Populisme en fopnuus lankal deel van vakbondwêreld

populisme-hande

Foto: Iai.tv

Daar word deesdae baie geskryf oor fopnuus (post-waarheid) en die opkoms van populisme in die politieke arena, en name soos Trump, Poetin, Zuma en Malema word genoem. In Suid-Afrika is die populistiese vakbondleiers egter hul tyd ver vooruit en is die Vavi’s, Jim’s, Dlamini’s en Matunjwa’s lankal besig om werkers valse hoop te gee vir die dag wanneer hul werksplekke en die land aan hulle gaan behoort met sterk rasseretoriek wat daarmee gepaardgaan.

Vele arm ongeletterde werkers is al so opgewonde om te dink dat ná net nog ʼn paar stakings, enkele optogte na die Uniegebou en Luthuli-huis asook ʼn paar vinnige wetswysigings, hul probleme binnekort opgelos gaan wees sodra die land en die maatskappye waar hulle werk, aan hulle oorgedra word soos die ANC se Vryheidsmanifes lankal reeds belowe het.

Vele werkers beskou hul finansiële opoffering deur hul maandelikse vakbondlidmaatskap te betaal (waarmee hulle twee brode per week sou kon koop), as ʼn belegging in hul toekoms. Ek is seker sommige geïndoktrineerde vakbondverteenwoordigers (“shop stewards”) word elke keer opnuut geïnspireer wanneer hulle in ʼn raadsaal sit en vir ʼn dubbelsyfer-salarisverhoging onderhandel en hulle indink in die dag wanneer hulle aan die bestuurskant van die tafel kan gaan sit – hoewel hulle nie seker is wie dan aan die werkers se kant van die tafel sal sit nie.

Dan onthou hulle gelukkig dat die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie hulle (die bloukraagwerkers) as die beweegkragte (“motive forces”) van die ekonomiese vryheidstryd beskryf en dat hulle eers moet klaar “struggle” voordat hulle bekommerd moet raak oor wat op hul “suksesse” gaan volg.

Almal is egter nie daaroor bekommerd nie, want die verteenwoordiger met ʼn finansiële aanvoeling wat voor die aanvang van elke onderhandelingsessie die salarisverhogingeis moet formuleer, kan net dink hoe gewild hy as finansiële bestuurder gaan wees wanneer hy maandeliks die surplusgeld wat die maatskappy gemaak het onder die werkers gaan uitdeel, want Karl Marx het mos gesê die surplus behoort aan die werkers.

Die feit dat Amcu se staking van vyf maande in 2014 in die platinumsektor met ʼn belofte van ʼn R12,500 minimum loon meer as 30 000 werksgeleenthede vernietig het, bring geen realiteitsbesef tuis nie. Dit was ook mos nie Amcu se skuld dat hul staking by die Lily-myn in 2015 die sukkelende verliesmakende maatskappy R30 miljoen gekos het nie; in die oorlewingstryd ná die staking het beweerde risiko’s om produksie te verhoog daartoe gelei dat die uitgemynde kroonpilaar ingegee en drie mense dood en 900 werkloos gelaat het – volgens Amcu moes hulle verder gedink het as om produksie te verhoog om verliese in te haal. (Terloops, Solidariteit regverdig nie die mynbestuur se beweerde onreëlmatighede om produksie te verhoog nie.)

In ʼn ander voorbeeld het Numsa ʼn paar jaar gelede daarop aangedring dat ʼn onbekwame kameraad uit hul geledere die hoofsekretaris van die Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf (MEIBC) moes word. Binne twee jaar was die eertydse welvarende raad miljoene rande in die rooi en op die randjie van ineenstorting, met honderde werksgeleenthede by die raad in die weegskaal. Nou blameer Numsa “wit-monopolistiese kapitaal” vir die krisis en verstaan Numsa glad nie Solidariteit se kommer daaroor en derhalwe sy aansoek om die raad onder besigheidsredding te laat plaas nie.

Nog ʼn klassieke geval van die “boosheid van wit monopolistiese kapitaal” was die sluiting van die Highveld Steel-aanleg naby Witbank, met 2 400 direkte en 13 000 indirekte werksverliese.

