November-waterskeidingsdatums in die geskiedenis van die 20ste eeu

ʼn Man druk blomme in ʼn oorblywende stuk van die Berlynse muur in Berlyn, Duitsland ter nagedagtenis aan die slagoffers van die skeiding tussen die Ooste en Weste van dié land (9 November 2018). Foto: Markus Schreiber/AP

Onlangs was herdenkingsgeleenthede van twee datums wat ontsettend bepalend was in die Europese en wêreldgeskiedenis en wat die loop van die geskiedenis vir altyd verander het.

Die datums ter sprake is 9 en 11 November.

Op 9 November 1938, 20 jaar ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog, het die sogenaamde Reichskristallnacht (ʼn eufemistiese verwysing na die baie glasruite oftewel kristal wat in daardie nag gebreek is) plaasgevind, en is daar tydens Adolf Hitler se bewind op groot skaal Joodse besighede, sinagoges en huise afgebrand en beskadig is, talle Jode gedood en aangerand en later nog vele meer in hegtenis geneem en na konsentrasiekampe gestuur.

Die uiterlike oorsaak was die moord op ʼn Duitse diplomaat deur ʼn Joodse sluipmoordenaar, wat as verskoning vir grootskaalse aanvalle op alle Jode in Duitsland gebruik is. Dit was ook die begin van die ernstige Joodse vervolging in Duitsland, wat in die Holocaust (ook bekend as die Jodeslagting) tydens die Tweede Wêreldoorlog sy laagtepunt sou bereik.

Hoewel hierdie soort barbarisme niks onbekends in Europa was nie, veral as ʼn mens dink aan die verskrikkings van die kommunistiese revolusie in Rusland in 1917 en daarna, is so iets nie in die sentrum van Europa en die (“uiters beskaafde”) Duitsland verwag nie.

Natuurlik het dit nie in isolasie plaasgevind nie. Die hervormings van die Sowjetse leier Michail Gorbatsjof en die betogings van burgers in talle Oos-Europese lande het die kommunistiese stelsel reeds in gedrang gebring.

Die toeval wou dit hê dat op dieselfde dag, 9 November 1989, een van die mees vreugdevolle gebeurtenisse in die 20ste eeu sou plaasvind, naamlik die val van die Berlynse Muur – die simbool van skeiding tussen die “vrye Weste” en die kommunistiese lande – en daarmee saam het ʼn nuwe golf van strewe na vryheid en selfbeskikking ook losgebars, wat op sy beurt uitgeloop het op die einde van die Koue Oorlog, die vereniging van Duitsland en die uitbreiding van Westerse demokrasie (ten minste na Oos-Europa, al was dit nie na die res van die wêreld soos aanvanklik gehoop is nie).

Akteurs voer ʼn herlewing uit van die bevryding van Mons, België as deel van die vieringe om 100 jaar sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog te gedenk (11 November 2018). Foto: Geert Vanden Wijngaert/AP

Op 11 November 1918 – presies 100 jaar gelede – is die Eerste Wêreldoorlog beëindig. Duitsland het op dié dag die wapenstilstandsooreenkoms geteken, waarmee die land sy neerlaag erken het.

Die datum 11 November 1918 markeer ʼn waterskeiding tussen twee eras: die een voor die Eerste Wêreldoorlog was ʼn tyd van groot multi-etniese ryke met konings en keisers, ʼn tyd van Europese oorheersing en imperialisme. Dit was ook die era van optimisme en ongekende voorspoed en ʼn groot oplewing in die handel, produksie en vervoer, maar ook kunste, argitektuur, musiek ensovoorts. Dit was Europa se goue era.

Ná 11 November 1918 het alles verander: dinastiese ryke is opgedeel in kleiner etnies gedomineerde state, veral op die Balkan. Demokrasie het nie orals die monargie vervang, soos die Amerikaanse president Wilson gehoop het dit sou nie. Inteendeel, totalitêre ideologieë soos kommunisme en allerhande variasies van fascisme het dit gedoen.

Daar was nog nie sprake van dekolonisering nie, maar in die kolonies het die woelinge reeds begin. Voorspoed het gewyk voor hiperinflasie en later die Groot Depressie. Pleks van optimisme en selfvertroue het nihilisme, genotsug en afkeer van waardes en godsdiens as nuwe lewensuitkyk na vore gekom. Nugterheid in kuns, literatuur en argitektuur het die vorige prag en praal vervang.

Natuurlik hang dit nie alles net van die Eerste Wêreldoorlog af nie, maar die jaar 1918 was ʼn besliste skeidingslyn in die geskiedenis. Die miljoene gesneuweldes (naastenby 40 miljoen, as alle sterfgevalle en vermistes getel word) het ook Europa se selfvertroue aangetas. So iets moes nooit weer gebeur nie en as remedie is ʼn eerste poging tot globale regering, naamlik die Volkebond, ingestel.

Duitsland en sy bondgenote is uitermate hard gestraf in die hoop om hulle onder te hou. Die teendeel is bereik – hulle het verneder gevoel en na wraak gesoek. Dit is intussen ʼn redelike konsensus onder historici dat die Eerste Wêreldoorlog en sy uitkoms die pad vir die Tweede Wêreldoorlog voorberei het.

