Partydige ideologiese vertolking van grondwetlike regte

transformasie-grondwethof-prof-koos-malan-02

Prof. Koos Malan. Foto: Reint Dykema.

In die vorige artikel is verduidelik dat die regbank – veral die konstitusionele hof – inderdaad ʼn intieme deel van die regerende elite is en in daardie hoedanigheid werk ter realisering en verdediging van die regerende elite se ideologie van transformatisme.

Ons het die bespreking met ʼn vraag afgesluit: Daar is tog ʼn hele stel goed omskrewe, individuele regte in die Grondwet. Dis bowendien baie gewigtige regte. Kan ons dan nie darem tog op die howe vertrou om ten minste hierdie gewigtige regte te beskerm nie? Die howe is per slot van sake die opperbeskermer van hierdie regte.

Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons mooi begryp wat werklik gebeur wanneer die howe die reg, veral grondwetlike regte vertolk.

Die geloof in die objektiwiteit en standhoudendheid van die betekenisse van grondwetlike regte

Daar bestaan ʼn betreklike algemene opvatting dat taal – woorde, frases, sinne, ensovoorts – ʼn objektief, seker, standhoudende en voorspelbare betekenis het. Die idee van grondwetlike oppergesag en stabiliteit huldig juis ook hierdie opvatting oor taal. Daarom word geglo dat daar op grondwetlike formulerings as vaste waarborge vertrou kan word.

Wanneer in die lig hiervan ʼn hof grondwetlike regte uitlê, lui die geloof dat hy nie sommer kan maak wat hy wil nie. Inteendeel, daar word vas geglo dat wanneer die hof interpreteer, hy wesenlik maar net weer vir ons sê wat die reeds vaste en objektiewe betekenisse van die tersaaklike grondwetlike formulerings behels en dit dan by wyse van sy uitspraak op ʼn feitelike situasie toepas.

As ons meen dat die regering of die staatsadministrasie op ons regte inbreuk gemaak het, kan ons seker wees dat die hof met ons gaan saamstem en ʼn gunstige uitspraak sal gee. Hoekom? Wel, soos ons gesê het, is die betekenisse per slot van sake vas, seker en objektief – nie net vir ons nie, maar vir almal en natuurlik ook vir die hof.

Hierdie opvatting oor die objektiwiteit van taal en die voorspelbaarheid van die betekenisse van grondwetlike regte is baie gerusstellend. Dit is presies op grond daarvan dat geleer word dat grondwetlike regte verskans en gewaarborg is. Nogtans is hierdie opvatting heeltemal verkeerd.

Nee, vanweë interpretasie, is betekenisse veranderlik en onvoorspelbaar

Die betekenis van formulerings, meer bepaald van formulerings van grondwetlike regte, is allermins objektief en standhoudend. En interpretasie is ver verwyder van ʼn blote toepassing van die reeds bestaande objektiewe betekenis van ʼn grondwetlike bepaling op ʼn konkrete situasie.

Formulerings oor grondwetlike regte is in algemene terme geformuleer. Konsepte soos redelikheid, regverdigbaarheid, demokratiese samelewing, menswaardigheid, vryheid, gelykheid en vele ander is inherent vaag. Dit is juis konsepte wat hulself by uitstek leen tot botsende vertolkings. Wat meer is, is dat etlike van hierdie konsepte ooglopend teenstrydig is. Die idees van vryheid en gelykheid is tekenend hiervan. Nog vele ander voorbeelde kan genoem word.

Die kern van die saak – en dis werklik baie belangrik om dit te begryp – is dat geen grondwetlike bepaling ʼn inherente en objektief-voorspelbare betekenis het nie. Hierdie bepalings kry eers betekenis wanneer dit in ʼn konkrete situasie in ʼn regsgeding vertolk word en wanneer die hof dus beslis wat hierdie bepalings in ʼn bepaalde situasie beteken. Wat meer is, is dat ook hierdie betekenis nie vasstaan nie. In ʼn volgende situasie kan dieselfde of ʼn ander hof beslis dat die einste bepaling ʼn heel ander, selfs teenoorgestelde uitwerking het. Dit is dus nie dat die hof ʼn betekenis vind of ontsluit wat nog altyd in die bepaling opgesluit gelê het nie. Inteendeel, dis eerder ʼn geval dat die hof van geval tot geval nuwe betekenis skep; nuwe betekenis ontwerp – alles in die naam daarvan dat die ware betekenis bloot van geval tot geval ontvou.

