Ramaphosa is nie ʼn leier

President Cyril Ramaphosa (Grafika: Maroela Media)

Dit voel soos ʼn eeu gelede wat mnr. Cyril Ramaphosa as die land se president verkies is en daar “Ramaforia” in sekere kringe geheers het. Daardie tyd is lankal verby, en daar heers ʼn wye teleurstelling in sy leierskap. Die onlangse kabinetskommeling het weer bevestig mnr. Ramaphosa laat nie ʼn kans verbygaan om ʼn kans te laat verbygaan nie.

Sy gebrek aan daadwerklike optrede om die land se groeiende krisisse met mag en mening aan te pak, het selfs van sy getrouste aanhangers in die media vervreem. Die kommentators wat hom voorheen deur dik en dun verdedig het, is deesdae verslae en stil.

Die gewildste verskoning wat vir jare vir sy gebrek aan leierskap aangevoer is, is dat hy nie die nodige mag gehad het om op te tree nie. Hy speel die “lang spel” moes ons tot vervelens hoor. Maar die feit is dit was nooit waar dat hy nie die mag gehad het nie. Die president van die land het geweldig baie mag. Die beste, of slegste, voorbeeld van presidensiële mag is om te kyk hoe Jacob Zuma die land tot op die rand van die afgrond gesleep het.

Dis eienaardig dat die rede waarom mnr. Zuma so magtig was dat hy ʼn land ten gronde kon rig, feitlik nooit bespreek is nie. Die basis van sy bykans onbeperkte magsposisie was sy uitgebreide magte ingevolge die Grondwet wat sy magsmisbruik moontlik gemaak het. Jacob Zuma se vernietigingswerk was die voorsienbare gevolg van die buitengewone magte wat die Grondwet aan die presidentsamp verleen. Die belangrikste faktor wat sy onbeheerste korrupsie moontlik gemaak het, is die omvattende grondwetlike magte om sleutelaanstellings in die land te maak.

Aanstellingsmagte

Hierdie stelselprobleem is al in 2014 vierkantig op die tafel geplaas deur die voormalige adjunkhoofregter, Dikgang Moseneke. Hy het destyds in ʼn lesing by Unisa oor die stand van grondwetlike demokrasie die vraag gestel of ʼn magtige presidensiële stelsel werklik in die beste belang van die land is. Regter Moseneke het daarop gewys dat die gloeiende praatjies oor die grondwet op al die grondwetlike regte en vryhede fokus. Daar word egter baie min gesê oor die toewysing van mag – wat nie optimaal bevorderlik is vir demokrasie nie. Regter Moseneke het voorgestel dat hierdie magstoewysing hersien sal moet word, wat tot dusver nie veel aandag gekry het nie.

Regter Moseneke het beklemtoon dat die Grondwet en ander wetgewing ʼn merkwaardige hoeveelheid aanstellingsmagte aan die president verleen. In enkele gevalle is die parlement en ander staatsinstellings medeverantwoordelik, maar in die meeste gevalle berus die mag uitsluitlik by die president.

Regter Moseneke het gesê na wat hy verneem het, was die onderhandelaars wat tydens die afhandeling van die finale Grondwet by geskille oor aanstellingsmagte betrokke was, heeltemal gelukkig om daardie magte aan die destydse ampsbekleër, president Mandela, oor te laat. Hulle het hom vertrou om die regte ding te doen. So het geweldig baie mag beland in die hande van sy opvolgers, wat nie almal “die regte ding” doen nie, om dit sagkens te stel.

