’n Voordeel wat ons nie mag prysgee nie

blink-plan-idee-pexels

Foto: Pixabay/Pexels.com

Deur Christoff van Wyk

’n Boer maak ’n plan. Dié gesegde word al vir dekades lank van geslag tot geslag oorgedra en spruit voort uit die vindingrykheid wat Afrikaners al aan die dag moes lê om uitdagings in Suid-Afrika te oorkom om hier te oorleef. Kreatiewe denke en probleemoplossing is ’n kenmerk van Afrikaners se denkraamwerk en algemene mondering en dit is definitief ’n voordeel wat ons nooit moet prysgee nie.

Brand Pretorius skryf in sy boek, Aan die stuur, dat “ … ’n sleutel tot volhoubare sukses in die vinnig veranderende wêreld sal sprankelende kreatiwiteit en meedoënlose innovasie wees.” Hy skryf selfs verder dat indien hy sy loopbaan kon oorhê, hy baie meer doelgerigte pogings sou aanwend om “laterale denke” aan te moedig en die persone wat uitblink hierin, die “helde” binne die maatskappy te maak.

Die term “laterale denke” is deur prof. Edward de Bono neergepen. Hy is ’n mediese doktor wat veral bekendheid verwerf het vir sy studies in denke en veral kreatiwiteit en ook hoe hierdie vaardighede aangeleer kan word. De Bono skryf dat daar by hom geen twyfel daaroor bestaan dat kreatiwiteit die belangrikste menslike hulpbron van almal is nie.

“Sonder kreatiwiteit sou daar geen vooruitgang wees nie en sal ons vir altyd net dieselfde patrone herhaal.”

Dit wil soms blyk dat ons in Suid-Afrika ook aanhoudend besig is om sekere negatiewe patrone te herhaal en dat die resultate altyd dieselfde bly. Die wyse waarop jy jouself egter uit hierdie patrone uit kan “dink”, is ’n proses wat aangeleer kan word en soos Brand Pretorius tereg opmerk, die sleutel kan wees tot volhoubare sukses in ons veranderende wêreld.

Die wyse waarop laterale denke toegepas word, word deur de Bono beskryf as “… the creativity concerned with changing ideas, perceptions and concepts. Instead of working harder with the same ideas, perceptions and concepts, we seek to change them.”

Dié proses is ontwikkel na aanleiding van sy teorie oor die werking van die menslike brein en die selforganiserende stelsels. Hiervolgens kan ’n mens se brein vergelyk word met iets soos ’n landskap met ’n rivier wat daaroor vloei. Denkpatrone word op hierdie wyse, net soos ’n rivier se loop, gevestig en hoewel hierdie gevestigde patrone ’n mens se brein in staat stel om blitsvinnig te reageer, is dit terselfdertyd ook geneig om ’n mens te kortwiek in die ontwikkeling van nuwe idees. De Bono se tegnieke is dus juis daarop gemik om hierdie spreekwoordelike rivier te forseer om sy normale loop te verlaat en oor nuwe terreine te vloei. Om dít egter te bewerkstellig, het hy sekere tegnieke ontwikkel wat spesifiek daarop gemik is om provokasie tot die normale gedagtevloei te bewerkstellig. Die tegnieke fokus dus sterk daarop om in te speel op die menslike persepsie van realiteit en die handelinge wat oor tyd die “norm” geword het.

Een van die tegnieke wat De Bono ontwikkel het om hierdie tipe denke te stimuleer, noem hy challenge, oftewel uitdaging. Hy beskryf hierdie tegniek as die sleutel tot daaglikse kreatiwiteit. Hy gebruik vrae soos, “Moet ons dinge op hierdie manier doen?” of “Is hierdie die beste manier om dinge te doen?” om die proses aan die gang te sit. Die bedoeling van hierdie vrae is nie om krities te wees nie omrede kritiek nie as kreatiwiteit beskou word nie. Dit bevorder egter die gewilligheid tot kreatiewe denke deur die huidige manier van doen uit te daag.

Die doel van hierdie uitdaging is om uit te vind of die manier van doen, bloot gewoonte geword het, en of dit dalk net gebeur om aan die verwagtinge van ander mense te voldoen. Die uitdaagproses kan beskryf word as ’n subtiele, maar tog doelbewuste ontevredenheid en die wete dat daar ’n moontlikheid bestaan om te verbeter. Die waarde wat die toepassing van hierdie tegniek meebring, word gevind in die geleentheid wat geskep word om na te dink oor spesifieke handelinge asook die doelbewuste ontsluiting van kreatiewe moontlikhede. Gewoontes wat as vanselfsprekend herhaal word, word pertinent deur hierdie proses uitgedaag.

Dikwels is die redes waarom sekere handelinge as herhalende gewoontes gevestig word, bloot omrede daar nog nie ’n behoefte aan iets anders geïdentifiseer is nie of dat die huidige manier van doen voldoende is en daar geglo word dat jy nie peuter met iets wat werk nie.

De Bono gee vier redes oor waarom ons dikwels in herhalende denkpatrone vasgevang word:

  1. The continuity of neglect – Hiervolgens word ’n bepaalde produk of handeling as probleemvry beskou en gevolglik dink niemand meer oor die spesifieke gebeure of handelinge nie. Dinge word outomaties op ’n bepaalde manier gedoen.
  2. The continuity of lock-in – Hiervolgens is daar sekere omstandighede of reëls wat bepaal dat ’n handeling op ’n bepaalde manier uitgevoer moet word en daarom word dit eenvoudig aanvaar en so gedoen.
  3. The continuity of complacency – Indien sukses behaal word met ’n handeling, verhinder dit dikwels enige verdere nadenke oor die handeling omrede daar geglo word dat dinge vir altyd op dieselfde manier sal werk. “Waarom moet iets wat werk, verander word?”
  4. The continuity of time-sequence – Hiervolgens word sekere handelinge vasgevang en dikteer deur die wyse waarop die handelinge wat die huidige voorafgegaan het, gebeur het. ’n Voorbeeld wat hier gebruik kan word, is die ontwerpkonsepte wat in spoorvervoer ontwikkel is, oorgedra is na lugvervoer, bloot omdat spoorvervoer ’n gevestigde praktyk was voor die aanbreek van die era van lugvervoer.

