʼn kunswerk wat ʼn ware kunstenaar ʼn lang tyd sou vat om te skep.

Die ander kant van die saak is dat hierdie program en sy variasies wel goeie bydraes kan lewer. Op die gebied van die onderwys kan die program goeie bydraes lewer deur onderwysers en lektore te ondersteun deur hulp te bied met die opstel van onderrigmateriaal, lesplanne, gidse, assesserings en vele meer. Die program kan verder selfs gebruik word om assesserings en terugvoer te lewer. Dit is ook dus een van die mees aanloklike aspekte in die onderwysveld.

In rekenaarprogrammering kan die program help met die skep van kode vir sagteware sodat dae se werk verkort kan word na net die klik van ʼn knoppie en ʼn paar sinne om die probleem te beskryf.

Verder, op die sagteware terrein, kan ChatGPT en soortgelyke programme gebruik word om foute te help opspoor in kode en dit dan te korrigeer. Sodoende kan baie tyd vir maatskappye en hul werknemers gespaar word.

Op mediese gebied kan die program gebruik word as ʼn kundige stelsel wat mediese toestande kan identifiseer sodat behandeling toegepas kan word indien mediese personeel nie beskikbaar is nie.

In forensiese ondersoeke kan die tegnologie ingespan word om data na te gaan, patrone te vind en elemente uit te wys wat maklik oorgesien kan word.

Met al dié veranderinge wat tans plaasvind en wat nog op pad is, kan daar net gestel word dat die toekoms daarvan onseker is. Is die rigting waarin die mensdom tans beweeg die regte een? Gaan ChatGPT en volgende programme ʼn aanwins wees? Gaan die prentjie wat in rolprente geskets word, naamlik die gevorderde tegnologie wat die mensdom vernietig, gevolg word? Die tye waarin ons leef kan inderdaad as interessante tye beskryf word.

Verdere leesstof:

The College Essay is Dead

The Brilliance and Weirdness of ChatGPT– The New York Times

Opinion | What Would Plato Say About ChatGPT?– The New York Times

Meet DALL-E, the A.I. That Draws Anything at Your Command– The New York Times

AI Wrote This Blog Post

ChatGPT: Why Everyone is Obsessed With this Mind-Blowing AI Bot

ChatGPT owners predict $1Billion in revenue by 2024

ChatGPT and the Imagenet Moment

Artificial Intelligence 101: Covering the Basics for Educators

A Princeton student built an app which can detect if ChatGPT wrote an essay to combat AI-based plagiarism

How ChatGPT can actually be a force for good rather than a boon for cheaters

  • Paul Maré is ʼn dosent in rekenaargeletterdheid (BA) aan die APA.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Treurwilger ·

As Elon Musk hokaai sê, dan reken ek ons moet bang wees.
Net soos die internet onbedoelde negatiewe gevolge het, wat té dikwels die voordele oorskadu, sal hierdie spul ook.
Wil persoonlik niks daarmee te doen hê nie, baie dankie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis die toekoms. Die mens se rol gaan verander. Wat gaan die mens oor 100 doen.

Marthinus W ·

Klaus Schwab, George Soros, Bill Gates en die ander globaliste glo, as mens hulle reg verstaan, dat slegs n handjievol gaan werk. Schwab vertel dat ons teen 2030 niks gaan besit nie, maar ons gaan gelukkig wees. En ons moet solank leer om insekte te eet, vir wanneer daar nie genoeg kos gaan wees nie. Al die grense tussen lande gaan verdwyn. En elkeen gaan n basiese soldy ontvang, al werk jy nie, of al is jy welaf. Poetin is tans die vlieg in die salf, want hy skop daarteen.

Gerrie ·

As mens nie weet wat jy doen in jou werk nie is chat gpt indrukwekkend en jy het rede om dit te vrees. As stelsel ontwikkelaar gebruik ek dit slegs om opsommings van dokumente aan te vra. Selfs dan is daar kere wat die ‘opsomming’ verkeerd is. Verder is dit vir my ‘n mors van tyd om te vra dat dit vir my kode ‘skryf’ gegee ‘n beskrywing van wat nodig is. Dus is dit vir my nie so bruikbaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.