Ter wille van agtergrond: So twee jaar gelede het Highveld Steel tydens loonsonderhandelinge oop kaarte met Numsa gespeel en hul finansiële state aan die vakbond voorgelê om te bewys dat die maatskappy op die randjie van bankrotskap is. Maar Numsa vertrou eenvoudig nie ʼn “bose kapitalis” nie, veral as hy wit is. Die daaropvolgende staking dwing die wankelende maatskappy op sy knieë.

Nie lank daarna nie word die maatskappy onder besigheidsredding geplaas en die werkers word skeidingspakkette aangebied. Numsa versoek hul lede om nie pakkette te aanvaar nie, want die “kapitaliste” lieg steeds vir hulle; Numsa sou dan groter pakkette beding vir diegene wat wel van die boosheid van die “kapitaliste” bevry wou word. Die maatskappy smeek die werkers om pakkette te neem terwyl daar nog geld is, maar Numsa het lankal reeds Marx se Das Kapital geraadpleeg en kom terug met ʼn glimlag en sê dat ons ideologiese leiers meer as ʼn eeu gelede deur julle gekyk het en ons sien nou rooi.

Ná etlike produksielose weke moes die maatskappy sluit: 2 400 werkers word afgedank en kry nie ʼn sent nie. Numsa gebruik toe al hul politieke kontakte en reik mediaverklarings uit soos wors uit ʼn worsmasjien om die “vyande van die werkersklas” te onthul. Van dié oefening het daar inderdaad wors van gekom.

Met ʼn blootstelling van R300 miljoen wat Highveld Steel het om pakkette aan die werkers te betaal, begin die besigheidsreddingspraktisyn (BRP) planne maak om geld te vind. Uiteindelik is daar ʼn flou skynsel van lig aan die einde van die tonnel toe die BRP daarin slaag om onder andere ʼn belegger te vind wat die smeltseldamme vir R100 miljoen sou koop. Daarmee sou ʼn derde van die werkers se uitstaande pakkette betaal kon word.

Toe die belegger verlede week by die spookdorp van Highveld Steel opdaag om die transaksie te beklink, het Numsa en die EFF dit goedgedink om buite die verlate aanleg te betoog – net om die belegger te wys wie die kitaar gaan slaan sodra die transaksie geteken is. Die belegger het net daar in sy motor geklim en die transaksie soos ʼn warm patat gelos.

Leer die ideologies gestremde populiste, wat alles ook in ʼn rassekwessie verander, dan niks nie? Benewens bogenoemde voorbeelde was die swart bemagtigde Aurora Empowerment Systems wat die Pamodzi-mynbates tot die grond gestroop en 5 300 poste vernietig het nie ʼn afskrikmiddel nie? Is die Guptas se wanbestuur van die steenkoolmyne in Mpumalanga via hul Oakbay Investments nie ʼn kommer nie? Is Mugabe se grondvergrype wat miljoene Zimbabwiërs in armoede gedompel en hongersnood oor die land gebring het, nie iets om uit te leer nie? Is ʼn mediese dokter wat in Kuba $50 per maand verdien nie ʼn kwelling nie? – dit is immers minder as die huidige voorgestelde minimumloon van R3 500 en die R4 500 wat Numsa voorstel.

Laastens, wat van die “Lula-moment” in Brasilië wat aan skerwe lê en die sosialistiese voormalige president Dilma Rousseff wie se kop gerol het toe sy in ʼn staat van beskuldiging geplaas is? Dan is dit ook sosialisme wat Venezuela se ekonomie vernietig, ensovoorts, ensovoorts.

Die antwoord is “Nee” – hulle snap dit nie, want onlangs het Irvin Jim, Numsa se hoofsekretaris, tydens hul nasionale kongres hul beplande verenigde front soos volg beskryf: “A mass based, Marxist-Leninist workers’ movement which will destroy the whole capitalist system and replace it with a socialist society in which the country’s wealth is owned, controlled and managed democratically by the majority of the people.” Jim regverdig die bewegingsinisiatief aldus: “The stranglehold of a small number of white monopoly capitalists over the great bulk of South Africa’s wealth and resources is based on colonial dispossession and promotes racial oppression.”

