Pasop vir die ‘hoenderkykers’

“Antieke Rome: Die Orakel van die Heilige Hoenders” deur Heinrich Leutemann (1824-1905) (Foto: Leemage via AFP)

Die gesegde lui dat dié wat nie uit die foute van die verlede leer nie geneig is om dit te herhaal. In sy optekening van die Romeinse geskiedenis vertel Titus Livius ʼn verhaal waaruit ons gerus ʼn les of twee kan leer. Ek verwys na die Romeinse “hoenderkykers” wat na die voorste linie gestuur is toe hul bedrieglikheid aan die kaak gestel is.

Die Romeine van ouds het dikwels waarsêers geraadpleeg om hulle in strategiese oomblikke by te staan, veral wanneer daar vir groot veldslae voorberei is. ʼn Prominente groep van hierdie waarsêers is die pullarii genoem (afkomstig van die Latynse woord pullus, wat “hoender” beteken) omdat hulle aangevoer het dat die toekoms – en veral die uitkoms van ʼn veldslag – deur die gedrag van “heilige” hoenders voorspel kon word.

As die hoenders gepik het, was dit as ʼn teken beskou dat die Romeine sou wen; en as hulle nie gepik het nie, is die Romeine aangeraai om eerder nie te gaan veg nie.

By ʼn bepaalde geleentheid gedurende die tweede Samnitiese Oorlog (326 – 304 v.C.) het die Romeine die oorhand oor die Samniete gehad. Die Romeinse konsul, Papirius (ongeveer 365 – 310 v.C.), het die leër voorberei om een laaste aanval te loods om die Samniete finaal te verslaan. Oorwinning was binne hul bereik en daar was nie ʼn enkele man in die Romeinse kamp wat nie oorwinning geruik het nie, en groot afwagting het geheers oor die groot oorwinning wat voorlê.

Soos gewoonlik, is die pullarii geraadpleeg. Die pullarii – wat klaarblyklik net so begeester was oor die veldslag wat voorlê – het hulle na die hoenders gewend en was teleurgesteld om te vind dat die hoenders nie gepik het nie. Eerder as om die leër en die konsul teleur te stel, het die leier van die pullarii toe maar verslag gedoen dat die hoenders inderdaad aan’t pik was en dat hulle tot die aanval kon oorgaan.

“Die genade van Lucius Papirius Cursor” deur Gerard de Lairesse beeld konsul Papirus uit (Foto: Wikipedia)

Toe Papirius besig was om sy manskappe op te stel, is hy in kennis gestel dat die hoenders inderdaad nie gepik het nie en dat die waarsêers gelieg het. By ontvangs van hierdie nuus het Papirius geantwoord dat hy in elk geval daarvan oortuig was dat hulle die veldslag sou wen, en dat as hierdie voorval een ding bewys het, was dit dat die waarsêers ʼn spul bedrieërs was. Gevolglik het hy opdrag gegee dat die waarsêers hul plekke in die voorste linie moes inneem vir die veldslag.

Terwyl die Romeine op die vyand afmarsjeer het, het een van die Romeinse boogskutters in die agterhoede ʼn pyl afgestuur en die pullarii-leier per ongeluk in die agterkop getref. Hy het net daar neergeslaan, morsdood. By ontvangs van hierdie nuus het die konsul verklaar dat alles in elk geval volgens plan verloop en dat hy verlig was dat sy leër van hierdie leuenaar verlos is. Die Romeine het toe inderdaad die veldslag gewen.

Net soos die Romeine in hierdie verhaal is ons vandag ook in ʼn stryd gewikkel. Ons stryd is egter nie teen vlees en bloed nie, en dit vind dikwels neerslag in propaganda, wetgewing en politieke beleid. Net soos die Romeine het ons ook “waarsêers” in die vorm van politieke kommentators. Nie sommer enigiemand kan kwalifiseer om ʼn politieke kommentator van aansien te wees nie; ten minste nie in die hoofstroom nie, want ʼn mens moet die regte metodes toepas om politieke kommentaar te lewer.

