Onthou Retief en Dingaan…

Piet Retief.

Baie kere as daar berig word oor samewerking tussen Afrikaners en een van die ander volke van Suidelike Afrika, word daar in die kommentaar gewaarsku: “Onthou van Retief en Dingaan!”

Wat is die lesse wat ons vandag moet leer uit die geskiedenis van Piet Retief en Dingaan?

Op 6 Februarie 1838, presies 182 jaar gelede, word Piet Retief en sy hele geselskap in opdrag van koning Dingaan om die lewe gebring. Afrikaners beskou steeds hierdie optrede as verraderlik, veral omdat daar net twee dae voor hierdie gebeurtenis ’n traktaat tussen Retief en Dingaan gesluit is waarvolgens die grond tussen die Umzimvubu- en die Tugelarivier aan Retief en sy volgelinge afgestaan is.

Eendag tydens ’n besoek aan ons familieplaas in die Newcastle-distrik haal ek ’n ou blou boek, Indaba, My Children, geskryf deur Vusamazulu Credo Mutwa, van die boekrak af. Voor in dié boek is die volgende woorde in bewerige blou ink geskryf: “Lydia from Impopoma 21/7/76.” My pa se kant van die familie het tussen die Zoeloes grootgeword en kon almal Zoeloe praat; hierdie boek was ’n geskenk aan my ouma Lydia.

Mutwa is ’n Zoeloe-storieverteller of beskermer van die Umlando of stamgeskiedenis. Sy oupagrootjie Silwane Shezi was koning Dingaan se hooftoordokter. Mutwa het die Zoeloe-weergawe van die interaksie tussen koning Dingaan en die Voortrekkers – soos deur sy oupagrootjie waargeneem – van sy oupa Ziko Shezi gehoor.

Mutwa gee ’n pragtige beskrywing van hoe die Zoeloes Piet Retief ervaar het: “Die wit man, Litivu (só het die Zoeloes Retief genoem) was ’n ou man toe hy die eerste keer in ons land aangekom het; sy baard en sy hare was so wit soos die oggendryp in Junie en hy was nie so lank soos die ander wit mans nie. Hy was egter dik van lyf en steeds sterk gespierd. Hy was ’n man van lag en die Laggees was deurgaans in sy oë … Ons het almal van hierdie Vreemde Een gehou wat sy bes probeer het om met ons te praat in die taal van die Xhosas, wat hy redelik goed kon praat, maar met ’n vreemde aksent.”

Waarom dan die moord op Retief en sy geselskap?

Moordkoppie (KwaMatiwane).

Mutwa verduidelik dat koning Dingaan se vroue in die koninklike kraal – die “Verbode Plek” – gebly het en dat alle Zoeloes geweet het dat enige man wat dit te naby aan hierdie kraal sou waag, die doodstraf sou kry. Volgens Mutwa was daar in Retief se geselskap ’n Engelsman genaamd Halstead wat nie die ekspedisie na kgosi (leier) Sekonyela meegemaak het nie. Die Zoeloes het Halstead “Nuuskierige Loerder” genoem omdat hy die gewoonte gehad het om by die Zoeloe-krale “rond te kruip” om inligting in te samel oor die Zoeloes se gebruike en veral hul wapens.

Die aand voordat Piet Retief met koning Dingaan se beeste (wat hy van kgosi Sekonyela teruggeneem het) teruggekeer het, het een van koning Dingaan se vroue, wat swanger was, gesien hoe ’n wit gesig (Halstead) oor die heining van die kraal loer. Die voorval is aan koning Dingaan se “tannie” Mkabayi gerapporteer en sy het na bewering koning Dingaan oortuig dat die wit mans by sy kraal was met bose bedoelings. Koning Dingaan se eerste instink was om Retief weg te stuur, maar hy het herbesin en besluit om die yster te slaan terwyl dit warm was en Retief genooi om te bly vir ’n seremoniële fees.

Op die laaste dag van die fees het koning Dingaan die feesvieringe verlaat en die koppie wat oor die kraal uitkyk (heel moontlik kwaMatiwane of Moordkoppie) geklim. Volgens Mutwa het hy vir Silwane Shezi die vooraf bepaalde teken gegee: hy het stadig sy knopkierie opgelig en geskree: “Maak dood … maak dood die towenaars!”

