Rassisme-beskuldigings kan nie basis vorm vir sosiale ooreenkoms

‘n Engelse weergawe van die onderstaande ope brief deur Dries Wiese, voorsitter van die Afrikanerbond, is na die kantoor van president Cyril Ramaphosa gestuur. Die kantoor van die president het reeds ontvangs hiervan erken.

Pres. Cyril Ramaphosa tydens Menseregtedagvieringe in Koster (Foto: Siya Duda/GCIS)

Geagte president Ramaphosa

Met verwysing na die toespraak van 21 Maart 2022 op Mensregtedag te Koster in Noordwes

Ons het die moeite gedoen om u oorspronklike toespraak te lees en nie net op mediaberigte staatgemaak wat oor die inhoud van die toespraak gerapporteer het nie.

Op 10 Februarie 2022 lewer u die staatsrede in die stadsaal van Kaapstad. Onder meer sê u: “Ons het onsself 100 dae gegee om ʼn omvattende sosiale ooreenkoms te finaliseer om ons ekonomie te laat groei, werk te skep en honger te bekamp. Dit sal voortbou op die grondslag van die ekonomiese heropbou en herstelplan, wat ons gemeenskaplike program bly om die ekonomie te herbou! Om effektief te wees, moet hierdie sosiale ooreenkoms elke Suid-Afrikaner en elke deel van ons samelewing insluit.”

Afhangende van u onderneming tot ʼn sosiale ooreenkoms se tydskale moet die sosiale ooreenkoms teen Saterdag 21 Mei 2022 in plek wees of as ʼn mens slegs na werksdae kyk, is dit 27 Julie 2022. Ongeag vanuit watter hoek dit beskou word, sal dit bomenslike kragte verg om dit te bereik. Dit sal enorme interaksie met alle Suid-Afrikaanse gemeenskappe benodig en intense dialoog met alle rolspelers en belangegroepe om sukses te behaal.

Daarom is u opmerkings op Mensregtedag in Koster so teleurstellend en absoluut onnodig. In plaas van brûe van versoening te bou, verdeel u, en in plaas van uitreik na gemeenskappe, stoot u weg.

Daar kan geen twyfel wees dat die politieke insident op Sharpeville op 21 Maart 1960 en die afgryslike individuele rassistiese daad op Skierlik op 14 Januarie 2008 veroordeel moet word nie. Niemand praat dit goed nie. Wat egter vreemd opval, is dat u nie onderskeid tref nie. Vanuit u toespraak is dit opvallend en duidelik dat u die wit gemeenskap oor dieselfde kam skeer en dat die wit gemeenskap opgestel word as rassiste met die een insident as basis. Rassisme kom in alle gemeenskappe voor en dit moet in alle gemeenskappe aangespreek word.

U as president het die taak en verpligting om nasiebou konsekwent te bevorder. U eensydige veroordelende beskuldiging van die wit gemeenskap gebaseer op ʼn enkele insident is die amp nie waardig nie en daaroor is ons werklik teleurgesteld. Dit is nie die basis waarop enige sosiale ooreenkoms gebou kan word nie en vernietig u sélf enige hoop op die wonderwerk wat moet plaasvind.

Waar is u erkenning teenoor die wit gemeenskap se daaglikse bydrae tot die herstel van dienslewering en infrastruktuur wat deur kaders vernietig is, onder andere in Koster? Waar is die erkenning aan die wit gemeenskap wat elke dag aktief in die ekonomie besig is met werkskepping vir almal, ook vir die swart gemeenskap? Waar is die erkenning aan die wit gemeenskap wat elke dag met uitreikaksies en armoedeverligting in alle gemeenskappe betrokke is? Waar is die erkenning aan die wit gemeenskap wat Suid-Afrika hulle tuiste noem en elke dag ʼn positiewe verskil maak?

Dit is jammer dat rassisme deur die uitwys van die insidente as die enkele en die enigste grootste sonde afgemaak word, maar ander menseregtevergrype soos misdaad, moorde (veral plaasmoorde), xenofobie, staatskaping, onluste en plundering, korrupsie, falende dienslewering, infrastruktuur sabotasie en vele meer onder die mat in gevee of slegs oppervlakkig na verwys word. Dit is dié misdade en menseregtevergrype waarmee elke Suid-Afrikaner elke dag worstel. Dit wil voorkom asof u ʼn greep op die werklikheid verloor het waaroor ons baie jammer is. Ons wys ook nie vinger na die ras of etnisiteit van bogenoemde oortreders as die knelpunte uitgelig word nie. Dit sal niemand baat nie.

Die grootste werk in die sosiale ooreenkoms is om vertroue te herstel, want ons het vertroue verloor. As burgerlike samelewing wat die sakesektor insluit is daar:  ʼn Gebrek aan vertroue in die regering, ʼn gebrek aan vertroue in politici, ʼn gebrek aan vertroue in die staatsdiens, polisie en strafregstelsel, en helaas in u as president vir almal in Suid-Afrika.

