Onafhanklike onderwys noodsaak innoverende denke oor skolesport

Deur dr. Adi Schlebusch

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

In ʼn onlangse meningstuk op Maroela Media, getiteld “Die nuwe era vir Afrikaans in skole” skryf Charlotte Fourie van Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum dat die toekoms van onderwys vir die meeste Afrikaner-gemeenskappe gesetel gaan wees in “onafhanklike, selfstandige skole in elke gemeenskap wat Christelike onderrig van gehalte Afrikaans bied en deur die gemeenskap besit en bestuur word”.

Ek stem met haar saam, maar as iemand wat 16 jaar gelede aan ʼn onafhanklike Afrikaanse en Christelike skool gematrikuleer het en wie se kinders nou ook een bywoon, praat ek uit ervaring as ek beweer dat die enkele belangrikste struikelblok vir die vestiging en groei van sulke onafhanklike skole sportbeoefening is, en dan meer spesifiek rugby en netbal.

Daar bestaan by my geen twyfel dat die oorgrote meerderheid Afrikaner-ouers in die meeste dele van ons land reeds bewus is dat die akademiese onderrig by byvoorbeeld BCVO- of ICO-skole van hoogstaande gehalte is nie. Die BCVO se matrikulante skryf immers die internasionaal-bekroonde IEB-eindeksamen — dieselfde eksamen wat deur die leerlinge van Suid-Afrika se mees elite privaat skole soos Kearsney College, St. Stithians College en Helpmekaar Kollege afgelê word. Verder kan ek uit ervaring getuig dat kultuurbeoefening floreer by onafhanklike Afrikaanse skole.

As dit egter by spansporte soos netbal en veral rugby kom, dan is leerlinggetalle—oftewel die gebrek daaraan—verseker ʼn belemmering en deurlopende kopseer. Soveel keer in my lewe het ek al geesgenote teëgekom wat sou verkies om hul kinders in ʼn onafhanklike Christelike skool te sit, maar dan is die gebrek aan geleenthede in rugby en netbal (en soms ook atletiek) die één nadeel van sulke onafhanklike skole wat ouers keer om daardie belangrike stap te neem.

Aangesien BCVO- en ICO-skole nou al vir meer as 30 jaar, ten spyte van top akademiese prestasies, met uiters beperkte sukses daarna streef om leerlinggetalle gelig te kry, behoort dit ook nou duidelik te wees dat hierdie probleem nie vanself opgelos gaan word nie. Dis natuurlik maklik vir ons, met ʼn agtergrond en belange in die privaat onderwyssisteem, om diegene wat vasklou aan openbare onderwys te verkwalik en te beskuldig van die verheerliking van die “sportgod”, maar die realiteit is dat ook die keuse vir openbare onderwys nie deur gelowige ouers en leerlinge ligtelik geneem word nie. Verder moet die belangrikheid van gereelde, kompeterende sportbeoefening in kinders se ontwikkeling nie onderskat word nie.

Daar is twee maniere waarop ek meen hierdie probleem wat betref die groei van onafhanklike skole aangespreek kan word, en waardeur nie net aan leerlinge in kleiner onafhanklike skole nie, maar ook leerlinge in kleiner openbare skole meer sportgeleenthede gebied kan word.

Die eerste is die bevordering van sportsoorte wat in elk geval buite skoolverband beoefen word. Die sukses wat professionele sterre soos Dricus du Plessis en Cameron Saaiman tans in Gemengde Vegkuns behaal, doen wondere vir die gewildheid van sporte soos byvoorbeeld stoei en jiu-jitsu onder jong seuns. Hierdie sporte word in Suid-Afrika buite skoolverband beoefen en is relatief goedkoop om aan deel te neem. Tennis en skaak is verdere voorbeelde van sporte wat al vir jare kompeterend beoefen word, binne sowel as buite skoolverband.

