Rassekonfrontasie in Sandton se strate

Sandton. Foto: Sandton City/Gauteng.net

Ek stap van Nelson Mandela-plein (ironies) na die Gautreinstasie. ’n Netjies geklede swart man konfronteer my skielik, uit die bloute, van skuins agter.

“F…ing apartheid criminal, still wandering around.” Verstom kyk ek om. “Yes, look at me, f…ing rapist.”

Ek besef ’n konfrontasie sal dwaas wees en stap weg. “Just keep walking…” is sy laaste stukkie wysheid.

Vandaar het ek ʼn afspraak by Proof Café, reg langs die stasie, met Narius Moloto, leier van die PAC en algemene sekretaris van die vakbondfederasie Nactu. Dit was ’n goeie en aangename gesprek, gefasiliteer deur Peter Wesseloo, ’n wonderlike Christen-sakeman.

Die gesprek met Narius was in skrille kontras met die Sandton-man in sy netjiese klere. Narius is ʼn werkersklasaktivis. Hy drink wel tee met heuning en ry Gautrein. Ons het gepraat oor tipiese probleme wat gewone mense raak. Ons het gesels oor hoe ons mekaar kan help. Ons het gepraat oor hoe belangrik dit is om mekaar te verstaan, en ons volgende afspraak is by Solidariteit en die nuwe Sol-Tech-kampus. Ons sal graag ons opleidingservaring oordra. Sy sterk ideologiese vertrekpunte het nie my ras gekriminaliseer nie. In dié gesprek het ek weer besef daar is steeds goeie horisontale rasseverhoudinge in Suid-Afrika.

Ek het nie baie tyd gehad om die eerste insident te analiseer nie. Dié aand vertel ek vir my vrou. Saam is ons geskok dat ons nie meer geskok is nie. Sy wys toe tereg op die gevaar as sulke insidente genormaliseer word, veral omdat hierdie idees uit mense in magsverhoudinge, wat beheer het oor stelsels, gebore word. Ironies genoeg is dit die elite wat uit rassehaat wil mobiliseer en magsverhoudinge en -stelsels daarvoor gebruik. Hul eie onvermoë moet deur rassesolidariteit verbloem word.

Die volgende dag vertel ek ʼn kollega van die insident. Hy vertel toe dat hy en sy vrou die vorige dag in Sandton was en dat ’n (swart) sekuriteitswag hulle gewaarsku het dat hulle versigtig moet wees, want wit mense word in Sandton geteiken. Iemand stuur my ’n video waar ʼn wit man (wat lyk soos ’n boer) op straat ʼn buitelander genoem is.

“Jy lyk nie soos ek nie en hoort nie hier nie,” is die wit man toegesnou. Dan moet hy hoor hy moet terug Nederland toe. Die oortreder het ʼn stylvolle pak en pienk hemp aangehad. Ek besef, dis nie net ek nie. Ek besef hoe gevaarlik dit is as dit nie net ek is nie, en hoe onverskillig dit sal wees as ek niks sê nie.

Toe word ek al hoe kwater oor die insident. Wie op aarde is die man om my persoonlike ruimte binne te dring en my te kriminaliseer bloot op grond van die kleur van my vel? Dit was nie oor wat ek doen nie, maar oor hoe ek lyk. Ek word kwaad omdat hy my uit ʼn openbare ruimte wil druk. Ek word kwaad omdat ek sy rassisme moes sluk en moes wegstap. Ek besef daar is tientalle wit mense wat dit elke dag op verskillende maniere moet sluk – party op straat, ander by die werk, en soos my laerskooldogter op die netbalveld. Ek word kwaad oor die elite in leiersposisies wat ʼn klimaat vir die tipe insident skep.

Ek word kwaad vir diegene wat so ongenuanseerd met die verlede omgaan. Wat met eenvoudige goed en kwaad, oortreders en slagoffers, wit en swart, werk. Hierdie man het net so ongenuanseerd met apartheid gewerk. Ek is ʼn krimineel, ek mag nie hier wees nie en ek moet net aanhou loop.

Ek word kwaad oor wit mense wat in die algemeen geboelie word oor die kleur van hul vel. Ek word kwaad oor dubbele standaarde met rassisme. Ek word kwaad oor haat wat op sosiale media teen wit mense versprei word en dat dit nie van dakke af geskreeu word nie. Ek word kwaad oor valse klagtes van rassisme en dat oortreders daarmee wegkom. Ek word kwaad oor harde werkers wie se loopbane deur rasseformules bepaal word. Ek word kwaad oor die institusionalisering van ras.

