Red só Afrikaans as voertaal by die Puk

Puk8

Die sameflansing van die Potchefstroomse Universiteit en die Noordwes Universiteit (NWU) se twee ander kampusse was van meet af net ʼn uitgestelde egskeiding van ʼn “gedwonge huwelik”.

Die Asmalitiese model het as oogmerk die onderploeg van die Christelike en Afrikaanse karakter van die Potchefstroomse Universiteit gehad. Intelligente leiding deur dr. Theuns Eloff, bygestaan deur die kundige prof. Marlene Verhoef met haar taalbestuur, het die Afrikaanse karakter van die Potchefstroom-kampus van die NWU binne die konteks van die nuwe grondwetlike bedeling ʼn staanplek gegee. Dit is ʼn model vir ander universiteite, so het almal beweer. Ras is uit die universitêre konteks verwyder.

Taaldiversiteit is immers in artikel 6 van die Grondwet 1996, soos gesertifiseer deur die Grondwetlike Hof in 1996, vasgelê. Wat die Grondwet-skrywers voorsien het, was ʼn regering wat taaldiversiteit sou bevorder. Die aftakeling en uitskuif van Afrikaans as vak uit die meerderheid skole in die Noordwes-provinsie, en ook in ander Noordelike provinsies, nieteenstaande die feit dat Afrikaans in hierdie streke ʼn voorkeur-gebruikstaal is, was ʼn opsetlike politieke regeringsbesluit.

ʼn Bedoelde of onbedoelde gevolg daarvan was dat daar te min swart studente deur die skoolstelsel opgelewer is om ook by Afrikaanse universiteite die “transformasiemodel” van die regering te verwesenlik. Ek skryf dit direk daaraan toe dat die regering grondwetbreuk gepleeg het deur nie behoorlike taalwetgewing, soos die Grondwet in subartikel 6(4) vereis het, binne 2 jaar na inwerkingtreding van die Grondwet in 1996 te aanvaar nie. Die ondermyning van die status van Afrikaans binne die staatsdiens en gevolglik die ekonomiese nut van Afrikaans, binne hierdie wetgewende vakuum, is ook deur die regering so ondersteun.

Die resultaat van die ondermyning van ander Afrikaanse universiteite, byvoorbeeld die Universiteit van Johannesburg, om kursusse in Afrikaans aan te bied, het die natuurlike gevolg gehad dat die Afrikaanse gemeenskap van die Noorde hul kinders eerder na die Potchefstroom-kampus van die NWU vir opleiding gestuur het.

Bron: www.nwu.ac.za

Prof. Dan Kgwadi Bron: www.nwu.ac.za

Die nuwe visekanselier, prof. Dan Kgwadi, se ongekwalifiseerde endossering van die “uitdagings”, wat in die verslag van die “internasionaal-geleide evalueringsondersoekspan” met bepaalde verwysing na die herevaluering van die taalbeleid ten einde toegang te verbeter en die aanwys van ʼn ondersoekspan na aanleiding van die ontgroeningspraktyke, waaronder “kulturele aspekte”, wat klaarblyklik nie sosio-linguïste en sosio-linguïstiese navorsing ingesluit het nie, het onmiddellik gewys dat die rol wat hy gegee is om te vervul, te groot is vir hom. My aanvanklike indruk is dat Kgwadi se poging om die Potchefstroom-kampus van die NWU te verengels, duidelik aantoon dat hy nie bekend is met sosio-linguïstiese navorsing oor die potensiële negatiewe uitwerking van Engels aldaar nie. Hy stel klaarblyklik nie belang nie en hy het reeds bewys hy het ʼn verskuilde agenda van onverdraagsaamheid teenoor Afrikaans en Afrikaanssprekendes se regte.

Voordat Afrikaans by die Potchefstroom-kampus die rampspoedige pad deur verengelsing – soos by die universiteite van Stellenbosch, Johannesburg en Vrystaat – met die Kgwadi-plan van transformasie daarvan begin loop, moet daar nóú opgetree word. Die saak van Afrikaans en om in Afrikaans as wetenskapstaal te mag studeer, sonder die verdringing van Engels, is ʼn eerbare en proteswaardige saak.