Leerlinge kan vir hul skool deelneem, maar ook as indiwidue aan nasionale en plaaslike toernooie buite skoolverband deelneem. Verder het ʼn skool nie 15 goeie tennisspelers of skaakspelers in elke ouderdomsgroep nodig om kompeterend te wees nie. Spanne, bestaande uit twee tot vier leerlinge uit dieselfde hoeveelheid ouderdomsgroepe, kan teen mekaar kompeteer en ligas kan so ingerig word om kleiner skole te akkommodeer.

Dit kan egter nie ontken word dat rugby, krieket, netbal en hokkie ʼn integrale en wesenlike deel van ons volk en ons kinders se kultuur vorm nie. Ouers en leerlinge het nou maar eenmaal ʼn behoefte aan kwaliteit afrigting en kompeterende geleenthede. Dit is met goeie rede dat Suid-Afrika spog met die hoogste standaard skolerugby ter wêreld. In die lig hiervan is my tweede en belangrikste voorstel ʼn eenvoudige herstrukturering van hoe skolesport, en veral rugby en netbal, op plaaslike vlak beoefen word, met die uiteindelike doel om ons gemeenskappe as geheel geleidelik meer onafhanklik te maak van staatsonderwys.

Indien twee of meer skole in ʼn gemeenskap ʼn vennootskap aangaan om slegs een rugbyakademie of netbalakademie te bestuur, in plaas van twee of drie verskillendes, kan kinders uit ʼn verskeidenheid skole saam in beter, meer kompeterende spanne deelneem, wat dan natuurlik aan leerlinge uit al die betrokke skole meer geleenthede sal bied om ook teen groter skole te speel. Ek meen dat so ʼn model ideaal sou kon werk in dorpe of voorstede waar daar byvoorbeeld net twee openbare Afrikaanse laer- of hoërskole en miskien een onafhanklike Afrikaans-Christelike skool is.

Sulke kombinasiespanne is ook alreeds vir dekades lank hoegenaamd nie meer ʼn vreemde verskynsel, selfs in professionele sport, nie. Dink byvoorbeeld aan hoe die WP, SWD en Boland kombineer om die Stormers te maak. Selfs die republiek van Ierland en Noord-Ierland, wat twee verskillende lande is, kombineer om die Ierse nasionale rugbyspan saam te stel. ʼn Soortgelyke vennootskap op skolevlak sal nie net help om kleiner, onafhanklike skole meer aanloklik te maak nie, dit sal ook die finansiële druk help verlig op bestaande openbare skole wat hulself wil bevry van staatsafhanklikheid.

Verder sal dit ook konfessionele BCVO- of ICO-skole help beskerm in die sin daarvan dat daar nie soveel druk op hierdie skole sal wees om hul Gereformeerde belydenisgrondslag en unieke identiteit af te water bloot om meer leerlinggetalle na te jaag ter wille van sportdeelname nie. Ook die MOS-Inisiatief wat vinnig besig is om ʼn nuwe privaat Afrikaanse skolenetwerk daar te stel, sou kon baat vind by deelname aan so ʼn model. Die oorwegend Rooms-Katolieke Republiek van Ierland en die oorwegend Protestantse Noord-Ierland, wat hul verskille tydelik op die rugbyveld neerlê, dien vir ons as voorbeeld van hoe verskillende tipes skole met uiteenlopende uitgangspunte, doelwitte en wêreldbeskouings op plaaslike vlak op sportgebied kan saamwerk in die belang van die gemeenskap as geheel.

Ek besef my voorstel mag dalk aanvanklik vreemd klink omdat ons gemeenskappe alreeds vir generasies gewoond is aan ʼn bepaalde manier van dinge doen, maar die werklikheid is dat in baie gemeenskappe die nodige infrastruktuur en afrigting alreeds in elk geval in plek is, en dat so ʼn model bloot by wyse van ʼn eenvoudige herstrukturering van hoe rugby- en netbalspanne op plaaslike vlak saamgestel word, maklik in werking gestel kan word.

