’n Entstof vir ons GGG-pandemie

Deur prof. Francis Petersen

Prof. Francis Petersen. Foto: UV

Dit is betreurenswaardig, maar met reg, dat die klem hierdie Vrouemaand op geslagsgebaseerde geweld gedurende die grendeltyd val. Maar in teenstelling met Covid-19, is daar reeds ’n doeltreffende behandeling teen die GGG-pandemie. En ons skole en hoëronderwysinstellings het ’n onmisbare rol om te speel in die bestuur daarvan.

“’n Oorlog wat teen die vroue en kinders van ons land gevoer word.” Dit is hoe president Cyril Ramaphosa onlangs verwys het na die plaag van geslagsgebaseerde geweld wat skynbaar ’n spieëlbeeld is van die ontstellende styging in ons besmettingsyfers tydens die grendeltyd. In die eerste drie weke van die grendeltyd het meer as 120 000 slagoffers die nasionale hulplyn vir mishandelde vroue en kinders geskakel – dubbel die gewone aantal oproepe.

President Ramaphosa se “oorlog”-verwysing is heel gepas. Wêreldvredesindeks-statistieke toon dat geweld in Suid-Afrika soortgelyk is aan geweld in lande wat in ’n oorlog- of konfliksituasie verkeer.

As dit kom by vroulike slagoffers, gaan die syfers byna die verstand te bowe: Bykans 3 000 vroue word elke jaar in Suid-Afrika vermoor. Dit beteken dat ’n vrou rofweg elke drie uur in ons land vermoor word. Ongeveer 110 vroue word elke dag verkrag. Byna een uit elke drie Suid-Afrikaanse vroue ervaar in hulle leeftyd mishandeling deur ’n intieme lewensmaat.

’n Verhaal van twee pandemies: ooreenkomste

President Ramaphosa het genoem dat die twee pandemies baie van mekaar verskil wat betref “aard en oorsaak”. Tog is daar enkele opvallende ooreenkomste.

Die eerste is dat albei almal raak. Alhoewel Suid-Afrika se vrouemoordkoers ongeveer vyf keer die wêreldgemiddeld is, is dit geensins ’n verskynsel wat uniek aan ons land is nie. Die Verenigde Nasies verwys na ’n “skadu-pandemie” wat ál 90 of so lande teister wat op inperking besluit het, aangesien vroue met gewelddadige lewensmaats oral geïsoleer en afgesonder is van mense en hulpbronne wat hulle sou kon bystaan.

’n Ander ooreenkoms lê in die vernietigende gevolge van albei pandemies. Dit veroorsaak nie net dat slagoffers ly nie; dit kring altyd wyer uit en hou ’n bedreiging in vir die mense om hulle.

Met albei pandemies is daar ’n groot verantwoordelikheid op regerings om te verseker dat hulle landsburgers beskerm word. Maar daar is ’n ewe dringende plig op landsburgers om op die uitkyk te wees vir mekaar.

’n Verhaal van twee pandemies: verskille

Afgesien van die aard en oorsaak, is daar aan die ander kant ook duidelike verskille tussen die twee pandemies: Terwyl woorde soos “nuwe” en “ongekende” gebruik word om Covid-19 te beskryf, word terme soos “verankerde” en “verduur” algemeen in verband met geslagsgebaseerde geweld gebruik.

Dit is ’n plaag wat al baie lank by ons is.

Helaas, daar blyk ook ’n groot verskil te wees in die waargenome dringendheid om die twee pandemies te hanteer. Terwyl die regering verreikende en onmiddellike maatreëls ingestel het in ’n poging om die een te bekamp en die nakoming daarvan streng gemonitor het, lyk dit nie asof die doeltreffende toepassing van wette en beleid op dreef kom om die ander een aan bande te lê nie.

’n Bekende behandeling vir GGG

Met enige pandemie lê die grootste probleem natuurlik in die vind van ’n behandeling. En terwyl die soektog verwoed voortgaan om ’n entstof vir Covid-19 te vind, lyk dit asof daar algemene konsensus bestaan dat ’n groot deel van die oplossing vir die GGG-pandemie reeds geïdentifiseer is.

Dit lê in ’n eenvoudige woord: Respek.

Wedersydse respek as teenmaatreël vir verdraaide sienings oor paternalisme, toksiese manlikheid en onderdanigheid wat dikwels die wortel van mishandeling in ons land is, en selfrespek as ’n teenmaatreël vir alkohol- en dwelmmisbruik wat gereeld met voorvalle van GGG gepaard gaan.

Respek is egter nie ’n teenmiddel wat met geweld in ’n siek samelewing ingespuit kan word nie. Respek vir jouself en vir ander mense moet van kleins af met geduld gekweek word om deel van die bevolking se DNS te word.

Die ideaal is natuurlik dat respek tuis aangeleer sal word. Maar in Suid-Afrika se droewige werklikheid van eindelose huishoudelike probleme en maatskaplike uitdagings, is respek iets waarvan klein kindertjies dikwels baie min te sien kry. Nog ’n voldonge feit is dat byna twee derdes van kinders in ons land sonder ’n pa in die huis grootword. Dit plaas oneindig baie druk op die vroue in ons samelewing wat as versorgers en broodwinners moet optree en dikwels moedig voortsukkel om te vergoed vir die afwesigheid van ’n manlike rolmodel.

