Redakteursbrief: “Mislukte” kaping – dis nie toevallig nie

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media Foto: Noeleen Foster

Gister is ʼn vriendin van my amper gekaap.

As dit nie vir groot genade was nie, het haar drie blondekopseuntjies nie Sondag saam met hulle ma Moedersdag gevier nie.

Gistermiddag, kort ná die voorval, stuur sy ʼn boodskap aan ons vriendekring: “Ek is nou net amper gekaap. Toe ek my vinger druk om by ons hek in te gaan, kap ʼn man met sy vuurwapen teen my ruit en rig dit op my. Ek het net my kop ingetrek, die pedaal platgetrap en gejaag… Die Here het my vandag styf vasgehou en beskerm. Dank Vader my kinders was nie by my in die kar nie. ʼn Bruin Audi het agter my gestop en twee mans het uitgespring met wapens. Ons God is groot!”

Ek weet klaar watter kommentaar mense onderaan hierdie redakteursbrief gaan lewer. Hoekom het dit enigsins gebeur? Hoekom is my vriendin beskerm, en ander mense word nié beskerm in soortgelyke voorvalle nie? Waar was die genade en beskerming toe hierdie of daardie persoon ʼn slagoffer van ʼn plaasaanval, ʼn kaping, ʼn rooftog op ʼn Sondagmiddag by hulle huis was?

Ek weet nie. Ek het nie antwoorde nie. Maar ek weet, gister was daar ʼn skare engele wat my vriendin beskerm het.

Op die beeldmateriaal van die sekuriteitskamera by die hek kan ʼn mens sien dat die een kaper sy pistool op haar gesig rig en ʼn skoot aftrek. My vriendin het nie eens dadelik besef daar is op haar geskiet nie. Eers later, toe sy die merk op die ruit sien waar die koeël weggeskram het en na die beeldmateriaal kyk, het sy twee en twee by mekaar gesit. Jare gelede het haar man ekstra beskerming op die ruite van haar motor laat sit. Gister het dit haar lewe gered.

Dis nie toevallig nie.

By die verkeerslig voor sy indraai by die sekuriteitsarea waarin hulle woon, het die mans ʼn eerste poging aangewend om haar te kaap. ʼn Veiligheidskamera by dié verkeerslig wys hoe sy stop, en hoe twee mans dan uit die motor agter haar spring met ʼn vuurwapen, en nader hardloop. Sy het hulle nie gesien nie, vertel sy. Al wat sy onthou, is dat iets vir haar gesê het om oor die rooi lig te ry – iets wat sy nooit doen nie. Sy het nie die mans in haar truspieëltjie gesien nie; sy het doodeenvoudig weggetrek en oor die lig gery. Die mans het omgedraai en teruggespring in die motor, en agter haar aangery tot by die ingang van haar woonbuurt.

Dis nie toevallig nie.

ʼn Uur of wat voor die voorval het sy ʼn draai by ʼn supermark gemaak, en die plan was dat sy direk van daar af haar kinders by die skool gaan oplaai. Maar op die ingewing van die oomblik het sy besluit om eers huis toe te ry en haar pakkies af te laai voor sy die kinders gaan haal. Te danke daaraan was haar drie klein seuntjies nie by haar in die motor nie, en nie blootgestel aan ʼn traumatiese ervaring wat allerlei vrese by hulle sou veroorsaak het nie. Wie weet wat alles kon gebeur het as daar ʼn kind in die kar was.

Dis nie toevallig nie.

Die sekuriteitswagte by die woonbuurt se hek was nie gewapen nie. Op die video kan ʼn mens sien hoe die een sekuriteitswag die hasepad kies toe die eerste skoot afgevuur word. ʼn Mens word warm onder die kraag – maar dan wonder jy wat jou eie instinktiewe reaksie sou gewees het as jy ongewapen ʼn hek moet oppas, en skielik bars hier ʼn skietery om jou los. Wat sou jy in elk geval kon doen sonder ʼn vuurwapen? As die wag ʼn vuurwapen gehad het, en kon terugvuur, kon soveel ander dinge skeefgeloop het.

Dis nie toevallig nie.

Môre bring dalk ʼn ander storie, oor iemand anders wat nie so “gelukkig” was soos my vriendin nie.

Maar vandag is ek saam met haar, haar man en hulle drie blondekoppies dankbaar.

Groetnis

Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

*Lees Maroela Media se artikel oor die mislukte kaping hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jackie Visagie

Ja, dis waar, almal sal hul eiertjie wil le, maar ek glo God praat met ons in ons gedagtes met idees of denke wat onverwags in jou kop kom, ons moet net leer om te luister en gehoorsaam te wees. Sy het dinge buite haar gewone verband gedoen soos die rooi robot verontagsaam, iets, n gedagte en gevoel moes haar gelei het, sy was gehoorsaam, ook toe sy eers alleen huis toe gery het. So het ek ook myself n grusame ongeluk vrygespring omdat ek 5 minute (kan nie die rede onthou nie) later gery het as elke dag, en… Lees meer »

JC

Joh-joh! Susan! Dit is skrikwekkend hoe hierdie land nou vinning aan’t gly is in die afgrond in…

Die Here behoed ons, Hy is, en sal, met ons wees, net soos ons voorouers van ouds!

Lena Jonk

Dank aan ons Almagtige God dat jou vriendin veilig is Susan. Ons besef nie altyd hoe dankbaar ons moet wees nie. Ons seun en sy vrou het ook oggend sy dogtertjie by ons kom aflaai want sy sou glo dit nie kon uithou daar waar hy aan n voertuig moes gaan werk het nie, daardie selfde aand het ons seun verongeluk. God weet die beste, ons is deur baie hartseer maar sy dogter is vandag n groot getroude vrou wie ons net plesier gee, asook n groot Christen sy en haar man. Al ons lof eer en dank aan ons… Lees meer »

Jerry

Dalk is dit n voortydige waarskuwing, dalk n voorbode, dalk nie. Sal interresant wees om te hoor of jou vriendin agv die insident gaan bly of gly en wat vorentoe gaan gebeur indien sy bly!

Petro

Al wat ek kan se is God is GROOT…en Hy beantwoord nog gebede…prys di Here dat Hy hul veilig gehou het ..weereens leer dit ons dat niks gebeur met toeval ni…