Naamsverandering in Suid-Afrika

Die MT Steyn-standbeeld. Foto: Rian Horn/UVS

“Hierdie man was ’n verraaier. Daarom is sy kop afgekap,” verduidelik die gids. As ’n afvaardiging van Suid-Afrikaanse parlementslede besoek ons die Britse parlement. Ons staan voor ’n skildery wat in een van die gange van die parlementsgebou hang.

Ek is berekend moedswillig en vra die gids: “As hy dan ’n verraaier was, waarom is die skildery nie verwyder nie?”

Die gids kyk my verbaas aan en antwoord: “Because it’s part of our history”.

My vraag en die antwoord was eintlik vir die ANC-parlementslede bedoel. Al die skilderye van vorige speakers en staatsmanne in die Suid-Afrikaanse parlement is enkele maande voor hierdie besoek in opdrag van die ANC verwyder en na die parlement se kelder geneem.

Voor die Britse parlement is ’n groot standbeeld van Oliver Cromwell. Cromwell het Charles I, die Britse koning laat onthoof, ’n republiek uitgeroep en op ’n tydstip selfs die parlement ontbind. Nogtans staan sy standbeeld voor die parlement wat hy ontbind het. Reg oorkant sy standbeeld is ’n borsbeeld van Charles I, wat hy laat onthoof het. Albei daar “because it’s part of our history”.

Toe die Nasionale Party in 1948 aan die bewind kom, was daar sterk aandrang dat die skilderye van die Britse konings uit die parlement verwyder moet word asook Afrikaner-“volksvyande” soos Rhodes, Jameson en Jan Smuts. Gelukkig het politieke volwassenheid geseëvier. Die skilderye het bly hang tot hulle in 1994 saam met al die ander skilderye deur die ANC verwyder is.

Dieselfde debatte woed steeds in Suid-Afrika.

Is dit nie moontlik om, soos Brittanje, ’n balans tussen die verlede en die hede te kry nie?

Ná onafhanklikheid is Leopoldville en Salisbury in Afrika se name verander na Kinshasa en Harare. Die riglyn was dat die mense na wie dit vernoem is, geen verbintenis met Afrika het nie en terug is na hul oorspronklike lande in Europa.

Met dit as argument kon jy verwag dat plekname soos Durban, wat na Sir Benjamin D’Urban, en Kimberley, wat na Lord Kimberley van Brittanje vernoem is, eerste ná 1994 verander sou word. As kolonialiste is hulle lankal terug na Brittanje met geen verdere verbintenis met Suid-Afrika nie. Dieselfde geld vir Victoria-Wes, King William’s Town, Queenstown en talle ander. Tog is daar nog nie aan hierdie name geraak nie terwyl hoofsaaklik Afrikaanse name verander is.

Daar is ’n groot verskil tussen die verandering van die naam Pampoenfontein en die naam Pretoria. Name soos Pretoria, Lydenburg en Pietersburg is gelaai met Afrikaner-geskiedenis en emosie. So is dit ook moeilik om te sien hoe name soos Warmbad en Nylstroom aanstoot kan gee. Die meeste Afrikaners sien hierdie naamsveranderings as ’n berekende klap in die gesig van die Afrikaner en sy geskiedenis.

In ’n veranderende land is dit onvermydelik dat sommige name uit die verlede vir ’n deel van die bevolking mag aanstoot gee. Waar so ’n naam wel sterk emosionele betekenis vir ’n ander deel van die bevolking het, behoort baie groter sensitiwiteit te geld en behoort die groep wat geraak word, ’n groot mate van seggenskap oor die besluite te hê.

Suid-Afrikaners het weens vele redes ʼn verdeelde verlede. Suid-Afrika, soos ons hom vandag ken, het eers in 1910 tot stand gekom toe die Afrikaner deur die Anglo-Boereoorlog gedwing is om deel van Britse Suid-Afrika te word. Dit het daartoe gelei dat ons verskillende helde het. Ons moet ook aanvaar dat alle historiese figure omstrede is. Ek kan goeie en slegte argumente noem vir die meeste historiese Afrikanerfigure en figure van alle ander groepe in Suid-Afrika.

