Oktrooi-stede en vrye privaat stede as antwoord op mislukte state

Hongkong (Foto: Dirk Daniel Mann/Pixabay)

ʼn Interessante konsep van outonomie is die van die “charter cities”, wat ons in Afrikaans losweg kan vertaal as oktrooi-stede (dus stede wat op grond van ʼn verdrag tussen twee state tot stand kom), asook die daarmee nou verwante konsep van die vrye privaat stede. Dit is, anders as die talle voorbeelde van politieke outonomie, veral ʼn (liberale) ekonomiese konsep. Vryheid (in die sin van individuele vryheid) en die gees van kompetisie staan voorop. Die beginsel van die vrye mark word oorgedra op die bestuur van mense in ʼn geografiese eenheid.

Hoekom, so word gevra, moet mense in stede leef wat onvolhoubaar, oorgereguleer, besoedel en arm is, omdat die stede deel is van mislukte state? Om hele state te probeer “regstel” en op die vlak van ʼn eerstewêreldse samelewing te lig word al vir dekades met beperkte sukses probeer, omdat die korrupte regerende elite, asook die gevestigde orde ontwikkeling as bedreiging van hulle magsposisie sien.

Daarom is die uitgangspunt van die oktrooi-stede en vrye privaat stede om nuwe stede uit die niet as “eilande van uitmuntendheid” in onderontwikkelde lande te skep, onder Westerse bestuur te plaas en met die grootste moontlike outonomie te beklee. Dit is die tipies liberale uitgangspunt wat mense as verbruikers sien met veral materiële behoeftes wat deur die mark op die grondslag van vraag en aanbod bevredig kan word.

Die sukses van sulke stede lê volgens die voordenkers daarin dat dit sowel die arm lande (wat die grond beskikbaar stel) asook die ryk lande (wat die stad ontwikkel en bestuur) baat: Eersgenoemde hoef nie meer hulle mense te laat emigreer op soek na werk en beter lewensomstandighede nie. Laasgenoemde het ʼn goeie beleggingsmoontlikheid en kan die ideale liberaal-ekonomiese toekomsstad verwesenlik, wat as model vir die opheffing van die derde wêreld kan dien.

Geoktrooieerde stede en vrye privaat stede

Paul Romer, bekende ekonoom en latere nobelpryswenner, het in 2009 tydens ʼn TED (Technology, Entertainment and Design)-konferensie in Oxford in Engeland sy idee van oktrooi-stede, ook bekend as spesiale administratiewe sones, bekend gestel. Die basiese idee is om ʼn eksterritoriale gebied onder Westerse bestuur, met Westerse regsekerheid en doeltreffendheid in ʼn arm land te ontwikkel, met die verwagting dat die gebied ʼn uitkringeffek op sy omgewing het.

Romer se idee is geïnspireer deur baie effektiewe en suksesvolle stede soos Singapoer, Dubai en Hongkong. Singapoer, boonop ʼn staat op sy eie, kan as voorbeeld van ʼn oktrooi-stad dien: daar is feitlik geen werkloosheid nie, baie mense werk in die dienstesektor, dit is veilig en netjies, het ʼn doeltreffende vervoerstelsel, die infrastruktuur is uitstekend en word gereeld in stand gehou. Die staat speel wel ʼn belangrike rol in Singapoer, maar as drywer en nie as remskoen van ontwikkeling nie. Voorwaarde was en is wel baie streng wetstoepassing, die inperking van die vakbonde en ʼn “geleide demokrasie”. Singapoer se welvaart het ook die armer buurland Maleisië beïnvloed. Nie net het derduisende Maleisiërs van anderkant die grens ingependel en hulle lone in hulle eie land spandeer nie, maar Maleisië het sy hoofstad Kuala Lumpur en toenemend ander stede op die lees van Singapoer gemoderniseer en ontwikkel.

Hongkong was, toe dit nog onder Britse beheer was, die kapitalistiese modelstad by uitstek op die voorstoep van kommunistiese China en het daartoe bygedra dat China met kapitalisme in spesiale ekonomiese sones soos Shenzen, intussen ʼn uiters suksesvolle stad in eie reg, geëksperimenteer het en tot die markbeginsel bekeer is. Ook Dubai het ander Arabiese stede as voorbeeld gedien en gewys dat daar ʼn ekonomie anderkant olie, gebou op dienste, toerisme en bankwese, in die Golfstate moontlik is.

Die basiese idee van die oktrooi-stad en die vrye privaat stad is dat die verskil tussen ryk en arm lande veral in enkele faktore gesetel is, soos effektiewe bestuur, eiendomsreg, persoonlike vryheid en veiligheid, regsekerheid, lae belastings en goeie opleiding. Omdat stede in die ontwikkelende wêreld nie of hoogstens uiters moeilik en oor dekades hervorm kan word, moet eilande van Westerse bestuur en doeltreffendheid van die grond af nuut gebou word en hulle omgewing beïnvloed.

