’n Nuwe Afrikaner werklikheid

Afrikaner

Argieffoto.

Deur dr. Morné Diedericks

In 1994 het ’n nuwe politieke orde in Suid-Afrika begin. Die nuwe politieke orde is deur die Afrikaners op hoofsaaklik drie wyses omhels naamlik, integrasie, emigrasie en die skep van ’n nuwe Afrikaner-werklikheid.

Ná 24 jaar kan ons seker sê dat die mentaliteit van die magtige Afrikaner nou tot ’n staat van nederigheid gebring is. Die behoefte vir die Afrikaner om oor die hele Suid-Afrika te wil regeer, het verdwyn. Die nostalgie van die ou-Suid-Afrika het uitgesterf en die nuwe nederige Afrikaner staan nou weer eens voor groot toekomsvraagstukke. Die wat wou emigreer het gegaan en sommige het weer teruggekom, die wat wou integreer het gesukkel, omdat hulle nie hul Afrikanerkultuur en -waardes kon afsterf nie. En die skep van ’n nuwe Afrikanerwerklikheid het op kleinskaal gebeur deur Afrikaner-instellings.

Die toekoms en die voortbestaan van die Afrikaner is die afgelope paar maande weer oopgekrap deur die gerugte van grondonteiening sonder vergoeding. Die gerugte het in ’n werklikheid verander ná die ANC se afkondiging op 31 Julie oor die ondersteuning van die wetverandering ten opsigte van grondonteiening sonder vergoeding. Die verskillende interpretasies van wat die wetverandering beteken en hoe dit verstaan moet word, is legio.

Die feit van die saak is dat beleggers nie belangstel om te belê in Suid-Afrika nie, aansoeke om emigrasie het toe geneem en ’n algehele paniekerigheid oor die toekoms van die Afrikaner in Suid-Afrika is aan die orde van die dag.

Net soos in 1994 staan die Afrikaner weer aan die begin van ’n nuwe politieke orde met die drie opsies van integrasie, emigrasie en die skep van ’n nuwe Afrikanerwerklikheid. Die Afrikaner het gelukkig die afgelope 24 jaar waaruit ons kan leer.

Eerstens is die naïwiteit aangaande integrasie minder en mense vertrou nie meer die propaganda van die huidige politici nie. Buitendien is integrasie in ’n vooruitstrewende land beter as in ’n land soos Suid-Afrika waar ekonomiese agteruitgang die voorland is. Tweedens is voor- en nadele van emigrasie reeds beproef en weet mense ook tot ’n groter mate waarvoor hulle hulself inlaat. Albei hierdie opsies van integrasie of emigrasie kan tog nie die oplossing wees vir die voortbestaan van die Afrikaner nie, omdat die Afrikaner per definisie daardeur sy identiteit opgee.

Die derde opsie, die skep van ’n nuwe Afrikanerwerklikheid lyk ook in 2018 anders as in 1994. Die Afrikaner is baie nederiger en selfs die kleinste politieke werklikheid waar ons oor onsself kan regeer, lyk al vir ons aantreklik. Afrikanerinstellings wat oor hulself regeer (soos dié wat opgerig is deur die Solidariteit Beweging) het nuwe momentum gebring aan die nuwe Afrikanerwerklikheid. As ons maar net dink aan ’n dorp soos Orania wat vroeër jare slegs die nuus gehaal het oor hul agterlike gedagtes en geïsoleerde visie. Ewe skielik het die dorp verander in ’n lewensvatbare ekonomiese dorp wat deur duisende toeriste jaarliks besoek word en die media haal omdat die dorp netjies en veilig is. Verder tree die dorp se leierskap in gesprek met ander leiers wat nasionale en internasionale aansien geniet.

Die nuwe Afrikanerwerklikheid gaan binne die volgende 24 jaar vanuit sy nederige posisie van selfregering en selfbeskikking ’n konsentrasiestrategie moet volg waarin die beginsels van ’n dorp soos Orania toegepas word. Hierdie beginsels sluit in selfregering en gesonde verhoudinge met belange partye.

  • Dr. Morne Diedericks is die akademiese hoof van Aros.
  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Alklaar ·

Dit het reeds begin. Eureka eerste veiligheidsdorp naby Garies. Daar IS hoop vir die blankes in Suid-Afrika. Gaan kyk gerus op fb en sluit aan.