As ondersteuners van die markekonomie (met sy gebreke) glo Solidariteit dat ʼn halwe brood beter as geen brood is nie, en dus doen ons alles in ons vermoë om ons lede in ʼn werk te hou; soms beteken dit ʼn werk met ʼn kleiner salaris, maar dis steeds ʼn pos waarin die lid darem ʼn halwe brood kan bekostig.

Met ses miljoen werklose Suid-Afrikaners (eng definisie) sit ons op ʼn tydbom vanweë ideologies gestremde populiste wat met fopnuus en onrealistiese verwagtinge valse hoop by die beweegkragte van die ekonomiese vryheidstryd skep.

Solidariteit se rol in hierdie “geveg om idees” is om by die onderhandelingstafel alles in die stryd te werp om te verhoed dat werkers uit hul werk onderhandel of gestaak word; ons gebruik elke geleentheid om die voordele van die markekonomie te beklemtoon; ons stel inligting bekend van werksverliese te wyte aan swak vakbondoordeel, en ons voer harde gesprekke met ons vakbondeweknieë oor hul uitgediende ideologiese raamwerk.

Maar dis glad nie ʼn maklike geveg nie, want die aanhang van ʼn vernietigende ideologie is gewoonlik net ʼn rookskerm vir korrupsie, selfverryking en bevordering van eie ego. Dit is ook ʼn gerieflike ideologie, want jy hoef net te eis, en niks te gee nie. Soos Marx se mislukte idees mense se denke vergiftig en werkers se lewens vernietig, is die geldgod Mammon die ander euwel wat beveg moet word. Ondanks al die valse beloftes en verwagtinge groei hierdie vakbonde danksy desperate werkers wat deel van die uiteindelike utopie wil wees. Só word die vakbonde se koffers voller en die gewetenlose leiers ryker.

ʼn Vakbondpopulis benodig ʼn militante platform wat nie vrae vra nie. Bloukraagwerkers wat nou glo dat hulle uitgebuit word deur “wit kapitaliste”, bied die ideale platform. Met Suid-Afrika se wanfunksionele openbare skole en swak dienslewering gaan dié platform nog lank bestaan totdat iemand eendag agterkom dat dit geleidelik onder hulle wegsink.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Basson ·

Fopnuus was al deel van die Afrikaner se lewe van voor die Rebellie af, en het waarskynlik ‘n hoogtepunt bereik gedurende 1966-1989 se grensoorlog.
Al verskil is dit was dit ons ‘mede broers’ gebrorg deur die internasionale geldmag.

Nico K ·

Ja Gideon jy is reg. Die “Kommuniste” in SA hou aan om die werkers dinge te belowe al weet hulle dit sal nooit gebeur nie. Ek sit die woord Kommuniste in aanhalingstekens aangesien ek iemand soek wat werklik in Kommunisme glo. Ek het al ‘n paar persone ontmoet wat aan die SA Kommunistiese Party behoort en hulle almal kry groot salarisse en ry die duurste motors en drink die duurste drank en voel nie regtig iets vir die armes nie. (Terloops een so persoon wat ek ontmoet het was ‘n blanke.)

Henry ·

Dankie vir ‘n snarsie inligting oor die opdraende stryd wat Solidariteit in die midde van ‘n ideologies-gemotiveerde omgewing moet voer.
Tragies hoe die Marxisme deur die jare heen gebruik word om vir die agtergeblewe massas te vertel dat perdekuttels toe allie tyd vye is.
Wens julle ysters by Solidariteit wil meer dikwels toeligting – soos hierbo – aan ons lesers by MM verskaf oor wat in hierdie droewe land op die arbeidsterrein aan die gang is.

John ·

Trump hoort nie nie tot die populiste nie, anders was hy nou gewild. Waar is sy ondersteuners se bulderende ja-stemme? Hy was en is ‘n buitestaander wat ‘n stryd voer teen die populistiese regime van Obama & kie wat enigiets sal doen om vir ewig te regeer soos ons ANC en hul voordansers.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.