Ek word kwaad oor die Julius Malemas wat rassehaat kan aanwakker en nie vervolg of minstens verguis word nie.

“We aren’t calling for the slaughtering of white people, at least for now.” Sy rassehaat vind neerslag in Sandton se strate.

Ek word kwaad omdat dit deur die gemeenskap genormaliseer en selfs geregverdig is om wit mense te boelie.

Wat ʼn klomp twak. Ek mag maar ʼn vry burger wees, ongeag my ras. My grondwetlike regte is nie ʼn demokratiese guns van die meerderheid nie. Ek is ʼn trotste Afrikaner met ʼn geskiedenis vol swaarkry, opstaan, goed en kwaad. Daar was baie mooi waarop ek trots is, maar baie lelik, waaroor ek spyt is.

solidariteit-teen-discovery-veldtog-dirk-hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Alle groepe in Suid-Afrika en die land se geskiedenis is genuanseerd en moet so hanteer word. Daar was baie hartseer oor geslagte heen; dit is deur baie veroorsaak en deur baie beleef. Daar is ook baie goeie dinge deur baie gedoen en dit moet waardeer word.

Ons kan en moet gerus meer praat oor ons geskiedenis en hede. Ons moet stories deel en begrip ontwikkel. Ons moet die gevolge van transgenerasie-vernedering verstaan. Ons moet eerlik met mekaar wees.

Ek gaan egter nie toelaat dat ek geboelie word bloot op grond van hoe ek lyk of wie ek is nie. Ons mag nie enige regverdiging, ook nie die verlede, skep vir optrede teen enige een, wit of swart, op grond van sy/haar ras nie.

Gevalle soos die Sandton-insident bring egter terselfdertyd ook ʼn besef by my dat ons nie afstand moet doen van ons toekoms hier nie. Inteendeel, dit het sommer nuwe energie by my losgemaak om te bou aan ʼn toekoms waar ek vry, veilig en voorspoedig is. Ek gaan my nie laat intimideer nie.  Daar is dalk diegene wat ons nie in die straat wil hê nie, maar die afgelope tyd het ek die krag van duisende wat help bou aan ʼn plek hier beleef.

Die Sandton-man verteenwoordig ongelukkig meer as hyself, maar – ek ook! Ek is kwaad oor die Sandton-soort insidente, maar ek besef die antwoord lê nie in kwaad word nie; die antwoord lê daarin om jou goed te vat en te bou. Die, rassehaters, moet ontbloot word en moet uitgeskuif word na die buiterand van die samelewing waar hulle hoort. Dit gaan my egter nie ontwrig nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Rose ·

Jy moet jou ervaring met ander online publikasies ook deel. Ongelukkig het dit die norm geword, en ons aanvaar dit gelate. Hoe meer hulle sulke snert vir ons toesnou, hoe meer gaan ons dit glo. Ons moet elke aanval wat hulle loods sterk teenstaan, aktivisme moet deel wees van elke dag se bestaan. Ek sien daagliks hoe witmense op die internet geboelie word, en hulle sienings word sumier afgeskiet en met onwaarhede vervang, partykeer deur mede Afrikaners. Meeste gebruik skuilname, so jy weet ook nie regtig nie.

Niné ·

So wat maak jy in so n geval? Se my? Niks net mooi niks! Want jy is magteloos en voel onveilig om net te vra, hoekom meneer, hoekom se jy dit vir my? Nee jy maak asof jy niks hoor en stap weg. Maar hiers die ding…wat sou gebeur as ek dit sou se?

Bloedhond ·

Net daar verloor die makker sy voortande. Die gevolg is my verantwoordelikheid.

Michiel ·

Die enige strukturele oplossing: ons eie kleine Swazilandje. Afgebakend bewaakte grense, welvaart, geen kleur, selektief immigrasiebeleid, ééntalig Afrikaans, geen ANC-terreur en daarom welvarend.

Johan Venter ·

En vir wie moet ons bedank, vir onder andere Cyril Ramaphosa, Julius en daardie politici met hul toesprake van die verhoog af en in die parlement, ook soos Cyril in sy weeklikse nuusbrief maak, onwaarhede oor die wit mense versprei. Lees gerus Herman Toerien se Nuuskommentaar vandag. Oor die jare en met gereelde herhaling kom die boodskap by die mense op die grond uit.

En die boere, hoe ervaar hulle dit?

En waar staan die MRK en die howe/Grondwethof in hierdie verband met hul ‘ewehandige’ uitsprake in die land?