Hierdie insig is erg verontrustend, want dit ontwrig die gerusstellende idee van gewaarborgde regte. Dit bring aan die lig dat die hele idee van verskanste en gewaarborgde regte nog al die tyd verkeerd was; dat ons nog die hele tyd deur ʼn valse fiksie van objektiewe betekenisse en gewaarborgde regte mislei is.

Ofskoon verontrustend, is die insig nie nuut nie. Oor die vraag wat werklik gebeur wanneer regte geïnterpreteer word, het ontleders oor etlike dekades uitgewys dat interpretasie juis so ʼn onvoorspelbare proses van nuwe skepping van betekenis is, met die implikasie dat regte allermins seker, gewaarborg en standhoudend is. Maar te midde van die luide prediking van die verleidelike grondwetlike heilsleer, wat in die negentigerjare so ʼn greep op baie ons gekry het, is die ware toedrag van sake met betrekking tot interpretasie van regte ongelukkig so uitgedoof, dat ons nie daarvan kennis geneem het nie.

Die inherent ideologiese interpretasie – en betekenis – van die Grondwet

grondwet-argieffoto-03

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Dit beteken nie dat interpretasie ʼn volkome subjektiewe aangeleentheid is, waar elke individuele vertolker kan maak soos hy wil nie. Nee, interpreteerders is deel van gemeenskappe (interpretasiegemeenskappe), elkeen met sy eie ervaringswêreld, sienswyses en doelwitte, wat dikwels, meer bepaald in Suid-Afrika, diep ideologies geïnspireerd is.

Die belangrikste lede van ʼn interpretasiegemeenskap wat met die vertolking van die reg gemoeid is, is regters, regspraktisyns en regsdosente. Staatsamptenare, politici asook enige ander lede van die publiek, maak egter ook deel van interpretasiegemeenskappe uit.

Wanneer so ʼn gemeenskap ʼn dokument soos die Grondwet vertolk, gaan hulle dit met ʼn vooropgestelde idee tegemoet. Hulle verwag om in die Grondwet die dinge te vind waarin hulle glo. En hulle vind dit inderdaad. Hulle vertolk dus die Grondwet in ooreenstemming met hul vooropgestelde ideologiese oortuigings.

Daar bestaan verskeie interpretasiegemeenskappe, wat telkens die Grondwet in ooreenstemming met hul ideologiese vooroordele en verwagtings uitlê. Op die keper beskou, is daar dus nie slegs een Grondwet nie. Inteendeel, daar is ʼn verskeidenheid van Grondwette, elkeen met die betekenisse wat deur die onderskeie interpretasiegemeenskappe daaraan toegeken word.

Transformatiewe interpretasie

In die huidige Suid-Afrika is daar ook uiteenlopende interpretasiegemeenskappe wat met die interpretasie van die reg en die Grondwet gemoeid is. Die belangrikste hiervan is die interpretasiegemeenskap wat die ideologie van transformatisme onderskryf – die transformatisme-interpretasiegemeenskap. Hierdie interpretasiegemeenskap beskou die Grondwet as die belangrikste instrument vir die verwesenliking en verdediging van die doelwitte van die ANC-geleide regerende elite se ideologie van transformatisme.

Volgens hulle is die belangrikste doelwit van die Grondwet om substantiewe gelykheid; ʼn enkele homogene en eentalige nasie en ʼn kultureel-gedekoloniseerde, nie- (of eerder anti-)Westerse Afrika-kultuur te bewerkstellig en ten slotte om alle kragte wat nie daarmee strook nie, te onderdruk.

Die huidige hoofregter (en sy voorgangers) en die meeste van sy kollegas staan aan die stuur van die transformatisme-interpretasiegemeenskap. Deur die Grondwet transformatief te vertolk, kom hulle saam met (en as deel van) die regerende elite hul verpligtinge na om die transformatisme te bevorder.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng is in sy openbare toesprake baie uitgesproke hieroor. Hy is egter deel van ʼn gevestigde patroon van senior regters wat hulle by transformatisme ingewerp het. Oudadjunkhoofregter Moseneke en oudhoofregter Langa en etlike ander het dit ook gedoen.

