Plaasmoorde of People’s War?

(Foto: Reint Dykema)

Sit iemand agter die plaag wrede plaasaanvalle wat boere teister, of is dit net deel van die “gewone” geweldskrisis in die land? Die ANC-regering, die polisie en talle kommentators meen dis net gewone misdaad. Maar die owerheid se dawerende stilswye en veral die gebrek aan daadwerklike optrede om die voedselverskaffers van die land te beskerm, laat ernstige vrae ontstaan.

Die vraag wat niemand wil vra nie, is of plaasaanvalle dalk deel van ’n strategie kan wees om wit boere van die plase af te verdryf, as deel van onteiening sonder vergoeding en die herverdeling van landbougrond na swart mense? Hoewel hierdie vraag dadelik woedende ontkenning en aanvalle van ANC-leiers en sekere Afrikaanse kommentators sal uitlok, moet dit ondersoek word.

Die rede is dat die ANC in die struggle-jare ’n suksesvolle “People’s War” gevolg het om beheer oor die swart bevolking te bewerkstellig. Dit is die soort oorlog wat guerrillaleiers soos China se Mao Zedong en die Viëtnamese generaal Võ Nguyên Giáp gevoer en onderskeidelik China en Viëtnam oorgevat het.

People’s War

Die ANC het hulle People’s War op generaal Giáp se People’s War in Viëtnam baseer. Die destydse ANC-leier Oliver Tambo, het Viëtnam in 1978 besoek en Giáp ontmoet saam met Joe Slovo, Chris Hani en die latere minister van verdediging, Joe Modise. Hulle het met Giáp se bloudruk die ANC se swart mededingers soos die IVP en die PAC uitgeskakel, en die massas in die townships gemobiliseer.

Tydens ’n besoek aan Giáp in 2010 het oudpres. Jacob Zuma hom by drie afsonderlike staatsgeleenthede met sy honderdste verjaarsdag gelukgewens – ’n aanduiding van die hartlike verhoudinge wat die ANC met hom gehad het.

Die tye het verander, en die veronderstelling is dat die ANC nou grondwetlik en demokraties regeer. Maar die ANC-in-regering sit nou met die geweldskultuur wat die ANC-in-struggle help skep het. Mnr. Buthelezi het die ANC immers al in 1987 gewaarsku dat ’n strategie om die land vóór 1994 onregeerbaar te maak, hom ná 1994 steeds onregeerbaar sal laat.

Misdaad word terreur

Plaasaanvalle het die punt bereik waar die grense tussen misdaad en terreur vervaag het – soos die Israeliese militaris Martin van Creveld waarsku. Is dit dalk ’n nuwe, dog onverklaarde en ongeorganiseerde, People’s War teen boere?

Daar bestaan geen bewyse dat daar ’n amptelik georganiseerde terreurveldtog teen boere is nie. Navorsing deur die Instituut vir Sekerheidstudies het bevind dat misdaad die hoofrede vir plaasaanvalle is. Daar is egter geen oortuigende verduideliking vir die dikwels wreedaardige aard daarvan nie.

Een rede is dat daar al vir dekades lank ’n politieke klimaat geskep word waarin wit boere as “wettige” teikens geskets word. Dis geskep met struggle-liedjies soos “Kill the Boer”, en uitsprake dat wit mense swart mense se grond gevat het, en dat dit nou sonder vergoeding teruggevat moet word. Die beleid van onteiening sonder vergoeding is hierop gegrond, en het die politieke klimaat teen boere verder verhit. Die weiering van regeringsleiers om iets oor plaasmoorde te sê of om iets daaraan te doen, versterk die indruk dat politici plaasaanvalle stilswyend aanmoedig of minstens oogluikend toelaat.

Vyf geslagte oorloë

Om te bepaal of plaasaanvalle wel ’n vorm van oorlog is, moet die geskiedenis van oorlog kortliks bekyk word.

Die eerstegeslag-oorloë was byvoorbeeld die Napoleontiese era van massa-mannekrag, toe hele volke en lande teen mekaar geveg het. Die tweede geslag was die massa-vuurkrag van die Eerste Wêreldoorlog, toe derduisende kanonne vir die eerste keer op ’n geweldige skaal ingespan is.

Die Duitse Weermag se Blitzkrieg-taktiek van die Tweede Wêreldoorlog het die derde geslag in oorlogvoering ingelui, naamlik massa-mobiliteit. Militariste het in hierdie oorlog massa-mannekrag en -vuurkrag van die vorige eras met massa-mobiliteit aangevul. Dis moontlik gemaak deur tegnologiese deurbrake soos vliegtuie, tenks, radiokommunikasie, gemeganiseerde magte en verbeterde skepe, duikbote en vuurpyle. Die oorlog het letterlik wêreldwyd gewoed, en kontinente het die nuwe slagvelde geword. Die vervoertegnologie het spoed, afstand, vuurkrag, mobiliteit en beskerming saamgevoeg in dodelike massa-maneuvers oor die ganse aardbol.

Die moondheid wat elke era se oorloë ingelui het met militêre vernuwings, het veral in die begin groot welslae behaal omdat hul vyande onverhoeds betrap is. Vernuwing het die aanvaller bevoordeel, omdat generaals gewoonlik vir die vorige oorlog voorberei het.

