Om nie ’n vuurwapen te mag besit nie, is ’n aanval op burgerregte

ammunisie-vuurwapenwet-vuurwapens

Foto: David Levêque/Unsplash.com

Deur Marius Roodt

’n Uitgelekte dokument, na bewering ’n amendement tot die Vuurwapenbeheerwet, het kommer gewek onder Suid-Afrikaners omdat dit, onder meer, die reg tot selfverdediging as ’n geldige rede vir die besit van ’n vuurwapen sal verwyder.

Ander voorgestelde wysigings sal diegene wat vuurwapens vir sportskiet of jag gebruik, affekteer. Die nuwe amendemente gee ook aanleiding tot verdere hindernisse vir mense wat wettiglik ’n vuurwapen wil besit – potensiële eienaars sal byvoorbeeld ’n mediese sertifikaat van ’n mediese praktisyn moet verkry wat verklaar dat hulle geskik is om ’n vuurwapen te besit.

Om verantwoordelike Suid-Afrikaners te verhinder om ’n vuurwapen te besit, is ’n aanval op burgerregte. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het in ’n groot mate getoon dat hy nie in staat is om die land se burgers te beskerm nie (en dikwels self die aanrigters van geweld en ernstige misdaad is).

Om gewone Suid-Afrikaners se regte te ontneem om ’n vuurwapen vir selfverdediging te besit, is nie net onbesonne nie, maar immoreel.

Dit is ’n feit dat die SAPD die stryd teen misdaad verloor. Die land se moordsyfer het, byvoorbeeld, sedert sy hoogtepunte in die middel 1990’s, voortdurend afgeneem, maar dié tendens het omtrent vyf jaar gelede begin omkeer.

Die jongste statistiek van die SAPD toon dat meer as 20 000 Suid-Afrikaners in 2017-’18 vermoor is – die hoogste syfer sedert 2002-’03. Die moordkoers in 2017-’18 was 36 vir elke 100 000 Suid-Afrikaners – die hoogste in byna tien jaar. Hoewel ons ver van die pieke van moord en geweld is wat ons in die 1990’s ervaar het, is dit uiters sorgbarend dat moord, vir die eerste keer in die demokratiese Suid-Afrika, ’n opwaartse tendens toon.

Daar is beraam dat daar in 2017, as ’n skrikwekkende maatstaf, net meer as 30 000 mense in die Siriese Burgeroorlog gedood is. Dit is insiggewend dat Suid-Afrika – ’n land in vrede – ’n volle twee derdes van die geweldsterftes in Sirië ondervind, terwyl Sirië deur een van die dodelikste konflikte van die 21ste eeu geplunder is.

Verswaarde roof het ook oor die afgelope naastenby vyf jaar ’n toename getoon, met snelle toename in hierdie misdaadkategorie sedert 2013-’14. Statistiek toon dat verswaarde roof in 2017-’18 ’n klein afname in vergelyking met 2016-’17 getoon het. Die syfer van verswaarde rooftogte wat in 2016-’17 aangeteken is, was egter die hoogste syfer wat ooit geregistreer is, en daar was slegs ’n geringe afname in 2017-’18.  Die verswaarde roofkoers per 100 000 in 2016-’17 was ook die hoogste in byna tien jaar.

Verder toon die jongste Slagoffers van Misdaad-opname, wat deur Statistieke Suid-Afrika vrygestel is, dat die publiek besig is om vertroue in die SAPD (en die breër misdaadregstelsel) te verloor, wat, in die lig van die bogenoemde syfers, nie verrassend is nie.

Sommige misdade – soos gewone roof, aanranding en seksuele misdrywe – toon merkbaar skerp afnames, waarvoor die polisie lof verdien. Die feit bly egter staan dat ander ernstige misdade aan die toeneem is. Om mense die reg te ontneem om hulself te verdedig in ’n konteks van toenemende gevalle van ernstige misdaad, is roekeloos.

Ons het vernuwende oplossings vir die misdaadkrisis in Suid-Afrika nodig, en die ontwapening van gewone mense wat vuurwapens wil hê as ’n manier om hulself en hul gesinne te beskerm, is nie hoe ons dit moet hanteer nie.

Ons by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) stel drie nuwe beleidsidees voor wat Suid-Afrikaners op die een of ander wyse kan help om ’n wending in die misdaadsituasie te bring.