Schalk ·

Die tipe mens wat so praat is duidelik meer skuldig aan rassisme. Almal wat uit die apartheid era kom het nie voordeel getrek nie en verseker is daar meer gewone mense wat geen deel daarvan gehad het nie. Niemand het egter mense met buitebande gemartel of verkrag of bomme tussen onskuldige mense ongeag ras of geslag geplant en tereur gesaai nie. Die blanke mense het ook swaar gekry en menige jong en ouer gesinne is verwoes tydens die oorlogsjare en diensplig op die grens. Daar was geen maklike manier om te studeer of eiendom te verkry nie. Die gemiddelde mense het met deursettings vermoe en vasbyt hulleself gevestig en gehelp groei. Meer blanke mense het bydraes gelewer om Suid Afrika te verenig. Daar is deesdae groot opstand onder die nuwe meer gegoede middelklas nie balnke mense wat kan sien daar is korrupsie en dat ou argumente oor apartheid en witvoordeel kunsmatig gebruik word om onmin en verdeeldheid lewendig te hou.

Michael ·

Hy sou n snot klap gekry het en twee keer gedink het voor hy weer iets vir n vreemdeling gesê het.

Debbie ·

Ek is as ouer ook deur ‘n skoolbus bestuurder aangekla van rassisme! Ek het 2 swart aangenome kinders. Die betrokke dag wou ek met die bestuurder praat oor die kinders se veiligheid waarop hy my geïgnoreer het. ‘n Week later is ek deur die skool se beheerliggaam ingeroep omdat Mnr. aan hulle gesê het dat ek hom die K – woord genoem het. Groot was my verbasing. Lang storie kort. Ek moes om verskoning vra!!

Pauline ·

Ironies genoeg het ons ñ soortgelyke ervaring gehad Saterdag. Die man het agter ons gestaan by ñ gewilde inkopiesentrum en verskeie rassistiese en aggresiewe aanmerkings gemaak. Daarna in die verbyloop sy vinger amper in my gesig gedruk en toegesnou “Yes I am talking about you, you colonists”.
Die gevolg is dat ek aan my 6 jarige kinders die man se gedrag moes probeer verduidelik asook wat ñ “colonist” beteken…

Johan Venter ·

Dr Dirk, plaas hierdie artikel van jou op Solidariteit se webwerf as ‘n petisie aan die president dan maak julle daaronder voorsiening dat ons ons handtekeninge daarby kan sit, dan gaan oorhandig julle dit tydens ‘n optog waar duisende julle sal ondersteun aan president Cyril Ramaphosa by die Unie Geboue.

Hendrik ·

Lyk my daar word nou geen toegang areas geskep “No go zone”. Wel dit pas my nogal goed.

Hendrik ·

Baie mense probeer baie hard om SA suksesvol te hou maar daie ontsnap gedagte begin maar sy kop uitsteek met al die ANC/EFF se politiekery om aan bewind te bly. Daar word gewerk aan baie oplossing vir die verval en die verwagte Zim tipe verval en oplossings is ankerdorpe, selfstandigheid, sesessie, en emigrasie. Daar moet solank hard gewerk word aan werkskepping/opleiding/veilige ontwikkelings areas/water/elektisiteit/gesondheid/verdediging. Daar moet nou daadwerklik bymekaar gekom om die finale beplanning te doen. Tans is dit die Solidariteits Beweging met die ankerdorp ontwikkeling en miskien moet daar nou behuising/industrie ontwikkel word om die mense na die ankerdorpe te lok.

Chris ·

Ek is gelukkig dat ek ‘n etniese taal kan praat. Ek het al mense berispe wat oor my geskinder en sleg gesê het. Ek gaan my nie verwerdig om met ‘n emosioneel onvolwasse en intellektuele agtergeblewene in ‘n gesprek te tree nie. Ek dink die persoon wat Dirk “aangeval” het nie ‘n plaaslike lid is nie. Die lot hier sal jou nie alleen konfronteer nie maar gewoonlik in ‘n trop. Die grootste irretasie vir so persoon is om hom summier te ignoreer en jou rug op hom/haar te draai. Hulle soek konfrontasie want wat jy ook al sê of nie, jy is reeds skuldig.

Frik ·

Hierdie tipe insidente kom oral voor en is aan die toeneem. Indien n witmens enige iets sou terugse of iets doen, dan het hy probleme omdat hy dan aangekla sal word van rassisme, al is hy onskuldig en eintlik die slagoffer. Hoe lank moet witmense nog alles sluk en stilbly? So kan dit nie aangaan nie!

Louis ·

Hierdie artikel verteenwoordig die “somtotaal van “die waarheid”. [VERLEDE+HEDE+TOEKOMS = WAARHEID] …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.