Nee, kanselier Cameron, taal ís die US se ‘burden’

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

Deur Frederik R van Dyk

“Die Taalmonument verjaar vandag.” Ek glimlag wrang vir die klasmaat se waarneming terwyl ek na die berig op my foon staar: “Uitspraak is die einde van die pad vir Afrikaans as onderrigtaal” lui die opskrif. Ek het die laaste uur my selfoon naarstigtelik beloer vir die uitslag. En daar lê die ding.

So, ja, dis seker nou die einde van die Derde Taalstryd, soos dit uit verskeie oorde genoem is tydens daardie druk dae van 2015 op Matieland. Ek was toe ’n verstomde, hoogs geaffronteerde eerstejaar en leier van die Adam Tas Studentevereniging vir Afrikaans toe die Open Stellenbosch-beweging aangedring het op ’n nuwe, inklusiewe taalbeleid. En hier het ons nou ons inklusiwiteit: ’n de facto- eentalige universiteit wat vir almal wat wil en moet hoor, vertel hoe meertaligheid op Maties floreer.

Dieselfde hoogste hof met haar gevierde jurisprudensie wat sentreer rondom ’n objektief-normatiewe waardestelsel en ’n vrygewige uitleg van wetgewing (in die Engelstalige regsfakulteit praat ons van ’n “generous interpretation”) het die kans gehad om ’n slag te slaan vir meertaligheid. Dieselfde hof wat alreeds die ruimhartigste regterlike toertjies uitgevoer het, soos om in die allpay-sage ’n privaat kontrakteur aan ’n nietige kontrak gebonde te hou sodat miljoene hul Sassa-geld kon ontvang, kon darem weliswaar meertaligheid steun.

Hulle het dit nie gedoen nie, want – in die uitspraak geskryf deur oudregter en kanselier Edwin Cameron – die regspraak van hul vorige taalverwante uitspraak in AfriForum v University of the Free State het hul gebind, en tweedens, die opmars van verengelsing is nie die US se las nie (“burden” in die uitspraak).

Toe ek regter Cameron en die hof se laaste beslissingsrede lees het ek dadelik onthou hoe prof. Wim de Villiers sommer vroeg in sy termyn en die Derde Taalstryd gesê het dat dit nie die US se werk is om Afrikaans te behou nie.

Die houding is soos die mens oor sy natuurlike omgewing: eenvormig en skouerophalend. Oor die voortbestaan van inheemse tale in die openbare ruimtes van ons grondwetlik-demokratiese staat staan die politici, studente, regters, kanseliers, universiteitsraadslede en moedertaalsprekers (veral) in toue om hul hande in onskuld en ongeërgdheid te was.

Hierdie saak was die een groot geleentheid, kanselier Cameron, om die kommerwekkende opmars van Engelstaligheid teen te werk. Ons geskiedenis is deurspek met karakters wat geveg het om ’n nasie op die been te bring waar geen groep ’n ander meer sal domineer nie. Net jammer ons het nooit regtig gepraat oor hoe ’n taal-etiek moet lyk binne hierdie nuwe nasionale resep nie, selfs al staan die wortels vir so ’n tegemoetkomende beleid in swart en wit neergepen in artikel 29 van die Grondwet.

En nou pluk ons bloot die vrugte van ons stilte en ongeërgdheid. In sy welbekende toespraak voor Bill Clinton by ’n geleentheid in die Withuis het die skrywer en konsentrasiekamp-oorlewende Elie Wiesel die wêreld gewaarsku: Nie teen boosheid of teen liggelowigheid nie, maar teen die gevare van ongeërgdheid. Met ongeërgdheid ondermyn ons mekaar en onsself.

Kanselier Cameron en prof. De Villiers, hoor my as ek sê julle optrede, hetsy bona fide of uit ’n slaafse gedienstigheid aan een of ander gesagsliggaam, gaan meertaligheid in hierdie land nog duur te staan kom. Maties is lankal nie meer tweetalig nie. Die US se verantwoordelikheid jeens Afrikaans en meertaligheid lê juis in die rol wat dit kan speel as staatsinstelling met die intellektuele kapasiteit om meertalige broeikaste te wees.

Ek studeer al vyf jaar hier en in daardie tyd het die Afrikaanse klasonderrig-aanbod op sy neus geduik. Die taalstrukturele en taalpolitieke omgewing vier ons provinsie se drietaligheid met duur naamborde en ander korporatiewe Botox-glimlaggies, maar die substansie is ’n paar BCom-klasse wat parallelmedium is en enkele Afrikaanssprekende dosente wat soms nog in die taal klasgee.

In hierdie omgewing van naskokke oor die studente-opstande se neerhalendheid teenoor Afrikaans, is daar ’n totale magswanbalans tussen die universiteit wat sy hande in onskuld was oor veeltaligheid en die individuele student wat kwansuis “ ’n keuse” het om in Afrikaans of Engels te studeer.

Niemand doen enigiets om die vele wanpersepsies oor Afrikaanstalige studies uit die weg te ruim nie. Niemand moedig moedertaalonderrig aan nie. Niemand smyt daardie ou mite uit dat Engelse tersiêre studie jou noodwendig ’n job met opwaartse sosiale mobiliteit op die koop toe gaan gee nie.

