ʼn Gesonde gemeenskap het openbare ruimtes nodig

Deur Frans de Klerk 

(Foto: Magdaleen Kleynhans)

Mense is sosiale- en verhoudingswesens en moet deurlopend op ʼn opbouende wyse met ander mense in aanraking kom om geestelik gesond te bly. Weens ʼn verskeidenheid van redes, waarvan veiligheid seker die belangrikste is, raak dit deesdae vir die meeste mense moeiliker om op ʼn ontspanne en gemaklike wyse te kuier en te sosialiseer. Kinders kan nie meer self oorstap na die bure of parkie om te gaan speel nie en moet deur ouers na al hulle afsprake gekarwei word. ʼn Sosiale afspraak moet vooraf beplan en gemaak word en die ruimtes vir spontane ontmoeting in ons stedelike lewe word vir die meeste mense al hoe minder.

(Foto: Magdaleen Kleynhans)

Orania is ʼn veilige Afrikanergemeenskap waar kinders nog skool of swembad toe loop en vryelik kan gaan speel, draf of aan sport deelneem. Self in die aand, sonder vrees, funksies en geleenthede kan bywoon en daarna huis toe stap of fietsry. Sypaadjies, speelparkies, sporttereine en die dorpswembad is voorbeelde van openbare ruimtes waar kinders op ʼn gesonde manier mekaar kan ontmoet en speel en inwoners ʼn wakende oog oor sy jongmense kan hou.

Ook vir volwassenes bied Orania se openbare ruimtes ʼn veilige ontmoetingspunt. Of dit nou is wanneer iemand gaan stap, by kultuurgeleenthede, inkopies doen of gaan uiteet. In die openbare ruimtes vind ontmoetings plaas buite die bekende familie- of vriendekring. So word bande versterk, raak mense betrokke bymekaar en word die gemeenskap versterk.

(Foto: Magdaleen Kleynhans)

Een geleentheid elke jaar in Orania wat ook binne ʼn openbare ruimte (in die parkeerterrein voor die dorpswembad) plaasvind en waarna die hele gemeenskap uitgenooi word, is die straatfees. Tydens hierdie geleentheid, wat gewoonlik in Desember plaasvind, word tafels en bankies uitgepak en elkeen bring sy eie kosmandjie en drinkgoed. Die kos word op ʼn paar gedeelde tafels uitgepak en elkeen kan skep waarvoor en vir hoeveel hy lus het. Daar word tot laat gekuier en bestaande vriendskapsbande word verstrek en nuwes word gesmee.

Die jaarlikse straatfees is net een voorbeeld van ʼn gebeurtenis in ʼn openbare ruimte en wat toeganklik is vir elke inwoner om by te woon. So word Orania ʼn plek wat vir Afrikaners hoop gee in ʼn tyd van toenemende uitsigloosheid.

(Foto: Magdaleen Kleynhans)

Orania word ʼn plek waar Afrikaners kan tuiskom en waarlik gemeenskap ervaar. ʼn Plek van hoop, wat die moedeloosheid wat baie van ons mense beetgepak het, kan verdryf. ʼn Plek waar konflik kan plek maak vir vrede, waar erkenning die antwoord op miskenning kan wees, die waarheid die leuen kan vernietig, waar inisiatief beloon kan word en stagnasie nie verdra word nie en volhoubaarheid die strewe kan wees terwyl vermorsing beperk word.

(Foto: Magdaleen Kleynhans)

In Suid-Afrika ervaar Afrikaners vandag bedreigings op vele terreine. Aan baie van hierdie werklikhede kan nie veel verander word nie. Waaroor Afrikaners egter wel beheer het, is hulle reaksie, antwoord en optrede hierop en die benutting van die geleenthede wat hieruit ontstaan. Dit is hierin wat Orania ʼn antwoord bied. Om te midde van verval en agteruitgang weer ʼn hoopvolle, vrye, welvarende en vol bestaan vir Afrikaners te kan bied waarvan hulle kan deel word en saam kan bou.

Orania is reeds die plek vir naby aan 3 000 Afrikaners. Die volgende groeifase het reeds begin. Hier is plek vir baie meer!

  • Frans de Klerk is hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Dit lyk baie aantreklik en ek sal graag daar woon net iets waaroor ek lankal wonder en dalk kan iemand antwoord, hoeveel broederbond is daar?

Delia ·

Wel Johan, net vir daai paar inwoners is daar n hele paar verskillende kerke.

Republikein in die Wes Kaap ·

Gaan nogal rof word sodra 2.5 miljoen mense daarheen trek.

Kirst ·

Hulle sal nog inwoners moet kry van buite af om inteling te voorkom. Die ander probleem met Orania is dat dit in die middel van nerens is. Verder bewonder ek wat hulle daar reggekry het en steeds regkry.

Anna-marie ·

Alles kom maar terug op die ou end volgens hoe natuurwette werk. Om tussen jou eie mense te bly is een daarvan.

DapperWoef ·

Die een GROOT probleem met Orania?

Jy moet eiendom koop om daar te bly. Goed. Geen probleem

Maar, volgens vriende wat so jaar of wat terug daar gaan kuier het, is die eiendomspryse te hoog vir my en ander middelklas burgers om daar te gaan bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.