Voorbeeld: Durban-lughawe is nou na Koning Shaka vernoem.

Koning Shaka sal vanweë sy wrede oorlogsverlede nie vandag met ʼn Nobel-vredesprys of ʼn menseregte-toekenning vereer word nie. Hy was egter die stigter van die Zoeloenasie en het so ʼn groot rol in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel. Ek respekteer dit en daarom is daar nie beswaar gemaak toe die lughawe na hom vernoem is nie.

Ek beskou President Steyn as een van die stigters van die Afrikanervolk. Hy is een van my helde as ʼn vryheidsvegter teen kolonialisme en teen Britse heerskappy oor sy mense. Ek verwag dat dieselfde respek wat Koning Shaka gekry het, ook President Steyn en sy standbeeld toekom. Tog besluit die Vrystaatse Universiteit om die standbeeld te verskuif.

Die boodskap wat ek en baie Afrikaners die afgelope weke gekry het, is: “Ons wil jul bydrae en belasting hê, maar jul erfenis, helde en kultuur is nie aanvaarbaar nie”. Watter ander boodskap stuur die verwydering van Steyn se standbeeld as dat wit en Afrikaanse studente nie by die Universiteit van die Vrystaat welkom is nie?

In Limpopo en Mpumalanga is die meeste groot dorpe se name ná 1994 verander. Daarteenoor het geen dorp in die Wes- of Noordkaap nog ʼn naamsverandering ondergaan nie.

’n Wes-Kaapse vriend vra my onlangs hoe ’n mens vanaf Pretoria na Messina ry. Hy moet ’n familietroue daar bywoon.

Ek verduidelik: “As jy Noord op die N1 ry kom jy eerste by Bela-Bela wat eers Warmbad was, daarna by Modimolle wat Nylstroom was en Potgietersrus wat nou Mokopane is. Ná Mokopane kry jy Polokwane wat Pietersburg was en daarna Makhado. Verby Makhado kry jy Musina wat eers Messina was.”

“Waar is dié Makhado?” vra hy.

“Tussen Polokwane en Musina” probeer ek hulpvaardig wees.

“Wat het van Louis Trichardt geword?” vra hy.

“Makhado is Louis Trichardt,” antwoord ek.

“Huh?” reageer hy en vra: “Kan ek dalk na Messina vlieg?”

So ’n gesprek mag humoristies wees, maar die implikasies vir die inwoners van dorpe wat so geraak word, is ingrypend.

Navorsing het bevind dat ’n naamsverandering ’n klein sakeonderneming ’n minimum van R60 000 sal kos. So ’n onderneming moet alle promosiemateriaal, briefhoofde, naamborde, advertensies op voertuie, drukwerk, ensovoorts verander. Die koste van kennisgewings aan alle kliente, aan alle verskaffers en die verandering van rekeninge is nie eens bereken nie. Vir ’n groot onderneming word hierdie bedrag op meer as R500 000 beraam.

Voeg hierby die koste om duisende padtekens, stadskaarte, atlasse, rekenaarnavigasieprogramme, ensovoorts te moet verander.

In talle van hierdie dorpe is die hoofstrate se name skaars ’n jaar later ook verander wat beteken dat dieselfde kostes weer aangegaan moes word.

Tussen 1996 en 2010 is meer as 850 sulke geografiese plekname verander.

In meeste van hierdie gevalle was dit ANC-raadslede wat skielik voor ’n verkiesing met kosmetiese naamsveranderinge hul ongelukkige ondersteuners probeer paai sodat hulle weer herkies kan word.

’n Internasionale riglyn is dat verandering net ter wille van verandering nie aanvaarbaar is nie.

Met ’n verkiesing op pad is Grahamstad se naam skielik vanjaar na Makhanda verander. Dit is die eerste prominente Engelse naam wat 24 jaar ná 1994 verander word. Port Elizabeth is blykbaar volgende aan die beurt.

Dat dit duidelik verkiesingstyd is, blyk uit Ismail Vadi, LUR vir vervoer in Gauteng, se aankondiging voor verlede week dat William Nicol-rylaan na Winnie Mandela-rylaan verander gaan word.

