Onderhandelinge met Oekraïne, Moldawië as toekomstige EU-lede

Vlag van die Europese Unie (Foto: Elias/Pixabay)

Terwyl dinge vir Oekraïne nie goed loop op die oorlogsfront nie, was daar wel ʼn belangrike simboliese deurbraak deurdat die Europese Unie (EU) se 28 lidlande se leiers besluit het om die lang proses van onderhandelinge oor lidmaatskap met Oekraïne, asook met Moldawië, te begin. Oekraïne het verlede jaar, kort na die aanval deur Rusland, aansoek vir lidmaatskap van die EU gedoen en het nou gekwalifiseer om in die toekoms lid te word.

Dit het gevolg na lang en taai onderhandelinge tussen die bestaande lede van die EU, wat eenstemmigheid oor nuwe lede moet bereik. Die weerstand het by name van die uitgesproke leier van Hongarye, Victor Orban, gekom. Hy wys tereg daarop dat Oekraïne baie arm en erg korrup is en met sy groot bevolking van 42 miljoen mense ʼn ontsaglike las tot die EU sal toevoeg. In Orban se agterkop sit ook die bekommernis dat Hongarye, binne die EU een van die armer lande, dan ʼn baie kleiner deel van die EU-subsidies sal kry.

Duitsland, wat die grootste deel tot die EU se begroting bydra, is egter een van die groot ondersteuners van Oekraïne se lidmaatskap, want anders as Orban tree die Duitse regering in belang van ander lande en nie in sy eie belang op nie.

Orban het hom tot die taktiek gewend om sy toestemming tot die onderhandelinge met Oekraïne te weerhou, maar het die proses ook nie geblokkeer nie deur eenvoudig die vergadering te verlaat sodat die ander 27 lede eenstemmigheid gehad het. Hy het egter net daarna ʼn groot hulppakket van €50 miljard aan Oekraïne geveto. Dit blyk ʼn taktiese skuif te wees om die EU te dwing om sy eie blokkasie van ʼn koronavirus-verwante hulppakket aan Hongarye, waarop elke lidland geregtig is, te laat vaar. Hongarye s’n word teruggehou as straf vir sy nasionalistiese beleid, al word dit deur die EU anders omskryf.

Die proses om lid van die EU te word, is wel ʼn baie lang een, met talle hindernisse, en Oekraïne het heelwat huiswerk om te doen om aan die neergelegde vereistes te voldoen. Die betekenis lê egter daarin dat die EU sy steun vir dié land in sy stryd teen Rusland bevestig en dit daarmee as ʼn wesenlike diplomatieke oorwinning gesien kan word.

Ook Moldawië het aspirant‑lidstatus bekom; hieroor was daar eenstemmigheid. Dit is wel ook ʼn arm land, maar klein en daarom nie ʼn groot las vir die bestaande EU nie. Ook hier was die hoofrede die simboliek om ʼn voormalige deel van die Sowjet-Unie en ʼn land wat deur Rusland geboelie word, in die boesem van die Weste te verwelkom. Ook Moldawië het heelwat huiswerk om te doen; korrupsie is ook hier hoog en die politieke situasie onstabiel asook ʼn gedeelte van sy grondgebied al vir dekades deur pro-Russiese separatiste beset.

Hierdie simboliese oorwinning vir Oekraïne kom hoogs tydig en die land se president Wolodimir Zelenski was dienooreenkomstig opgewonde. Dit kom kort nadat Oekraïne se grootste ondersteuner, die VSA, verdere finansiële hulp aan die land eers op ys gesit het weens ʼn blokkasie deur die senaat, wat deur die Republikeine beheer word.

Intussen loop dinge op die oorlogsfront egter nie goed vir Oekraïne nie. Die someroffensief wat hoopvol begin het, het minimale resultate opgelewer en tans sit Oekraïne en Rusland met ʼn toestand soos in die Eerste Wêreldoorlog se wesfront, waar met groot verliese om enkele vierkante kilometer geveg is. Die aanbrekende winter verhoog verliese nog verder en maak enige deurslaggewende deurbraak onwaarskynlik.

Vir Rusland, wat oor veel groter hulpbronne en oor die langer asem beskik, is die huidige toestand voordelig en plaas die land in ʼn sterk posisie indien daar wel onderhandelinge sal volg.  Alhoewel Rusland se president Wladimir Poetin sy aanvanklike doelwit, naamlik om die hele Oekraïne te beset en ʼn vasalregering in beheer te plaas, nie bereik het nie, het hy, al was dit teen groot verliese, aansienlik grondgebied verower. Ook die reeds in 2014 verowerde Krim‑skiereiland is nou beveilig deur ʼn territoriale buffer. Oekraïne se verklaarde doelwit om elke vierkante meter grondgebied van Rusland te bevry, insluitende die Donbas en die Krim, blyk ʼn illusie te wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.