Moseneke was veral ernstig daaroor dat elkeen in die land die verantwoordelikheid dra om lojaal die verantwoordelikheid na te kom vir die bereiking van die doelwitte van transformatisme. Staatsinstellings, die howe, burgerlike instellings, die professies en trouens almal, moet in diens van transformatisme staan. Wat Moseneke op hierdie wyse bepleit het, behels ʼn teksboekvoorbeeld van die omhelsing van die eenduidige ideologie kenmerkend van die totalitêre staat. Dis natuurlik verregaande. Nogtans het hy dit gedoen, klaarblyklik omdat hy, net soos sy kollegas, transformatisme nie as bloot as ʼn voorkeurideologie beskou nie, maar eerder as iets met ʼn bykans heilige – religieuse – karakter. Dit is daarom dat hy as ʼn toonaangewende regter almal kan oproep om die saak van transformatisme te dien.

Regters kom egter in die eerste plek hulle verantwoordelikheid teenoor transformatisme na deur middel van hulle uitsprake. Die konstitusionele hof (KH) doen dit getrou. Wanneer ook al daar ʼn regsgeding is waarin enige aspek van transformatisme in ter sake is, werp die KH hom onomwonde by transformatisme in.

Daar is talle uitsprake waarin die hof presies dit gedoen het. Enkele van die belangrikstes word breedvoerig in hoofstuk 7 van die boek behandel. Ons vermeld hulle.

In die Agri South Africa v Minister for Minerals and Energy-saak het die KH wetgewende bepalings wat die ontneming sonder behoorlike vergoeding van die mineraalregte van die houers daarvan grondwetlik bevind en sodoende die staat se inbreuk om eiendomsverwante regte geregverdig. Die verbintenis tot transformasie was volgens Mogoeng se redenasie een van die hoofredes vir die hof se bevinding;

In die South African Police Service v Solidarity abo Barnard-saak het die KH die polisie se weiering om ’n toppresterende blanke vroue-offisier te bevorder, as geregverdig bevind, ondanks die feit dat sy herhaaldelik die beste kandidaat was. Een van die hoofredes daarvoor was die najaag van rasseverteenwoordigendheid (ʼn sleutelelement van transformatisme);

In die FEDSAS v MEC for Education-saak in Gauteng, het die hof die groen lig gegee vir die sentralisering van bevoegdhede met betrekking tot toelating van leerlinge tot Gautengse skole – in die hande van die LUR wat berug is vir sy uitgesproke vyandigheid jeens Afrikaanse skole;

In die Glenister v President of the RSA-saak het die KH onder die voorwendsel van die reëls van die bewysreg die dominante elite se eensydige beeld van die Suid-Afrikaanse geskiedenis verdedig. Hiervolgens is die dominante elite en hul politieke voorsate die heroïese redders van Suid-Afrika. Die hof het verontwaardig geweier om getuienis van ʼn teenoorgestelde realiteit, naamlik van staatsverval en grootskaalse korrupsie – waaraan hierdie elite hom juis skuldig maak – toe te laat. Volgens die hof was die getuienis irrelevant en kwelsugtig;

In die City of Tshwane Metropolitan Municipality v AfriForum-saak (die sogenaamde staatnaamsaak) het die meerderheid van die KH hulself by die doelwit van kulturele homogenisering ingewerp en die erkenning van (Afrikaner) kulturele diversiteit onomwonde verwerp. In die meerderheidsuitspraak het Mogoeng hom ondubbelsinnig by (die res) van die regerende elite geskaar in ʼn erg Afrikaner-vyandige sienswyse van die geskiedenis, gepaardgaande met die strewe na ʼn homogene meerderheids-geïnspireerde Suid-Afrikaanse kultuur. In die proses het die hof sy vroeëre verbintenis tot diversiteit in sake wat oor die regte van homoseksuele persone en selfdegeslaghuwelike gegaan het, in die wind geslaan; en

