Onderlinge verhoudinge en beleid kan grond-toekoms bepaal

Argieffoto

Die  eerste stappe het agter die skerms begin om die nagevolge van die parlementêre besluit oor die onteiening van grond sonder vergoeding met die mins moontlike benadeling van die land te probeer hanteer.

Terwyl kommer onder eiendomsbesitters aan’t toeneem is dat die land ekonomies ten gronde kan gaan, het verskeie rolspelers ingetree om die skade te beperk.

Suid-Afrika was al dikwels op die rand van die afgrond. Laat ons mekaar nie fop nie – dit is nou een van daardie kere. Voordat boere en eiendomseienaars die vuurhoutjies vat en plase begin afbrand eerder as om dit in vreemde hande te laat val, soos sommiges reeds dreig, is ’n meer konstruktiewe benadering nodig, verkieslik ook van daardie politieke partye (die DA, VF Plus, ACDP en Cope) wat teen die parlementsmosie gestem het.

Die Suid-Afrikaanse geskiedenis is vol voorbeelde van mense wat moed opgee en dwarstrek terwyl ander oplossings soek. Om oplossings te vind is moeilik en voel selfs soms onmoontlik. Maar ons land se geskiedenis is vol voorbeelde van sulke oplossingsuksesse. En om te probeer kan nooit te veel moeite wees nie.

Daar moet klem wees op die rol van burgerregte- en gemeenskapsorganisasies, maar altyd met die besef dat ons nou met ’n parlementêre proses te doen het, en dat die doelwit in hierdie verband nie die opstoom of uitbou van daardie groeperinge met wie reeds saamgestem word kan wees nie, maar die oorhaal van daardie parlementêre groepe met wie tans verskil word.

In die ANC is daar nie eensgesindheid oor die kwessie nie. Dit was duidelik uit die onentoesiastiese reaksie van baie ANC-LP’s tydens die debat. Die kwessie het per slot van rekening in Desember byna vir ’n vuisgeveg tydens die ANC-konferensie by Nasrec gesorg.

Diegene wat meen die parlementsbesluit oor grond was verkeerd, moet ag slaan op die klemverskille binne die ANC en in landsbelang gemene grond (as jy die woord sal verskoon!) vind. Daardie gemene grond is nie eiebelang of ’n verdeelde verlede nie. Dit is die algemene welsyn opgesluit in een gesamentlike toekoms.

Vir die EFF, met net 6% setels in die Nasionale Vergadering, was dit ’n dag van triomf. Hulle het binne ’n jaar nadat die ANC-LP’s eenparig teen so ’n mosie gestem het, die oorwinning daaroor behaal.

Maar ’n feit wat nie dikwels deur die EFF se vele teenstanders in ag geneem of waardeer word nie, is die enorme intellektuele kapasiteit wat in die EFF-leierskap opgesluit lê, die party se gewilligheid tot debat en die wil in EFF-geledere om nie die land te laat misluk nie.

Die EFF kan, weens rasgebaseerde uitgesprokenheid, dikwels baie moeilik wees om mee in gesprek te tree. Hulle kan baie beledigend, uitlokkend en aspris wees. Dit is egter noodsaaklik dat diegene wat met die EFF se oplossing vir die grondkwessie en ander strydpunte verskil, die selfvertroue vind om die intellektuele lendene te omgord en op ’n basis van gedeelde Suid-Afrikanerskap en die wil om ook te luister, nie net te praat nie, ’n debat aan te knoop met die EFF. Daar is niks daaruit te verloor nie.

Voorts is daar ander rolspelers wat betrek kan word. Wat is die binnelandse achilleshiel van hierdie parlementsbesluit? Dit is die gevolge daarvan vir diegene in die laer middelklas en die onderklas wat pas onlangs eiendom bekom het of aspireer om eiendom te besit.

Daardie mense word, in die woorde van die ACDP se LP Cheryllyn Dudley, nou nogmaals deur die feit gekonfronteer dat die staat hul eiendom kan afvat of hul vermoë om eiendom te besit kan wegneem. Daar is die mark, en dit sluit gemeenskapsorganisasies in wat nie in die verlede die politieke partye met wie hulle nou kan saamtrek, goedgesind mog gewees het nie.

Twee ander groeperinge wat in gesprek met spesifiek die ANC en EFF sal moet tree, is sakelui en buitelandse regerings. Dit gaan op ’n opbouende manier gedoen moet word. En glo my vry, die deure is oop. Die geheim is om die gesprek op die regte manier binne te gaan en bereid te wees tot deelname, deur veral te luister ten einde te begryp, en dan op die regte tyd en manier self te praat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eish ·

Dit is altyd moeilik om grondbesit en emosie te skei, veral hier.
Die artikelskrywer doen verseker die nugtere ding deur gesprekvoering aan te moedig. Nie alleen dwing dit jou tot nugtere en kalm denke nie, maar laat jou die geheelbeeld sien deur gesprekvoering met diè van ander oortuigings.
Vir geprekvoering om suksesvol te wees deurdat die beste besluite in landsbelang geneem kan word, is dit myns insiens dan goed dat vanuit n gelyke magsbasis gepraat word. Tans, met minderhede en dan veral die Afrikaanssprekende wit minderheid, se doelbewuste uitskuif uit alle sfere, is dit ernstig te betwyfel of deelname vanuit diė geledere wesenlik sal impakteer op besluitneming. Populisme het ware leierskap ernstig gekaap en vergeldingsmotief loop stroopdik deur die meerderheidsregering se benadering tot ons as minderheidsgroep.
Met n gebrek aan integriteit, verantwoordbaarheid, karakter, en kapasiteit soos bewys die afgelope 23 jaar, gaan bespreking eenvoudig onder die huidige leierskap, n vertragings effek hê.
Indien na historiese onderhandelings gekyk word, is dit duidelik dat die meerderheidsregering nie in die gees van die onderhandelings optree nie en dat absoluut geen waarborge gegee kan word nie.
Myns insiens dus, is dit hoogstens n vertragingstaktiek.
Die meerderheidsregering se slymspoor die afgelope 23 jaar, boesem hoegenaamd geen vertroue by my in nie en is die die klas van gesprekvoering niks meer dan n helse Vrystaatse stofstorm nie.

