Ons moet waak teen die denkpolisie

Deur Francois Redelinghuys

Francois Redelinghuys

Ons is almal dit eens dat 2020 wêreldwyd tot dusver ’n uitdagende jaar was. Dit is weens die invloed sowel as die reaksie van regerings op die koronavirus, maar ook weens verskeie “mini-bewegings” wat in hierdie tydperk vlamgevat het. Die politieke spektrum het onherroeplik verander en hoewel hierdie spektrum alewig aan die skuif is, is daar duidelike ideologiese lyne in die sand getrek.

In 1949 skets George Orwell in sy bekende boek 1984 ’n sombere toekoms waar ’n oppermagtige regering, deur middel van sy departement van waarheid, feite en gebeurtenisse verdraai sodat dit die oppermag absoluut laat voorkom. Indien jy voorts in hierdie denkbeeldige land nie met die regerende elite se denke saamstem nie sal die denkpolisie daarvan seker maak dat jy op ’n geheimsinnige wyse in die middel van die nag verdwyn en alle herinneringe van jou op die ashoop van geheue verbrand word. Hoewel hierdie outoritêre magte in die boek vryheid van spraak inperk, is dit nie die uiteindelike doelwit nie, maar bloot ’n middel tot die uiteindelike doel om jou denke te verander: “Wanneer jy uiteindelik aan ons oorgee, moet dit vrywillig wees,” verklaar die antagonis, O’Brian na aan die einde van dié boek.

Onlangse gebeure en die opbloei van sosiale geregtigheidsbewegings (voeg self een in) het daarin geslaag om ’n denkpolisie, eiesoortig in ons tyd, te vestig. Nee, dit is nie noodwendig ’n oppermagtige regering wat jou denke wysig nie – alhoewel ’n mens die vinger na sekere uitsprake van howe op eie bodem kan wys – maar eerder ’n boendoehof wat verseker dat indien jy nie met hulle saamstem nie, jy verguis en eenvoudig ‘gekanselleer’ sal word. Iets wat maklik bewerkstellig word deurdat jy as ’n een of ander ‘iets’ (voeg weereens jou eie belediging in) gebrandmerk word. Ons sien onlangs hierdie tendens veral in die VSA, maar loop die gevaar dat Suid-Afrika ook binnekort selfaangestelde denkpolisiëring kan ervaar.

Die opkoms van onverdraagsaamheid teenoor opponerende denke behoort die rooi ligte te laat flikker. Die veronderstelling dat jy vryheid van spraak het mits jy saamstem met die heersende idees van ’n betrokke beweging is, bo en behalwe die absurditeit daarvan, ’n gevaarlike tendens. Die reëls van wat en hoe ’n mens moet dink is so vloeibaar en verander teen so ’n snelle pas dat jy jou vinnig aan die sogenaamde verkeerde kant kan skaar en dan die skuim van die samelewing word. Uiteindelik lei hierdie kultuur van onverdraagsaamheid daartoe dat ’n mens op eierdoppe begin loop weens die vrees dat, indien jy jou eie denke opper, jy ‘vervolging’ van die heersende ideestroom van die week in die gesig mag staar.

Hierdie situasie is besig om hom vandeesweek voor ons af te speel met die uitsprake in sportgeledere oor die BLM-beweging. Jean de Villiers, voormalige Springbok-kaptein is onlangs in die nuus aangehaal nadat hy genader is om kommentaar te lewer oor aantygings van vervreemding van swart spelers tydens sy kapteinskap. Hy het onomwonde gestel dat hy nie bereid is om kommentaar te lewer oor die saak nie. Ek wil my nie veronderstel wat sy standpunt oor die saak is nie, en vir die doeleindes van die artikel maak dit ook nie werklik saak aan watter kant van die munt hy hom skaar nie. Ongeag wat De Villiers in reaksie hierop sal sê, gaan hy of uitgekryt word of ten slegste sy inkomste kwyt wees.

Ons sal moet standpunt inneem teen die veronderstelling dat as jy nie met iets saamstem nie, jy as Lucifer homself gebrandmerk moet word. Mense gaan verskil, en dis goed. Mense gaan verskillende idees, bewegings en aksies ondersteun en dis goed. Ander gaan weer sekere idees verwerp, en dis goed. Daar sal robuuste debatte en gesprekke as gevolg hiervan plaasvind, en dis goed.

Elkeen moet die ruimte gegun word om sy of haar idees te vorm en nog meer belangrik, die geleentheid gegun word om dit te uiter sonder die vrees van vervolging en etikettering wat oor hul koppe hang. Indien nié, loop ons die gevaar dat die wêreld al hoe meer lyk na ’n trop skape wat afgewaterde sinsnedes vanaf smeulende geboue skree om die vyand van die week se werkgewer te forseer om hul te ‘kanselleer’.

  • Francois Redelinghuys is kommunikasiebestuurder van die Solidariteit Beweging Trust. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eclectus ·

Politieke korrektheid is niks anders as intellektuele kolonialisme en sielkundige fascisme nie

Jacques ·

Goeie artikel. Ek wil byvoeg dat “Covid-Ontkenners” se kommentare ook nie op sosiale media en die internet behoort verwyder of gesensor te word nie. As dit gebeur is dit beslis 1984.
Ons leef in die era van die leun, maar ons mense besef nie hoe erg die leun deel van ons almal se lewens is nie. Instutionaliseerde leuens is ons realiteit. Selfs sekere boustene van ons verwysingsraamwerk is op erge leuns gebaseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.