In die AfriForum and Another v University of the Free State-saak het die Hof, ondanks grondwetlike bepalings (artikel 29[2]) wat op die teendeel dui, beslis dat die voortgesette gebruik van Afrikaans naas Engels by die Universiteit van die Vrystaat indruis teen grondwetlike transformatisme. Die hof het hierdie sienswyse gehuldig op grond van wat hy beskryf het as ʼn transformatiewe manier waarop hierdie artikel vertolk moes word. Die onlangse uitspraak van die KH in die Gelyke Kanse-saak oor die uitskuif van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch bevestig hierdie tendens.

Nie een van hierdie uitsprake was noodgedwonge nie. Die hof kon telkens op grond van ʼn oortuigende alternatiewe interpretasie die teenoorgestelde gevolgtrekking bereik het. Dit was dus nie dat die betrokke grondwetlike bepalings as’t ware voorgeskryf het wat hy moes beslis nie. ʼn Ander faktor, waarna die hof trouens telkens verwys het, was die deurslaggewende rede waarom die sake telkens op die besondere wyse beslis het. Dit is die ideologie van transformatisme.

Die hof het die Grondwet telkens as instrument van transformatisme hanteer. Die hof het telkens verwag – geantisipeer – dat dit ʼn transformatiewe betekenis in die Grondwet sou vind – en hy het dit telkens gevind en dienooreenkomstig beslis.

Langs hierdie weg het die hof as deel van die regerende elite sy verpligtinge nagekom om die doelwitte van transformatisme te dien. Deur dit te doen, was die hof natuurlik volkome in die politieke kryt. Dit was egter nie so opvallend nie, want alles wat die hof gedoen het, is in grondwetlike terme ingeklee. Op hierdie wyse is die politieke rol van die hof verberg.

Ander mense, met inbegrip van die beste regsgeleerdes, verwerp telkens hierdie uitsprake as ongegrond en verkeerd. Hierdie juriste hoort nie tot die transformatisme-interpretasiegemeenskap nie en hulle sien die Grondwet dus heel anders. Hulle verwag om in die Grondwet ander betekenisse te vind as wat die transformatiste vind – en hulle vind dit. Hulle kan oortuigende argumente hiervoor aanvoer. Ongelukkig is dit prakties van geen betekenis nie, want hulle is, anders as die transformatiste, nie in ʼn magsposisie nie. Hulle vorm nie deel van die regerende elite nie. Hulle en hul ondersteuners moet derhalwe maar aanvaar dat hulle die onderspit delf ondanks oortuigende argumente wat hulle vir hul standpunt mag aanvoer.

Oppermag? Is die hof werklik ʼn beskermer van ons regte?

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

Wat ons uit hierdie uiteensetting leer, is dat indien daar hoe hoegenaamd van oppergesag sprake is, dit klaarblyklik nie in die Grondwet self setel nie. Dit berus by die gesaghebbende interpreteerders van die grondwetlike bepalings. In die huidige Suid-Afrika vertolk hulle die Grondwet transformatief. Ten slotte berus gesag dus by die ideologie van transformatisme soos wat dit van geval tot geval deur die gesaghebbende interpreteerders van die Grondwet geartikuleer word.

En is die hof, meer bepaald die konstitusionele hof, wel die opperbeskermer van regte? Dit hang af van waar jy jouself met betrekking tot transformatisme bevind. In elkeen van die uitsprake waarna hierbo verwys is, het die verloorders aan die verkeerde kant van transformatisme gestaan. Daarom het die hof bevind dat hulle inderdaad nooit die regte, wat hulle gedink die Grondwet vir hulle waarborg het, gehad nie. Die KH was vir hierdie mense nie die opperbeskermer van hul regte nie. Inteendeel, die hof was die opper- en finale ontnemer van die grondwetlik gelegitimeerde geweldpleging teen hul regte.

Met die inwerkingtreding van die huidige grondwetlike orde ʼn kwarteeu gelede, is hierdie waarheid nie openbaar nie. Inteendeel, daar is opgewek verkondig dat grondwetlike regte gewaarborg is en dat die KH betroubaar daarvoor instaan. Die rede vir die verkondiging was dat die verkondigers geen benul van die aard van vertolking gehad het nie. Hulle het nie ingesien nie dat die KH, saam met die ANC deel van die regerende elite is en saam verantwoordelikheid aanvaar vir die bevordering van transformatisme.