Foto: Kraal Uitgewers

Piet Retief en sy geselskap is gegryp en doodgeslaan met siqongqwana-leerlooiknuppels. Hierdie knuppels word deur Zoeloe-vroue gebruik om hul leerrompe te bewerk. Volgens Mutwa is die geselskap op hierdie spesifieke manier om die lewe gebring omdat hulle volgens streng stamwette en -gebruike tereggestel is vir ’n “poging” tot ’n oortreding teen die Hoë Vroue van ’n hoofman.

Hier is ’n paar lesse wat uit hierdie oorvertelling geleer kan word. ’n Eerste oppervlakkige les is dat die onbesonne optrede van een mens vir baie ander ernstige negatiewe gevolge kan inhou.

Dieperliggend egter kom ’n mens tot die besef dat gemeenskappe met verskillende tradisies en gebruike ’n gegewe werklikheid is – mense is eenvoudig nie vryswewende individue nie. ’n Gebrek aan kennis en begrip van kulturele verskille kan onbewustelik tot misverstande, met negatiewe gevolge, lei. Hierdie kennis en begrip kan slegs bestaan dáár waar wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe ’n werklikheid is. Indien ons in vreedsame naasbestaan wil lewe, sal ons hard moet werk om dít ’n werklikheid te maak.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Smurf ·

Het hierdie artikel met gemengde gevoelens en afgryse gelees. Was hierdie dalk die rede agter die moorde ….n koning se bevel tov sy vroue….wat toe n “rede” geword het ?? Is dit waar ?

Corrie ·

Die kern hiervan is om absoluut bewus te wees van die risiko om met ander en selfs eie kulture te onderhandel/beraadslaag, omdat dit soms uiters moeilik is om tydiglik kennis te neem van moontlike verskuilde agenda(s). In die RSA is dit bewys dat n persoon ongelukkig verdag moet wees op die grootskaalse bedryf van die praktyk, wat tot n hoogs gespesialiseerde kuns ontwikkel is.

Hermann P ·

Wat n dom verskoning om moord te pleeg. Ek is jammer, maar ek glo nie hierdie storie nie. Onthou, daar was kinders ook vermoor. Wat van Wenen? Was dit vir dieselfde rede?

Louis ·

Inderdaad ‘n afgryslike storie, maar ook ‘n bekommernis dat daar so min artikels op Maroele Media deur volkekundiges geskryf word. ‘n Ander studieveld en navorsing waaroor ons baie min hoor is Genetika.

Leon ·

Dieselfde gaan in die nabye toekoms weer gebeur. Net hierdie keer gaan dit nie die Zoeloes wees nie, maar die ANC, EFF, BLF aliansie.

Christo ·

Piet Retief het Dingaan vertrou en is in die rug gesteek. fw deklerk Het die ANC vertrou en word in die rug gesteek.

Andie ·

Ons wit afrikaners word in die rug gesteek vanaf Mandela uit die tronk vrygelaat is. Dit gaan erger word ……al hierdie plaasmoorde en families wat in huise aangeval word en motorkapings is alles beplande aksies teen ons.

jinny jualinda ·

Moord bly moord, en dit is vooraf beplan, hy het net vir Retief gebruik om sy beeste terug te bring, en hy was ook nie van plan om die grond aan die voortrekkers te gee nie. Hulle was maar uit die staanspoor suspicouis oor die voortrekkers. Retief sou beslis nie in Dingaan se harem belang gestel het nie, dit is seker die tokolos wat oor die muur geloer het. As die Engelse ou se explorations hom so geirriteer het, hoekom het hy hom nie die kraal belet nie. Nee wat, ek dink nie daar is enige versagtende omstandighede vir wat Dingaan gedoen het nie. Wat se bedreiging kon die paar mans nou vir die hele kraal inhou. Dit laat my dink aan ons vorige president en sy vroulike bewonderaars, hulle wil ook niks verkeerd van hom hoor nie.

Anoniem ·

Ja Christo, die Afrikaner het F W de Klerk vertrou en hy het ons verraai.

Erik ·

Wat was die alternatief? En wat sou die alternatief se gevolg gewees het?

Kerneels ·

Erik, dis ‘n swak verskoning. Omdat ons te papbroek was om nie die alternatiewe destyds te ondersoek nie, moet ons dit nie nou as verskonings wil aanbied nie. Dis waar die groot verskil tussen ons en Isreal is. Die Isrealies het hakke in gekap, ons het boedel oorgegee.

Piet Snot ·

Dit kan jy weer sê, Irma.
De Klerk se verraad was verraad uit die binnekring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.