Dit kan eenvoudig nie meer ontken word dat openbare onderwys in hierdie land in ʼn krisis verkeer nie, en dit is daarom uiters noodsaaklik dat hierdie groot struikelblok, op ons weg na bevryding van ʼn onderwyssisteem wat in die hande van ʼn korrupte, onbekwame en sekulêre owerheid is, dringend aangespreek word. Ek meen dat hierdie ʼn uiters noodsaaklike stap is as ons wil sien hoe onafhanklike Christelik-Afrikaanse skole floreer.

Ek beweer geensins dat die implementering hiervan sonder uitdagings gaan wees nie. Verder is ek deeglik bewus daarvan dat so ʼn voorstel nie in elke skool of gemeenskap werkbaar sal wees nie. Dit hoef ook nie, want elke gemeenskap en skool is uniek. Dit is egter die hoop dat hierdie bydrae ten minste ʼn baie belangrike en dringende gesprek aan die gang sal sit.

  • Dr. Adi Schlebusch is ‘n navorser by die departement sistematiese en historiese teologie by die Universiteit van Pretoria.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ABDP ·

Baie dankie vir beide skrywers van altwee artikels. Dit raak presies aan wat ek as ouer voel en waarom ek nie die stap kan neem om my kinders in ‘n onafhanglike skool te sit nie. Die onhafhanglike Christelike Afrikaanse skole in ons omgewing is nog net te klein om spansport aan te bied waarin my kinders floreer. Sonder sport sal my kinders wegkwyn. Die openbareskole se kele word afgesny deur die staat en ons onderwysers in die opernbareskole moet al hoe meer kreatief wees om seker swak standaarde te omseil. Ek hou van die voorgestelde plan en dit is waarlik nie so vreemde idee nie. Ek sou voorstel dat dit self vir tuiskool leerder die geleentheid moet bied om die gemengde spanne te maak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Vra senior klubs in die dorp om junior spanne te vestig. Kompenteer dan deel teen gewone skole. Dis hoe dit werk in Europa.

Jakkie ·

Bittermin skole funksioneer so op die vasteland in Europa, die oorgrote meerderheid is by klubs .

Jakkie ·

‘n Groot struikelblok is fasiliteite. Senior klubs kry swaar omdat munisipaliteite fasiliteite se instandhouding vir dekades agterweë gebly het. Lig klubs hul affliasiefooie om daarvoor voorsiening te maak raak dit weer te duur vir die gewone persoon. Kyk net wat kos ‘n Astro-hokkieveld…….Ordentlike turf-kolfblad se instandhouding en voorbereiding, herseeël van ‘n tennis/netbalbaan se oppervlakte.
My voorstel is raak betrokke by jou skool in jou gemeenskap. Daar is nog tans voorsiening vir skole om hul eie taalbeleid, godsdiensbeleid ens. te bepaal. (Hopelik word BELA wetgewing gestuit). Hande op ‘n OOV en SBL kan ‘n positiewe verskil maak. Maak onderwysers se hande sterk in jou gemeenskap.
Ongelukkig word die veral van sportfasiliteite ook nie gekeer in die Wes-Kaap nie met talle voorbeelde van Vredendal tot Plettenbergbaai en alles tussein.

Andrew ·

Die vraag is of jy jou kind sport geleenthede wil gee of jy dink jou kind gaan n internationale ster word. Op die ou end kan daar stats uitgewerk word maar ek sal sê min kinders maak dit tot bo, veral ras kwotas in ag geneem. Die BCVO bied spansport aan, dit word wel in streek verband huideglik kompiteerend aangebied. Van ons skole se fasaliteite kan met meeste dorp skole saam gesels en word baie moeite, veral met 0/6 en 0/7 speleres gedoen en het die afrigters ook die nodige kwalifikasies. Elke skool gaan verskil en getalle maak n verskil in aanbiedings. n Gesin ry om die rugby te gaan kyk. Daar staan een mototr by n resturant en hulle ons stop daar, die volgende ou dink dis n lekker resturant die, dit moet wees hier is mense, en hy stop ook. Toe hulle weer kyk was die resturant vol en jolig en geniet almal saam die rugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.