Die optrede sal minstens drievoudig moet wees.

Beplande gesofistikeerde protesaksies wat die riglyne van nie-geweldadige protes, soos toegepas deur dr. Martin Luther King Junior in die VSA, behoort deur die studenteleiers georganiseer te word. Wettige massaoptredes behoort die aanvangsfase van die protes te wees. Studente moet op grootskaal optree sodat enkele individue nie “voorbeelde” van streng onderdrukkende optrede word nie.

Weens die leierskapsproblematiek in die Afrikaanse gemeenskap, en te midde van die feit dat die akademici te die Potchefstroom kampus – hoewel ʼn hele aantal oor groot potensiaal beskik om die leiding dan verder te neem – nie in hierdie stadium hulle koppe gaan uitsteek nie, moet die studente die leiding neem.

Protes-voorbeelde van studente wat tot radikale omwentelinge gelei het, is oorbekend. Die protesaksies van studente van Parys in 1968 en die uitkringende optredes daarna en dié in Timisoara in Romenië van Desember 1989, wat tot die val van die berigte Nicolae Ceausescu gelei het, kom onmiddellik by my op.

Tweedens, benewens hierdie studenteprotes, behoort kundige regspanne saamgestel te word om die verengelsingsaksie van Kgwadi, Blade Nzimande & Vennote in die hof te opponeer.

Derdens moet die voorbereiding gedoen word vir die afskeiding van, wat ek die “Vrye Potchefstroomse Universiteit” noem, van die NWU. Kgwadi se pos as visekanselier van die NWU word dus nie geraak nie aangesien die NWU sonder die Potchefstroom-kampus bly voortbestaan. Diegene wat hierdie beweging mag opponeer, verkry onmiddellik verlof om te mag swyg sodat hulle ná die tyd wel hulle poste kan behou. Oudstudente, academici, ouers en studente kan in die skadu van die verkiesingsveldtogte voormelde organisasie begin en vinnig vorentoe neem.

Die doelstrewe van só ʼn Vrye Potchefstroomse Universiteit, as outonome nie-rassige Afrikaanse tersiêre instelling ten behoewe van Suider Afrika, is grondwetgetrou. Só ʼn strewe is ook in verset teen ʼn nie-grondwetlike en afremmende swart fascistiese ideologie gekamoefleerd in die term “transformasie” wat die hele Suid Afrikaanse samelewing tot ʼn voor-1994 rassisme verkanker.

Hierdie sosiale en kulturele dekonstruksie-proses moet onmiddelik in sy vier spore gestuit word. Studente van Potchefstroom, ons wag op julle en Stellenbosch sal volg!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Cerneels Lourens

Meer oor die skrywer: Cerneels Lourens

Cerneels Lourens is ’n prokureur en kampvegter in die taalreg.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

VerVanRyn ·

Mnr, Lourens, baie interessante oproep aan ‘n baie interessante groep studente. Ek is self op die PUK en is al hier vir ‘n geruime tyd. In my eerste jaar was Afrikaans die hoofvoertaal en het baie min vakke ‘n tolk sisteem gehad sodat Engelse studente ook kan insit. Tans wil dit voorkom asof meerderheid van die Afrikaanse vakke ‘n tolk het en ek het al twee modules gehad waar die dosent engels was, geen tolk diens was vir ons verskaf nie en dit was die modules waarin ek die slegste gevaar het. As ek ander studente vra waarom ons Engels moet akkomadeer op die AFRIKAANSE Kampus, terwyl Afrikaans nie op die ander aangebeid word nie, word ek as rasis en kwaadstoker uitgejou. Ons Afrikaanse kinders wat groot geword het in die nuwe SA het groot geword met ‘n vrees vir politiek. Ons is te bang om vir ons eie regte op te staan, want die regering sien dit as rasisties en dit het vasgesteek in baie se koppe dat hulle self begin glo dis rassisties om vir Afrikaner regte op te staan.