Posbekleërs

Moseneke het van die belangrikste presidensiële aanstellingsmagte (wat terselfdertyd ook ontslagmagte is) uitgespel, wat die Zumafikasie van die land moontlik gemaak het. Dit behels onder meer die volgende poste:

  • die adjunkpresident, wat nie soos in ander lande verkies word nie;
  • ministers en adjunkministers;
  • alle ambassadeurs;
  • die hoofregter en adjunkhoofregter ná oorleg met die Regterlike Dienskommissie;
  • alle regters op advies van die Regterlike Dienskommissie;
  • die hoofde van talle openbare sleutelinstellings soos die nasionale direkteur van openbare vervolging, die openbare beskermer, die ouditeur-generaal, lede van die Menseregtekommissie, die Onafhanklike Verkiesingskommissie op aanbeveling van die Nasionale Vergadering, asook die ander artikel 9-grondwetlike instellings wat die demokrasie moet bevorder;
  • kommissarisse van die Staatsdienskommissie, wat staatsamptenare aanstel;
  • hoofde en bevelvoerders van die weermag;
  • die polisiehoof;
  • die hoof van die Intelligensiediens; en
  • die hoofde van die Reserwebank, die Belastingdiens en die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid.

Regter Moseneke het ook ʼn aantal wetgewende instrumente bespreek waarkragtens die president verdere aanstellings kan maak, soos die statistikus-generaal, die president en adjunkpresident van die Reserwebank, die kommissaris van die inkomstediens, die lede van die belastinghof, en die lede van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika.

Selfs in gevalle waar die president belangrike aanstellings in oorleg met die parlement of ander staatsinstellings moet maak, gee die president se voorkeur in die praktyk die deurslag.

Openbare ondernemings

Die hoofde van die land se 715 openbare ondernemings soos Eskom, die SAL, die SAUK, Transnet, Denel, die Poskantoor en andere word aangestel deur die betrokke minister, wat op sy of haar beurt deur die president aangestel word. Die minister vra die kabinet en die president se goedkeuring vir aanstellings van die hoofde van die openbare ondernemings, wat die president regstreekse mag of inspraak in aanstellings gee. Om dubbeld seker te maak, keur die “ontplooiings-komitee” van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee vooraf eers die betrokke aanstelling goed.

Daarom is Moseneke se kernvraag hoe die aanstellings van openbare demokratiese instellings beskerm kan word teen die voorkeure, giere en grille van die individu wat die aanstellings maak. Die groot vraag is veral ook hoe hierdie aangesteldes hulle grondwetlike mandaat kan uitvoer om die uitvoerende gesag aanspreeklik te hou as hulle juis deur die president aangestel is. Regter Moseneke se voorspelling dat hierdie gevaarlike magskonsentrasie die land groot skade kan berokken, is in Zuma se tyd reg bewys.

Ramaphosa

Maar waar mnr. Zuma rampspoed met sy optrede veroorsaak het, veroorsaak mnr. Ramaphosa rampe deur bykans niks daaraan te doen nie. Hy het nou al vir jare nie sy magte gebruik om goeie aanstellings in sleutelposte in die land te maak nie. Inteendeel, dit lyk of hy vasberade aanhou om persoonlike- of party-lojaliste aan te stel, ongeag baie van hulle se bewese onbekwaamheid of betrokkenheid by korrupsie.

Miskien is hy ten beste opgesom deur wat ʼn ontnugterde voormalige ANC-ondersteuner vir my gesê het: “Mnr. Zuma was ʼn swak leier, en mnr. Ramaphosa is nie ʼn leier nie”.

Daarom laat hy ʼn hele land ly, eerder as om te lei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Sanet ·

Daar is absoluut niks goeds te sê oor ons president of sy kaders nie!!!! Die land is oor die afgrond!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Regime met ‘n swakkeling in beheer is darem minder skadelik as ‘n regime met ‘n sterk diktator in beheer.

Harley Davidson ·

Ramaposa was betrokke by die kodesa onderhandelinge waar hy met die vyand onderhandel het oor swart bemagtiging, daarna verskoon hy homself van politiek en nader Lohnmin platinum as hulle SEB vernoot .Hy maak sy miljoene deur hom orals in te wurm as ‘n SEB vernoot met prominente hoe kapitaal verdienste groepe ,maak sy miljoene en kom terug politiek toe om homself verder te bemagtiging en dit is wie en wat hy is.