Die prys vir hierdie politiekery is baie duur ten opsigte van geld en duur in terme van gesindhede en toekomstige verhoudinge in Suid-Afrika.

Hoe lank ná 1994 gaan name stééds verander word met groot kostes vir nuwe padtekens en -kaarte? Soos met grondeise behoort daar ’n afsnydatum vir naamsveranderinge bepaal te word.

In ’n ingewikkelde land soos Suid-Afrika behoort daar as riglyn eerder na kompromieë gesoek te word as wat een groep sy wil op die ander afforseer.

In die gees van versoening ná 1994 is byvoorbeeld ooreengekom om nie lughawens na politici of prominente persone van enige kant te vernoem nie. So is DF Malan-lughawe na Kaapstad Internasionaal, Jan Smuts-lughawe na Johannesburg Internasionaal en JBM Hertzog-lughawe na Bloemfontein-lughawe verander.

Hierdie ooreenkomste is die laaste tien jaar blatant verbreek. Ons is nou terug by die vernoeming van politici en prominente persone, maar eensydig net na die ANC-kant toe. Die PAC het reeds gekla dat hul helde geïgnoreer word. Johannesburg het OR Tambo geword en Bloemfontein Braam Fischer.

In Brussel gaan hulle sover dat strate twee name het ten einde die Franse en Vlaamse bevolking te akkommodeer. Een van Brussel se hoofstrate is Wetstraat in Vlaams en Rûe de la Loi in Frans.

Vir goeie verhoudinge is aanvaarbare riglyne soos hierbo genoem nodig by die verandering van name. Dit is die enigste manier waardeur jy ’n situasie kan skep waar almal soos wenners voel en daar geen verloorders is nie. Onthou — daar is geen manier hoe jy nasiebou op mense kan afdwing nie. As dit nie ’n vrywillige proses van alle deelnemers is nie, slaag dit nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Pieter Mulder

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder was ʼn parlementslid en is die voormalige leier van die Vryheidsfront Plus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gemaskerde Sopbeen

Verander alle straatname na ‘n nommer en rigting ruitverwysing toe….en nooi organisasies uit om “hulle helde” se name direk onder die “nommer en rigting” naambord te kom opsit……….teen R100 000,00 per jaar. Sodra jou geld op is, kry iemand anders ‘n beurt………maar dit bly nog steeds 43ste Straat, Noord….in watter woonbuurt ookal. Sal lekker baie geld vir die munisipaliteitsamptenare genereer om te “wan aan te wend”…..en ons sal gou sien hoe MIN mense omgee vir hulle “helde”!!

John

Was ons geagte skrywer nie vir jare in die parlement nie? Hoekom klim hy nou eers uit sy boks? Die VFPlus is tot nou toe so stil soos muise en net die stem van die ster op die punt van die kleurlose kersboom word soms gehoor. Die res van die manne moet soet wees want geen kompetisie word geduld nie. Moeder Goody-goody gaan hulle verbysteek in 2019. Weet die oom hoeveel arm Afrikaners in hierdie land wat nie eers kan bekostig om ‘n tandarts te spreek nie, maar ons moet nagte wakker le oor die name van plekke wat verander… Lees meer »

Gees

Die gees van versoening – mag daardie gees opstaan en aan elke Suid-Afrikaner die reg en voorreg bied om tuis in sy geboorteland te leef.

Daardie gees is of diep begrawe of morsdood of bestaan gewoon nie.

piper

pres. steyn sou as hy nou kon loop , weggeloop het van UFS. die plek het so verander dat hy nie meer daar wil wees nie. die UFS is dit nie waardig om die standbeeld daar te he nie. so ook bv. pretoria is nie meer andries pretorius waardig nie.

Tiaan

“Because its part of our history”. Dit lyk nie asof die ANC enige geskiedenis in Suid Afrika (behalwe apartheid) as deel van die Suid Afrikaanse geskiedenis beskou nie. Hulle tree op soos oorwinnaars vanaf buite die land se grense deur ‘n nuwe geskiedenis te skep (hul eie) en die blankes (veral) van hierdie land se geskiedenis te verwerp.