Opgee van vryhede sal dekades by ons spook

Deur Tian Alberts en Martin van Staden

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Daar word baie oor die potensiële langtermyn-newe-effekte van inentings teen Covid-19 gedebatteer. Dit is ʼn gesprek wat deur deskundiges op die gebied van inentings gelei moet word, met empatie vir alledaagse bekommernisse van gewone mense.

Waaroor daar egter veel minder gedebatteer word, is die langtermyngevolge daaraan verbonde om geykte en soms swaarverdiende grensmure wat mense se vryhede en outonomie afbaken, impulsief prys te gee. Onverdraagsaamheid jeens die prioritisering van hierdie breër gesprek tydens ʼn openbare gesondheidskrisis is misplaas, aangesien maghebbers oor tien jaar agnosties sal wees oor die omstandighede waaronder vryhede prysgegee is. Die grense wat vandag afgebreek word kan nie sonder meer herleef wanneer ons tevrede is dat Covid-19 onder beheer is nie.

Dit bring ons by verpligte inentings en die konsep van inentingspaspoorte. Hierdie bydrae handel nie oor die doeltreffendheid van inentings nie. Dat mense hul vrywillig kan laat inent, is bemoedigend. Wat baie minder bemoedigend is, is sogenaamde kenners en ander prominente stemme in die openbare diskoers se ontluikende paternalisme en hunkering na staats- en korporatiewe dwang wanneer dit by die inenting kom.

Neem byvoorbeeld die geval van professor Keymanthri Moodley, bio-etikus, wat op Netwerk24 skryf dat daar nie die luukse van tyd is om mense te onderrig oor die inenting nie en dat ʼn entstofmandaat in Suid-Afrika bekendgestel moet word. Wat Moodley eintlik sê is dat die vrese van gewone mense nie gerespekteer moet word nie — dit is nie die moeite werd nie, aangesien gewone mense die punt mis en dinge verkeerd verstaan. Die kundiges moet eerder gerespekteer word, en mense moet onkrities hul agentskap om besluite oor eie gesondheid te neem aan die staat uitkontrakteer omdat die kenners (gereeld nié op die gebied van epidemiologie nie) so sê.

Daar is twee verreikende probleme wat hierdie koers inslaan.

Eerstens, dat twee afsonderlike magskampe ontstaan. Enersyds, die kenners wat deur die media vir kommentaar genader word en ook deur burokrate aangestel word om toeligting vir besluitneming te bied. Andersyds, gewone mense wat eerder kenners se menings moet eerbiedig en onkrities aanbevelings en diktate moet aanvaar, ongeag persoonlike omstandighede. Gewone mense wat kies om kenners se haelgeweer-benaderings teen hul eie, unieke realiteite op te weeg word toenemend daarvan beskuldig dat hulle kenners se meesterplanne (wat gereeld na gelang van nuwe data aangepas word) ondermyn.

Dit is alles kenmerkend van ʼn tipe epistokrasie – sogenaamde “heerskappy deur die kenners”. Die probleem hiermee is dat vakkundiges op baie spesifieke gebiede, byvoorbeeld epidemioloë, nooit voorsiening sal kan maak vir al die onbedoelde uitwerkings wat sal uitspeel wanneer miljoene mense se risiko’s namens hulle bestuur word nie. Epistokrate kan eenvoudig nie met die unieke, uiteenlopende omstandighede van al die mense namens wie hulle ingrypende besluite wil neem, rekenskap hou nie.

Al bestaan daar gefundeerde navorsing oor byvoorbeeld die breë doeltreffendheid en veiligheid van inentings, is die blote feit dat daar nie eenstemmigheid oor die kwessie heers nie, ʼn lewensgrootte teken dat individue hul eie besluite daaroor moet kan neem. Elkeen beskik oor sy of haar eie risikoprofiel, en soos onder enige ander omstandighede, moet elkeen die keuse hê om kenners se standpunte te oorweeg en ook na oorleg met ʼn mediese praktisyn besluite oor mediese intervensies te kan neem.

Die tweede verreikende probleem met enige vorm van staat- of korporatiewe dwang wanneer dit by maatreëls kom om gesondheids- en ander risiko’s te bestuur, is dat dit onvermydelik in die toekoms die sluise vir soortgelyke dwang oopmaak. Mits die regering en hul adviseurs in hoogsgesentraliseerde gesagstrukture soos die Verenigde Nasies en Wêreldgesondheidsorganisasie ʼn groot genoeg krisis kan verklaar, is geen inperking van vryheid dan buite die kwessie nie. Hoe ver verwyderd is ʼn samelewing wat aanvaarding vir inentingspaspoorte sein, asook gedwonge inperkings op bewegingsvryheid tydens ʼn pandemie, van een waar motors nie op sekere dae van die week aangeskakel mag word omdat kenners glo dit is wat nodig is om die aarde te red nie? Ons hoef nie verder as China te kyk, waar burgers se internetspoed van staatsweë afgeskaal kan word wanneer hulle na gesondheidskenners se oordeel te veel televisie kyk, om te besef dat ons nie in so ʼn wêreld wil leef nie.