Ander sake?

Prof. Koos Malan se nuwe boek plaas die soeklig op die Suid-Afrikaanse Grondwet. Foto: Verskaf.

Verdedigers van die geloof in grondwetlike oppergesag en die onpartydigheid van die howe, waag egter met een laaste argument. Hulle wys op ʼn rits uitsprake waarin die howe die staatsadministrasie, die regering en senior figure in die regering voor stok gekry het op byvoorbeeld die uitspraak van die Hof in die Nkandla-saak teen Jacob Zuma en die (ANC-koukus in die) Nasionale Vergadering of die Sassa-uitspraak na aanleiding van die gemors wat die minister en departement van maatskaplike ontwikkeling met die hantering van die uitbetaling van maatskaplike toelae gemaak het.

In nie een van hierdie en verskeie ander uitsprake was enige aspek van transformatisme in die gedrang soos met die sake wat kortliks hierbo behandel is nie. Inteendeel, hierdie uitsprake was telkens oor geskille binne die uitgangspunte van die regerende elite. Toe die Hof in die Nkandla-saak uitspraak gegee het, het hy (op die keper beskou) bloot ten gunste van een en teen ʼn ander faksie in die regerende elite beslis (die faksie wat met Ramaphosa se verkiesing as ANC-leier in Desember 2017 die oorhand in die ANC gekry het). En toe die Hof die Sassa-uitspraak gegee het, het hy juis help sorg dat die miljoene maatskaplike toelae wel uitbetaal sou word. Daarmee het hy die regerende elite ondersteun, want die betaal van maatskaplike toelae is per slot van sake ʼn integrale deel van die ANC se ideologie van transformatisme.

Hierdie uitsprake kan derhalwe nie die waarheid weerspreek dat die hof intiem verweef is met die doelwitte van die regerende elite nie. Inteendeel, dit toon juis aan dat die hof – wanneer die regerende elite vanweë interne probleme onder druk kom – hy (die hof) juis die ewewig in die elite herstel, wat die elite in staat stel om sy ideologiese doelwitte met meer gemak na te streef.

Wat die ses uitsprake waarna hierbo verwys is, aantoon, is dat die hof inderdaad nooit die rem vir en teenwig teen die regerende party in die wetgewer en die uitvoerende gesag is nie. Nee. As die gespesialiseerde juridiese vertakking van die regerende elite, is hy die versterker en bevorderaar van sy ideologie van transformatisme.

Wanneer ons na die beskerming van regte strewe en wanneer ons op soek is na ʼn teenwig teen die oordadige regering, is die antwoord derhalwe nie in die hof te vind, soos wat die grondwetlike heilsleer verkondig nie. Ons moet dit in ʼn verbeterde konstitusionele orde soek.

  • Dié artikel is die vyfde in ʼn reeks van ses artikels wat prof. Koos Malan geskryf het na aanleiding van sy nuwe boek There is no Supreme Constitution. Die boek word deur African Sun Media uitgegee en kan aangeskaf word by TakealotGoogle BooksITSI, African Sun se Facebook-winkelAmazon Kindle en EBSCO eBooks aangeskaf word. Dit kan ook by Protea Boekhuis gekoop word. Klik op die skrywer se naam bo-aan die artikel om alle vorige artikels te lees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pieter J ·

Ek dink nie iemand kan dinge beter en meer duidelik verwoord as wat prof Koos dit in hierdie boek van hom gedoen het nie. Ongelukkig is daar ń groot deel van die blanke bevolking wat dit nie verstaan nie of salig onbewus is daarvan omdat hul oningelug is. Ander weier weer halstarrig om dit te erken omdat hul stoere FW ondersteuners is.

minnie muis ·

FEIT STAAN SOOS N KOEI, as jy wit is moet jy nie die goed doen waar jy jou vingers kan brand nie…. en klim tog af van social media……want die vonnisse werk ongelukkig op kleur

