’n Onwaarskynlike held in die gronddebat

Koning Goodwill Zwelinthini. Foto: DoC

Die koning van die Zoeloes, Goodwill Zwelethini, het na vore getree as ʼn absoluut onwaarskynlike sleutelspeler in die stryd teen die onteiening van grond sonder vergoeding.

Die koning se toetrede het verlede week momentum opgebou toe hy tydens ‘n Zoeloe-imbizo (volksamekoms) in Ulundi gedreig het met oorlog en afstigting as onteiening sonder vergoeding aanvaar sou word.

Koning Goodwill se dreigemente en sy aanhang het daartoe gelei dat pres. Cyril Ramaphosa inderhaas Empangeni toe gereis het om met die koning te vergader, klaarblyklik met die doel om te verhoed dat die steeds bestaande impi- en regimentestelsel van die Zoeloevolk teen die Suid-Afrikaanse staat ontplooi word.

Hy het die verskering aan die koning gegee dat die Ingonyama-trust, wat basies al die kommunale landelike dele van die voormalige tuisland KwaZulu beheer en waarvan koning Goodwill die enigste trustee en dus die oppermagshebber is, nie deur onteiening sonder vergoeding geraak sal word nie.

As die ANC Ramaphosa se belofte aan die koning gestand doen, kan dit die dood in die pot wees vir die hele veldtog om grond te onteien en aan die staat toe te ken, soos die EFF en sommiges in die ANC wil hê, want jy kan nie ʼn algemene wet maak wat op alles behalwe die Ingonyama-trust van toepassing is nie – dit sal geen regsgeldigheidstoets slaag nie.

Die party wat hieruit die meeste te verloor het, is op die oog af uiteraard die groot aanstigters van onteiening sonder vergoeding, naamlik die EFF.

Maar die nasionale woordvoerder van die EFF, dr. Mbuyiseni Ndlozi, het by navraag aan Maroela Media gesê hulle beskou dit nie as so ‘n groot terugslag nie.

“Ons respekteer die koning en tradisionele leiers, maar ons meen nie hierdie beswaar is tans die primêre kwessie nie. Die primêre kwessie is om die Grondwet verander te kry. Daarna kan ons oor die spesifieke praktiese toepassing daarvan onderhandel,” het Ndlozi gesê.

Mens sal maar moet sien of sy optimisme gegrond is, maar vir baie wat hulle in die loopgrawe teen onteiening sonder vergoeding bevind, was die Zoeloekoning se toetrede manna uit die hemel – die tipe manna en bondgenoot wat jy dankbaar aanvaar sonder om te veel vrae te vra.

Maar indien vrae gevra sou word oor wat die Zoeloekoning se motiewe is, doem ‘n aanhaling uit Eitemal se vertaling van Shakespeare se Hamlet so bonkig soos Tafelberg voor mens op: “Is jou bedoeling goed of kwaad, jy kom in twyfelagtige gedaante.”

Hoe welkom die Zoeloekoning se aggressiewe ingrype ook mag wees, is dit moeilik om te argumenteer dat hy dit nie doen om totaal selfsugtige redes en ter verdediging van ‘n onderdrukkende, feodale stelsel nie, en dan boonop met geweld dreig nie.

Die Zoeloekoning se mag setel in die stelsel wat deur die Ingonyama-trust in stand gehou word. Hy, sy paleise, sy familie en sy personeel kos die Suid-Afrikaanse belastingbetaler jaarliks der miljoene – en dit in ‘n grondwetlike demokrasie.

Indien die stelsel hervorm word, sal hy en die meer as driehonderd amakhosi (stamkapteins) wat inwoners van landelike KwaZulu-Natal se handel en wandel met ystervuiste beheer, daarmee heen wees.

Daardie inwoners woon in ‘n aaklige mengsel van armoede en absolutisme waarin hulle weinig tot geen teenprestasie kry in ruil vir hul arbeid, die oorbetaal van allerlei heffingsbedraggies en die reg om op grond te werk wat hulle nooit mag besit nie.

Dít is die aard van die vennoot wat nou in die stryd teen onteiening sonder vergoeding in die kryt geklim het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Wie is die blanke volk se tradisionele leier in beheer van ons trust grond? Hoekom het die Zoeloes ‘n koning en trust-grond………en ons nie?

Paul ·

Ek sou nie omgee as sy dreigemente bewaarheid kon word nie, dan moes nog net die gebied in die Oos-Kaap volg, los nou maar die ander trustgebiede in SA uit en walla, die Afrikaner kan saam gesels, nou wel met ‘n ander model. O’ja en natuurlik sal CR se visie van vryhandelooreenkoms tussen SA en daardie gebiede handig tepas kom. dan trek almal voordeel.

Eish ·

Goeie en insiggewende artikel baie dankie.
Dit wil voorkom of die “Struggle (Afrikaans sukkel)” regering wragtig weer tuislande wil instel!
Cyril hardloop nou so rond en bont met die uitsonderings op diė reël dat jy sal sweer hy het saam met ons paddas in die pot geval!
Lekker taai tameletjie so voor verkiesing.
Dit beloof om die geweldadigste verkiesing ooit te wees met anargie wat reeds heers.

Ons moet ook ·

Ons moet ook grond kry en ons moet ook saamstaak soos die Zoeloes gedoen het.

Hou dop ·

Grond Belasting betaal dié koning glo nié.
Hy betaal seker ook geen werknemersbelasting
op daardie aardige konings salaris nie.
Voorwaar Dis lekker lewe !
Lekkerte is ook nét solank dan stop dit…. hou dop.

Wessel ·

Hy betaal wel BTW, waarvan sekere produkte eersdaags daarvan vrygestel sal wees.

Casper Labuschagne ·

Elke persoon wat eiendom besit, benut of bewoon in Suid Afrika is eintlik ‘n potensiële held in die gronddebat want hulle sal almal geraak word. As die grondwet nie meer die eiendom van die wit minderheid beskerm nie, dan sal dit ook nie enige ander persoon se eiendom beskerm nie – dit is die werklikheid wat ons moet bekend maak.

Waarheid ·

Daar word van alle kleinboere en bewoners van hierdie grond verwag om so nou en dan ekstra bydraes te maak aan stamhoofde, tipies bedrae van R 3000 tot R5000 en dit deur arm mense. As enige grond hervorm moet word sal dit hierdie moes wees.

jaco ·

Julle wat die Zulu koning en sy mag en salaris so kritiseer moet net onthou dat die hele stelsel van salarisse vir tradisionele swart stamhoofde deur die wit Britte begin is en later net so oorgevat en uitgebrei is deur die wit Nasionale Party regering – die party vir wie amper al julle ouers verkiesing na verkiesing na verkiesing gestem het. So waarom is dié stelsel dan nou verkeerd as dit in vroeër jare reg was?

Stephanie van Niekerk ·

Ek stem saam. Daar is met geweld en afstigting gedreig, en dit het gewerk. Kan die witmense in hierdie land lank genoeg saamstaan om dieselfde boodskap uit te dra? Na die tyd kan ons mekaar seker maar weer begin teenstaan, as dit dan moet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.