Gemaskerde Sopbeen ·

Tog jammer dat ons nie die regering van die dag kan motiveer om apartheid in sy volle omvang om te keer, en AL die blankes van SA toe te laat om te herverstig in die voormalige TBVC lande nie. Die wat dan in SA wil werk kan so doen, verblyf huur, met ‘n dom pas rondloop, geen eiendom hier besit nie…………en ook geen belasting aan die staat betaal nie. 5 miljoen blankes in Transkei, Bophutatswana, Venda en Ciskei………sal binne 5 jaar ontwikkel tot selfregerende entiteite….met eie infrastruktuur, polisie, weermag, universiteite, skole, hospitale en industriëe van wêreld standard. En die regering kan, soos in die ou SA, ook elke jaar so R100 miljoen oorbetaal vir “aparte ontwikkeling”……

Rupert Ashford ·

Laat jy my nou ver verlang paaie loop met jou opmerking oor die 100 miljoen.

Celtis Africana ·

Pragtige samevatting van sleutelkwessies en die pad vorentoe vir die Afrikaner.
Die leiers is reeds daar.
Samewerking tussen die verskillende Afrikaner entiteite gaan toenemend onontbeerlik raak in hierdie saak.

Richard ·

Dit is bemoedigend hoe manne (en vroue) met ware intrigiteit na vore tree en opstaan vir Afrikaner belange. Dit is nodig dat hierdie leiers hul groter verantwoordelikheid teenoor die afrikaner welstand in die algemeen besef, hande vat en in kragdadige eenheid en gemeenskaplike visie die afrikaner potensiaal tot selfbeskikking laat realiseer.

Nel ·

Ons kan. Ons het al voorheen na moeilike tye weer as ‘n volk opgestaan.

Dit herinner my aan Totius se gedig, ‘Vergewe en vergeet’ waarin hy die geknakte doringboompie met die verslae Afrikanervolk (na die Tweede Vryheidsoorlog) vergelyk;
“Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom”

Jerry ·

Dit het gewerk vir Orania omrede daar nie baie selfaangestelde leiers was nie en die volgelinge ingekoop het by die leier se realistiese en lewensvatbare visie en manier van dinge doen wat gerig was op n nederige benadering met gesonde verhoudinge met alle belanghebbende partye. Die leier en volgelinge het met niemand skoorgesoek nie, niemand gedreig en niemand se goeie intensies bedreig nie. Hulle het geen ondermynende inisiatiewe teen die magshebbers van stapel gestuur nie en hulle volgelinge nie n teiken van vergelding gemaak nie. Hulle het nie staatgemaak op lede getalle deur halwe waarhede wat dit ten doel het om mense paniekerig te maak, te versprei nie. Hulle ly ook nie aan grootheidswaan nie en koester nie n duistere politieke agenda nie. Hulle respekteer en kraak nie opinies af van diegene wat van hulle sienings verskil nie. Hulle gun elke persoon sy plekkie in die son en werk saam om oplossings te vind vir gemeenskaplike uitdagings. Hulle besleg verskille en beskerm belange op n respekvolle wyse. Hulle lewe in harmonie met mekaar en met ander groepe. Hulle eien hulself nie erkenning toe van ander persone se breinkrag en werkbare idees wat deur brainstorming sessies bekom word nie. Hulle het alles wat hulle vermag het bekom deur te staan in nederige afhanklikheid en erkentlikheid aan God, en leef en laat leef met hoop, liefde, geduld, onbaatsugtige diens, deur geregtigheid en samehorigheid en nie deur grootpraterigheid of verwaandheid nie en ook nie deur boek te hou van die kwaad nie!

waco ·

Net een regstelling. Solidariteit was nooit n voorstander van selfbeskikking nie. Hulle het altyd gese ons moet die sisteem waarin ons is maak werk. Die organisasie wat al sedert 2007 hulle beywer vir selfbeskikking is die Volksraad verkiesing kommissie . Dit is maar onlangs wat Solidariteit betrokke geraak het by Oania.

gert Prinsloo ·

Ongeag die verlede, vat die mooi uit die verlede saam en bou daarop vir n beter toekoms in smewerking met instansies soos Solidariteit, Afriforum ens. wat dieselfde selfbekikkingswaardes deel. Die Afrikaner se toekoms is gesetel in ons geloof en vertroue in ons GOD, die GOD van Abraham, Isak en Jakob, die GOD van Israel. n Gelowige en ongelowige kan nie indieselfde juk trek nie en alle godsdienste is NIE GELYK nie. Die Heilige GEES moet vertrou word om ons te hulp te snel om te kan onderskei tussen waarheid en leuens. GOD het my kinders aan my toevertrou om hulle binne Sy wil en vir Sy Koninkryk alleen op te voed, beslis nie n regering nie.

Die Woord se ons moenie op mense vertrou nie, nie op mense in hoe posisies nie, GOD alleen!

