Munisipaliteite bepaal ons lewensgehalte

flip-buys-2017-11-01

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Stede en dorpe is die owerheidsvlak wat ons daaglikse lewens regstreeks raak. Die gehalte van die bestuur hiervan bepaal grootliks die inwoners se lewensgehalte. Dis die rede waarom daar wêreldwyd studies gedoen word om die “leefbaarheid” van stede en dorpe met mekaar te vergelyk.

Die meeste mense bly in stede en dorpe, en almal wil in veilige en skoon gebiede bly waar daar betroubare dienste is, waar jou belastinggeld vir jou werk, en waar daar bekwame en eerlike munisipale bestuur is. Daarsonder verval dorpe, vlug besighede, verarm mense, ly inwoners, vind opstande plaas, en daal huispryse – mense se grootste belegging.

Daarom is dit so skokkend dat die betrokke minister bekendgemaak het dat net 7% van munisipaliteite ten volle funksioneel is, en dat die ouditeur-generaal so pas bevind het dat slegs 13% ’n skoon ouditeursverslag gekry het. Altesaam 86% van munisipaliteite het hulle nie aan sleutelwetgewing gesteur nie, terwyl onregmatige besteding met ’n skrikwekkende 75% toegeneem het. Dis nie ’n wonder dat diensleweringsproteste al meer gewelddadig word en eiendom en lewens bedreig nie.

Infrastruktuur

Doeltreffende plaaslike owerhede is wêreldwyd die enjins van ekonomiese groei en werkskepping. Hulle bestuur die belangrike infrastruktuur waarop die groei moet plaasvind. Suksesvolle state is in wese ʼn samevoeging van suksesvolle stedelike en plaaslike ekonomieë. Plaaslike owerhede is die naaste regeringsvlak wat mense se lewens elke dag direk raak, omdat elkeen dienste soos water en elektrisiteit op ʼn daaglikse basis gebruik. Indien daar nou één faktor is wat bepalend is vir die land se drome van ʼn groeikoers van 6%, is dit die doeltreffendheid van munisipaliteite.

Die probleem is dat die privaat sektor wat die groei moet laat plaasvind, afhanklik is van ʼn bekwame openbare sektor vir die verskaffing van die gehalte infrastruktuur wat hulle nodig het om te groei. Die ANC het in 1994 van die beste infrastruktuur in Afrika geërf, maar dit het sedertdien, veral op munisipale vlak, so verval dat daar nie meer werkende dienste in talle dorpe is nie. Dit bedreig die volhoubaarheid van talle dorpe en nou selfs stede.

Magspolitiek

Die ANC het ná 1994 midde-in hulle transformasie-ywer, hulle meer deur magspolitieke oorwegings as deur gesonde munisipale bestuursbeginsels laat lei. Die megastad-idee moes ANC-beheer oor stede en dorpe verseker, munisipale wyksgrense is in talle gevalle getrek om die ANC te bevoordeel, en ervare kundiges is in groot getalle vervang met aanstellings volgens politiek en ras. Baie dorpe en selfs stede is saamgesnoer in megamunisipaliteite ter wille van groter sentralisasie van mag en herverdeling. Maar dit het sedertdien duidelik geword dat dit makliker is om stede met strepe op ʼn kaart te trek as om dit in die praktyk te laat werk. In die megastadproses is talle onregeerbare en lompe munisipaliteite geskep wat té kompleks was om te bestuur, veral met die vlakke van kundigheid wat beskikbaar en polities aanvaarbaar was.

Dit het meegebring dat funksies en magte opgewentel in plaas van afgewentel is, en het munisipale rade van inwoners verwyder en ontoeganklik gemaak. Hierdie opwenteling het doeltreffendheid verder ondermyn, omdat die polities gedrewe plaaslike owerhede die kompleksiteit en gesofistikeerdheid van die moderne stad en die kundigheidsvlakke wat nodig is om dit te bedryf, totaal onderskat het. Dit bly ʼn tragedie dat die ANC se politieke beheerdoelwitte voorrang bo gesonde diensdoelwitte geniet het. Dit lyk of hulle dit soms meer geniet om dorpe en stede se name te verander, as om goeie dienste te lewer.

Waarde vir belasting

Nog ʼn probleem wat uitgewys moet word, is die feit dat die sentralisering van mag, gemeenskappe ontmagtig het, en belastingbetalers se besluitnemingsregte oor hul belastinggeld dramaties afgewater het. Daar is ʼn oplaaiende bitterheid onder baie middelklasbelastingbetalers oor hul groeiende belastinglas, terwyl dienslewering verswak en hul invloed oor die spandering van hul geld verminder. Daarby vryf ongebreidelde korrupsie sout in die wonde. Die moderne burger wat gewoond is aan ʼn doeltreffende privaat sektor en diensgerigte sakelui wat meeding om sy koopkrag, soek waarde vir sy belastingrand. Mense raak moeg vir politieke uitsluiting, finansiële uitbuiting en ondoeltreffende regering en dienslewering. Hierdie toestand is vererger toe die regering sy eie vermoë om beloftes uit te voer en dienste te lewer, verswak het deur radikale transformasie, en talle bekwame stadsamptenare die slagoffers was van rasgebaseerde personeelpraktyke.