Waar die waarsêers van ouds hulle na die hoenders gewend het, wend die waarsêers van vandag hulle na die voorskrifte van politieke ideologieë. Dit is nou ideologieë wat voorskryf dat die samelewing op grond van abstrakte idees ingerig moet word. Dink maar aan Thomas Hobbes se teorie dat die nasie vrede en harmonie sal vind as die mag van die staat verabsoluteer word, of Karl Marx se teorie dat die samelewing sal floreer as almal werk volgens hul vermoë en ontvang volgens hul behoefte, of Karl Popper se teorie dat ʼn “oop samelewing” wat krities teenoor kultuur en tradisie staan, vinniger sal “vorder”.

Ernst Roets (Foto: AfriForum)

Net soos die hoenders in die Romeinse tyd, is hierdie ideologieë geneig om ons van die wal af in die sloot te help, en net soos die hoenderkykers van ouds is ons politieke kommentators nie altyd so gretig om te erken as die werklikheid hul “hoenders” verkeerd bewys nie.

Dink maar aan al die kommentators wat die afgelope drie dekades aangevoer het dat Suid-Afrika in sy “demokratiese wegspringblokke” is en dat ons die ANC net tyd moet gee om te bewys dat hulle verantwoordelik kan regeer, of dink aan die string kommentators wat gesê het dat president Cyril Ramaphosa net sy kans afwag voordat hy die staatskapers voor stok gaan kry. Dit laat my ook dink aan die kommentator wat AfriForum se veldtog teen plaasmoorde met mag en mening probeer diskrediteer deur allerhande somme te maak om te bewys dat plaasmoorde nie so erg is nie, net om in ʼn privaat gesprek te erken dat sy nie self op ʼn plaas sal bly nie omdat dit hopeloos te onveilig is. Die leser sal baie voorbeelde by die lys kan voeg.

Anders as destyds is dit nie so maklik om die hedendaagse waarsêers met die gevolge van hul misleiding te laat saamleef nie. Ons kan nie soos Papirius die kommentators in een of ander linie plaas waar hul lewe van hulle voorspellings afhang nie. Tog hou die voorspellers aan voorspel. En hoe meer die voorspellings verkeerd bewys word, hoe meer voorspel die voorspellers, want in plaas daarvan om te erken dat ʼn mens verkeerd is en dat jy ander bronne sal moet raadpleeg om voorspellings te maak, is die voorspellers van ons tyd geneig om hul verkeerde voorspellings eenvoudig met nuwe voorspellings te vervang. En dit is die punt – die voorspellings is verkeerd omdat die bronne verkeerd is.

Wat ons hieruit leer, is dat ons nie té veel waarde moet heg aan die voorspellings en ontledings van die hoenderkykers van ons tyd nie. Soms is hulle reg, maar hulle is meer gereeld verkeerd as wat hulle graag wil erken. En wanneer hulle besef dat hulle verkeerd is, sal hulle dit nie sommer erken nie, want deur dit te erken, diskrediteer hulle die ideologieë waaruit hul voorskrifte spruit.

Ons hoef nie hoenders of abstrakte politieke ideologieë te raadpleeg wanneer ons vir die toekoms voorberei nie. Ons kan ons bloot, soos Papirius van ouds, na die werklikheid en ons eie ervaring in die werklikheid wend.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andries ·

Klink my jy is net so moeg soos ek om van die ANC se ondergang te hoor. Totdat die ander mense leer om vir die opposisie te stem, gaan heelaas weinig verander.

skurweberg ·

Die geskiedenis is geneig om homself te herhaal, totdat ‘n ernstige ramp ‘n land of individu tref, wat soveel trauma veroorsaak, dat dieselfde foute nie herhaal sal word nie.

groenboer ·

Diegene wat nie uit die geskiedenis leer nie, is gedoem om die geskiedenis te herhaal. Diegene wat wel uit die geskiedenis leer, is gedoem om magteloos toe te kyk hoe dié wat nie uit die geskiedenis geleer het nie, dit herhaal.

In ieder geval. Die kenner van risikobestuur, Nassim Taleb, het met hierdie “duimreël” vorendag gekom: as ‘n voorpseller se eie welstand nie geraak word deur die akkuraatheid van sy voorspelling nie, hoef jy jou glad nie te steur aan enigiets wat hy kwytraak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.