Guerrilla-oorlog

flip-buys-2017-11-01

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Die ontwikkeling van kernwapens het oorlogvoering totaal omskep. Die Japanners se oorblywende vyf miljoen soldate in die veld was magteloos teen die atoombom. Die Sowjetunie se ontwikkeling van kernwapens het ’n nuwe magsewewig tot stand gebring, omdat die aanwending deur een land, kon lei tot die totale uitwissing van die mensdom.

Hierdie magsewewig het grootskaalse oorloë baie beperk, maar terselfdertyd tot die vierde era van oorlog gelei, naamlik guerrilla-oorlog. Dit het oorlogvoering grootliks verander vanaf oorloë tussen lande na oorlog binne lande. Die Amerikaners se kernwapens kon hulle nie teen die Viëtkong- guerrillas help in Viëtnam nie, omdat dit moreel ongeregverdig was en boonop die Sowjetunie en China sou kon intrek. Guerrilla-oorlogvoering het die voorkeurstrategie van swakker groepe teen sterker weermagte geword. Mao Zedong het dit vergelyk met vlooie wat ’n hond byt tot hy homself so bebloed gekrap het dat hy uiteindelik aan bloedverlies vrek.

Dit het later vertak na terrorisme, waar die fokus nie meer was op die verslaan van vyandelike leërs en die oorname van lande nie. Dit was eerder gewapende propaganda wat burgerlike bevolkings moes afskrik, en regerings tot toegewings of onderhandeling moes dwing. Dit was nie nou meer twee lande wie se leërs teen mekaar veg nadat hul regerings amptelik oorlog verklaar het nie, maar niestaatlike magte wat teen regerings geveg het. Die onderskeid tussen politiek en oorlog het vervaag, asook die grens tussen burgerlikes en soldate. Die Joegoe-Slawiese burgeroorlog van die vroeë negentigerjare was ’n bloedige gedesentraliseerde konflik wat van “onder” af deur die gewone burgers gevoer is, en nie gesentraliseer van “bo” af deur staatsleiers nie.

Daar word wyd onder militariste bespiegel oor die vorm wat ’n vyfdegeslag-oorlogvoering kan aanneem. Dit wissel vanaf verskynsels soos Isis wat ’n Islam-kalifaat wou stig, tot kuberoorlogvoering en ’n ideologiese stryd om idees. Dit kan ook die vorm van ’n “botsing tussen beskawings” inneem, soos die konflik tussen kulture wat die Harvard-denker Samuel Huntington voorsien het. Die huidige BLM-konflik in Westerse lande kan moontlik dui op die Britse historikus Naill Ferguson se waarskuwing van ’n “botsing binne beskawings”. Dit behels ’n kultuurkonflik binne multikulturele lande.

Die terreurveldtog teen boere kan ’n mengsel van ’n polities-aangevuurde, onverklaarde en ongeorganiseerde People’s War wees, gemeng met ’n vyfdegeslag-kultuurkonflik. Die grootste uitdaging van kwesbare en yl verspreide plaasboere is ten beste opgesom deur die Afro-Amerikaanse denker Thomas Sowell. Hy het gesê dat die ligging van volke hul lot kan bepaal.

Dít is die Afrikaner se bestaansprobleem: ’n yl verspreide minderheid tussen ’n demografiese meerderheid met (grootliks) ander politieke, ekonomiese en kulturele oortuigings. ’n Daadwerklike optrede en hantering van hierdie bestaansvraagstuk moet die kern van ’n blywende oplossing vir die veiligheid van boere vorm.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
OW

Uitstekende skrywe mnr Buys.U laaste paragraaf van die skrywe het beslis ‘n paar sleutels teenwoordig wat aanleiding gee tot die situasie van ons boerdery gemeenskap.Die huidige politieke,ekonomiese en kulturele oortuigings gaan nie maklik verander word nie,indien ooit.Sowat ses maande gelede sny my buurman se tuinwerker,van Zimbabwe ‘n rankplant se ranke af wat oorgoei van my kant na langsaan.Die rankplant val toe oor na my kant van die muur.Die volgende week toe hy weer werk,roep ek hom en wys hom wat gebeur het en hy is toe baie jammer oor wat gebeur het.Ek sê toe vir hom hy het die plant… Lees meer »

JohanR

Die ANC gee die geld, die EFF gee die opdragte, en die taxis doen die vervoer. Prove me wrong!

Jaun

Flip, ek het al ‘n hele aantal keer gehoor of gelees dat jy na ons yl verspreiding as ons dilemma verwys. Ek verwag ook nie dat jy/jul voortydig sal uitblaker wat die plan of strategie is om groter getalle saam te konsolideer nie. Maar gee ten minste vir ons, wat aan jou en jou kollegas se lippe hang en na julle opkyk vir leiding, ‘n aanduiding of daar wel óf reeds ‘n plan is óf aan ‘n plan geskaaf word. Dís wat ons Afrikaners nóú broodnodig het om te weet.

Wilhelm

Help ons asb om onafhanklikheid vir die weskaap te bekom

Leon

Gaan terug na die Mau-Mau in Kenia. Dit is presies wat hier gebeur. Net op ‘n meer georganiseerde basis met toestemming van die regering.
As die blankes nie wil trek nie sal die ANC regering hulle een-een laat uitmoor. Deur die stilswye van die ANC bevestig hulle dat die regering dit goedkeur.