Koos 100 ·

Jy is so reg. Volgens my kennis het hy geen besigheid van die grond af opgebou nie. Daarom weet hy nie wat dit behels en wat besigheid swaarkry is nie.

Kirst ·

Hy het die NUM begin en die eerste staking geroep. Danksy hom sit ons met arbeidsonrus en werkloosheid.

capie ·

Die ou het geen mag nie. Die oomblik wat hy teen sy mede korruptes optree, sit hy langs zumpie en probeer hofsake uitgestel kry om tyd te wen.

Hendrik ·

Gemeenskappe het al die riglyne beskikbaar om selfstandige selfbestuur te beoefen. Onnodige tyd word gemors om die huidige konstitusie te kritiseer en dan niks anders te doen nie. Dit is duidelik dat die R (republiek) uit die RSA moet verwyder word en met die F (Federale State) vervang moet word om die FSSA te word. Politieke partye is baie statig om die konsep te dryf want dit het duidelik ‘n invloed op die partylid se pensioen. Die politieke partye wat sit op die proposioenele sitplekke in die verskillende vlakke van regering moet nog inkoop op federalisme en gou ook. Die afwesigheid van politieke partye by die Afriforum se Federale kongres ,wat onlangs aangebied is, was baie duidelik. Net Corne Mulder maak ‘n beweging om die #CapeIndependance te ondersteun en seker maar omdat die FF+ nie ‘n groot gevolg het in die Wes-Kaap het nie.

houopkruip ·

Ons bly maar ‘n naiewe nasie.
Al droom of werk ons hoe hard, die ANC sal geen afstigting of federale stelsel van enige aard aanvaar nie.
En dan is daar die harde feite en statistiek, nl enkele (hoogstens) mijoene mense met sulke aspirasies vs sewentig of tagtig miljoen ander mense wat vir duisende jare al heeltemal anders dink.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC reken hulle is ‘n afgod met hoë priesters in beheer. Die bevolking is soos die Joodse slawe in Egipte en moet buig wanneer die priesters met hul afgod verbyloop. Die realiteit is dat die land se diversiteit en geografiese realiteite bloot te groot en uitdagend is vir die regime. Hulle kan nie alles en almal beheer nie. Die land het reeds misluk en die regime gaan vou. Berei voor vir ‘n post ANC toekoms wat onstabiel gaan wees.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Die mens se lewensduur is só kortstondig. En dan moet ons nog vir hoeveel jare opgeskeep sit met hierdie patetiese sosialisties-kommunistiese mafia-regime wie se elite op die rug ry van die belastingbetalers en die oningeligte afhanklike “stemgeregtigde” ANC stemvee-slawe. Geen wonder goeie dinamies, kreatiewe, vrydenkende, opgeleide en ervare Suid-Afrikaners emigreer om vir hulself en hul nageslagte ‘n better toekoms te verseker. Hulle kan nie verder tyd mors om te wag en hoop dat die verstokte ANC vryheidsvegters en hul twee opeenvolgende
nageslagte eers moet uitsterf alvorens daar nuwe geleenthede op hoop dalk mog ontstaan. Tragies.

annie ·

Afrikaners het goedertrou die De Klerk-regering se hantering van die ernstige kwessie van boedeloorgawe aanvaar. Selfs nie die aantal ja-stemme bevraagteken nie met ‘n twyfelagtige uitkoms in refleksie. Destyds was daar oproepe vir selfbehoudende grondgebied maar ryk boere/sakemanne was woedend. Die NP is slinks gevang deur Westerse lande soos ons nou duidelik waarneem uit hul planne/aksies in die res van die wêreld. SA word steeds deur daardie lande beheer. Die ANC is net ‘n front wat met geld gesus word. Ons veg steeds teen die imperiale magte se selfverrykingsplanne.

George ·

Waar is almal wat so bly was toe die skelm president raak?? Hys erger as Zuma, al sy dealings het net nog nie uitgekom nie

Sê maar net ·

Wow. Spyker op die kop met dié skrywe. Wel gedaan. Waarheid, maar betreurenswaardig :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.