Die befondsing van die stadsbouprojek is privaat, maar in die konsep van Romer speel die Westerse staat as borg vir die ontwikkelaars wel ʼn rol. Die regering van die gasheerland tree in vennootskap met die privaatsektor en behou slegs die kernfunksies soos buitelandse verhoudinge, verdediging en sekere dele van die nasionale justisie. Die privaat stad maak eie statutêre wette wat verder strek as gewone munisipale ordonnansies. Dit is werklik outonome stede.

Die konsep van die oktrooi-stad is gerig op ontwikkelende lande wat in die proses van vinnige verstedeliking is. Dit sal nie werk in volledig mislukte state soos Somalië of Haïti nie, maar in state waar ten minste nog die wil bestaan om iets drasties te verander, al ontbreek die kennis en vaardigheid om dit te doen. ʼn Land wat ʼn oktrooi-stad wil laat bou moet ook eiendomsreg waarborg en nie vatbaar wees vir sosialisme nie. Niemand word gedwing om daar te leef nie, omdat dit stede is wat van vooraf opgebou word, en niemand word van sy grond verdryf nie, omdat dit op oop stukke onbevolkte grond gebou word, aldus die ideaal. Dit is eintlik net ʼn verdere keuse vir mense in die ontwikkelende wêreld tussen die slegte status quo en emigrasie. In laasgenoemde geval moet hulle hulleself ook aan nuwe reëls en wette onderwerp en is boonop in ʼn heel ander land en vêr van hulle families af.

Titus Gebel, ʼn ondernemer uit Duitsland, wat al jare lank in Monaco woon en klein state soos sy nuwe tuiste, asook Liechtenstein as voorbeelde sien, het die konsep van Romer verder ontwikkel tot die van vrye privaat stede. Hier lê selfs nog meer klem op die privaat inisiatief, trouens, die ontwikkelaars sluit direk met die gasheerland ʼn verdrag oor die bou en bedryf van ʼn vrye privaat stad. Vir die meeste ontwikkelaars sal die winsmotief voorop staan, maar niks verhoed in Gebel se konsep byvoorbeeld ʼn groep idealiste om hulle eie Utopia, selfs ʼn kibboets-styl stad sonder privaat eiendom, te verwesenlik nie. As daar genoeg belangstellendes is wat inkoop op die idee, dan kan dit verwesenlik word. Die wagwoord is vrywillige assosiasie en die kragte van die mark. Diegene wat die stad bou en bestuur maak die reëls en besluit wie as inwoner toegelaat word. Gebel sien die konsep as die teenmodel vir die globalistiese ideaal van die eenwêreldregerings. Met so veel as moontlik keusevryheid kan elke mens die tipe stad kies wat hom geval (armes het natuurlik nie dieselfde vryheid van keuse as rykes nie).

Die lang pad na uitvoering

Vrye privaat stede is nog net ʼn idee. Die oktrooi-stad is darem al ʼn paar stappe verder, naamlik in die gevorderde beplanningsfase. Hier het die inisiatief vanaf ʼn gasheerland gekom wat die potensiële voordele gesien het, naamlik die Sentraal-Amerikaanse staat Honduras. Ook sy buurland El Salvador het voelers uitgesteek. Honduras is baie arm en onstabiel, misdaad is hoog en talle inwoners emigreer na veral die VSA. Die liberale regering van president Porfirio Lobo het in 2010 met Romer in gesprek getree oor spesiale administratiewe sones. In 2013 is wetgewing deurgevoer om sogenaamde ZEDE’s (die Spaanse akroniem vir “Zonas de empleo y de desarollo economico” (sones vir werkskepping en ekonomiese ontwikkeling, oftewel spesiale administratiewe sones), moontlik te maak.

Daar was en is egter sterk weerstand teen die konsep vanaf dele van die bevolking en sekere politici. Die grondwethof het beslis dat dit ongrondwetlik is omdat die land beheer oor dele van sy grondgebied afstaan. Die wet vir die ZEDE’s is effens aangepas en die regters vervang om dit deurgevoer te kry. Romer het hom van die projek onttrek, omdat die geur van willekeurigheid en korrupsie reeds oor dit begin hang het. Sy idee van die oktrooi-stad was ook dat dit ʼn ooreenkoms tussen twee state is, een uit die eerste wêreld en een uit die derde wêreld, maar nou het dit eerder iets geword soos die konsep van Gebel, waar ʼn groep ondernemers met die regering van die gasheerland onderhandel en daar geen Westerse staat as borg meer betrokke is nie. Nietemin het persone uit Romer se dampkring, asook die regering van Honduras voortgegaan om die eerste oktrooi-stad binne ʼn spesiale ekonomiese sone te beplan.