Johan Venter ·

Die Hof gee uitspraak, die Hof beslis, die Hof …. ens. Daar is soveel uitsprake gelang die Geleerde kader op die stoel die oomblik met ongesproke gemeenskaplike terwille ideologiese oogmerke die Nuwe land se ‘ongeregtighede van die verlede’ wil uitwis deur sy eie beredeneerde betekenis aan sekere waardes en norms te gee om sodoende die proses van transformasie in terme van sy eie verwysingsraamwerk met die verwagtinge van die resultaat in gedagte, aan te help, maak nie saak watter saak voor die Hof dien nie. Daar is nie ‘n geleentheid wat hulle laat verbygaan om hul kaderingesteldheid ten toon te stel nie.

Johan Venter ·

Ek het gister die volgende kommentaar, wat ook hier van toepassing kan wees, onderaan die artikel, ‘Wes-Kaapse regbank val uitmekaar’, van Jan-Jan Joubert, hier op Maroela geplaas:

Wat ‘n skande – dank die héle spul af, hulle het geen, maar geen integriteit nie, als net eiebelang! (In hierdie bostaande artikel se geval is dit eerder, ‘kaderbelang!’)

Die woorde van Hoofregter Mogoeng van die Grondwethof refrein in my kop … “hoe het ons tot hiér gekom?”

Maar dit moet hulle almal, élkeen van hulle, hulself afvra.

Frans ·

Die grondwet het sin gemaak vir opstellers daarvan.Hulle het egter nie rekening gehou met die feit dat die vertolkers daarvan ‘n totaal nuwe inhoud en betekenis sou gee aan die woorde wat hul as wigte en teenwigte beskou het.
Hierdie is niks nuut nie.Dieselfde gebeur met Bybel uitleg.Baie mense glo bv dat die sondvloed die hele planeet aarde soos ons dit ken bedek het en alle mense uitgewis is.Dat dit ‘n foutiewe benadering is duidelik want daar is slegs 3% vars water waarvan tot onlangs 2% in die poolyskappe vasgevang was.
Die res(97%) is soutwater.Die aarde sou dus totaal versout het wat ‘n wingerd aanplanting onmoontlik gemaak het.Water sou ook nie kon dreineer dmv van swaartekrag en sou die planeet eeue lank in ‘n mistigheid gehul gewees het soos die water verdamp.Daar is buitendien nie genoeg water in ons heelal
om so iets te bereik nie.Die sondvloed was dus plaaslik en die aarde soos die mens dit toe geken het.

Johan Venter ·

‘Hulle’ het nie hul huiswerk gedoen nie. As hulle het, sou hulle DALK plan bedink het om die sif se gate toe te stop.

Michael ·

Die prof se taal is nogal bo-oor die deursnee afrikaanse persoon.

Ek glo die artikel sal baie meer byval vind indien dit vir die afrikaner in die straat geskryf word.

Jaco ·

Mooi regsterme wat nie in Afrika nie. hiers is my voorstel:
herskryf die grondwet:
-wit mense verloor stemreg en word formeel 2de klas burgers
-onteiening sonder vergoeding begin dadelik in alle provinsies behalwe wes-kaap
-alle wit mense word wes-kaap toe verskuif. daar kry hulle selfregering in ‘n soort tuisland
-buitelandse belegging word daar toegelaat en belastings is hoër as in die res van SA, sodat die tuisland aan die gang kan bly en die sentrale regering in Pretoria ook in die voordele kan deel.
-rassisme is net rassisme as wit mense lelik is met swart mense. die grondwet sê ook duidelik wat is die strawwe daarvoor.
-swart mense wat lelik is met wit mense is iets anders. dis ‘n geregverdigde terugkry vir apartheid.
Hierdie idees van my lyk miskien absurd, maar dit kan werk. dan is die gehate wit mense mos finaal weg en dan word apartheid formeel met apartheid gestraf.
Hong Kong, Macao, Baskië, Suid-Tirool, Palestian Authority is alles voorbeelde wat jare reeds goed werk.

Johan Venter ·

Gee maar net vir ons die ou Boere Republieke terug. Ek sal tevrede wees met een of twee strandhuise by die see.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.