ʼn Verrassende wending in die Berlynse politiek

duitsland-berlyn

Foto: Alexas_Fotos/Pixabay.com

Berlyn het in die res van Duitsland amper die reputasie van ʼn stuk Afrika in Duitsland: niks werk nie, dit is vuil, alles vat vir ewig, die meeste mense werk in nie-produktiewe sektore soos die staatsdiens en die stad is eintlik bankrot, maar blaas geld wat uit meer welvarende provinsies oorgeplaas word op prestige-projekte.

Almal kla, maar stem dan weer vir dieselfde onbevoegde regeringskoalisie wat al vir dekades regeer.

Dit is natuurlik effe oordrewe, maar verteenwoordig tog iets van die waarheid. Die Berlyn-persepsie is verlede jaar weer bevestig toe die verkiesing vir die parlement en senaat van 2021 weens te veel ongerymdhede, op regterlike besluit, onlangs herhaal moes word.

ʼn Groot deel van die blaam vir die ontoereikende verkiesing lê natuurlik by die reeds dekades regerende koalisie uit Sosiaal-demokrate (SPD), Groenes en Verlinkses, maar daar is verwag dat die verkiesing van Februarie 2023 net meer van dieselfde sou oplewer omdat Berlyn se mense blykbaar dit soek wat hulle kry. Die enigste onsekerheid was of die Groenes dalk die Sosiaal-demokrate sou verbysteek en die huidige SPD-burgemeester, Franziska Giffey, deur Bettina Jarasch van die Groenes vervang sou word en Berlyn daarmee nog verder links sou skuif.

Op stemdag het die gematigde opposisie, die Christen-demokrate (CDU), toe koning gekraai met meer as 28% in ʼn stad waar hulle al afgeskryf is en wat ʼn vesting van woke-isme is. Die Sosiaal-demokrate (SPD) en Groenes was gelykop met 18,4% elk, waarby die SPD teenoor die laaste verkiesing taamlik verloor het en die Groenes feitlik onveranderd was.

Eers weke later, toe stemme wat weer iewers vergeet is ook getel is, het die SPD met enkele stemme meer as die Groenes vasgestaan as die “grootste” party binne die regerende linkse koalisie. Die derde koalisievennoot, die Linke, het ook steun verloor en op 12% teruggesak, nie ver agter die regse Alternative für Deutschland (AfD) met 9% nie, wat in die linkse en erg gemengde Berlyn nog meer die status van parias het as elders in Duitsland. Alhoewel die CDU by verre die grootste party was, het hulle geen natuurlike koalisievennoot nie en is dus aanvaar dat die regerende linkse koalisie sou voortgaan om te regeer, steeds met Giffey as burgemeester, maar met die Groenes wat nog meer as voorheen in haar nek blaas en die stad verder na links sou skuif.

Giffey het egter die heel onverwagse gedoen en vriend en vyand verras en verbaas: ten spyte van die langdurige linkse koalisie wat Berlyn as hulle privaatbesit beskou en gedryf word deur die missie om die stad nog meer “progressief, divers, bont en oop” te maak, het Giffey nederig erken dat die meerderheid burgers diep ontevrede is en ʼn nuwe politiek soek, en dat dit op minagting van die kieser neerkom om voort te gaan met ʼn koalisie uit verloorders. Al kos dit haar haar pos as burgemeester, het sy haar eie party probeer oortuig om eerder ʼn koalisie met die CDU aan te gaan en plek te maak vir dié se plaaslike leier, Kai Wegner, as nuwe burgemeester, met haar en haar party as juniorvennote.

Nie net die Groenes en die Linke is deur hierdie wending onkant gevang nie, ook groot dele van die SPD, by name die jeugvleuel, loop storm teen die ontluikende nuwe sentristiese regering. Nietemin lyk dit asof die meerderheid SPD-lede in Berlyn Giffey se koers sal volg.

Vir die stad is dit ʼn nodige stap: te veel egte probleme soos swak infrastruktuur, verkeersknope, onbekwame administrasie, te min en te duur huurbehuising, stedelike verval en misdaad is deur die linkse koalisie geïgnoreer en daar is eerder gefokus op nog meer befondsing en verteenwoordiging vir seksuele en etniese minderhede asook pypdrome soos ʼn motorvrye en koolstofneutrale Berlyn.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.