‘n Joernalistieke prys vir Koos Bekker?

Koos Bekker

Koos Bekker

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se bekroning van Koos Bekker, uitvoerende hoof van Naspers, is ’n pyl in my joernalistieke hart.

Toe ek die toekenning bevraagteken het, het die Akademie se hoofsekretaris my ewe meegedeel dat dit nie vir sy joernalistieke bydrae is nie, maar vir sy werk as bedryfsleier. Dankie, ek verstaan die verskil tussen die Marcus Viljoen- en Frans du Toit-pryse.

Die voorsitter van die Akademie het my beswaar ook maklik en burokraties afgemaak: ’n Komitee het diep besin en tot die besluit gekom. Ek is seker hulle het.

Ons almal weet dat Koos Bekker van Naspers ’n internasionale speler gemaak het en in die proses ’n miljardêr geword het. Dat hy dit op die rug van ’n maatskappy (Nasionale Pers) gedoen het wat van 1915 baksteen vir baksteen opgebou is ter wille van ’n saak en nie die geld nie, is nie nou weer ter sprake nie. Daaroor het ek al op hierdie webblad geskryf.

Wat my opval is dat ek geen joernalis ken wat positief oor Koos Bekker se hantering van Media24 en sy publikasies praat nie. Kritiek is daar baie. Dié wat dit wel goedpraat, sit waarskynlik in bestuursposisies en ontvang baie gerieflike salarisse en aansporingsaandele.

Is die ongelukkiges dalk almal verkeerd? Hoe is dit dan dat ’n hele string ervare joernaliste op vervroegde pensioen is terwyl Koos skatryk word? Hoe is dit dat ’n redakteurskap nou ’n korttermynloopbaan is? Is dit onwaar dat Koos inmeng by publikasies se beleid? Is dit onwaar dat hy senior redakteurs soos skoolkinders stilmaak en uit sy kantoor stuur om “weer te dink”?

Was dit onbillik om te verwag het dat hy die Boekehuis sou red van sluiting? En is daar regtig ’n goeie rede waarom hy Van Schaik-boekhandel vir ’n potjie lensiesop laat verkwansel het?

’n Mens kan hierdie soort vrae vermenigvuldig met vrae oor die samesmelting van Rapport en Beeld se redaksies, of oor die wegdoen met redakteurs by koerante soos Paarl Post en Eikestadnuus. Alles in die naam van doeltreffender bestuur en oorlewing, maar telkens ten koste van gehalte.

Naspers

Naspers

In sy “roman” (wat op die werklikheid by Naspers gegrond is) het Jaco Kirsten by implikasie ook ’n duisend vrae gestel. Billike vrae. Pynlike vrae. Vrae wat jou laat wonder oor die ryk wat Koos gebou het. Nee, vrae oor die wyse waarop die ryk gebou is en die prys wat dit gevra het.

Maar dis dalk alles bog. Koos is ’n genie, en basta. Dalk ’n selfgesentreerde, soms bombastiese genie, maar ’n genie. Hy verdien pryse. Ook van die Akademie. Hy praat mos darem Afrikaans.

Kyk jy na wat Bekker self skryf oor die doen van besigheid, is vrae oor sy hantering van Afrikaanse joernaliste nie ’n mens se enigste kommer nie. As dit dan spesifiek hier gaan oor die toekenning van ’n prys vir bedryfsleiding, is sy sakefilosofie sekerlik ter sprake.

Luister weer wat skryf hy in Rapport van 5 Mei 2012 onder die opskrif Watter ou kies jy as goalie?

“Hoekom maak sakelui sulke vrot politici uit?

“Miskien lê dit diep in die gene. Sakelui is selfsugtig. Hulle skep strukture om geld te maak. Niks daarmee verkeerd nie, soos Adam Smith besef het, mits almal binne die wet bly. Laat elkeen op sy klein en gierige, maar wettige, manier geld najaag en in die proses werk skep: Sodra hy wins maak, belas ons hom in elk geval rojaal.

“In teenstelling hiermee dien ’n politikus sy medemens. Hy of sy word verkies om nie selfsug na te jaag nie, maar om die gemeenskaplike saak namens ons almal te dien.”