estelle ·

@VerVanRyn – my suster se dogter is ook vierde jaar student op Potch. dit is hartseer maar waar, die blanke afrikaans sprekendes se hande is afgekap, en om daarteen te baklei gaan ons nog steeds niks in die sak bring nie! die maklikste woord wat deur ander gebruik word vandag is rasisme! as hulle jou dan sien as ‘n rasis omdat jy blank en afrikaans is, wees dan ‘n TROTSE rasis! sterkte

AmY ·

Die mense het dit nie teen Afrikaans nie, maar teen die Afrikaner as jy my vra. Oral word ons taal uitgemoor. Dis net ‘m kwessie van tyd, dan gaan hulle die kerke ook pak. Hulle wil net gou eers die skole en Universiteite ‘skoonkry van die vrot afrikaner.’ Dan is dit die kerke se beurt.

Alwyn Beetge ·

Uitstekende artikel. Die enigste hoop vir Afrikaans is studente-optrede.. Nartuurlik sal hul uitgekryt word vir al wat sleg is insluitend rassiste en teenproduktiewe optrede. Hul moet hul daarteen staal.Miskien kan hier n draaipunt kom in die lamsakkige optrede van die sg intelligentsia en liberaliste.

Ben Visser ·

Ek het 3 grade plus ‘n Onderwysdiploma by die Vaaldriehoek Kampus van die PU vir CHO verwerf

Ons dosente was 100 Afrikaanssprekend behalwe waar ‘n gasdosent uit ‘n ander land vir ‘n kort rukkie betrokke was.

Ons lesings was 99,5% in Afrikaans maar ons moes baie Engelse Handboeke gebruik aangesien Afrikaanse bronne nie beskikbaar was nie. Die meeste dosente se hantering van Engelse aanhalings was kwaai aksenties inkorrek (Aanhalings – grappie)

Dit was eers jare later toe ek genooi was om Arbeidsverhoudinge deeltyds aan te bied aan Honneurs/B-Ed studente dat ek dubbele medium klasse aangebied het want die meeste van die studente was anderskleurig. My Engels was gelukkig van graad 1 af puik danksy my oorlede moeder se aandrang.

Ek is oortuig dat daar plek vir Afrikaans en Engelssprekende onderrig is maar die skrywer se aandrang op ‘n Vrye Universiteit klink logies. Die Pukke kan ons Afrikaners nie net weggooi nie. Daar is ‘n Vrye Universiteit in Nederland en ek is oortuig dat die Pukke se oorspronklike visie as Afrikaner bakermaat uitgeleef moet word en nie afgeskeep word nie. Afrikaners het tot 1994 die Pukke gedra.

Die nuwe Kanselier is soos die gedwonge huwelik onder geweldige druk van die ANC maar moet teengestaan word.

Ben Visser
Vereeniging

Frik van der Walt ·

Ek het genoeg tyd in Potchefstroom en ook op die PUK spandeer om my opinie te lig. Ek het verskeie rolspelers sien kom en gaan en ook gesien hoe die bestuur in al die fasette moes kompromeer en selfs die integriteit moes inboet vir die sogenaamde vryheid van hierdie land wat huidig niks meer is as slawerny van anarchie is nie!?. Natuurlik waar Mnr Eloff instrumenteel was en nie gou genoeg kon meewerk om die unieke identiteit van Christendom sommer uit die naam van die instansie wat vir ons saak maak uit te skryf. Ongelooflik hoe individue soos hy sommer vlug uit die prentjie as die geskiedenis hom begin inhaal nie. Laat mens dink aan Mnr De Klerk wat nou na 20 jaar op die kant staan en skree dat die huidige regering nie die reels van die spel speel soos hulle beloof het nie. Ons leke het geweet dat dit sou gebeur. Blykbaar nie die ingeligtes met al hul departemente en kundiges nie.