Enige instelling wat ernstig was oor dekolonisasie sou erken dat veeltaligheid en die aanmoediging van inheemse akademiese skryfwerk en taalgebruik die eerste stap is. ’n Goeie vriend van my sê dikwels ons moet oor dekolonisasie dink as ontdekking. Ontdekking van ons potensiaal as inheemse mense van Suid-Afrika, wat nie weer sal duld dat een moondheid of een taal en kultuur ons almal oordonder nie. Ons moet juis weier om soos die arme Walliesers, Skotte en Iere op die punt te kom waar ons sukkel om ons inheemse tale aan die lewe te hou ten spyte van ons politieke onafhanklikheid.

Ons tale is meer as net regte op papier, of neutrale kommunikasiemedium. Ons tale is hulpbronne deurspek met emosie, nuanse, geskiedenis en betekenis. Dit is juis in pluraliteit waar nuwe kennis geskep word deur uitruiling en interaksie tussen taalgroepe.

Ons tale vertel stories van ons komvandaan. Ons maak mekaar saam anders, sê Breyten Breytenbach. Ons tale is in die kern van ons menswaardigheid.

Ek weier om in die gemiddeldheid van Engelse taalkolonialisme te verval. Ek weier ook om te sit en kyk hoe ons eie ongeërgdheid die oorsaak is van ’n domino-effek wat die gebruik van inheemse tale op ander vlakke as universiteitsvlak betref.

Ons het reeds, in Gretha Thurnberg se woorde, met leë woorde ons eie toekoms opgeoffer ter wille van geld en gemak. Ons mag nie toelaat dat inheemse tale op dieselfde brandstapel sterf omdat ons slawe van die leë beloftes van Engelse taalkolonialisme geword het nie.

Die US en die staat gaan niks doen nie. Besluit jy self, inheemse taalspreker, wat vir jou belangrik is. En berus jou by die gevolge van jou stilte.

  • Van Dyk is ‘n finalejaar regstudent aan die Universiteit Stellenbosch.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ben ·

US jy gaan sneuwel weens die een verkeerde besluit omdat jou ontstaan het uit die Wonder van Afrikaan. Dis hierdie Afrikaanse wond wat jou gaan laat doodbloei.
Erens vorentoe gaan ek traan pluk by jou grafsteun.

Jerry ·

Baie mooi Frederik. Politiek is n vuilspel, so vra jouself net die vraag, bo en behalwe vir die aanslag teen afrikaans, wie is daar wat die meeste daarby baat sal vind indien afrikaans by universiteite sneuwel? Is dit die EFF, is dit die ANC, is dit die DA of is dit die VF en die se frontorganisasies nl Solidariteit/Afriforum wie se bestaansreg te danke is aan afrikaans en wie deur selfbestuur en selfbeskikking toevallig n heenkome by Akademia bied vir afrikaans wat uitgesluit word by universiteite en wie naarstigtelik besig is om Akademia uit te brei? Wie Frederik, baat die meeste by die uitsluiting van afrikaans, dit is beslis nie die Afrikaner nie, so wie is dit?

Johanna Botha ·

Kom net weg van die plek begin eie soos reeds begin is ! US gaan eindig in staakings en vuur ….kom net weg daar !

Fanie Kemp ·

Bravo Frederik R van Dyk!
Ek voel positief en opgewonde oor die toekoms van ons Taal en Kultuur met die wete dat jongmanne en jongvroue soos jy sal sorg dat die fakkel brandend bly en voortgedra word.
Die Afrikaner was al dikwels in haar relatief kort bestaan bedreig en platgeslaan, maar het nog elke keer met die hulp van BO opgestaan en en net nog beter presteer.
Bly wie jy is, veg voort en bemoedig en inspireer ook ander, veral jongmense, op jou lewenspad.

Petrus ·

Ek stel voor belangrike mense wat deur die universiteit vereer is, maar nou ernstig voel oor hierdie saak moet hul ere-doktorsgrade en ander toekennings teruggee. Rupert en Wiese kan begin. Moet ook nie meer geld skenk nie. Skryf die plek af.

Wingman ·

En as hulle steeds nie luister nie, brand die kampus af. Eers dan sal aandag aan griewe gegee word. Dis wat PW en John Voster sou gedoen het. Tyd vir mooi praatjies is verby.

Dr Phil ·

Dok NJ vd Merwe destyds by Justisie Kollege: “Moenie jou te veel steur aan enige iets komende van Universiteit Stellenbosch nie – hulle het nie insig nie, want hulle het nie uitsig nie…”

Swannie ·

Wanneer ek so luister na al die gassprekers/deelnemers op RSG, dan wonder ek telke male of daar nog Afrikaanssprekende persone is wat Afrikaans vlot kan praat – dis nou te sê sonder om te hakkel.stotter, sinne nie klaar maak, te herhaal ens.

My gevolgtrekking ?

Ek glo nie.

Om my punt te staaf, luister maar net na “Kommentaar”moreaand op RSG.

Dus, as Afrikaanssprekendes nie eens hul huistaal kan vlot praat nie, waarvoor wil hulle dan in Afrikaans oinderrig word ?

Sinies ·

Kortliks opgesom, die grondwet van die post 94 SA is nie die papier word waarop dit geskryf is nie.

Soos FW dit self gestel het toe sy ma oorlede is, hy het in soveel woorde gese hy is bly sy is dood want dan hoef sy nie te beleef wat hulle gaan doen nie.

Hierdie was kulturele verkragting met voorbedagte rade.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.