Die ZEDE’s is grootliks outonoom. Slegs verdediging, immigrasie en sekere nasionale wetgewing soos die strafwet bly in die hande van die regering. Beheer of interne veiligheid, burgerlike wetgewing en regulatoriese strukture is egter alles die verantwoordelikheid van die spesiale administratiewe sone. Die belasting is laag, dit is baie maklik en vinnig om ʼn besigheid te registreer, die arbeidswetgewing is baie werkgewersvriendelik.

As gebied vir die eerste ZEDE is die eiland Roatán aan die noordkus van Honduras gekies. Dit is reeds ʼn taamlik ontwikkelde toeristebestemming met ʼn mate van welvaart in vergelyking met die res van die land. ʼn Stuk oerwoud van 23 ha is aangekoop en opsy gesit om die eerste oktrooi-stad, genaamd Próspera, te verwesenlik. Omdat 23 ha min is vir die ontwikkeling van ʼn stad (al kan natuurlik nog grond langsaan bygekoop word), word nie een groot stad beplan nie, maar ʼn reeks kleiner stede wat na die voorbeeld van Próspera langs die kus van Honduras sal ontwikkel en tussen wie daar sterk wisselwerking en kommunikasie sal wees. Die oktrooi-stede sal ook die geleenthede van die virtuele ruimte ten volle benut. Talle inwoners en maatskappye wat daar geregistreer is, hoef nie fisies daar te wees nie, maar moet wel belange daar hê en hulle jaarlikse fooi betaal. Tot op hede het egter nog geen konstruksiewerk in Próspera plaasgevind nie.

Superstede in Afrika?

In Suid-Afrika was daar in 2019 vir ʼn ruk ʼn debat oor ʼn “superstad”, wat president Cyril Ramaphosa as toekomsvisie voorgestel het. Die superstad wat hier genoem is, het al die eienskappe wat ook die vrye privaat stad of oktrooi-stad het. Ook hier is suksesvolle stede soos Singapoer, Dubai en Hongkong as voorbeelde genoem.

Soos dikwels in Suid-Afrika die geval is, het dit net ʼn idee gebly en was die debat gou weer oor. Anders as die visionêre idee van oktrooi-stede en vrye privaat stede was die superstad-idee van Ramaphosa nie enduit gedink nie. Daar kan wel ook in Afrika superstede wees, maar dit sal beteken dat hulle privaat en op die vrye markbeginsel bestuur moet word. Met die Afrika-houding van ongeërgheid en om te verwag dat dinge uit die lug uit val, is so ʼn stad nie te bereik nie. Dis nie genoeg om daarvan te droom en te verkondig dat “ons” dit sal skep nie.

Verder sal die privaat sektor huiwerig wees om ʼn stad te bou sonder waarborg van eiendomsreg en sonder ʼn mate van outonomie. Afrika en ook Suid-Afrika het geen goeie rekord in die verband nie, nog minder as artikel 25 van die Grondwet wel nog verander gaan word. Dit is tipiese ANC-denke dat die privaatsektor alles moet bou en dit dan later aan die staat oorgedra sal word. In die werklike lewe, oftewel in die suksesvolle lande, werk dit andersom: die staat bou die infrastruktuur omdat hy oor reusefondse beskik en verkoop dit dan aan private eienaars wat dit bestuur, omdat hulle meer effektief is. Op die langtermyn dra die stedelike ontwikkeling, wat deur ʼn klas van ondernemers gedryf word, ook tot die opheffings van die armes by, maar die pad daarheen is lank en lei deur plakkerskampe, ontevredenheid en geweld.

Suid-Afrika, met ʼn aansienlike eerstewêreldse komponent onder sy bevolking, beskik wel oor ʼn paar voorbeelde van iets wat in die rigting van ʼn vrye privaat stad neig, naamlik plekke soos Century City, Dainfern, Silver Lakes of Eldoglen, maar dit is satelliete van groot stede soos Johannesburg en Pretoria eerder as stede in eie reg.

Maroela Media gaan in die komende weke tweeweekliks artikels plaas as deel van ʼn reeks oor outonomie, waarin die term en hoe dit in praktyk neerslag vind onder die loep geneem sal word. In die reeks word daar nie net na outonomiese state gekyk nie, maar ook na mikrostate wat outonoom funksioneer en wat dit in praktyk ook in Suid-Afrika mag beteken. Die reeks is deur Sebastiaan Biehl geskryf wat oor merkwaardige kennis rakende die internasionale politiek en die funksionering van verskeie politieke stelsels beskik. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Enige Afrikanerstad sal veel meer as Hongkong sukkel. Sodra dit superstatus bereik slaan die ‘ware’ eienaar toe om sy stuk vleis op te eis: Totale eienaarskap. Parassiete sisteme is eie aan Afrika. Dit is geneties ingebed.

Hendrik ·

Daar is natuurlik ‘n ander SA model wat baie sukselvol is en dit is hoe die twee plekke soos Orania en Kleinfontein bedryf word. Deur ‘n aandeleblok maatskappy te skep koop jy natuurlik in op die maatskappy en om deel te wees moet jy aan die maatskappy se reels voldoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.