By die punt van Afrikaans. Wat het julle gedink? Hoekom is hulle toegelaat om dit sover te laat gaan? Ek het my volle opleiding in Afrikaans gekry en het en kon myself in ‘n primer Engelse wereld handhaaf vir die laaste 22 jaar. Ek wil nie sien watse chaos daar sal ontstaan as elke student in sy of haar eie taal onderrig word nie. Gelukkig sien ek ook dat die sogenaamde voorgraadse LLB in heroenskou geneem word. Standaard word afgespeel teen verteenwoordiging of kwota. Selfs in sport ‘n grap. Waarom kan iets onskuldig soos studentwees nie vry wees van politieke inmenging nie?

Mnr Lourens, dankie vir die kampveg wat mense soos julle doen vir Afrikaans. Dit is bewese dat ons Christengeloof en Afrikaans sinoniem is. Die wat nie daarvan hou nie, kan ander heenkome soek.

Andre Badenhorst ·

Julle veg op ‘n totaal verkeerde front. Lekker vasgevang in ‘n ou paradigma. Residensiële onderriginstellings is vinnig besig om te verouder. Die oorname deur, vereentaliging en verderdewêreldsing deur die gepeupel help net die naderkruipende irrelevansie aan. Word wakker! Beweeg vooruit op nuwe front:verouder aanlyn instellings waar grootskaalse konsolidasie en uitskud al klaar besig is om plaas te vind. En daar is die veld oop vir Afrikaans en nog boggerôl gedoen.

Riane Venter ·

As oud PUK, is dit seker ‘n emosionele gewaarwording om te aanskou hoe ‘n Universiteit wat deur die Afrikaner op die been gebring is met die oog op Christelike Hoër Onderwys, besig is om afgetakel te word. Eerstens is die PU vir CHO ‘n doodskoot gegee, en nou is dit die moedertaal wat aan die agterspeen moet gaan suip. Praat nie van ou onskuldige tradisies wat uitmekaar gepluis is vir ‘n moontlike duistere motief nie. Hoeveel is dan genoeg? Kan studente nie maar in vrede sonder politieke knoeiery hul opleiding ontvang in die taal van sy keuse nie? Kan hulle nie maar hulle graadkry met lekkerkry klaarkry nie? Of het ek nou ook ‘n ou gevestigde leuse gebruik wat vir ‘n politieke ondersoek gaan sorg?

Jessica ·

Verstommend hoe sekere Afrikaners maar net nie die lesse van ons geskiedenis wil leer nie. Die verengelsing wat ná die Engelse oorlog deur die Empire op ons afgedwing is, het al die kenmerke van die huidige Bewind van Diewe se onderdrukkingsbeleid gehad. Die oorname van Afrikaanse universiteite is maar net een faset van hul projek om ons kultuurskat te vernietig, onder andere deur ons instellings letterlik deur middel van gewettigde diefstal te steel vir hul Afrikanistiese doeleindes. Om nou nog steeds in kamma-ernstige gesprekke met die ANC-Kleptokrasie se kaders oor die behoud van Afrikaans op universiteite te tree, is verspot verby en ‘n vermorsing van kosbare tyd terwyl die uurglas leegloop. Só asof dié brutale verdrukkers hoegenaamd aandag aan ons pleidooie sal gee!

En die stilte onder akademici is sprekend van die intimidasie wat die regime gebruik om die onderdrukking te verskerp. As die Afrikanerdom nie verenig en ondubbelsinnig in opstand hierteen kom nie, is ons taal binnekort net ‘n vae kampusherinnering wat skugter in sentimentele gesprekkies na vore kom.

Neil ·

As oud Puk student tans werksaam in Pretoria het ek nagraadse studies verder gedoen op Tuks.
Die merkwaardigste observasie wat ek daar gemaak het is hoe tuks verander het as eens DIE afrikaanse universiteit, na n kultuurlose onpersoonlike kampus vandag. Ek het onmiddelik soveel waardering vir die Puk kampus weer gehad en tot n besef gekom wat n unieke en kosbare instelling dit vir ons as afrikaners is. Maar die kern wat dit bymekaar bring, definieer en opsom is ons pragtige taal afrikaans.
Die studente wat tans daar is moet besef wat hulle daar het, opnuut n waardering daarvoor kry en daarvoor veg net soos die voortrekkers oor die berge vir vryheid geveg het, die boere die zulus om oorlewing geveg het en al twee triomfeer het.
Ek as oud puk sal bydrae tot die uiters belangrike beweging waar ek kan en hopenlik so ook alle ander oud pukke. Die onus le op ons en ons alleen om vir ons taal en kultuur te veg want niemand anders gaan dit vir ons doen nie