Niemand kan met sekerheid sê of ʼn maatreël soos ʼn inentingspaspoort die uitdagings rondom Covid-19 doeltreffend sal kan oplos nie. Wat wel seker is, is dat die vereiste van paspoort dra om ʼn gewone lewe te leef – winkel toe, skool toe en selfs kerk toe – geweldig ingrypend is en dat dié konsep nie in ʼn gevorderde samelewing tuishoort wat op basiese vryheid toegespits is nie.

In Suid-Afrika se geval omskryf artikel 36 van die Grondwet die formule waarvolgens die regering in moeilike omstandighede op regmatige wyse die grondwetlike regte van Suid-Afrikaners kan beperk.

Dit bepaal dat ʼn beperking redelik en regverdigbaar moet wees in ʼn oop en demokratiese samelewing wat op vryheid, menswaardigheid en gelykheid gebaseer is. Die howe bepaal of daar aan hierdie standaard voldoen word deur verskeie faktore in ag te neem, onder meer die verband tussen die beperking en die doel daarvan, en of daar ʼn minder beperkende wyse is om die doel te bereik. Verpligte of gedwonge inentings is nie willekeurig nie en maak noodwendig inbreuk op die reg op liggaamlike integriteit wat deur artikel 12(2)(b) van die Grondwet verskans word. Dit sluit omstandighede in waar persone wat nie wil inent nie byvoorbeeld hul werk kan verloor.

Tog meen sommige openbare kommentators dat verpligte inentings wat liggaamlike integriteit skend, regverdigbaar kan wees vanweë die groot risiko wat Covid-19 vir die openbare gesondheid inhou, mits dit deur wetenskaplike bewyse onderlê word en nie diskriminerend of onredelik is nie.

Hier word sig verloor van bes moontlik die belangrikste aspek van die artikel 36-formule: minder beperkende alternatiewe. Die veronderstelling gaan daarvan uit dat, omdat die grendelstaat menigte grondwetlike regte op ernstige wyses beperk, die vervanging daarvan deur ‘n entstofmandaat minder beperkend is. Verpligte inenting en die meegaande beperking van die reg op liggaamlike integriteit moet egter op eie meriete beoordeel word eerder as bloot ʼn mindere beperking as ‘n grendelstaat.

Aangesien ‘n groot gros Suid-Afrikaners bereid en selfs gretig is om ingeënt te word, kan skeptiese persone met ʼn wortel eerder as ʼn stok aangespoor word om hul te laat inent. ʼn Belastingaansporing is byvoorbeeld ʼn minder inperkende en dalk selfs meer doeltreffende wyse om so vinnig as moontlik die inentingskoers onder die skeptiese minderheid ʼn hupstoot te gee, eerder as om hulle te forseer om ʼn mediese intervensie teen hul wil te neem.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Tumisu/Pixabay)

Dat die regering nie vir minder beperkende alternatiewe te vinde sou wees nie, is nie relatief moontlik nie – die artikel 36-analise neem in oorweging of alternatiewe beskikbaar is en nie of dit polities voordelig of verkose is nie. Die beleidsvoorkeure van die regering en hul aangestelde kenners is nie genoegsame rede vir verpligte afstanddoening van die reg om persoonlike besluite oor hul eie liggaam en gesondheidsorg te neem nie, en daardeur menswaardigheid en persoonlike agentskap prys te gee nie.

Terwyl komplekse debatte onder spesialiste woed oor die doeltreffendheid van inentings om die verspreiding van Covid-19 te keer, is daar ʼn paar eenvoudige vrae wat “gewone mense” oor ʼn post-Covid-19-wêreld kan vra. Wil ons in ʼn wêreld woon waar, sodra ʼn openbare krisis gedefinieer en verklaar word, groot gesagstrukture met selfs slegte reputasies ingrypende beheer oor hoe ons ons alledaagse lewens moet leef kan toepas? Is ons gemaklik daarmee om in die toekoms, ongeag hoe erg die krisis is, ons vermoë om besluite oor ons eie gesondheid te neem, uit te kontrakteer aan gesentraliseerde gesagstrukture wat blanko-voorskrifte maak sonder die vermoë om op individue se unieke omstandighede ag te slaan?