Die waarde van “uitdaag” as kreatiewe tegniek is daarin geleë dat stagnering in die uitvoering van take, of in die denke oor algemene verskynsels, voorkom word. Die gereelde toepassing van hierdie tegniek skep die ruimte vir innovering en verandering van praktyk en gewoontes.

Alhoewel ons in vandag se tye eintlik nie meer kan funksioneer sonder die daaglikse toepassing van kreatiewe denke nie, skep dit tog ook probleme. Menslike natuur dikteer dat ons gekant is teen verandering omrede dit onsekerheid skep, veral as die verandering op die oog af nie voordelig is vir ons nie. Dus moet die weerstand teen verandering ook as ’n kragtige faktor in berekening gebring word wanneer daar besin word oor oplossings vir bestaande probleme of die verandering van gevestigde denkpatrone.

Die oplossings vir ons probleme lê binne ons bereik, maar dan sal ons moet besef dat ons nie kan staatmaak op gevestigde ou denkpatrone nie. ’n Boer maak ’n plan en een van die Afrikaner se beste oplossings om die talle probleme wat ons tans in die gesig staar, te bowe te kom, is ons vermoë om kreatief en innoverend te dink.

Laat ons hierdie karaktereienskap koester en nooit verlore laat gaan nie.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

B ·

Ek woon redelik baie (tegniese ens) konferensies hier en oorsee by, en dit word omtrent daagliks ‘n groter en groter probleem. Ander lande groei, innoveer ens ens maar ons boer erg agteruit op denk- en praktykvlak. Ongelukkig tragies – lagwekkend so :(

Ons moet dit terugwen en nooit prysgee, al is dit op individuele vlak. Die uitdaging is dit raak moeiliker om soms die geleenthede / fasiliterende omgewing te kry wat vooruitgang stimuleer, veral agv BEE ‘werksprofiele / kandidate’ ens.

Jo ·

Dankie vir jou siening, ek deel dit. Ons moet ‘n nasie van innoveerders en entrepreneurs word en tegnologie aangryp. Deur tegnologie en elektroniese handel kan ons ons produkte en veral dienste oorsee verkoop en daardeur effe onafhanklik van die ANC se diskriminasie word.

John ·

Baie drome word verkoop op berade en konfensies… dis waarvoor dit aangebied word. En as kundiges aanvoer dat die wereld besig is om dommer te word en terugval na die Mideleeue en selfs vroeer, weens die onderdrukking van kulturele groei en uitlewing soos wat die NWO nou juis poog om te doen, hoe werk boer-maak-plan dan? Die mat wil dan juis nou onder die boer se voete uitgepluk word. Goody-goody-predikers kan mens op elke hoek en draai uitskop… gewoonlik met ‘n geloofskrif onder die arm en die ‘n beursie onder die ander erg swetende armholte. Hierdie gesegde dra net water wanneer seen van Bo afgesmeek word wat ‘n plan laat realiseer wat die mens dan mag laat kristalliseer. Daar is geen ander manier nie… nie een wat uitkoms bring nie… En snaaks genoeg geen kollekte of duur inskrywing of onkoopgeld word vereis vir hulp nie, net opegte smeekbede en kniee wat nederig buig… of is dit waarop die geagte outeur sinspeel?

Eish ·

Weereens in die kol, die waarheid, suiwer en onverdun!
’n BEDEVAARTSLIED. Van Salomo. As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou; as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter. Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet — net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!
PSALMS 127:1‭-‬2 AFR53

Eish ·

En toe kry ek hierdie idee…
Aardskuddend. Die potensiaal vertienvoudig die effek van die huidige scenario…
Tog, dis so eenvoudig dat ek myself kan skop dat ek nie vroeër daaraan gedink het nie.
Produktiwiteit word terselfdertyd tienvoudig verbeter!
Al wat jou te doen staan is om al die kundigheid te sentraliseer en dan die kundigstes doelmatig tot hul kundigheid aan te wend!
Wat n blye dag sal dit nie wees indien al wat organisasie is wat ten doel het die bevordering van die belange van die Kaukasiese minderheid, verenig in n enkele sambreelliggaam met n gemeenskaplike doel en gekonsentreede logistiek, sonder om die individualiteit van enigeen weg te neem. Soos om al jou kroos in een huis groot te maak, as gesin.
Hoekom?
Want ieder haan kraai tans die hele werf vol. Byvoorbeeld:
AfrI forum se nesskop by die Zoeloekoning kon soveel meer effek gehad het indien Landbouorganisasies deel kon wees ten einde moontlike raakpunte te eskaleer. Afro Forum is nou die enigste gevolg.
Senrick, maatskappy van n megaboer van die Vrystaat het n wenresep op opkomende boere tot onafhanklikheid te lei. So skryf hy vir Cyril in die hoop die toepassingsmoontlikhede en voorwaardes kan werkbaar toegepas word tot voordeel van die land se mense. Enkele stemmetjie in die dorre oordondering van die meerderheid. Waar is die landbouorganisasies?
So, waar laat dit ons?
Op onse kniegkoppe om te vra dat onse Hemelse Vader onse hardekoppe sag sal maak sodat ons die sewe sakke sout saam sal sleep.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.