Ponti Venter ·

Mnr Lourens se aanval op Prof Kgwadi is ongevraagd. Blykbaar is die etiket ‘swart fascis’ darem nou weggehaal. Tog bly Lourens se styl en sommige van die ander reaksies ondertione van vyandigheid teenoor nie-Afrikaanse mense behou.

Die P U vir C H O het eers Nederlands as voertaal gebruik, en toe Afrikaans. Die “C” in die C H O het die Universiteit sy karakter gegee; nie Afrikaans nie, en beslis nie Afrikanerskap nie. In die apartheidsjare het ek moes aanhoor: “Ons wil nie die K…’s in ons kerk hê nie”. My antwoord was: “Ek dog nog altyd dis Jesus Christus se kerk … Dit was nie die Afrikaners se universiteit nie: dit was gewy en oorgegee aan Jesus Christus. Maar die ideologie van Nasionaal-Christelik het ons altyd bly parte speel.

Dr Theuns Eloff het sy foute gemaak. Maar hy het nie die Christelike karakter weggeneem nie. Toe hy hier kom, was dit nog net Christelik in naam. In die werklikheid is die ‘Christelike’ karakter tussen 1985 en 1994 opgeoffer vir geld, ‘internasionalisering’ en Afrikaans!! Verskillende van ons het destyds met bestuur gepraat: ons wou veeltalig wees en Christelik bly, en ons wou uitreik. Maar die Broederbond het toe al klaar besluit dis HULLE universiteit die. Daar was toe ook Swart studente, wat Afrikaans as voertaal aanvaar het, en Christelik wou bly. Hulle het net mooi gevra dat die studiegidse in Engels moet wees. Die Bestuur het uitdruklik geweier om ons tegemoet te kom, en toe liewer ons werk verdubbel deur aandklasse in Engels af te forseer.

Bestuur was nogal opgewonde toe Sibusiso Bengu die wet so verander het dat daar ‘n Hoof Uitvoerend Beampte sou wees. Nou was die PUK ‘n ware besigheid met ‘n CEO. Maar juis daardie wet, en Bestuur se laaste-loopgraaf-houding van Afrikaans, het die PUK nie Christelik nie, maar rassisties laat lyk. Dit het Kader Asmal al die verskonings gegee om die PUK tre kaap.

Solank ‘Afrikaners’ nie wil uitreik nie, en die hele tyd rondhardloop met angs en vrees vir Afrikaans, sal hulle al hoe meer verloor. Gaan kyk na veelrassige kerke soos His people. Hulle hou diens in Engels, en dit loop oor van Afrikaanse jongmense. Twee plotte van my af is ‘n G-jaar kampus. Vyf jaar gelede leliewit; nou 50 persent swart. Gaan kyk in Cum Boeke.

Met die samesmelting is van die Potch-kampus af ‘n kas vol waardes geformuleer. Dis aanvaar op Fakulteitsvlak deur aldrie kampusse; op Senaatsvlak deur almal saam; op Raadsvlak ook. Met instemming van die Potch Kampusbestuur. Dit sluit konstitusionle waardes in. Toe dit by implimentering kom, het die Pocth kampus, onder leiding van Rektor Annette Combrinck, geweier om te implimenteer, met ondersteuning van die Broederbondbestuurders. Die ander kampusse het wel die waardes in werking gestel. Let op: ‘n kampusrektor weier om ‘n Raadsbesluit, waarvan sy en haar bestuurders deel was op alle vlakke, en waarin ietsie van die Christelike karakter behou is, uit te voer, want dan sou hulle nie hul wurggreep op die kampus kon behou nie. Die Raad en Vise-Kanselier het nie streng opgetree nie: hulle moes gesê het – implimenteer of bedank.