Dat Bekker hierdie valse teenstelling gebruik om (ten regte) aan te toon hoe sommige skelm politici in Suid-Afrika by die sakewêreld betrokke raak (en hulle sakke vul) is nie die punt nie.

Hy erken skrikwekkend eerlik dat die bestuur van ’n groot maatskappy (soos Naspers?) nie vir hom ‘n “edele” saak is nie. Eerlike politici kan wel (vir min geld) die gemeenskap dien en dalk met ’n bronsstandbeeld vereer word. Moet net nie vir ’n sakeman (soos Bekker?) vra om die gemeenskap te dien deur doelwitte anders as geld na te streef nie. Nee, sakelui dien dieselfde god as Adam Smith. (En nou is dit so dat omtrent die hele wêreld vandag weet dat naakte kapitalisme ons na die afgrond gesleep het.)

Desondanks gee ons tog aan Bekker eregrade en ’n belangrike prys van die Akademie. Dalk ook eendag ’n bronsbeeld voor die Naspers-sentrum?

Waarom? Hy het tog sy loon weg. En as jy talle joernaliste met binne-inligting moet glo, is sy optrede jeens die joernalistiek allermins bekroningswaardig. Sy bedryfsleiding het dalk baie wins opgelewer, maar op kulturele vlak staan dit erg in die skuld.

Wanneer die Akademie dan aan Bekker ’n prys toeken, stem ek nie saam nie en distansieer ek my as lid totaal daarvan. Wanneer die Akademie boonop sy nuusbrief uitstuur met Bekker in kleur op die voorblad, ontstel dit my en voel ek vervreemd.
Dan gooi ek die lidmaatskaprekening wat in dieselfde koevert gekom het in die asblik. Van hierdie spel sonder waardes wil ek niks meer weet nie, dankie.

Toegif

Vir diegene wat ’n stukkie Engels op Maroela Media sal verduur, gee ek as toegif ’n uittreksel uit kollega Hannelie Booyens se Facebook-reaksie op ’n stuk wat prof. Anton Harber van Wits oor Bekker gedoen het:

“It doesn’t seem as if Harber put much effort into getting in-depth perspectives from sources that are not sycophantically attached to the Big Man . . .

“The fact is for KB it’s always been more about profits than enabling or promoting quality journalism. I suspect if you ask him bluntly he may even admit his sentiments about preserving Afrikaans are also purely based on monetary considerations (sustaining a viable market) . . .

“Harber (also) fails to show how the position of an influential media magnate becomes problematic when he starts meddling in politics and actively tries to sway power structures at independent entities such as universities in order to preserve a very specific power base. And if you use your position at the top to shield your fellow Afrikaans Renaissance Princes of the corporate elite against negative media coverage (while overseeing a monolithic media empire fiercely critical of state corruption) you can be expected to answer some hard-hitting questions. But not in this case . . .

“Yes, Koos is a genius with money and he is very much responsible for the rise and rise of Naspers as a massively wealthy global company. But the elephant in the room is that under his watch the same cannot be said about journalism. It is not unthinkable that Koos’ name will come up in fifty years’ time when someone bothers to write about ‘the decline and decline’ of quality journalism in South Africa . . .

“The sad fact is many good people who have left Media24 in recent years did so because of the toxic management style and unbearable working conditions . . .”

* Froneman sê die standpunte wat hier uitgespreek word is uiteraard sy eie en word onder die sambreel van ons grondwetlike reg tot vryheid van spraak en akademiese vryheid gedoen.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Johannes Froneman

Meer oor die skrywer: Johannes Froneman

Prof. Johannes Froneman is hoogleraar in kommunikasiestudies aan die Noordwes-universiteit (Potchefstroom), en verteenwoordig die Demokratiese Alliansie in die Tlokwe-stadsraad, Potchefstroom.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

johannes Froneman ·

Die artikel onder die opskrif Joernalistieke prys vir Koos Bekker? is deur my geskryf, maar ek het nie daardie (foutiewe) opskrif voorsien nie. Bekker het geen so ‘n prys gekry nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.