Genade en seen

AttieNo1 ·

Baie goed gestel! Selfbeskikking is of moet die proses na die eindbestemming wees nie die eindbestemming self nie, dit mag dalk vreemd klink maar anders sit jy met die volgende eksistensiële krisis. Die Orania plan is die beste en moet oor tyd uitgebou word, die laaste ding van ʼn volkstaat wat jy wil hê is nog ʼn parasitiese staat, nee dit is die antitesis van selfbeskikking. Ek onthou Orania toe daar so 700mense gebly het, met my laaste vakansie daar skat ek hulle is nou naby aan 2000. Maar ja dit vat tyd ek hoop ek lewe lank genoeg om die 10,000 inwoner merk te sien. En ja Kleinfontein en Garies gaan ook groei.

Francois vRvO ·

Stem saam met jou AttieNo1, Selfbeskiking is nie die eindbestemming nie en dit is ook nie om apartheid terug te bring nie , net ‘n tussenfase om die koring van die kaf te skei.
Die uitdaging gaan wees om al die leierskrisise tussen Afrikaners eers uit te sorteer.
Ons weet daar gaan ‘n populasie ontploffing wees sodra een van die leiers hulle hande gaan opsteek en die huidige voetslepery is as gevolg van onnodige binnegevegte oor wie in beheer van hierdie populasie ontplofing moet wees.
Intussen moet ons ons wortels begin uittrek en Die Vader se stem begin ken om te sien wie kan ons vertrou en wie wil net geld maak uit ons lojaliteit teenoor ons volk.

Gerhard ·

Die nuwe werklikheid sal baie gouer as 24 jaar moet werklik word op ‘n skaal baie groter as Orania. Dit daar gelaat. Dis nou (en eintlik nog altyd) die enigste antwoord. Ek dink egter die kopskuif wat gemaak moet word vir die groter Afrikanerbevolking sal ‘n groot een wees om te maak en daar moet minder alternatiewe “antwoorde” opgetower word vir mense wat graag en maklik sal glo in maklike “oplossings”. Dit beteken daar sal dalk ook ‘n kopskuif binne sommige Afrikaner organisasies moet plaasvind.

Niksnuuts ·

HA HA HA HA- Terug appartheid toe! Net n nuwe naam -Selfbeskikking

Gerhard ·

Apartheid en selfbeskikking het niks met mekaar te doen nie.

Piet ·

Ek probeer nie te beledig nie, maar ek het al dikwels gesien dat iemand lag wanneer hy / sy histeries raak. Ek weet nie of dit is wat in jou geval nou gebeur nie. As jy lag omdat jou lewe enige minuut geweldadig tot ‘n einde kan kom dan het ek begrip. Wat selfbeskikking betref kan jy maar enige etiket om dit hang wat jy voel nodig is. Ek is seker op een of ander gebied is jy reeds deel van dit. Privaat hospitale, privaat sekuriteit, sekuriteits behuising, privaat skole, selfs privaat vervoer is alles voorbeelde van selfbeskikking, ma.w die effek van ‘n regering wat nie meer werk nie.

Peet J ·

Die vorige bedeling onder Dr. Verwoerd se beleid was een van ordelike interne dekolonisasie aparte vryhede vir die verskillende etniese groepe in hulle eie gebiede en ontwikkeling volgens hulle eie spesifieke behoeftes en uiteindelik oorheersing van een groep deur ‘n ander uit te skakel.
Na 24 jaar het die Afrikaner se (mentaliteit) verstandeliksvermoë beslis in opstand gekom asgevolg van demokrasie wat as ‘n agterbakse faktor voorgehou is deur die vorige regering en op so ‘n slinkse manier die Afrikaner te elimineer van sy kulturele betrekkinge. Selfbeskikking vir die Afrikaner was reeds d.m.v. die Akkoord met die ANC regering mee onderhandel , aanvaar en onderteken gevolglik kan op die ooreenkoms onmiddellik voortgebou word. Na nog 24 jaar sal die voortbestaan van die Afrikaner geskiedenis wees sou selfbeskikking nie vinnig realiseer nie .

apie ·

Al die kommentaar hierbo is sinvol saam met die hoof artikel. As mens in hierdie land wil leef moet jy nederig en ordentlik wees. Jy moet vergeet daarvan om spoggerig te wees

Alan ·

Eers het die Wes-Kaap ‘n ongekende uitbreiding beleef. Duisende binnelanders het verhuis na ‘n beter omgewing met beter dienste. Ek sal nie oor die see kan verhuis as die nood dit genoodsaak nie. Dan maar die Noord-Kaap, die Karoo, Orania of Namibië.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.