Dit is sinvol vir alle tersaaklike rolspelers om Covid-19 en die lyding wat dit veroorsaak met ywer die hoof te bied – veral ten einde diegene wat weerloos teen die virussiekte is, te beskerm. Dit is ook goed dat navorsing en wetenskap oor inentings en ander maatreëls vrylik beskikbaar is. Dit is egter kortsigtig om verpligte en ingrypende maatreëls teen Covid-19 voor te staan, met die naïwiteit dat die voorstaan daarvan nie tot ʼn minder vrye, meer epistokratiese post-Covid-19-wêreld sal bydra nie. Die onkritiese delegering aan gesentraliseerde gesagsfigure van ons vermoë om self besluite oor risiko’s in ons lewens te neem, sal lank na die neutralisering van Covid-19 nog by ons spook.

  • Tian Alberts is ʼn regsbeampte en Martin van Staden ʼn regsgenoot by die sake-organisasie Sakeliga.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Fritz ·

Iemand sal seker een of ander tyd sy werkgewer hof toe vat oor verpligte inenting. Veral iemand wat in elk geval moeg is vir sy baas en nie omgee om n paar brûe te verbrand nie.

Marianna ·

Gaan ons die pad loop van Australia as ons nie wil ent nie? Dit gaan nie om Covid nie. Dit gaan oor beheer, om meer skape in die kraal te kry om te manupileer. Wanneer gaan mense dit besef? Die herders gaan geen verantwoordelikheid vir jou neem nie. Word jy siek van die vaccine is dit op jou koste.

Miskruier ·

Die ouer swart mense wat die lyding van dié pasboek oorleef het, sal hopelik die jonges aanmoedig teen die vergryp van n outokratiese regering.

Jaco ·

Vreemde kommunisme wat die ANC toepas. In die kommunistiese lande waar hulle “in exile” was tydens die struggle jare, sou verpligte inënting summier ingestel gewees het, met swaar strawwe vir dié wat weier. Vreemd dat daardie kommunistiese lande almal gewerk het. Hulle was SONDER:
Beurtkrag
Swak vuil staatshospitale
Lae standaard onderwys
Swak of geen munisipale dienslewering
Plaasaanvalle
Plaasmoorde
En en en
Lyk my die ANC het NIKS tydens hulle exile jare geleer nie.

annie ·

Jy maak ‘n paar foute as jy glo die kommunistiese lande was maanskyn en rose en dat die ANC niks geleer het nie. Daardie lande was ook dankbaar toe dié spul leeglêers die pad gevat het (…net grafte en varkhokke agtergelaat het).

Mercia ·

Uitstekende artikel! Hopelik bring dit die balans en nugterheid terug in die konversasie rondom die inentings. Soveel belangrike aspekte m.b.t toekomstige vryhede en persoonlike regte wat uitgelig word maar wat nooit deur hoofstroom retoriek oorweeg of aangespreek word nie.
Dankie vir die stil stem van rede tussen die gedruis en dreigemente waarmee mense in hierdie tyd daagliks gekonfronteer word.

Sokrates ·

Ek moet sê, sou daar dalk iewers in die toekoms n wêreldwye uitrol van n digitale ID as basis vir n nuwe ekonomie, waarby ingebed n soort sosiale kredietsisteem (lees : jy word dopgehou, gesanksioneer en beheer), aan’t ontwikkel is, bied hierdie klipharde pogings (oraloor) tot gedwonge inentingspaspoorte nogals n goeie oefenlopie……..

Madeleine ·

Hierdie pandemie is haarfyn beplan. Evil inspired,
Ons Kan net bid vir wysheid. En uitkoms as ons wel nie meer Kan werk nie agv verpligte inentings.

Wohn ·

Die sogenaamde wetenskap was al soveel kere verkeerd. Van ddt tot die aarde is plat. Daar is net te veel vrae en die lande met baie ente se syfers oortuig my nie.

Jacob ·

Een van die hoof oorwegings is hetsy die staat met ‘n inentingsmandaat, doelbewus die lewens van (al is dit ‘n relatiewe klein groepie) mense in gevaar stel. In die VSA word slegs 0.02 % persent van jong mense onder 18 jaar oud, met Covid 19 gehospitaliseer en dit word grootliks aan ander mediese toestande en oorgewig toegeskryf. Die belaglikheid en gevaar van jong mense ouer en jonger as 12 jaar oud inent, is skokkend en kom neer op poging tot moord as daar gekyk word na die statistieke.

Onder seuns van die ouderdom 12 tot 15 jaar oud is die kanse vir miokardites as gevolg van die entstowwe, 4 tot 6 keer hoër as wat dit vir hulle is om gehospitaliseer te word met Covid 19. Miokarditis is in etlike gevalle dodelik en het permanente skade tot gevolg.

Dit moet elkeen se keuse bly of hulle hierdie entstowwe wil neem of nie, maar dit wil voorkom asof die koorsagtigheid om mense te ent, een van die gevaarlikste eksperimente op wereldbevolkings in die geskiedenis van die mens is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.