Is u daarom verbaas dat daar reeds ʼn parallelle struktuur op vele terreine is wat die burgery van Suid-Afrika doeltreffend opgerig het en in stand hou? Opleiding, onderwys, mediese dienste, veiligheid en infrastruktuur word voorsien waar die staat faal. Dit moet ernstige kommer by u wek, en waarskynlik is dit die rede vir die misplaaste uitbarsting en beskuldigings na die wit samelewing en bevolking. U frustrasie is begryplik, want die staat se brouwerk gaan nie in 100 dae reggestel word nie en u het die insette van elkeen individueel en gesamentlik nodig. Die samewerking gaan egter nie verkry word as die vingerwysings en eensydige beskuldigings die basis is waarop u ʼn sosiale kontrak wil bou nie.

Daar is nog steeds hoop vir ʼn nuwe sosiale ooreenkoms, maar dan moet dit gebeur binne ʼn gees van onderlinge vertroue en binne die riglyne van die Grondwet. Dit sal veral ʼn staatshoof verg wat die beste uit alle Suid-Afrikaners en alle gemeenskappe kan haal tot voordeel van die land.

Ons sal graag met u in gesprek wil tree ten einde ons bekommernisse te deel, maar ook ons voorstelle vir die sosiale ooreenkoms aan u oor te dra.

Met groete

Dries Wiese

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Heinrich ·

Sterkte vir ‘n reaksie; gaan nie gebeur nie. Die ANC president sal nooit in belang van die land optree nie, dit gaan teen die grein van die ANC naratief. Ons paddatjies word stadig gekook, hierdie is net die hitte nog so graad opdraai.

Suzette ·

Altyd die minderheid se skuld – die spul sal sekerlik nie in my leeftyd enige verantwoordelikheid ontwikkel en erken hoe pateties hulle eintlik is nie en DAAROM werk niks in SA nie. Die in beheer gee nie eens om vir “our people” nie – so hoekom sal hulle enigsins ‘n blou duit omgee vir die minderheid.

casper ·

Net nog ‘n baie praat en gee my jou geld storie !!! BLY WEG !!!!

Johannes_64 ·

Dit rassekaart en ander se eiendom is die laaste wat die ANC sy kiesers kan offer. Nog geen teken van skep ‘n ekonomie wat die kieser basis kan ophef nie, daarom net ‘n poging om alles te bekom. Niks word gedoen om ‘n ekonomie te vergroot om almal in te sluit nie. Dit kan beide as gevolg van onkunde wees of opsetlik, want ‘n middelklas kieser basis sal nie stem vir ‘n kommunistiese regering nie.

Renier johannes ·

Alles in hulle beheer is bankrot niks werk nie net hulle beursies werk

Robert Sydney ·

Ek wil net vir Maroela media daarop wys dat daar destyds op Sharpville niks gebeur het waarvoor die polisie skaam hoef te wees en vergifnis voor hoef te vra nie. Ons buurman destyds op Vereeniging was die Superintendent van Sharpeville Hy was toevallig die oggend by die polisie. Hy het vertel hoe die massiewe groot skare van duisende daar onverwags opgedaag het met knopkieries en spiese en baie opruiend en uitdagend op die polisie kantore afgestorm het. Hulle het die omheinings begin afbreek.
Sovêr ek kan onthou, was daar nie meer as 50 polisiemanne op die stasie nie . Hou ook in gedagte dat daar ongeveer ‘n maand tevore elders (ek vergeet nou waar dit was maar dit kan opgesoek word) ‘n soortgelyke insident was waar ‘n groot klomp ( ?15) polisie vermoor is. Ek is seker ons sou almal net soos die polisie opgetree het as ons in hulle posisie was !

Jabez ·

24 Januarie 1960 ,Cato Manor in Durban. 4 Wit en 5 Swart Polisie manne wreedaardig vermoor. So erg vermink met klippe en pangas hulle kon nie herken word nie. Dit sou defnitief in my agterkop gewees het as ek in Sharpeville was.

Chris ·

Ek redeneer en veg met niemand meer nie. Ek het geleer dit is makliker om ‘n argument met ‘n slim persoon te wen as met ‘n dwaas. Wanneer jy met ‘n dwaas redeneer en ‘n ander persoon gaan daar verby, sien hy twee dwase. Daar is nie salf te smeer nie. Soos die Ingesle sê, al wat ons gaan red is ‘n “devine intervention”

Herman L ·

Rassisme word deur die regering en ANC aangeblaas, selfs waar daar nie eers ‘n rokie is nie. Miljoene mense van hierdie land werk daagliks in vrede (oor rassegrense) met mekaar saam om hierdie land ‘n beter plek te maak. Die regering soek desperaat na iets om die aandag van hulle mislukkings af te lei.

Louis ·

Raponsie sal aanhou met sy opstekery, totdat die land in vlamme opgaan. President van die Republiek van Potholia!

Chris ·

Indien die meerderheid nie-rassig is, is die meerderheid van die minderheid, ook nie-rassig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.