ʼn Nuwe, beter wêreld wag ná Covid-19

(Foto: pixabay)

Dit is in die aard van die mensdom dat wanneer dinge goed gaan, mense dink dat dit sal aanhou goed gaan, en wanneer dinge sleg gaan, dink mense ook dat dit altyd sleg sal gaan. Daarom is dit verstaanbaar dat mense in die tyd van ʼn wêreldwye pandemie moedeloos op ʼn donker toekoms sit en wag.

In werklikheid lei groot krisisse egter meestal tot beter tye. Dit is asof rampe juis die mensdom aanspoor om sy skeppende energie in te span om van die wêreld ʼn beter plek te maak. Kyk maar na die Afrikaner se eie geskiedenis. Die eerste 20 jaar van die vorige eeu – 1900 tot 1920 – was ʼn verskriklike swaar tyd. Dit het begin met die verwoestende Anglo-Boereoorlog en die grootskaalse armoede daarna. Ons het ons vryheid verloor en is as kolonie by die Britse Ryk ingelyf. Dit is deur ʼn burgeroorlog én ʼn wêreldoorlog in 1914 gevolg, met die Groot Griep van 1918 daarna. Ramp op ramp, maar tog was dit ook ʼn tydperk van ongekende opbou. Afrikaners het uit die verbrande aarde opgestaan en talle maatskappye, vier universiteite, skole, hospitale, welsyns- en kultuurorganisasies, Afrikaans as moderne taal, kerke en die Helpmekaar-beweging opgebou.

Dekades van voorspoed

Dieselfde het ná die Tweede Wêreldoorlog gebeur. Paul Samuelson, bekendste Amerikaanse ekonoom van daardie tyd, het verkeerdelik voorspel dat die terugkeer van derduisende soldate en die staking van oorlogsproduksie miljoene mense werkloos sou laat. Hy het donker tye vir die wêreld voorsien. Selfs die magtige VSA se geld was op en die verwoeste Europese state sou nie hul bevolkings kon help nie. Maar daar gebeur toe net mooi die teenoorgestelde. Die Westerse wêreld het drie dekades van ongekende groei en voorspoed beleef!

Daar was verskeie redes hiervoor. Die oorlog het tot ʼn ontploffing van nuwe tegnologie, soos rekenaars, gelei, wat weer ʼn groot verbetering in produktiwiteit tot gevolg gehad het. Gesondheidsorg het drasties met vindingryke middels soos penisillien en talle nuwe behandelingsmetodes verbeter. Nuwe ekonomiese stelsels het ontstaan, werklose soldate is op groot skaal heropgelei, en verbruikersbesteding het ná die swaarkry van die oorlog die hoogte ingeskiet. Die toetrede van vroue tot die werksmag het die arbeidsmark verder vergroot.

Weerlig en reën

Die belangrikste bestanddeel van die oplewing was seker dat mense ná die lang tyd van militêre gesag weer vry van staatsdwang wou wees. Derduisende het hul eie ondernemings begin, of hul skeppende energie gebruik om lewens te verbeter.

Rampe is baie sigbaar en hoorbaar, soos weerlig en donderstorms. Positiewe ontwikkelings is meer soos sagte reën – minder opmerklik, maar meer blywend. Dit is hoekom mense op krisisse oorreageer en op positiewe nuus onderreageer.

Covid-19 en die harde inperkings het baie lewens en die lewensmiddele van derduisende mense ernstig geraak. In Suid-Afrika het dit ʼn bestaande ekonomiese en staatskrisis bykans in ʼn ramp verander. Die swak, korrupte en rassistiese ANC-regering het ʼn breuk met talle Afrikaners veroorsaak. Ons is op ons eie. Ons weet nou dat ons sélf ons toekoms moet skep. Dit is ʼn benouende wete, maar terselfdertyd bevrydend. Ons was al daar, en ons is steeds hier. Ons sal weer bo uitkom.

ʼn Boer maak altyd ʼn plan.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris dupreez

Vir seker

Werner

Flip Buys is darem ‘n uitskieter in terme van Afrikanerleierskap. Hierdie artikel is, nes al sy skrywes, vol realiteit, intelek en veral praktiese hoop. Dankie, Flip.

Lees gerus Flip se boek, Die pad na selfbestuur

Schalk

En so kan die geskiedenis van die mensdom getuig van krissise wat uiteindelik in positiewe groei en geleenthede omskep word. Die geheim is om jouself eers te bevry van dinge wat jy nie kan verander nie soos die politieke inmenging en korrupsie. Daar is soveel maniere om baie van die ” rooi band ” te omseil en te vermy. “Don’t waste time on things you can’t change.

jeff

Seker sal daar ‘n wereld na die Wuhan pandemie bestaan maar dit sal ‘n treurige ding wees.

CA

Ek wil nou nie reën op die Afrikanerparade nie, maar daai 3-dekade (en langer) oplewing was volgens my verstaan grootliks te danke aan die oorskakeling na goedkoop en volop olie-energie wat agter al daai mooi dinge (nuwe tegnologie, produktiwiteit, gesondheid, opleiding, groeiende salarisse/besteding) sit. En nou is energieproduksie – en dié van baie ander belangrike hulpbronne – op ‘n afdraende pad. En globalisasie veroorsaak pandemies. En die wêreld raak letterlik warm. So ons tradisionele boereplanne gaan nie help nie. En ons jongmense moenie ‘n rat voor die oë gedraai word nie: die “sondes van die vaadre” haal ons in. Ekonomiese… Lees meer »