Verlede week het Omar al-Basjir se diktatorskap van drie dekades in Soedan tot ’n einde gekom. Sedert Desember verlede jaar het duisende gemotiveerde Soedanese daagliks aan betogings teen al-Basjir se regering deelgeneem. Hoewel Soedan groot oliereserwes het, is daar enorme armoede in die land.
Terwyl beide van hierdie diktators oor die jare nie geskroom het om geweld te gebruik om burgerlike opstand te onderdruk nie, was die afgelope tyd se opstande net te oorweldigend. Bouteflika se aanvanklike belofte dat hy net tot einde April as president sou aanbly was nie eers vir Algeriërs genoeg nie. Die tussentydse regering wat in Algerië aangewys is, het ’n hele paar van Bouteflika se voormalige lojaliste in hul midde en dit is duidelik dat die Algeriërs ook nie daarmee tevrede is nie. Hulle gaan nie rus voordat ’n volwaardige demokraties-verkose regering beheer oorneem nie.
Ook in Soedan het al-Basjir allerhande planne probeer beraam om aan bewind te bly. Uiteindelik was die opstande so wesenlik dat die weermag verlede week hom uit sy posisie moes dwing. Toe die Soedannese weermag voorstel dat hulle die land vir ’n oorgangstyd sou regeer, het die opstande weer vlamgevat. Die weermaghoof moes uiteindelik aankondig dat ’n burgerlike tussentydse regering wel ingestel sal word.
Dit is tans nog moeilik om te voorspel of Algerië en Soedan binnekort volwaardige demokrasieë gaan word. Dit is egter duidelik dat beide lande beter daaraan toe is as toe Bouteflika en al-Basjir in beheer was. Wat die afgelope paar weke in Algerië en Soedan gebeur het, vergelyk goed met wat in 2011 in Tunisië gebeur het. Hoewel Tunisië steeds wesenlike uitdagings het, is die land wel vandag ’n demokrasie.
In lande soos Libië en Jemen het dinge baie slegter verloop. Beide lande is vandag in oorlog gewikkel en grootskaalse lewensverlies en verwoesting is algemeen. Een belangrike verskil is natuurlik die betrokkenheid van buitelandse rolspelers. Grootskaalse vernietiging in lande soos Libië, Jemen en Irak is moontlik gemaak deur die betrokkenheid van lande soos die VSA, Saoedi-Arabië en talle Europese lande wat dodelike wapentuig en ammunisie gebruik en beskikbaar gestel het.
Wat ons die afgelope tyd in Algerië en Soedan gesien het, is hoe beide lande se burgery vanuit eie vermoë van diktators onslae geraak het. Dit is sekerlik nie altyd moontlik nie en kom soms teen ’n groot prys, maar die les wat die wêreld kan leer is dat wat in Algerië en Soedan gebeur het, soveel beter is as die wyse waarop diktators in Libië, Jemen en Irak verwyder is.
- Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.
Hoop jy is reg Jaco, maar as magte baie nader aan daardie lande as die “verraderlike” VSA en Europa hulle invloed laat geld en ‘n sekere broederskap die hef in die hand kry sal hierdie betogings min of meer die laaste wees wat daardie bevolkings ooit sal beleef. Hoop vir die beste.
Dis Suid-Soedan wat olieryk is, die islamietse republiek van Soedan waar die staatsgreep was het bitter min olie.
Jaco…ja.
Jy vergeet om te beklemtoon dat die lande wat jy as voorbeelde gebruik (waar die publiek in opstand gekom het), reeds op hul knieë is agv armoede…maw die publiek is desperaat.
Dit laat jou berig effe platval.
Nee, dit val nie plat nie. Algerie was ook nie so erg arm soos in heelwat ander lande nie. Nietemin, dis interessant dat sudan se president geval het, maar dis interessant dat die hoofstroommedia dit nie veel gedek het nie.