Oorlog en konflikte by veiligheidskonferensie bespreek

Volodymyr Zelensky tydens die Veiligheidskonferensie in München (Foto: Tobias SCHWARZ / AFP)

Die pas afgelope internasionale veiligheidskonferensie van München, Duitsland is die eweknie van die meer bekende Wêreldekonomiese Forum (WEF) van Davos, Switserland. Dit handel, soos die naam sê, oor internasionale veiligheid, konflikte en die hantering daarvan.

Dit word privaat aangebied en is in die eerste plek ʼn konferensie vir die uitruil van standpunte en debatvoering – geen bindende besluite kan geneem word nie, slegs aanbevelings word gemaak. Dit berei egter, soortgelyk aan die WEF, beleid voor, word deur die mees invloedryke rolspelers wêreldwyd bygewoon en is belangrik vir die bou van netwerke en die ontdek van opkomende leiers en tendense.

Verteenwoordigers van state, internasionale organisasies soos die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) en die Europese Unie (EU) asook talle nie-regeringsorganisasies is daar verteenwoordig. Die konferensie vind jaarliks sedert 1964 plaas.

Die groot onderwerp by vanjaar se konferensie was steeds die oorlog tussen Rusland en Oekraïne. Die oorlog tussen Israel en Hamas asook die konflik in die Midde-Ooste, kuberveiligheid, die verhoudinge tussen die Weste en China, die toekoms van Navo en die verhoudinge tussen die VSA en Europa was ook belangrike gesprekspunte.

Wat die oorlog in Oekraïne betref, het dié land se president Volodymyr Zelensky op die veiligheidskonferensie ʼn pleidooi gelewer vir meer finansiële en militêre ondersteuning van sy land om te keer dat Rusland die oorlog wen en daarmee ook Navo-state direk bedreig. Europa het hom wel verbind tot nuwe wapens en finansiële ondersteuning. Die entoesiasme vir die Oekraïne het egter getaan. Daar is al meer stemme wat sê dat Oekraïne nie die oorlog kan wen nie en onderhandelinge oor ʼn wapenstilstand nou die verkose roete is.

Rusland het besluit om alles in te sit en produseer sy eie wapens, of kry dit by ander muishondstate soos Noord-Korea. Ook die sanksies byt nie so hard soos aanvanklik verwag is nie. Rusland speel vir tyd, wetende dat sy reserwes veel groter is as Oekraïne s’n, en dat die Westerse ondersteuning besig is om te taan. Dít word veral duidelik in die VSA, waar die Republikeinse meerderheid in die Huis van Verteenwoordigers onlangs teen nuwe hulp vir Oekraïne gestem het.

Ook die druk op Israel om sy veldtog teen Hamas te beëindig neem toe. Beelde van vlugtelinge en stede wat platgeskiet is, word die wêreld ingestuur. Israel se veldtog is egter suksesvol en heelwat Hamas-terroriste en hulle militêre basisse is al vernietig. Dit sou fataal wees om dit nou, voor Hamas volledig vernietig is, stop te sit. Ondervinding leer dat Hamas altyd deur ʼn oorlog verloor, maar deur ʼn wapenstilstand wen, omdat dit hom geleentheid gee om sy reserwes weer op te bou.

Nog ʼn belangrike vraagstuk wat behandel is, is die kwessie van die verhouding binne Navo – veral tussen die VSA aan die een kant, en die Europese-lidlande aan die ander kant. Vir lank was Europa gewoond om onder die VSA se vlerk te skuil en op dié supermoondheid se weermag staat te maak vir sy eie verdediging.

In die verlede het Europese lande hulle verdedigingsbegroting gereeld verlaag, getrou aan die denke van die “einde van die geskiedenis”, en vertrou op hulle groot boet VSA. President Biden werk nog volgens die ou lees dat die VSA vir almal in Navo opkom. Die waarskynlike Republikeinse presidentskandidaat Donald Trump, wat moontlik weer die volgende president gaan word, het reeds aangedui dat hy baie meer bydraes van Europa verwag. So ook dat die VSA nie lande binne Navo sal verdedig wat hulle weermagte afskeep en geen waarde aan selfverdediging heg nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mari ·

Die probleem is vir Israel : Hulle sal nooit Hamas uitgeroei kry nie. Hoe harder hulle probeer hoe meer Palistyne sal Hamas terroriste word ( hulle sien hoe Israel hulle plek verwoes). Dit skep ook ‘n groter gevaar teen Amerika en Europa (wat se regerings Israel ondersteun). Die groter gevaar vir Amerika en Europa is omdat hulle grense oop is en enige een daar kan inkom. In die geval van Britanje word hulle MP’s nou al met die dood gedreig sou hulle besluite maak wat teen Gaza is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.