Ons stel voor dat enige veiligheidsverbetering aan u huis, of enige uitgawes wat ten opsigte van veiligheid aangegaan word, belastingaftrekbaar moet wees. Baie Suid-Afrikaners bestee reeds groot bedrae aan veiligheid vir hul huise om hulself en hul gesinne te beskerm en hulle behoort toegelaat te word om dit as ’n uitgawe te eis om teen hul belasting te verreken. (Daar word bereken dat Suid-Afrikaners meer as die hele polisiebegroting aan veiligheid bestee.) Dit kan geld insluit wat aan enige veiligheidsverbetering tuis bestee word, sowel as maandelikse heffings wat aan veiligheidsmaatskappye betaal word. Die belasting wat gewone Suid-Afrikaners betaal, befonds reeds die polisie, wat in baie opsigte getoon het dat hulle nie daartoe in staat is om burgers te beskerm nie.

Tweedens stel ons voor dat gemeenskappe toegelaat word om hul stasiebevelvoerders te verkies tydens die plaaslike regering-verkiesings of, minstens, dat gemeenskapspolisieforums sterk uitgebreide magte moet verkry om stasiebevelvoerders aan te stel. Op dié manier sal die hoof van u plaaslike polisiekantoor regstreeks vir die gemeenskap aanspreeklik wees. Indien die plaaslike polisie swak presteer, korrup is of – nog erger – ernstige- en geweldsmisdade pleeg, sal die gemeenskap eenvoudig die stasiebevelvoerder kan herroep en ’n ander een aanstel. Stasiebevelvoerders hoef ook nie noodwendig dienende polisiebeamptes te wees nie. Enige toereikend ervare persoon met die kwalifikasies om ’n organisasie te bestuur, sou verkies kon word, wat aan die gemeenskap ’n groot kombinasie van kandidate laat om van te kies.

In die derde plek stel ons die ontwikkeling van baie goed georganiseerde buurtwagskemas met toereikende hulpbronne voor wat by private sekuriteitsvoorsieners geïntegreer is. Dit sal u gemeenskap in staat stel om prakties beheer van sy eie veiligheid oor te neem. Sulke strukture kan later by die polisie geïntegreer word.

Ons het nuwe oplossings nodig om misdaad te bestry – die styging in ernstige misdrywe toon dat die polisie nuwe idees nodig het. Dit kan gedoen word sonder om gewone Suid-Afrikaners die reg te ontneem om hulself te bewapen. Suid-Afrikaners, ongeag of hulle burgerlikes of lede van die SAPD is, moet saamwerk om die deurslag te gee teen misdaad. Ontwapening van gewone Suid-Afrikaners sal enige hoop op samewerking vernietig, wat net die planne sal bevorder van diegene wat buite die grense van die wet funksioneer.

  • Marius Roodt is hoof van reklame by die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), ’n liberale dinktenk wat ekonomiese en politieke vryheid bevorder. Indien u saamstem met wat u so pas gelees het, stuur gerus u naam na 32823 SMS (SMS’e kos R1, bepalings en voorwaardes is van toepassing).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jerry ·

Baie goeie voorstelle wat maklik geimplementeer kan word en wat realisties is. Dit is egter dalk te voor die hand liggende voorstelle. Dit is dalk presies in die rigting wat die staat ons denkwyse forseer, bv meer en meer sekuriteit is werkskepping vir die ANC regering se mense en sou die regering daarvoor begin betaal deurdat dit belasting aftrekbaar is, verhoog hulle bloot belasting in ander areas om die veiligheidsarea te dek. Tweedens word jy eintlik soos in n tronk opgepas deur ANC kaderbewaarders, want wie stel jy aan uit sekuriteitsgeledere, wie nie n ANC of EFF volgeling is? Die kanse dat hierdie sekuriteit tydens politieke onstuimigheid teen jou draai is 100%. Dit sou uiters dwaas wees om staat te maak daarop om beveilig te word deur mense van n ander volk, veral n volk wie jy vir geen oomblik mag vertrou nie en wie daarop ingestel is om die onreg van die verlede reg te stel deur regstellende aksies wat daarop ingestel is om aan jou te doen soos wat daar aan hulle gedoen was. Ek stel voor dat julle ernstig begin besin oor veiligheid en verder dink as wat julle beperkte lewenswedervaringe strek. Jy kon nog nooit oplossings vir probleme in Afrika, laat staan nog in SA , net in boeke vind nie, jy vind dit in die ongeskrewe woord!

John ·

… nee Jerry… aaikonna… waar is die versoeningsdaad vir vandag… versoen jou met die gedagte dat sy mag sterf vir die regte van die minsdadiger. Wat weet jy van die man se pyn en lyding en sy behoefte aan doofmiddels om die probleem hok te slaan. Nee, boet, versoen jou… dis die regte ding om te doen… maak ‘n verskil…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.