Privaat dorpe

Die opkoms van ommuurde privaat dorpe was ʼn direkte reaksie op die staat se onvermoë om veilige en doeltreffende dorpe en stede aan sy belastingbetalende burgery te voorsien. Hierdie mense is bereid om meer te betaal vir doeltreffende dienslewering en die reg op effektiewe inspraak oor die spandering van hul diensgelde. Dit is ʼn private weergawe van ʼn wêreldwye tendens om regering “nader” aan die mense te bring, wat hier ongelukkig tans net deur welvarendes geniet kan word. In talle lande word metropole ontbondel ter wille van die verbreding van demokrasie en groter doeltreffendheid. Talle ander moderne state gebruik stadsrade om minderhede te bemagtig en om groter deelname aan plaaslike besture te verseker. Só word die verskynsel van demokratiese uitsluiting teengewerk, waar minderhede bloot weens hul getalle permanent van politieke mag uitgesluit is.

Sentralisering

Die ironie is dat in dieselfde tyd as wat die privaat sektor desentraliseer om groter doeltreffendheid te verseker, die openbare sektor mag sentraliseer ter wille van groter beheer. Die topbesture van suksesvolle sakereuse wêreldwyd besef hulle moet mag afstaan en afwentel ter wille van beter funksionering en om meer mense by besluitneming te betrek. Terwyl die ANC met die mond bely dat hulle juis besig is om die demokrasie te bevorder en mense by besluitneming te betrek, is hulle besig om direk teen die wêreldneiging in te regeer.

Dit is interessant dat plaaslike wetgewing wel op plekke voorsiening maak vir desentralisasie en die afwenteling van gesag, maar dat die politieke magskultuur wat tans heers, só ingestel is op magsentralisering dat dit vir die voorsienbare tyd nie praktiese politiek is nie. Dit het natuurlik direkte gevolge vir ontwikkeling omdat die besef nog nie by stadsrade posgevat het dat die betrokkenheid en deelname van gemeenskappe vir gemeenskapsontwikkeling noodsaaklik is nie. Ontwikkeling en ekonomiese groei kan nie vanuit ʼn dikwels verafgeleë sentrale hoofkantoor “ingegee” word nie. Dit moet deur die gemeenskappe self gedryf word.

Om te verseker dat plaaslike owerhede die enjins vir ekonomiese groei word, sal die regering partypolitieke doelwitte ondergeskik aan werkende plaaslike ekonomieë moet begin stel. Dit kan nie verder toegelaat word dat talle dorpies ontaard in stemuitvoerders en sosiale toelaaginvoerders nie.

Die ANC se mislukkende transformasieprojek is verantwoordelik vir die munisipale krisis, en hierdie beleid sal moet verander voordat ons stede en dorpe kan regkom. Indien dit nie gebeur nie, gaan dorpe en stede al meer privatiseer.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Jerry ·

Weereens n uitstekende Solidariteitsinisiatief wat teen die ANC narratief indruis. Die lewensvatbaarheid van private dorpe en stede moet daarom gewaarborg kan word ten opsigte van verskeie faktore waarvan seer sekerlik ook die grondwetlike aspekte. Samewerkende dialoog en vennootskappe sal dus gesluit moet word met onder andere die regerende party om net soos eiendomsreg dan ook sekerheid tov privatisering te verkry. Indien privatisering in isolasie gaan plaasvind kan dit die volgende teiken word teen witbevoorregting. Dit is ongelukkig die realiteit dat enige inisiatiewe wat witmense kan bevoordeel geteiken sal word, daarom sal hierdie inisiatief alle inwoners van die verskillende groepe moet insluit. Ons mag nie vir een oomblik hierdie realiteit uit die oog verloor wanneer ons oplossings soek en inisiatiewe beplan.

John ·

So jammer dat hierdie planne nie destyds ingeskryf is in die wetboeke nie, want nou moet daar vanuit ‘n ondergeskikte posisie gemaan en geveg word vir logiese aksies om mense se bestaansregte te probeer red. Wanneer die regering self nie veel gepla is oor die toestand van dorpe nie, inteendeel dit eerder so wil hou om die sg ‘agterstand’ van sy kiesers tov van withuishoudings ingebed te hou vir effek want self bly die topstruktuur heerlik in hul paleise en klap net die vinger vir vinnige aksie. Dalk was die ANC in 1994 nie gereed vir oorname nie, want misdrywe, verwaarlosing, misdaad en moord word ons daaglikse brood saam met bottelwater en duur Eskomkrag. Mense se drome is snags deurspek van vrese en beelde van ongelooflike tonele wat uit die werklikheid spruit. Drome vir geslote buurte en private skole en universiteite en skoon waterstrome is idillies maar bly net dit. Met 65+ milj inwoners, swak infrastruktuur ens, en elke dag meer van alles, en niemand wat vasgevat word vir die ongerymdhede nie, kan ons net bid vir ingrype van Bo, want niemand anders wil luister nie. Miskien moet ons daar begin.

Privaatdorp hoop ·

Privaatdorpe en selfs n private, eie enclave Sal ons redding wees want die ANC gaan beslis nie regkom nie en die land gaan net almeer tuimel. Party boere moet hul plase omskep in sulke dorpe waar laerinkomste Afrikaners hul eie huise kan bou.

Kobus ·

Werklike puik artikel. Die wanprestasie van munisipale rade sowel as die swak stand van onderwys en onderwysdepartemente , is die hoofsaak waarom ekonomiese herstel baie stadig gaan wees.

John ·

…. al meer privatiseer…. in ‘ neutedop, die herinstel van apartheid…. ‘n fantastiese beskrywing van hoekom apartheid ontstaan het en nou weer sinvol in werking gestel sal kan word indien chaos nie onder beheer gebring word nie.

Lepel ·

Hier praat ons van ekonomiese apartheid wat regoor die wereld toegepas word. Dit sal so salig wees om apart van die ANC massas wat ten gunste van korrupsie stem te leef, uiteindelik sal daar weer rus en vrede wees. Ek wens ek kon in n rykmanskompleks bly.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.