Gebroke huishoudings kan eenvoudig nie oornag herstel word nie. En dit is hier waar opvoedkundige instellings verantwoordelikheid moet neem. Een van die dinge wat die Covid-19-pandemie in ons land duidelik na vore gebring het, is die noodsaaklike en veelsydige rol van ons opvoedkundige instellings. Dit is soveel meer as bloot sentrums waar akademiese kennis oorgedra word. So dikwels is dit die plekke waar maatskaplike en sielkundige behoeftes geïdentifiseer en hanteer word. In baie gevalle is dit die gom wat gemeenskappe bymekaar hou.

Noodsaaklike rol van skole en hoëronderwysinstellings

As opvoedkundige instellings moet ons hierdie rol aangryp en ernstiger as ooit daarop fokus om ’n kultuur van respek by ons studente en leerders te vestig.

Ons het te doen met jongmense op ’n tydstip in hulle lewens wanneer hulle besonder vatbaar is vir invloed. Wat hulle leer terwyl hulle deur ons deure en oor ons kampusse beweeg, sal help om die tipe volwassenes te bepaal wat hulle uiteindelik sal word.

Ons het ’n kritieke tydperk om leiding aan hulle te gee. En hier lê die kern van die saak: Respek is ’n les wat nie net geleer moet word nie. Dit moet ook gewys word.

Twee jaar gelede het die Universiteit van die Vrystaat (UV) ’n Seksuele Aanranding-reaksiespan (SART) tot stand gebring bestaande uit sake-eenhede op al drie kampusse van die universiteit. Die span werk volgens ’n vasgestelde prosesvloei om regs-, mediese en beradingsdienste aan slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te bied, en is hoofsaaklik daarop gemik om trauma vir die slagoffer te verminder. SART speel ’n beduidende rol om slagoffers te ondersteun – en bied op hierdie manier ook gemoedsrus aan die familie en vriende van die slagoffers dat die universiteit omgee en prosesse gereed het.

Ek het gereeld voorspraak gemaak daarvoor dat hoëronderwysinstellings klein mikrokosmosse van ’n ideale samelewing moet wees waar respek, verdraagsaamheid en maatskaplike geregtigheid elke aspek van ons werksaamhede deurdrenk. Dieselfde geld vir ons skole.

Ons moet vir ons leerders en studente wys hoe ’n ideale samelewing moet lyk. Hulle moet dit in al ons werksaamhede, beleid en optrede kan sien.

Hulle moet dit ervaar in die regverdige wyse waarop ons oortredings hanteer; in die afwesigheid van afknouery en voortrekkery; in werkplek-beleid wat welstand bevorder op ’n manier wat omgee uitstraal; in die manier waarop ons dialoog aanmoedig en fasiliteer deur dit moontlik te maak om uiteenlopende sienings in ’n veilige atmosfeer van respek en verdraagsaamheid te lug.

Kortom, ons opvoedkundige instellings moet ruimtes wees waar waarde geheg word aan die deelname van lede en belanghebbendes op maniere wat waardigheid en waardering verleen aan alle individue en gemeenskappe.

Respek is aansteeklik

Wat ons hierdie afgelope paar maande ook met pyn geleer het, is dat dit nie net virusse is wat soos ’n veldbrand deur gemeenskappe kan versprei nie. Vrees, agterdog en onsekerheid is net so aansteeklik. Maar so ook vriendelikheid, aanvaarding, omgee en respek.

Wat nodig is, is dat opvoeders oral die feit moet aanvaar dat respek die grondslag van ons onderrigpogings moet vorm.

Anders as met ander pandemies, kan die slagofferbasis vir geslagsgebaseerde geweld nie organies vorder tot ’n toestand van kudde-immuniteit nie. As aandag nie daaraan gegee word nie, sal hierdie skadu-pandemie net erger en erger word.

Om dit te bekamp, moet ons ’n bewuste besluit neem om die verskillende vorme van ongelykheid wat nog in ons samelewing bestaan, uit te roei en dit te vervang met wedersydse respek. En ons moet fokus op ons skole, universiteite, kolleges en opleidingsentrums.

Ons het kudde- solidariteit nodig om ons jeug weg te lei van geslagsgebaseerde geweld. Slegs dan sal ons ’n vegterskans hê om dit te oorkom.

  • Francis Petersen is die rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Ironie – Ramaphosa betreur die “oorlog” teen ons vroue en kinders tydens die grendeltydperk, omstandighede wat hy geskep het.
En presies wat is die “maatskaplike geregtigheid” waarna ons moet streef. (My definisie: Om nie verantwoordelikheid te neem vir mense wat nie verantwoordelikheid vir hulself neem nie.) Dit is nie onderwysers, dosente se verantwoordelikheid om ouers se verantwoordelik oor te neem nie, veral nie vir gedrag wat tydens die kleuterfase vasgele word nie.
Spreek die probleem by die bron van die probleem aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.