Wim ·

Dankie vir jou raad, wat soos ‘n welkome briesie is, ek hoop elkeen, maar elkeen in hierdie land lees jou vanoggend en doen presies wat jy voorstel.

Jerry ·

Niks is onmoontlik nie en ja daarom stem ek met jou saam dat oplossings gevind kan word as daar n wil is. Jan, was jy al betrokke in onderhandelings met die EFF, is jy vertroud met hulle Marxistiese Pan Africanist ideologie en ken jy hulle onderhandelingstegnieke en taktiek?

Veritas ·

Jan-Jan, ek waardeer die doel van jou artikel, om gemoedere te kalmeer. Die probleem is net dat dit nie die aanslag teen die blanke gaan stuit nie. Moet asb nie vir een oomblik dink dat die ‘intellektuele’, soos jy hulle noem, binne die EFF, net ‘n geraas maak nie. Hierdie mense bedoel elke woord wat hulle sê en durf nie nou ‘n ommekeer maak nie want dit sal hul aansien sleg laat kwyn. Hulle besef dit maar terdee en soos Malema gesê het, die tyd van versoening is verby en die oomblik van ‘justice’ is hier. Weet jy wat die woord ‘justice’ hier beteken? Laat ek jou inlig. Dit beteken nie ‘reg’ of ‘geregtigheid’ nie, dit beteken dat hulle die reg in eie hande gaan neem. Die Engelse het ‘n mooi term om dit uit te druk. Mark my words!

Gerhard ·

Ek vermoed onderhandelinge met die ouens kan soortgelyk opeindig as die onderhandelinge wat wyle Piet Retief gehou het met Dingaan. Ek vermoed daar was ook ouens wat gedink het dat onderlinge verhoudinge die grond toekoms kon bepaal. Dit was dalk net ‘n geval waar Dingaan gevoel het hy het nie nodig om te onderhandel nie.

Bert ·

Pure wensdenkery. Dat daar ‘n uiteindelike oplossing kan wees. Die ANC en EFF is nie bona fide nie en hul uiteindelike doelwit is wraak en die ondermyning van blankes. Hulle manuever ons om stap vir stap alles op te gee. Sal ons nooit leer nie? Daar was nooit enige 1994 skikking nie, ons is nog steeds in ‘n staat van oorlog.

Casper Labuschagne ·

Daar is geen manier om onteiening sonder vergoeding selfs net te debatteer sonder om reeds enorme skade aan ons stilstaande ekonomie aan te rig nie. En sou die grondwet bloot net gewysig word en geen, of die minimum onteiening in die nabye toekoms plaasvind, sal beleggersvertroue effektief reeds daarmee heen wees en sal die meerderheid wit mense daar en dan planne in werking stel om so spoedig moontlik te emigreer. Daarby is daar die feit dat onteiening onder die militante faksie asook die jeugdige “born frees” nie soseer oor die grond gaan nie maar wel oor vergelding teenoor die wit minderheid. En al word 100% van alle eiendom onmiddelik genasionaliseer, sal die drang na vergelding nog lank nie naastenby versadig wees nie.

Gemsbok ·

Die vorige keer toe ons na hierdie goedklinkende samewerkingsteoriëe geluister het, het ons ons veiligheid, universiteite, skole en werksgeleenthede vir ons kinders weggeteken.

Vir Afrikaners is daar maar een enkeke langtermynoplossing: beset ‘n eie grondgebied as meerderheid en neem so politieke beheer in eie hande.

Einherjaer ·

Ek is bevrees daar gaan maar min onderhandel en saampraat wees. Eerder ons skree en julle moet gedwee luister of anders.

Die oorlog tromme het begin drom die oomblik toe die ANC dit duidelik gemaak het dat hul nie meer ag slaan op die skikkingsonderhandelinge van Kodesa en wat ooreengekom is nie. Afrikaans is uit universiteite, howe en die openbaar geboender en ons het dit maar aanvaar so.

Nou het hulle eiendom in hul visier en die EFF stel duidelik dat “tyd vir versoening verby is en dis nou tyd vir geregtigheid (eintlik vergelding)”. As die afgelope 24 jaar ons een ding geleer het, is dit dat ons nie meer kan stil sit en als maar net aanvaar nie. Ons teenkant is nooit versadig nie, hul vat soveel hul kan kry en ons gee maar net.

As ons nie ‘n streep trek in die sand nou nie, gaan hul voortgaan om net te vat. Tyd vir onderhandeling is in 1994 verby en ons het die brug afgebrand voor ons veilig aan die anderkant was. Ons onderhandel uit ‘n posisie van beperkte mag en ons teenkant het niks om te verloor nie.

Eks bevrees om die volk verder te probeer paai en gesprekvoering as sus middel te gebruik grens aan nalatigheid. Ons sal eers mag moet herwin anders stoomrol hul ons by enige onderhandeling. Hoe om mag te herwin sonder om grootskaalse oorlog te veroorsaak is egter ‘n ope vraag en miskien gans onmoontlik tans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.