Europa het as wêreldmoondheid ná die Eerste Wêreldoorlog en nog meer ná die Tweede Wêreldoorlog geabdikeer, maar die Weste het bly staan, danksy die VSA.

Tekenend was ook dat beide die Eerste Wêreldoorlog asook die Reichskristallnacht deur die politieke leiers beveel is, terwyl die val van die muur uit en uit deur burgerlike massa-aksie bereik is.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Twakkie ·

Soek ek nou die “Like”-ikoon! Dankie Sebastiaan Biehl, persoonlik geniet ek sulke oorsigte oor die geskiedenis in breë trekke.

JAN ·

Ja ek soek ook die laaik knoppie en op duimpie!!
Die 20 ste eeu se gemors demoniese staatkunde is in die ABO gebore. kort daarna met die Herero volksmoord en uitgeloop op die diaboliese Dresden slagting deur Mason Bomber Harris: 800 000 + dood in 3 dae !! Hel! Lord Milner sou jaloers en trots gewees het. Ondenkbaar erg die vloek wat die macho mans kultusse op hulself getrek het.

Therese van Schalkwyk ·

Die “einde van die Koue Oorlog” het nog nie tot almal deurgedring nie, anders sou ‘n hand van vriendskap en toenadering tussen twee leiers nie die wêreldmedia so histeries gehad het nie.

Sou graag in die toekoms Sebastiaan se mening wou hoor rakende Macron se stelling dat “nasionalisme” en “patriotisme” iets uit die bose is.
Hoe ironies dat soldate jaar na jaar vereer word vir hul heldedade in oorloë, maar sonder bogenoemde sou niemand bereid gewees het om vir vryheid op te staan nie.
‘n Geval van brood aan albei kante gebotter hê?
Geen landsgrense en geen nasionalisme beteken, na my beskeie mening, hoegenaamd nie geen oorloë nie, en is totaal onprakties en onrealisties.

Sebastiaan ·

More Therese, dankie vir die kommentaar. Macron en Merkel is al twee intellektuele liggewigte as dit kom by historiese insigte, en hulle ken net een tema: alle ellende van die wêreld is die oorsaak van nasionalisme. By elke geleentheid word die deuntjie gesing, of dit nou pas of nie. Die ironie van die saak is dat die gebeure van 1989 sterk deur nasionalisme (=die strewe na selfbeskikking van volkerelke) gedryf is en dat daar ‘n verband tussen nasionalisme en vryheid is. Natuurlik kan nasionalisme ook tot oorlog lei, maar interessant is dat die drywers van die Eerste Wêreldoorlog nie die volke was nie, maar veral die leiers van multi-etniese wêreldryke, oftewel imperialisme.

Therese ·

Net ‘n regstelling: Macron beskou, vreemd genoeg, patriotisme en nasionalisme as teenoorgesteldes van mekaar.

Rupert Ashford ·

Nihilisme, genotsug en afkeer van waardes en Godsdiens…klink bekend. En daarna het die Groot Oorlog en verval gekom.

Stephan de S ·

Nav Therese se opmerking oor Macron: die mens ( meer spesifiek die ontkerstende humanis) sal altyd glo hy/sy is besig om n paradys te bou en sal altyd argumente aanvoer om hierdie komende paradyslike era in helder kleure uit te spel en andere se idees ter selfdertyd af te maak. Hierdie persoon is ook n gelowige: hy glo (in) homself.

Sebastiaan ·

Therese, Macron en Merkel is na my mening intellektuele liggewigte, wat die hele geskiedenis by hulle globalstiese agenda wil laat aanpas: alle ellende is veroorsaak deur nasionalisme, daarom moet ons ‘n wêreldregering bou. In der waarheid was die gebeure van 1989, wat feitlik almal as baie positief beleef het, ook gedryf deur nasionalisme (die strewe na vryheid van volke). Die Eerste Wêreldoorlog is mynsinsiens eerder gedryf deur imperialisme, die strewe na wêreldwye multi-etniese ryke.

Therese ·

Sebastiaan, dankie.
Die “deuntjie” is beslis gesing, en die gewyde okkasie terselfdertyd gekaap, om die Amerikaanse president op voorspelbare wyse by te kom.

jaco ·

en daardie kommunistiese lande was SONDER:
werkloosheid
plakkerskampe
beurtkrag
misdaad soos tans in SA (hulle polisiedienste was paraat en die doodstraf is toegepas)
vuil swak staatshospitale
swak lae standaard onderwys
skole waar leerders die onderwysers aanrand

Dit bly vir my vreemd dat so baie ANC-kaders in daardie lande in exile was en daar opleiding gekry het, maar dat hulle eintlik niks daar geleer het nie. Alles gaan ten gronde in SA en, alhoewel hulle nooit in Hitler se Duitsland was nie, kan hulle maklik dit wat daar aan die Jode gedoen is hier op die wit mense toepas…

Therese van Schalkwyk ·

Net gou nog hierdie:
Sebastiaan, jy móét hierdie artikel deur Marc Thiessen in die Washington Post lees:
“Macron is wrong, there’s nothing wrong with populist nationalism, American-style”.

Hy beskryf die verskil tussen die Europese “blood and soil”-nasionalisme en die Amerikaanse wat geskoei is op “human freedom”. Baie interessant!

(Ek het dit natuurlik op Fox News ontdek)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.