Die ontgroeningsprobleem waarmee die PUK nou sukkel is ‘n probleem van die ineenstorting van norme onder die studente. Dis ‘n kwessie van permissiwiteit. Die groet was net die punt van die ysberg. En dis so op alle kampusse waar Afrikanerstudente in groot getalle is, by mans en vroue: eerstejaars word lyflik aangetas op ernstige wyse. Maar wat moet ons van die jongmense verwag as Bestuurders weier om hul eie waardestelsel uit te leef.

Dis niemand anders as die Afrikanerbroederbond se skuld dat die PUK beland het waar hy is nie. Daar is in die 1970’s en 1980’s en 1990’s goeie ander opsies voorgestel. Departemente waarin daar Reformatoriese Christene gewerk het wat nie Broers was nie, is stelselmatig gemarginaliseer en weggewerk. Dit boemerang nou.

Ponti Venter ·

Diegene wat ‘studente-optrede’ nou aanblaas, was doodstil toe in die 1980’s die P U vir C H O ‘n post-moderne, sekularistiese besigheid geword het.

Ons het reeds studente-optrede gehad. Eers moet die gereformeerde, afrikaanse rektor van die landboukollege vlug na studente-optrede: blanke jong Afrikanermans kon nie hulle hande uit die eerstejaars se onderklere hou nie. nou is dit ‘n gemors.

Toe moes die rektor van UVS – ‘n blanke Afrikaanse Christen man – moes verkas na jong Afrikaanse mans in Reitzkoshuis werklik pervert was.

En wat die afgelope tyd in Potchefstroom gebeur het – nie net die groet nie maar dit waaroor die Universiteit se Openbare Betrekkinge uit domheid nie wou praat nie – was inderdaad weer aantasting van die lyf en lyflike vernedering.

VOOR IEMAND WEER AFRIKAANS AS ARGUMENT TOT VERSET GEBRUIK, MAAK SEKER DAT JUL OPSTOKERY NIE DIE PUK LAAT EINDIG WAAR DIE LANDBOUKOLLEGE GE-EINDIG HET NIE.

Studente wil volwasse hanteer word. Dit moet ook maar geld vir daardie deel van hul gedrag wat menseregte aantas en deliktereg oortree.

Paul Maritz ·

Ons moet besef dat ons anders is, sodat ons kan besef dat ons dieselfde is. Ek weier om in ‘n taal anders as my moedertaal tersiêre onderrig te ontvang, want dit is my reg. Natuurlik kom die teenargument van toegang tot onderrig, veral vir hulle in die omliggende area, na vore. Die aantyging dat toegang vir mense in die omliggende streek ontneem word moet met balans en kennis aangehoor word. Tussen my ouerhuis en die NWU-Potchefstroomkampus is daar drie ander universiteite, waar ek nie volledig onderrig in my moedertaal kon ontvang nie, ek het dus nie vrye toegang tot daardie universiteite gehad nie, tensy ek my grondwetlike regte opgegee het.
Dit is ook nie net ek wat so voel nie, navorsing aangaande die tuisdorpe van studente wat in Potchefstroom studeer sal aantoon dat ‘n magdom van ons ons ouerhuise en leefstyle prys moes gee, juis om ons grondwetlike regte toe te eien. Om die universiteit in Potchefstroom dus nou blindelings te verengels sou toegang vir baie meer ontneem as wat dit sou gee, ‘n feit waarvan die regering deeglik bewus is, maar ongerieflik vind, en vervolgens die stormram nader trek.
As hierdie land enigsins gaan word wat ons twee dekades terug gedroom het dit sou word, moet ons regering ophou om mense wat in taal, kultuur en oortuiging verskil in dieselfde blik probeer druk. En as die regering nie bereid is om al die mense in hierdie land te akkomodeer nie, moet hulle ons daarvan inlig, en die front van samewerking laat vaar.
Hulle wat agter in die tou staan het ook regte. Hulle wat agter in die tou staan sal nie verder onderdruk word nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.