’n Goeie jaar vir SA ondanks uitdagings

Deur Mercy Kannemeyer  

(Foto: Christophe Ena, AP)

Dit was ’n goeie jaar vir Suid-Afrika. Afgesien van talle uitdagings, waarby ek oor ’n rukkie sal uitkom, het ons land as geheel vanjaar vele mylpale bereik. En indien jy probeer om ’n optimis te wees ten midde van talle omstredighede, is dit altyd aangenaam om ’n bietjie te reflekteer.

Een van die vele suksesse vanjaar, is natuurlik die Wêreldbeker-rugbytoernooi. Ek en ’n paar van my vriende het ’n rugbypartytjie gehou. En alhoewel die helfte van ons net daar was vir die braai en kuier, het ons nogtans in die feesvieringe gedeel deur op die TV te skree en op en af te spring toe daardie eindfluitjie blaas. Dit het gevoel soos die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi. Vuvuzelas in die strate, karre wat toet, mense wat in die straat kom staan om die landsvlag te wapper, fluitjies wat blaas, en net ’n oorheersende gevoel van harmonie.

Mej. Suid-Afrika, Zozibini Tunzi, is die nuwe Mej. Heelal. Foto: Miss SA/Instagram

Nog ’n oorwinning is dat Mej. Suid-Afrika Zozibini Tunzi onlangs as Mej. Heelal gekroon is. Zozibini is ’n beeldskone weerspieëling van die krag en deursettingsvermoë wat in ons vroue opgesluit is. Sy glo in leierskap en wil alle vroue – oud en jonk – aanmoedig om nie vir niks terug te staan nie.

Dan, ’n kleiner storie wat groot nuusdekking ontvang het – #KFCProposal. Hector Mkansi het besluit om in KFC op sy knieë te gaan en sy meisie, Nonhlanhla Soldaat te vra om te trou. Blitsvinnig het Suid-Afrikaners en ander maatskappye ingespring om die paartjie te help om hul droomtroue te beplan. Vir ’n paar dae is die liefde gevier en hierdie storie was ’n perfekte voorbeeld van hoe ons land kan saamstaan.

Die Ndlovu-jeugkoor tydens hul finale optrede. (Foto: Skermgreep uit die video)

Die Ndlovu Jeugkoor het die hele pad van Limpopo gereis om aan America’s Got Talent te gaan deelneem. Die koor loop oor van talent en hul nederige storie van hoop stel menige van ons in staat om weer te begin droom.

En dan is daar ook die Facebook-groep #ImStaying wat tans meer as 900 000 aanhangers het. Op hierdie groep deel Suid-Afrikaners hul stories van hoop, samesyn en lig vir die toekoms van ons land. Daar is natuurlik diegene wat dink die groep is naïef, want dinge gaan dan so sleg in Suid-Afrika, so hoe durf mense positief wees? Natuurlik besef die optimistiese mense dat daar vele dinge in ons land is wat nie werk nie, maar deur positief te wees, streef hulle daarna om hul lig te laat skyn, in plaas daarvan om in die donker vasgekeer te sit.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Gepraat van die donker – President Cyril Ramaphosa se New Dawn lyk nie baie nuut op die oomblik nie. Vele uitdagings staar ons land nog in die gesig, soos Eskom, korrupsie, moord, verkragting, geweld op vroue en kinders, plaasaanvalle, waterskaarste, onenigheid in die parlement, swak leierskap, om maar enkele probleme te noem .

Ek wil nie sê “afgesien van al die moeilikheid wat met ons gebeur, kan ons nog steeds x en y en z” nie, want ons moet ook realisties wees. Ek wil wel sê dat dit ’n goeie jaar vir Suid-Afrika was as ons na al die goeie prestasies kyk, en ek hoop dat ons geïnspireer kan word daardeur en ons sokkies optrek om hierdie land ’n beter plek te maak. Die onus rus op ons almal.

  • Mercy Kannemeyer voltooi tans haar meestersgraad in drama en teaterstudies aan die Universiteit Stellenbosch.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Spiekeries ·

Nampower in Namibia verklaar dividende aan die plaaslike regering maar Eskom in SA staan bakhand vir miljarde?? Dit spreek vanself!!

Anti Da ·

As die sogenaamde reenboog nog nie op die horison verkyn het nie …. Eskuus droom maar verder.

MTSteyn ·

Verbeel ek my, of het daar in die ou Sowjetunie gereeld sulke kommentare verskyn waarin bv. die sportprestasies van die Moederland gelys is.

Ek wonder so by myself wanneer die FaceBook groepie nou uiteindelik die getal Afrikaners wat reeds oorsy bly, in getal gaan oorskry. Volgens Solidariteit se eie navorsing is dit lankal reeds meer as ‘n miljoen van my volk wat permanent oorsee woon.

Erik ·

Sal graag daai statistiek wil kry? As jy ‘Afrikaner diaspora’ google is dit nie naastenby ‘n miljoen nie. Ja, ‘n miljoen Suid-Afrikaners, maar verseker nie Afrikaners nie.

André André ·

Die graderings agentskappe en die mark het dit anders gesien. Die ekonomie het ons in die steek gelaat, en natuurlik die oorsaak daarvan.

ANE ·

Jaaa, ek is by my volle possitiewe.. Ek is gegradueerd, maar ek is reeds te oud, om die hasepad te kies! Dus gaan ek BLY, met of sonder die ANC, eskom of SAL! Ek weier, om negatief te dink, ek weier dat “ANDER MENSE” my lewe… vergal, met hul onkunde en haat! MY LOT lê in Sy Hande, my Koning Lewe, Hy Sal Sorg en Hy Sal Voorsien! Ek hou vas aan my GELOOF, ek houvas aan Hom! Tot dan, SPREEK ek lewe oor SA, tot dan, gaan EK ń verskil maak! Tot dan BID ek vir Sa en sy inwoners! Eks betrokke by ons plaaslike buurtwag, koördineer ń noodbystandgroep, samel fondse in vir ons boere wat swaarkry, HELP waar ek kan!

Sic? ·

Die wie maklik gekom het sal ook weer maklik gaan . As die voorouers gekom het vir die goudstormloop , nou is die goud net elders
Wie hiernatoe gevlug het vir hul geloof , hulle sal bly vir daardie selfde geloof . Daar is nerens om heen te gaan nie . Openbaring , benoudheid wat oor die hele aarde kom .

John ·

Sport en sang, skoonheidskonginne en wha-wha-goody-goody internet met toue mense met waterbottels voor waterwinkels en plakkershuise op die vloedlyn wat wegspoel en staatsentiteite op die drumpel van ondergang… Alles is wonderlik… Nee wat, net te te positief vir voor die begin van die 20/20-wedstryd.

Denise ·

ek weet van n spaza shoppie, wat prozaks v swaarmoedigheid verkoop…

Sê net ·

Watter positiewe uitkyk op die lewe! Elke dag is seker gevul met vreugde vir jou!

Dawid ·

Welgedaan Sa presteerders, ongeag, al jul probleme, swaarkry staan julle uit. Ons het meer mense soos julle, nodig in ons land. TROTS SA!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.